Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Jeandre Rudolph - perfekte keuse.... Springbok rugby Rona du Plessis -6 hours ago
Jeandre Rudolph Springbok rugby Geert -7 hours ago
Hael November 2026 Geert -7 hours ago
Brits en Pretoria... November 2026 Wessel Strydom -7 hours ago
Die weer is woes November 2026 Rona du Plessis -12 hours ago
Span vir die naweek Springbok rugby Rona du Plessis -12 hours ago

Namaqua NP besoek Oktober 2025

Worcester
Profile picture for user Wildehont
Submitted by Wildehont on
Forums

Een Saterdagaand na almal gaan slaap het kyk ek wat YouTube vir my aanbeveel om te kyk en kom op die video hier onder af. Ek kyk dit, en daar byt die gogga my. Dis nie so ver van Worcester af nie, dit lyk na ‘n lekker avontuur, en volgende jaar se Oktober vakansie is nog oop. Ons gaan nie gewoonlik dan weg nie want Junie/Julie se Krugerwildtuin besoek is duur en Desember by Dwarswegstrand is self nie goedkoop nie. Maar ek het na 10 jaar se diens einde Julie 10 dae langdiens verlof by gekry, en ek hou van avontuur.
 

Gisteraand wys ek vir Salomien grepe uit die video, en kry in beginsel goedkeuring om ‘n toertjie te beplan. Ek verwys nou nie na die soort wat mens in jou adamsgewaad van die klerekas af spring nie, maar ‘n kort toer. Sy het sekere voorwaardes. Daar moet genoeg water wees om mee te was (ons selwers - die res is vanselfsprekend). Ongelukkig wys ek haar ook ‘n deel van die video waar koffie met ‘n Espresso masjien gemaak word wat deur ‘n Ecoflow kragbron krag kry en sy reken dit moet ‘n moontlikheid wees. Selfs met heelwat afslag wat tans aangebied word kos ‘n Ecoflow wat die moeite werd is R15k sonder ‘n sonpaneel, so ek smoor die droom in die kiem. 
 

Daar is ‘n aantal geproklameerde openbare kampeer gebiede tussen Strandfontein en Namaqua NP. Hulle beskik egter oor geen geriewe nie, en mens kan nie bespreek daar nie. Kaarte van die Namaqua NP wat aandui presies waar die staanplekke is, is skaars en ek het my tot Google Earth gewend. Die kamppleke is binne iets soos 43km se kuslyn geleë, en daar is net klipskerms gebou teen die wind en ‘n paar put toilette.
 

Van die kampeerplekke is bo rotse, met so twee of drie bo sand. Mens gaan natuurlik nie daar swem nie, maar ons kinders hou van speel met en op sand en mens kan lekkerder stap daarop as op rotse. Ek het dus besluit op twee aande elk by Koringkorrelbaai en Kwass se Baai wat beide nog beskikbaar was. Ek kon nie regkry om dit te bespreek aanlyn nie, en het ‘n besprekingsversoek ingesit per e-pos. Hopelik kry ek môre goeie nuus, anders sal ek maar die kantoor op die Weskus probeer bel. 
 

Ek sal ‘n aand of twee voor en na die vier aande sonder geriewe byvoeg in Hondeklipbaai en Strandfontein of dalk eerder Elandsbaai. Ek wil net eers die kampering in Namaqua NP vasmaak.

Dan moet ons besluit of die Kavango saamgaan of nie. Daar is ‘n “hoofpad” wat meestal met ‘n 4x2 gery kan word volgens gereelde besoekers. Dit is egter ‘n entjie weg van die kus af, en mens moet met sandpaaie by die kampeerplekke in- en uitkom. Aangesien ons net een voertuig gaan wees, moet die Kavango dalk maar bly en ons met tente gaan. Ek het twee boogtente van 2,5mx2,5m waarin ek regop kan staan. Die kanse vir vasval sonder die Kavango is baie kleiner solank die banddruk laag genoeg is. Gereelde besoekers beveel 1 bar aan. 

video
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 16/10/2025 - 10:13

Daar is drie punte waar mens die kus gedeelte van die park kan binne gaan. As mens van Groenriviermond in die Suide, of Hondeklipbaai toegang in die Noorde inkom gaan jy deur dik sand moet ry om by Koringkorrelbaai en van die ander kampterreine in die middelste gedeelte uit te kom. 
 

As jy egter van Garies se kant af by die Driekop toegangshek ingaan, kan jy gemaklik met ‘n 4x2 bakkie of SNV die kampterreine van Skuinsbaai-Noord tot by Kwass se baai bereik sonder om deur dik sand te ry. Die grondpad tussen die N7 en Driekop is ook in ‘n baie beter toestand as tussen die N7 en Groenriviermond.

Jy kan ook met ‘n 4x2 kuslangs van Lambertsbaai af ry tot by Koringkorrelbaai soos die een gesin wat by lg gestaan het terwyl ons daar was. Hulle Ranger uit dieselfde generasie as myne, het nie 4x4 nie. Hulle het wel niks gesleep nie, en hulle vriende wat ‘n Bushlapa gesleep het, het ‘n 4x4 Hilux. Die Ranger het egter nie een keer vasgesit van Lambertsbaai af tot by Koringkorrelbaai nie (die Hilux het). Van Koringkorrelbaai af was hulle Port Nolloth toe oppad. 

Ek moes die kaart hier onder met my foon afneem want ek kry dit nie aanlyn nie. Dit het omgeval toe ek dit plaas. 

 

A 

0
Kaap

Goeie Hout

Thu, 16/10/2025 - 18:01

Dankie vir die fotos.

Lyk lekker.  Dit is as jy n karavaan het wat daai paaie kan loop.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 16/10/2025 - 20:16

Toe ek die Maandagoggend van 6 Oktober myself was met my 5 liter rantsoen warm water in die Kavango se stort, hoor ek Salomien met iemand praat buite. Ek neem eers aan dis die Sanparke werker wat kom vullis oplaai, maar ek hoor haar toe sê sy weet nie hoeveel kontant sy het nie. Toe ek klaar aangetrek het en uit die wa klim, gesels sy met ‘n gryskop oom. 
 

Dis toe Oom Gert Engelbrecht wat net buite die park grootgeword het en later daar geboer het op die plaas Sarrisam. Hy is een van 10 seuns, en sy pa het hom in std 8 uit die skool gehaal om te help boer. Wat nou Namaqua NP is, was toe ‘n reuse DeBeers konsessie. Toe DeBeers onttrek, het (volgens Oom Gert) die “kleurlinge” aanspraak gemaak op die grond, en het die die regering besluit om dit ‘n Nasionale Park te maak. Ek glo nie dit is akkuraat nie, want die park is eers in 2002 geproklameer en die deel wat ons besoek het eers in 2008 bygevoeg. 
 

Hoe dit ookal sy, Oom Gert sê die bewaring van die gebied was nie goed vir die aanliggende boere nie. Die jakkalse en rooikatte het aangeteel in die bewaringsgebied en vang skaap van die naburige boere. Hy sê sy seun het “besluit om sy eie ding te doen” en hy self het ophou boer.
 

Die rede vir sy besoek aan ons, was om van die boeke met verhale oor Namakwaland wat hy self geskryf en publiseer het aan ons te verkoop. Ons het drie van sy boeke gekoop en later per EFT betaal, en ek en die kinders het daarvam gelees tydens die res van die vakansie. Hy het ‘n manier met woorde, en vertel stories van sy grootword en sy pa se boerdery met humor en soms ‘n tikkie heimwee. Dit is werklik lekker om te lees. Hy het selfs ‘n museum op hulle plaas. Ons kon dit ongelukkig nie besoek nie, want ons moes te ver ry Elandsbaai toe. Ons het verby die afdraai gery oppad Garies toe.
 

Hier is ‘n resensie op Litnet van een van sy boeke wat ons gekoop het. 

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Sat, 18/10/2025 - 21:03

Ek reageer bietjie laat, maar is nog besig om op te vang. Dankie vir die vertellings en foto's. Dit klink werklik na 'n heerlike ervaring. Dit is nie ver van julle af nie, so raai ek dat dit dalk net meer gereeld gaan gebeurlaugh

  • Dankie vir die skakel tot Gert Sarrisam se boeke. Goeie resensie en ek dink om spyt te voorkom moet ek sommer al 5 sy boeke bestel.
0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Sun, 19/10/2025 - 20:09

Ek het vanoggend voor kerk weer ‘n paar van sy stories gelees. Dis werklik lekker leesstof. Die blik op die lewe in Namakwaland na die Tweede Wêreld oorlog en sy taal en metafore is kosbaar. 
 

Toe hy by Koringkorrelbaai was met sy wit Hilux, het ons werklik nie genoeg kontant gehad vir selfs een van sy boeke nie. Iets het egter vir my gesê ons wil die boeke hê, en hy sê toe ons kan hom per EFT betaal wanneer ons weer sein het. Hy gaan haal toe ‘n stoeltjie van sy wit Hilux af, en kom sit en skryf neer watter boeke ons vat op die Ranger se stertflap. Hy het ook voorin elke boek ‘n persoonlike boodskap vir Chris Jnr in een, Kara in ‘n ander en my en Salomien in die derde geskryf in pragtige handskrif. 
 

A

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 20/10/2025 - 14:50

... en verslag laat my voel asf ek uitmis omdat ek nie 'n 4x4 en 'n boswa het nie. En ongelukkig is dit nou te laat om enigsins sodanige verandering te oorweeg.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 20/10/2025 - 16:14

....van 'n 4x4 is ook een van my gatskop oomblikke. Ek weet dat iemand soos ekke dit nie elke dag benodig nie, MAAR dis vir daai spesiale geleenthede.

My logiese finansiële denke gooi wal, maar die versoeking bly. Ek moes maar ou Grompie met steroide gekoop het.sad Ek ry elkgeval selde daarmee    

0
Kaap

Goeie Hout

Mon, 20/10/2025 - 18:42

Priceless sulke boeke.  Ek self n boekwurm, maar as jy eendag oupa is gaan jy dit deel met klein kinders.  Priceless

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 22/10/2025 - 09:56

Tydens ons eerste vol dag (dit sou aanvanklik ons enigste wees) by Koringkorrelbaai het ons na die robkolonie toe gery. Ons is by die toegangshek gewaarsku om nie uit te klim daar nie, omdat daar gevalle van hondsdolhied was onder die pelsrobbe. Die kolonie is nie so groot soos die een Noord van Hentiesbaai nie, maar daar is in die teelseisoen tot 210000 robbe.

A

B

So robkolonie is maar ‘n stink besigheid, maar dis lekker om hulle te sien baljaar in die see en uitspan in die son. Ek het gehoop ons sal ‘n paar jakkalse sien wat dooie welpies kom aas, maar ons het nie.

C

Alhoewel die blomme seisoen verby was, was daar darem nog ‘n paar helder kolle.

D

E

Ons is ook na Driekop toegangshek toe. Daar is ‘n tweerigtingradio waarmee mens met Groenriviermond kan praat. As mens bv daar uitgaan moet jy hulle laat weet. Ons het dit gebruik om uit te vind of ons nie al vier aande by Koringkorrelbaai kan bly nie. Ongelukkig was dit vol bespreek vir ons laaste aand, maar ons kon ‘n derde aand aanlas. Oppad terug kamp toe het ek vir Chris Jnr ‘n ent op ‘n reguit stuk laat bestuur. Ek dink dit was een van die hoogtepunte van sy vakansie. Hy het later weer ‘n beurt in dik sand gekry nadat ek hom eers gewys het dat die bakkie self die diep spore volg en mens dit net moet toelaat om dit te doen. Salomien het die foto geneem. Ek was darem langs hom voor om te help as iets sou foutgaan.

F

Ons tweede aand by Koringkorrelbaai was dit volmaan. Die ou fototjie is nie ‘n ware weergawe van hoe mooi dit was nie.

G

Ons het regtig goeie weer geniet tydens ons besoek aan die park. Die Saterdag toe ons by Oepsie Daisy geslaap het, het die wind nogal geroer, maar die volgende vier dae was mooi. Die wind het die een dag ‘n bietjie gewaai, maar darem nie soos ons gewoond is in Worcester of al ervaar het by Dwarswegstrand nie. Die dae was aangenaam, maar die aande het dit afgekoel. Ons het in elk geval nie laat wakker gebly nie, en in die wa was dit nie te koud nie. Ons het elke aand baie lekker geslaap met die geraas van die oseaan.

Soos ek voorheen vertel het, het ons die laaste aand geskuif na Skuinsbaai-Noord. Ons was weereens alleen daar. Daar is net twee staanplekke, en dis die naaste kamp aan die Driekop toegangshek waarby ons uitgegaan het Garies toe. Ons het op die kamp besluit nadat ons op ons tweede vol dag al met die kuspaadjie langs gery het tot by Groenriviermond. Ons het toe al die kampe gesien tussen Koringkorrelbaai en Groenriviermond. Kwass se baai het nie so lekker soos Koringkorrelbaai gelyk nie, en die twee lekkerste staanplekke was gevat. Die personeel by die hek en twee ander kampeerders het ons toe aangeraai om Skuinsbaai-Noord toe te gaan.

H

I

Al wat sleg was by Koringkorrelbaai, was dat daar vreeslik baie heuningbye was. Hulle het toegesak op alles wat nat of soet is – selfs waar mens waswater op die sand uitgegooi het. Die personeel het bevestig dat daar baie swerms ingetrek het deur die park, en dat hulle dit sou begin verwyder. Ek neem aan hulle het agter die veldblommetjies aangekom, maar lg het begin minder raak en vars water is skaars in die park. Die een middag kon ons dit vir omtrent ‘n uur nie waag naby die wa nadat ons op die strand gespeel het nie. Toe ons oppak by Koringkorrelbaai moes ek ook baie versigtig ons swartsak uit ons opslaan asdrom haal om dit in die rookskerm te los. Gelukkig is niemand gesteek nie, wat eintlik ‘n wonderwerk is met die hoeveelheid bye en hoe aktief hulle in ons kamp was. Die gevaar met so baie bye, is dat indien een iemand steek daar feromone vrygestel word wanneer die angel uit die by loskom. Dit kan lei tot ‘n massaaanval, en mens is baie ver van mediese hulp.

J

Andersins het ons die besoek geweldig geniet, en stem almal saam dat ons weer sal gaan.  Hier is sommer nog ‘n paar foto’s. Ons het nie veel soogdiere gesien nie, ‘n paar steenbokkies, gemsbokke, pelsrobbe, muise en muishonde. 
 

K

L

M

Die kewer hier bo het sandkorrels en soutkristalle saamgedra.

N

By Koringkorrelbaai is ‘n inligtingsbord met die verhaal van Roby Leibrandt. Hy het by Oom Gert se voorsate aangedoen en Oom Gert het die inligtingstuk geskryf.

 

 

 

 

 

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Wed, 22/10/2025 - 10:47

Sjoe, ek het hierdie stukkie skrywe met die pragtige foto's baie geniet - mens hoor die see,  ruik die robbe en voel die sand tussen jou tone....

Daardie eerste "KYK, ek bestuur alleen!" Ai. Ek moes eers met trekkers op die plaas leer. Pa se bakkie was vir later. Bevoorregde klein Chrislaugh

Gert Sarrisam. My boeke is bestel (kon net twee kry vir nou, die res sal volg) en ek sien baie uit daarna.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 22/10/2025 - 11:01

...of is dit sand sleep bemeester. Ek het geweet julle gaan dit geniet, en dat julle meermale dit weer sal doen.

Ek het op 'n keer my seun, met lisensie, in Kruger die wa laat sleep. Na 'n ruk merk ek die ou is effe nat gesweet. Vra hom of hy siek is, seg/vra hy--wat moet ek maak as daar nou 'n olifant in pad staan. 

Ek glo jou klong het sy 1ste bestuur geniet, nou moet sussie ook beurt kry??? 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 22/10/2025 - 16:11

Ek glo jou klong het sy 1ste bestuur geniet, nou moet sussie ook beurt kry??? 

Junior het voorheen een keer om die kerk se parkeerterrein gery met die Prado, maar hy het die sandpaaie baie meer geniet. Hy was in sy sewende hemel. Hy gaan saam met plaaskinders skool wie al alleen rondry op die plaas so hy was maar jaloers op hulle. 
 

Kara stel nog geensins belang in bestuur nie. Ek het ‘n video waar Chris die eerste keer met die Ranger gery het waar sy skree; “Stop! Daar is een” toe sy ‘n steenbok langs die pad gesien het. Sy het by die venster sit en uitkyk terwyl hy ry. 

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 22/10/2025 - 16:53

...moet eintlik nie om stuur wees nie. volgens rowwe 4x4 bestuurswenke moet duime in lug wees. Sodoende kan stuurwiel dit nie ruk en beseer as voorwiel iets tref nie. 

Dis nou volgens my swaer wat 4x4 ekspert was. 

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Wed, 22/10/2025 - 17:14

Ho nou Wessel, die mannetjie se hande moet nog groot genoeg raak laugh

Ek is ook so geleer (om nie duime om die stuurwiel te sit nie).

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Wed, 22/10/2025 - 21:23

Pragtige foto's en ervaring....dankie vir die deel daarvan

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 26/10/2025 - 18:07

...volgende keer moet jy met die Prdo gaan. Ek het sommer geweet julle gaan weer soheentoe wil gaan.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus