ATKV Hartenbos - Deur Len Loader

Suid Afrika
Submitted by Kampforum on

"Ons kuier heerlik en hier heers sommer 'n baie aangename gees onder die kampeerders. "

3 Mrt 2017: Ek kamp op die oomblik heerlik in Hartenbos en het min of meer die volgende te sê gehad op 'n ander forum.  Die saamgesels daaroor was daar maar skraps en daarom deel ek my ervaring nou ook op hierdie nuwe forum.  Verskoon dus maar vir die herhaling vir dié wat reeds daarvan kennis dra.

ATKV Hartenbos

Ek rapporteer graag oor die ablusie in Blok D, veral nadat daar elders op sosiale media kwaai kritiek teen ATKV gelewer is oor die ablusie in Blok F.  Blok D se ablusies is oud maar in 'n puik toestand.  Die storthokkies is ruim genoeg met 'n effense afskorting en ingeboude bankie.  Daar is vier klerehakke in elke hokkie (sonder uitsondering).  Die hakke is nie ingekapte spykers soos soms  beweer word nie.  Dit is chroom pennetjies wat in 'n skuins-geboorde gat gemonteer is.  Dit voorkom die afbreek en steel van die meer tradisionele klerehakkies.  Daar is voldoende wasbakke met spieëls en rakkies om goed op neer te sit. Elke toilet het voldoende en ekstra toiletpapier gehad.  In die middel, tussen die mans en dames badkamers is 'n groot was-vertrek met munt was- en tuimeldroog masjiene.  Die skoonmakers is vriendelik en behulpsaam en help selfs 'n invalide dame wat in die spesiale badkamer gehelp moet word.

ATKF Ablusie ATKF Hartenbos ablusie
Baie netjiese en ruim was-fasiliteite :

Badkamers oud, maar netjies en skoon  niks ontbreek nie en alles in 'n werkende toestand.

Ek het ook opgemerk 'n klagte oor gras wat nie gesny word nie.  Ons staanplek se gras was netjies gesny toe ons hier gearriveer het.  Vanoggend het mense hier naby ons terug huis toe gekeer en toe ek weer sien, was die grassnyer daar.  Volgens die outjie word hy verwittig van mense wat vertrek en dan gaan maak hy die staanplek reg vir die volgende kampeerders.  Sou die volgende mense te vroeg opdaag of teveel mense vertrek op een dag, mag dit wees dat die span nie tyd gegun word om die terrein netjies te maak nie.  Ek dink dis 'n puik reëling.

Ons kuier heerlik en hier heers sommer 'n baie aangename gees onder die kampeerders.  Ek is nie noodwendig 'n "trop mens" soos ek hoor party ouens na verwys nie, maar my wederhelfte is wel.  Ons het selfs 'n lekker "straatbraai" gehou !Dis heerlike see-vakansieweer, lekker sonskyn, warm met 'n ligte briesie wat 'n mens lekker afkoel.

Wat my aanbetref is my vakansie hier bakgat en baie goeie waarde vir geld !

7 Maart:

Goeie more uit 'n heerlike Hartenbos !  Weer eens 'n fantastiese dag tot dusver, heerlik windstil met net 'n ligte seebriesie om 'n lekker warm dag intoom te hou.  Die kamp is nie stampvol nie, maar net genoeg om 'n mens nie te eensaam te laat voel nie.  Iets wat ek baie van hou en nog nie vantevore gemeld het nie, is dat elke staanplek 'n eie vullisdrom met swartsak binne-in en deksel het, sonder uitsondering.  Die dromme word elke more voor 09:00 leeggemaak en van 'n nuwe swartsak voorsien.

10 Maart:

En so breek dag 14 van ons 14 dae vakansie by Hartenbos aan.  Die weer was fantasties met die uitsondering eergister en gister wat ons 'n reën- en windstorm moes trotseer ! Maar, dit is mos maar deel van kampering.  Vandag mooi oopgetrek, maar 'n windjie begin weer opsteek.  Klaar tent afgeslaan en opgepak, maar ons ry eers môreoggend terug huis toe.

Hartenbos, dankie vir 'n heerlike kuier by julle en sien julle volgende jaar beslis weer !

 

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus