Ons (dis nou ek, mamma, 4 jarige boetie, 2 jarige sussie en die twee Jack Russells) het uiteindelik die pas afgelope naweek gaan kampeer by Gecko Rock in die Klein Karoo buite Touwsrivier. Van Touwsrivier af (wat natuurlik langs die N1 lê) is dit so 25km skaflike grondpad tot by die hek.
Van daar af raak die grondpad (net onder 8km tot by die kampterrein) teen die hellings meer ongelyk en plek-plek bietjie weggespoel. Daar was egter iemand met 'n Hyundai i20 wat in die hutte langs die kampterrein gebly het so dit is bereikbaar in 'n platkar, maar jou pens gaan dalk plek-plek skuur. Ek sal dus nie minder as 'n voertuig met bietjie grondvryhoogte aanbeveel nie. Ek sal ook nie met 'n woonwa gaan nie. Behalwe vir die rowwe rit is daar nie genoeg plek by die kampterrein nie.
Die kampterrein het nie afgemerkte staanplekke nie maar daar is lekker skadu, alhoewel dit hoofsaaklik onder kareebome is wat baie blommetjies afgooi die tyd van die jaar. Die val maar in die kos en in jou glas maar dit pla my nie want ek glo as jy kamp wil jy so naby as moontlik aan die natuur wees.
Daar is voëlvoerders met saadjies en nektar in van die bome en daar is nogal lekker voëllewe. Bo ons leefarea was Kaapse wewers druk besig om nes te maak en die kinders het dit baie geniet.
Die omgewing is verskriklik mooi. Dis 'n privaat natuurreservaat met 'n redelike grondpadnetwerk en 'n aantal 4x4 roetes en een 4x2 roete, Daar is ook bergfiets- en staproetes. Omdat ons kinders nog klein is het ons net 'n kort entjie gaan stap en ek het hulle laat beurte maak om saam my my 'n langer ent te gaan ry op my bergfiets.
Verder het ons hulle na hartelus laat speel in en om die kamp. Gelukkig maak ons hulle nie met skerms van enige soort in die gesig groot nie, so hulle gunsteling speelgoed is grond en klippe.
Soos die fotos duidelik toon is dit tipies Karoo. Pragtige fynbos en die kampterrein is langs 'n droë rivierlopie so daar is lekker bome in die kamp. Verder is dit grond en sand (waaroor ons kinders baie bly was) so vat maar jou grondseil.
Daar is drie houthutte langs die kampterrein, wat ablusiegeriewe deel met die kampterrein. Daar is 4 storte met warmwater en 4 toilette. Die storte se stortkoppe is almal afwesig en van die toilette se sitplekke toon slytasie, maar dis seker maar omdat daar net skerms om die geriewe is en 'n sinkdak daaroor. Ek is lekker lank so ek geniet dit om oor die landskap uit te kyk terwyl ek stort en het lekker voëltjies gekyk van die pot af.
Ek het vergeet om 'n foto te neem van die kombuis. Dit is ook so houtskerm met 'n sinkdak en het twee stelle wasbakke met warmwater. Daar is los braaiers wat rondgeskuif kan word. My enigste probleem was dat die braaidrom so gemaak is dat die rooster se hoogte nie kan stel nie en ek soek my steak naby aan die kole. Ek het 'n plan gemaak met my eie toeknyprooster.
Daar is ook 'n plons swembad wat net van November tot April water in het so ek het dit nie afgeneem nie. Ek is egter seker in die somer sal dit 'n gunsteling plek wees om uit te hang.
Nader aan die hek bied Gecko Rock skietkursusse aan. Daar was mense in al drie die hutte en nog 'n paartjie in 'n tent neffens ons. Hulle was almal op 'n kursus en het net in die kamp kom slaap. Dit het beteken dat ons die plek vir onsself gehad het, wat heerlik was. Die skietery is gelukkig ver genoeg van die kamp dat mens dit glad nie kan hoor nie, en die stilte by die kamp is oorverdowend. In die nag is dit dood-doodstil en in die dag hoor mens net die voëltjies.
Ons het die naweek verskriklik geniet. My seuntjie het twee keer gesê ons moet volgende keer vir 20 slapies Gecko Rock toe gaan. Gaan loer gerus na hulle webwerf, ons het by De Wets Rus gebly. www.geckorock.co.za
Gebuigde A-raam illusie
Middag Wildehont
As ek so na jou 1ste foto kyk, sal ek meer bekommerd wees oor die A-raam as die ketting.
Dit mag 'n optiese illusive wees, maar daardie A-raam lyk of dit gebuig is.
Groete
Wessel
Wow! Dankie Wildehont vir…
Wow! Dankie Wildehont vir die vertel en mooi foto's! Ek het nou lekker saamgekamp
Dankie Wessel maar ek dink…
Dankie Wessel maar ek dink dit is 'n optiese illusie:
A-raam illusie
Middag Wildehont
Na aaleiding van fotos hierbo, stem ek saam. Fotos kan geredelik maklik 'n skewe beeld oordra. Daarom poseer ek nie graag vir openbare fotos nie.
Groete
Wessel
Daarom poseer ek nie graag…
Nog fotos ??
Wildehont baie dankie vir inligting en fotos daai is mos nou kamp sal graag inkontak met jou sal kom
Maak gerus so!
Maak gerus so!
Wildehont, baie dankie vir…
Wildehont, baie dankie vir die heerlike vertel met die fotos, ek het lekker gratis saam gekamp.
Dit was nou 'n lekker kuier,…
Dit was nou 'n lekker kuier, dankie.
Die weer, donkies en hondjies
Dankie vir almal wat saam gereis het. Ons het nou wel nie die bosveld hier in die Wes-Kaap nie (en ek mis dit verskriklik) maar ons is geseend met 'n goeie verskeidenheid ander lieflike plekke.
Ek moet byvoeg dat ons gelukkig was met die weer, veral vir hierdie tyd van die jaar. Die stormsterkte wind wat voor gister se front gekom het, het Sondag opgesteek terwyl ons opgepak het en ons is net betyds weg. Vrydag en Saterdag het ons die stilte voor die storm gehad, en dit was heel aangenaam bedags. Dit was maar koud in die nag, maar dan slaap mens mos lekker.
Dis nou as jy nie die fout gemaak het om twee Jack Russells saam te vat nie. Hulle slaap buite tuis (in hokke op die stoep) en word nie in die huis toegelaat nie. Ons het dus vir hulle 'n skuiling gebou onder die sleepwa om hulle teen die wind te beskut en vir hulle knus slaapplek met komberse gemaak in groot plastiekbakke. Vrydagaand het ek egter nie gesien daar is 'n ritssluiter oop aan die onderkant van die sleepwatent nie. Kleinboet maak my toe 05:30 wakker want die reun het hom tuisgemaak in boetie se bed en die tefie staan vir hom en kyk.
Saterdagaand was daar 'n donkie of twee naby die kamp, en het alle hel losgebars toe die Jack Russells agter die donkies aan is. Veral die tefie glo sy is die sterkste dier onder die son en sal nie skroom om 'n leeu aan te vat nie. Die donkies het ook hulle misnoeë liuidkeels te kenne gegee en die kabaal het almal wakker gemaak
Ek dink nie die hondjies gaan weer saam kampeer nie...
Regtig lekker gelees…
Regtig lekker gelees wildehont, jy mag maar n storie vertel, en die spelling is uit die woordeboek ook nog. Het jy n afrikaanse speltoets, of het jy maar net mooi geleer.
Die Wewers hier is ook aan die nes bou. Dit is nie hulle normale broeityd nie, wonder of dit maar net uitbundigheid is met die warm winter tot nou.
Ek is bly jy het dit geniet…
Ek is bly jy het dit geniet Neef Herman. My oupa, Danie Smal, was 'n kampvegter vir Afrikaans (sien Wikipedia skakel hier onder) en ek probeer my bes om suiwer Afrikaans te besig en dit vir my kinders te leer. As gevolg van die media meng Afrikaanssprekendes al hoe meer hulle taal en dit steek my dwars in die krop.
https://af.wikipedia.org…
Ek het ook gewonder oor die wewers wat so besig is knap voor die winter, en het Roberts geraadpleeg. In die Wes-Kaap lê die Kaapse wewers tussen Junie en Desember eiers (hoofsaaklik Augustus tot Oktober). Vroeë lê van eiers word deur winter reenval aangepor, en ons het verlede Sondag en Maandag lekker reen gehad. Die diere voel dit mos aan voor dit kom, so hulle het seker geweet die reen kom.
Hopelik is hulle ywerige nesmakery 'n aanduiding dat ons genoeg reen gaan kry om vir al die kuikens wat hulle wil uitbroei kos te voorsien.