Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Len... Len gaan weer Kruger Wildtuin… Wessel Strydom -7 hours ago
groen Kgalagadi... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -11 hours ago
Mata Mata Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -11 hours ago
Etoll Voertuiglisensie Geert -12 hours ago
Die Auobrivier Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -12 hours ago
Voortrekkery Voertuiglisensie Rona du Plessis -13 hours ago

Wie is jy?

Worcester
Profile picture for user Wildehont
Submitted by Wildehont on
Forums

Die gereelde geselsers kan mens soort van aflei, maar dit sal vir my interessant wees om meer uit te vind van wie en wat al die forumlede is. Ek sal begin...

Gebore in die Moedersbond in Pretoria om 06:00 op ‘n Saterdag in Januarie 1972. Grootgeword teen die Noordelike hange van die Magaliesberg Oos van die Wonderboom. Besoek die Kruger wildtuin saam met my ouers elke Julie vakansie sedert ek gebore is. Daar slaap ek eers in ons VW Kombi wat net vir die wildtuin toer gebruik en ingerig is. Later in my eenman tent. Swot Stadsbeplanning by Tukkies van 1990 tot 1993.

Gaan werk in Randburg en toe Sandton as ‘n stadsbeplanner net toe die politiek verander in SA. Geniet dit glad nie. Te veel politiek, en dit voel of ek die belastingbetaler se geld mors want die politici luister nie na my aanbevelings nie. Hulle neem politieke besluite. In 1997 doen ek ‘n gidskursus, bedank my veilige stadsraad pos, en gaan werk vir minder as ‘n kwart van die salaris en sonder voordele as ‘n veldgids. 
 

Van einde 1997 tot 1999 lei ek kampeertoere in Suidelike - en Oos-Afrika. Onder andere ses toere van Johannesburg na Nairobi via Zimbabwe, Zambië, Malawi, Tanzanië, Zanzibar en die Serengeti en agt twee-week toere in Botswana. Daarna begin ek mekoro toere op die kanaal wat die St Lucia meer met die see verbind (estuary), bestuur ‘n wildplaas buite Hoedspruit, werk by ‘n lodge daar naby en doen vryskut gidswerk in die wildtuin. Toe trek ek Botswana toe vir 2,5 jaar; bestuur lodges, lei vir ‘n jaar 33 drie dag staptoere in Groot Vier gebied (die renosters was uitgeskiet) en werk met opgeleide Afrika olifante waar ek onder andere self as mahout die een koei kon ry maar meestal op die grond gestap het om wilde olifante weg te hou wanneer toeriste op ons olifante ry in die bos. 
 

Toe gaan ek terug stadsbeplanning toe in 2005 vir ‘n jaar, maar die bos roep te hard en ek aanvaar ‘n posisie as streeksbestuurder vir ‘n Amerikaanse toeroperateur. Daar ontwikkel ek opvoedkundige toere en lei self toere in SA, Botswana, Namibië, Zimbabwe, Zambië, Madagaskar, Gaboen, Kameroen en Sentraal-Afrika Republiek. Ek het dit baie geniet, maar ontmoet my vrou in 2007. In 2008/9 kan die maatskappy nie bekostig om my permanent aangestel te hou nie weens die wereldwye resessie, en ek moet ‘n regte werk soek. 
 

Ek gaan werk vir 5,5 jaar as projekbestuurder vir een van die groot siviele kontrakteurs in SA, meestal in myne en by SASOL in Secunda. Dis ‘n moeilike aanpassing na 12 jaar in die natuur, maar hou die pot aan die kook. In 2014 kry ek werk as projekbestuurder in Worcester by die plaaslike munisipaliteit, waar ek nog werksaam is. Uiteindelik laat my leefstyl toe vir ‘n gesin en ons kinders is beide hier gebore.
 

Voordat hulle gekom het, het ek en my vrou lekker gereis in SA, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en oorsee. Vandat hulle groot genoeg is (toe die jongste twee geword het) kampeer ons weer, en in 2019 koop ek ‘n 2008 Echo Kavango. Ons skuur elke moontlike geleentheid gat in die Wes-Kaap en wildtuin toe. 2020 was die eerste jaar van my lewe wat ek weens die inperking nie wildtuin toe kon gaan nie. 

Hier is ‘n foto van ‘n jaar gelede.

A

Wie is jy?

 

 

Vaalwater, Limpopo
Profile picture for user Josef Willem

Josef Willem

Fri, 26/02/2021 - 07:39

Seker die jongste op die groep van die aktiewe lede, Ek is Josef Viljoen, gebore 2de Januarie 1980, groot geword op n plaas en skool gegaan in Lydenburg, na skool het ek saamm y Pa op die plaas geboer met Beeste, kruis teeling tussen Bonsmara en Santa Gertrudis, in 2007 het die regering ons plaas gekoop vir n appel en n ui waar ek besluit het om in n rigting te gaan studeer wat ek nie vandag gebruik nie, het vir 5 jaar Teologie gaan studeer,

Ons het as Familie toe ek nog op skool was Namibia, Botswana en Zim plat getoer elke vakansie in n groen 4 man tent en die 2.4 Toyota Hilux dubbel kajuit bakkie, en dit is daar waar ek my liefde gekry het vir die bosveld en natuur en kamp.

Na my Swot werk het ek toe vir Afgri gaan werk op Belfast (MP) as vloer bestuurder, van daar is ek na NTK op Trichardtsdal weer n keer as vloer bestuurder.

Kry toe n geleentheid om stad toe te trek en vir Intertek te gaan werk as Operations Co-ordinator en werk daar vir 5 jaar, in die tyd wat ek by Intertek werk word ek ook gebruik as Operations Consultant vir WFP (world food Programme) en toer na Afrika lande en Mosambiek vir n maand of twee op n slag om na die kwaliteit van Wit mielies te kyk en n totale oorsig te gee en terugvoering te gee na Suid Afrika, Switserland en Rome.

Ons het mielies ontvang by  Beira vanaf Amerika, mexico en sowat 40,000 Ton op n slag.

In die tydperk is ek ook toe getroud en 11 maande later geskei, been there, got the t-shirt, vroulief het verveeld geraak en toe verneuk in die proses.

In 2019 Oktober be-eindig my kontrak en het geen idee wat ek verder gaan doen nie, my ouers en Suster en haar man bly in Vaalwater en Nylstroom en besluit toe om n bietjie daar te gaan kuier vir n maand of twee, wie gaan jou nou werk gee net voor Kersfees. Terwyl ek hier is kom die gedagte op dat ek n Ys besigheid in Vaalwater moet oop maak, en ja daar is dit, begin die ys besigheid en dit gaan goed.

So sou julle deur Vaalwater in Limpopo ry, stop kom groet, drink n koffie en kry julle Ys vir die vakansie!

 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 26/02/2021 - 08:50

...van die 2,4 Hilux. Ek het ‘n 2200 Hilux 4x4 gehad waarmee ek alleen in Desember ‘99 met ‘n helikopter tent wat ek nou nog het, van Pretoria af via Bergkwagga NP, Addo, die tuinroete, Langebaan en Springbok Namibië toe is. Lg het ek deurkruis kloksgewys van Ai-Ais deur Naukluft, Sesriem, Sossusvlei, Solitaire, Swakopmund, Palmwag, Etosha en weer af Waterberg toe en daarna Keetmanshoop oppad terug oor Onseepkans SA toe. 
 

Die beste verbruik wat ek gekry het was 5km/l op die afdraende oppad Bergkwagga toe. En toe sluk die OTM in Langebaan my kaart, en ek kon net R2 000 kontant trek in Springbok. Ek het naby Tarlton met my laaste R26 petrol ingegooi en dit net-net gemaak tot terug in Pretoria. Dit was my eerste besoek aan Namibië, om dit te gaan verken toe ek oorweeg het om my eie toere daarheen te neem. Die brandstof alleen van Springbok deur Namibië tot in Pretoria sou my vandag amper R16 000 gekos het...

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Fri, 26/02/2021 - 09:37

Hallo Josef  -  aangenaam om beter-kennis te maak met al jou doen en late !  Maggies, maar dis 'n verskeidenheid, uiteenlopende dinge op jou kerfstok  -  van teologie tot 'n ys-winkel !  Dankie vir die interessante vertellinge.

Die mooi foto van die Hi-Lux waarvan Chris WH hierbo praat, is dit nou die een met vier bene en twee wiele (nogal met 'n "diff" tussenin !) ?

0
Vaalwater, Limpopo
Profile picture for user Josef Willem

Josef Willem

Fri, 26/02/2021 - 11:51

Len, ja die Hi-Lux is verskriklik lig op brandstof, kos net n bietjie water en Lusern en jy kan myle ver toer, kan nou nie teen 120km per huur beweeg nie maar n mens kom daar.

Nee die foto is nou maar net om te wys hoe ek lyk, ek onthou toe ons met die Regte Toyota Hilux gery het, was n petrol, eendag sit ek agter my pa en kyk na die cluster waar hy nou maar wys hoe lekker ons ry en hoeveel kms ons al gery het en so aan so kom ek toe iets agter, daai tyd was die ODO meter nie elektronies soos vandag nie en kom agter dat die totale trip meter en die huidige trip meter nie oor eenstem nie, die daaglikse ODO meter loop vinniger as die totale ODO meter, vir elke dag km wat ons ry loop die totale meter net met 800 m, wat n besparing, geen wonder die ding was of te lig of te swaar op brandstof nie, hang net af op watter ODO meter jy jou brandstof verbruik uit werk maar ja 6 km per Liter was maar daai bakkies se brandstof verbruik, moet darem se dit was n 4x4 en nie n 2x4 nie.

0
Vaalpark
Profile picture for user Johann L

Johann L

Fri, 26/02/2021 - 12:13

Al wat ek van myself gaan sê is, oor minder as twee maande word ek oupa grootjie van 'n bul van 'n agter kleinseun.

Hy het gister al reeds vir my 'n "thumbs up" gestuur.

Agterkleinkind
Dis nou na sy mamma hom gesê het ons gaan kamp.

 

0
Jozie
Profile picture for user TWTFAWC

TWTFAWC

Fri, 26/02/2021 - 15:04

Geluk J, may he be blessed in life, and bring joy & happiness into your & your family's life

Best wishes

Warren

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 27/02/2021 - 11:54

Ek het grootgeword in die Bolandse dorpie, Tulbagh. Ek was daar op skool tot die einde van standard 8 (1969) en het na die aardbewing standerd 9 en matriek voltooi in Ficksburg. Dit is ‘n lang storie hoe ek daar beland het, ver van die huis af, maar dit was my twee gelukkigste jare op skool.

Na diensplig in 1972 (Youngsfield), het ek aan Elsenburg Landboukollege gaan studeer met die idee om ‘n wynmaker te word (wingerdbou en wynkunde was my hoofvakke). Ek het egter volstaan daarmee om uiteindelik net ‘n wyndrinker geword.

Ek was genoodsaak om so gou moontlik ‘n werk te kry na afloop van my studies. Ek het aansoek gedoen by die destydse Distillers in Stellenbosch as leerling-wynmaker. Na ‘n onderhoud het ek nie enigiets verder van hulle verneem nie en ‘n werk aanvaar as tegniese veldbeampte by die destydse Droëvrugteraad in Wellington. Ek het my laaste vak op Vrydag 8 November geskryf en op Maandag 11 November by die Droëvrugteraad begin werk. Drie weke later, toe bel my pa my om te sê ek het die aanstelling by Distillers gekry en dat ek op 2 Januarie 1975 by hulle moet inval. Ek het te sleg gevoel om so gou my nuwe betrekking te los en het besluit ek sal op ‘n later stadium, as dit blyk ek is nie gelukkig met wat ek doen nie, weer poog om ‘n betrekking in die wynbedryf te kry. Dit het egter nooit gebeur nie.

As statutêre organisasies was die landboubeheerrade tot ‘n groot mate gebonde aan reëls wat vir staatsdiens-amptenare gegeld het. Ek was nie gegradueerd nie (slegs ‘n landbou-diploma) en dit het tot gevolg gehad dat ek beperk was t.o.v. bevordering. Ironies, as ek ‘n BA graad (wat niks met landbou te doen het nie) agter my naam kon skryf, kon ek tot hoër posvlakke bevorder word. Ek het toe met buitemuurse studie (B.Com) aan Unisa begin. Intussen is ek Oudtshoorn toe verplaas. Ek het beoog om die studies oor ‘n periode van 5 – 6 jaar te voltooi. Maar intussen het ek agtergekom dat ek en my gesin broekskeur-tye gaan beleef as ek so lank moet wag vir bevordering. Ek is intussen getroud (nou reeds 45 jaar) en ons het twee klein kinders gehad.

Dit het my genoop om op die uitkyk te wees vir ‘n ander betrekking. En só het ek in die landbou-chemiese bedryf beland in my eerste pos as verkoopsverteenwoordiger by Bayer Agro-chem in Tzaneen. Na drie en ‘n half jaar is ek verplaas na my hinterland (die Boland), waar ek nog ‘n verdere drie jaar vir dieselfde maatskappy in Elgin/Grabouw gewerk het.

Aan die begin van 1987 verander ek na die maatskappy by wie ek afgetree het, naamlik Uniroyal Chemical. Die ouer garde onder ons onthou seker nog Uniroyal bande. Uit die vervaardigingsproses van rubber chemikalieë kom sekere newe-produkte na vore. Só het hulle die wêreld se eerste sistemiese saadbehandelingsproduk toevallig ontdek en Uniroyal Chemical het destyds wêreldwyd ontwikkel in die grootste rolspeler in saadbehandeling.

Ek het intussen verantwoordelikheid verkry vir saadbehandeling vir Suider-Afrika en is later bevorder tot streeksbestuurder vir Sub-Sahara Afrika. Ek was veronderstel om in Johannesburg gestasioneer te wees tydens my laaste diensjare, maar hierdie koppige Bolander het besluit dat die Goudstad is nie vir hom nie. Dit het tot gevolg gehad dat ek geweldig baie moes pendel – elke tweede week in Johannesburg en tussenin veeleisende reise in Afrika. Dit het sy tol geëis en ek het besluit om vroeër af te tree (Maart 2015).

In al die jare wat ek by Uniroyal Chemical betrokke was, het ons ‘n Israeliese maatskappy se saadbehandelingsprodukte namens hulle bemark. Toe die Jode hoor ek tree af, het hulle my genader om my gewig by hulle in te gooi as saadbehandelingskonsultant – wat ek nou nog doen. Gevolglik werk ek so ses maande van die jaar (mid-Okt tot mid-Apr) en die ander 6 maande is my eie tyd. Ons het intussen (bykans 20 jaar gelede) na Kleinmond verhuis.

Ek is aan die einde van 1975 getroud met Ralie, ‘n Karooblommetjie van Prins Albert. Ons het twee kinders, ‘n dogter en ‘n seun. Ons dogter en skoonseun is sendelinge in Roemenië (reeds bykans 18 jaar) en ons seun beskik oor sy eie besigheid in sy grootword-dorp (Grabouw) waar hy ‘n verfwinkel en verfkontrakteurs-besigheid ook reeds vir bykans 18 jaar bedryf. Ons het ‘n kleindogter in Roemenië (wat daar gebore is) en ‘n kleinseun en -dogter in Grabouw.

Hieronder is die mees onlangse foto van my en Ralie saam. Dit is 'n 'selfie', geneem by die uitkykpunt van N'wanetsi piekniekplek in die wildtuin (ons gunsteling vakansieplek).

Ons

Die volgende foto is van ons kinders en kleinkinders tesaam, toe my seun en gesin o.a. vir my dogter-hulle in Roemenië gaan kuier het.

Ons

V.l.n.r - my kleinseun, my skoondogter, my dogter, my kleindogter in Roemenië, my ander kleindogter, my skoonseun en my seun.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sat, 27/02/2021 - 12:46

Nouja mnr Boucher, nou het ek darem 'n meer chronologiese geskiedenis van my wildtuine-mal-vriend.  Feitlik alles wat jy hierbo noem was ek bewus van, maar het nooit presies geweet hoe die vurk in die hef steek nie.  Nou weet ek ten minste die detail.

Baie dankie Chris !

Ns. Ek sukkel nog om te besluit oor daardie foto by N'wanetsi wat is nou eintlik die mooiste, die agtergrond of die voorgrond ?

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 27/02/2021 - 19:32

Ai Len - kan jy nog twyfel? My ou Karooblommetjie is mos sonder twyfel die mooiste op die foto. Jissie - maar jy moes die blommetjie gesien het toe ek haar in 1974 gepluk het. Daar het nou-al so hier-en-daar 'n ou kroonblaartjie verlep, maar sy ruik nog net so lekker.

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Sun, 28/02/2021 - 08:03

More Chris B

Stadig nou my vriend, die kinders sal opmerk---to much infolaugh

Groete

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 01/03/2021 - 13:27

Nou ja laat ek my storie ook opsom.  Wir die wat nie weet nie WilSur staan vir Willem & Surette.

Ek is 03-12-1955 in Loius Trichard gebore.

Ek kan begin onthou toe ons op my Pa se plaas buite Mesina teen die Gelel rivier (dit is hoe ek die rivier se naam onthou) gebly het, het ek groente vir 5c (sikspens) ‘n mandjie by Tshipise oord aan die kampers verkoop.

Ek is na Mesina Laerskool in die koshuis van Gr.1.  later het ons rond geskuif.  Ons et in die Waterwese kamp buite Tzaneen gebly vir ‘n ruk toe my Pa daar sement kanale gebou het, toe het ons op ‘n plot gebly onderkant die Crusher in Aghata buite die dorp. 

Later is ons Phalaborwa toe waar ek Std.4 (laaste 2 kwartale) en eerste helfte van Std.5.  Dit was ‘n munisipale huis, ek het die plek op Google gesoek en was met een van ons Eiland kamper daar.  Gelderland Straat voor die Engelse laerskool.

My broer (van my Ma se kant) Jan Welthagen (hy het Miami Canners begin) het ‘n plot naby die Eiland gekoop waar my Pa vir ons en hulle ‘n blyplek gebou het.  Ek is toe Ben Vorster Hoërskool toe, ook in die koshuis van Std.6 tot Std.8.  Daai tyd het jy A, B en C klasse gehad en as jy Std.8 B klas druip moes jy die jaar oordoen of St.8 uit die skool gaan, wat ek toe gedoen het.

Ek het deur my Suster (Amanda wat hulle toer boek geskryf het) in 1972 as ‘n vakleerling by A.E.C.I. in Modderfontein as Passer begin.

Januarie 1973 is ek SA Vloot toe (het toe nog nooit die see gesien nie) in Simonstad vir 3 maande basies en toe vir 3 maande Wingfield toe vir my kursus as E.R.M.  Toe moes ek laat my Pa ‘n hospital vorm teken om opgeneem te word vir ‘n nier-pyp operasie, ek het besef sou ek dit laat doen gaan ek nie skip toe nie.  Met my terugkeer soek hulle my go al vir ‘n week want die Hospitaal wag, my verweer was my Pa het nooit die vorm geteken nie en ek is SAS President Steyn toe vir die res van 1973.  Daai tyd was daar sprake da tons duikbote sou gaan haal in Frankryk wat nooit gebeur het nie.

.
SAS President Steyn
.
SAS Tafelberg die Olie vrag skip

In September 1975 het ek die jongste ou geword om my ambags toets by Olifantsfontein met N3 sukses vol met onderskeiding voltooi het.  ‘n Jaar later is ek weg om konstruksie werk te gaan doen.  Ek land vir die 3de keer terug by A.E.C.I. en na my troue in 1978 besluit ek om te bly, maar dit was nie lank nie of ek is weer weg Atlas toe en weer terug Moderfontein toe.
Ek en my oorlede suster (sy is op 21 op 28-12-1979 in ‘n motor ongeluk dood)

.
Ek en my oorlede (enigste eie suster)

September 1981 begin ek my nuwe loopbaan as Instandhoudings Beplanner by Sasol III in Secunda.  My twee dogters begin hulle skool loopbaan daar.   Terwyl ek in Secunda was het ek by ‘n kerk lid ‘n karavaan gehuur vir ‘n naweek by Leslie Falls saam met my gewese swear, dit was my eerste kamp.

In Januarie 1987 na 5 en ‘n ½ jaar begin my eerste vrou koue voete kry en ek kry ‘n pos by Nampak Paper in Rosslyn.   Desember 1986 koop ek my eerste karavaan Gypsey 4 waarin ons vir 6 maande in gebly het voor ek ‘n huis op ‘n plot naby Rosslyn gekry het.  Daarna het ek twee nuwe Gypsey’s Caravette’s gehad.

In 1996 ontmoet en vir Surette en ons is in 1997 getroud, na onside dogter Zanita verloor het met geboorte is Wijan op 2 September 2009 gebore.  Met ons wittebrood het ons met ‘n 2 man tent Kaap toe teen die Tuinroete getoer tot ek in 2000 haar kon oorreed om weer karavaan te koop, Regal.  In 2007 oorgeskuif na die Classique en 2011 na die Exclusive.

Na so 10 jaar raak ek betrokke by die groter Nampak se IT afdeling en word betrokke by die stelsel ontwikkeling van die Instandhouding deel in Hoofkantoor Woodmead as Business Analyst.

Mei 2016, twee jaar voor my verpligte aftrede begin ‘n onuithoubare tyd waar ek verplig word om my kantoor in Rosslyn op te gee en van Woodmead te werk en ek besluit om daai twee jaar op te offer en eerder vroër aftetree.

Desember 2017 in Hartenbos.

.

Nou lyk ek so smiley.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 01/03/2021 - 14:40

Dankie vir die vertelling Willem, sowaar interessant !  Die rond-trekkery van ouers mag opwindend wees,  maar het dikwels  ontwrigtende gevolge vir die kinders.  Maar in jou geval is die uiteinde van  deurdruk tog alles die moeite werd.

0
Waar my wa staan
Profile picture for user Arie

Arie

Sat, 06/03/2021 - 17:24

Ja ek het ook nie veel te vertelle hier nie!

Foto hoef ek nie te plaas nie. My profiel foto is redelik onlangs, so twee jaar terug geneem, ek lyk maar nog net so!

0
Secunda
Profile picture for user Sleep nou

Sleep nou

Mon, 08/03/2021 - 09:51

My huis laptop moet nou maar wag vir finansies by werk kan ons nie laai nie thanks vir laai van foto Johan

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus