Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Wessel ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -1 hour ago
Chris B Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -1 hour ago
Lekker Chris. Het dit geniet… Kgalagadi Oktober 2026 neef Herman -3 hours ago
Kom ek probeer nog een Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -3 hours ago
Proef Video - Elim Gasteplaas Keimoes Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -3 hours ago
Grabouw buitelug skou November 2026 Wessel Strydom -4 hours ago

Plek van die visvreters ...

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

... (ontleen aan die titel van 'n destydse TV-reeks: "Plek van die vleisvreters"). Toe ek 'n kind was, is daar (seker maar neerhalend) verwys na mense van vissersdorpe as visvoete. Maar hierdie Bolander se liefde vir vis kan hom ook amper as 'n visvoet laat kwalifiseer. Ek het weliswaar nie by die see gegroot nie (ek woon wel nou by die see), maar in my komvandaan (Tulbagh) was daar al die jare 'n viswinkel wat behoort het aan die bekende Eigelaar-familie van Velddrif/Laaiplek.

Die oom wat daardie winkel bestuur het (Oom du Toit) het my pa soos klokslag gebel as daar hetsy vars snoek of harders ingekom het - wat redelik gereeld was. Met die gevolg dat vars vis nogal redelik gereeld op ons spyskaart was. Verder was my pa 'n ywerige strand- en rotshengelaar wat geen geleentheid laat verbyglip het om te gaan lyn natmaak nie. Daarom was ander vis soos galjoen, steenbras en kabeljou ook dikwels deel van ons spyse.

Ekself was ook vir etlike jare 'n hengelaar en het dit seker oorgedra na my seun - wat heeltemal hengelbef.. is. Deesdae hengel ek amper glad nie meer nie, behalwe as my arm gedraai word om saam te gaan Hentiesbaai toe. Maar danksy my seun se manie oor hengel is ek amper nooit sonder lekker vis nie.

My beter helfte is 'n gebore en getoë Karoonooi wat op 'n Karoo-skaapplaas grootgeword het. Haar enigste kennis van vis is die gebakte vis en tjips wat haar pa soms tydens hul somervakansies by Mosselbaai vir hulle gekoop het. Maar deesdae eet sy eerder vis as lamsvleis.

Ons eet gemiddeld omtrent elke vierde aand vis. Ralie se voorkeur is snoek, maar dit is deesdae amper 'n rariteit. Snoek het skaars en gevolglik duur geword. En ek koop nie 'n bevrore snoek nie omdat jy nie vooraf weet of dit dalk 'n pap snoek is nie (wat my aanbetref 'n oneetbare ding). En die snoeke wat sommige supermarkte in boksies verkoop lyk net soos snoek, maar smaak treurig - tensy jy smoorsnoek daarvan probeer maak.

Ek is in 'n bevoorregde posisie dat ek nog minstens vir die volgende 14 weke eenkeer 'n week galjoen kan braai (my persoonlike voorkeur), maar dit is bietjie moeilik as ek nie by my huis is nie. Want galjoen moet eers bewerk word (skubbe krap, vlek en binnegoed uithaal) voordat dit gereed is, want galjoen word heel gevries. En by 'n vakansieplek het jy nie altyd die geriewe om dit te doen nie. Daarom neem ek vir die komende 17-dag toer kabeljou-filette saam om te braai - darem maar self 'n koningsmaal.

Jammer dat ek julle verveel met my liefde vir gesonde vis.

Brits

Wessel Strydom

Sun, 30/04/2023 - 12:32

.....om van Ralie se "bekering" te verneem. Kan 'n Karoo-meisie nou so haar ingewortelde beginsels oorboord gooi, en haar rug op skaapvleis draai. 

Geniet gerus julle visgeregte, ek swig soms onder uiterse dwang en afpersing, omkoop, en wat nog om aan te sit vir 'n stukkie vis. 

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 30/04/2023 - 13:07

... wat's fout met jou? Jy't mos darem ook na-aan die see grootgeword. Die Bonnievalers en Robertsonners is dan juis so lief vir Struisbaai. Nou nie dat Struisbaai se meer algemene vis, geestert, (ek praat nou van dié wat van die bote af gevang word) een van my gunstelinge is nie, maar o dêmmit, 'n gerookte vars jong geelstertfilet is darem self koningskos. En dan Struisbaai se galjoene en elwe van die rotse af! Ai, hoe verlang ek sommer na my jongdae toe my suster-hulle nog in Bredasdorp gewoon het en ek en my swaer gereeld by Struisbaai/Agulhas of Waenhuiskrans gaan hengel het.

Ons was die naweek voor die afgelope Paasnaweek in Struisbaai en het 'n paar keer gesien hoedat die hengelaars lyn natmaak by ou bekende hengelplekke soos Skulpiesbaai en Die Brood. Dit vul my toe sommer met nostalgiese herinneringe.

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 30/04/2023 - 13:48

Chris B, seker maar hoe ek grootgeword het. Familie aan ma se kant, daar van die duineveld---Vermaaklikheid omgewing, was geneig om harders te trek en alikreukels van die rotse te haal. 

Ek het 'n paar keer grate raak gesluk, en net 'n aversie in enige been, kleiner as 'n skaaptjop s'n ontwikkel. 

As mense my nooi vir snoek oor die kole en potbrood, eet ek my ongesond rond aan die brood met druiwekonfyt.laugh

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 30/04/2023 - 14:08

... nee, dan's my vraag hierbo: "wat's fout met jou" totaal onnodig. Ek weet nou daar't 'n moerske fout in jou eet-opvoeding ingesluip😇

As jy by my kabeljou- of steenbrasfilet eet sal jy nie een graat kry nie. Ek ont-"been" só 'n filet 100%. En harders, galjoen of snoek druk jy so skuins links by jou mond in, kou en sluk die vleis en laat die grate by die regterhoek van jou mond uitkom.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sun, 30/04/2023 - 18:18

......sy vis-kennis met julle deel.

Ek het in Pretoria grootgeword en in my ouerhuis nooit 'n visstok vasgehou nie.  My drie kinders, toe hulle nog in die laerskool was en ons in Hartenbos gekamp het, wou met alle geweld elkeen 'n visstok hê en by Santos in die see gaan visvang.  Hierdie oefening, met kraaineste een na die ander en twee van hulle wat nie aan die aas wou raak nie, het my finaal laat afstand doen van hengel.

Maar ek eet graag vis en ek weet ChrisB sal sommer sy neus baie ver optrek vir my voorkeur-vis, naamlik stokvis in deeg gebak en slap-tjips.  Ons het 'n viswinkel hier naby wat deur 'n Portugese tannie bedryf word met vars vis wat daagliks by haar afgelewer word  -  ons koop weekliks vars gebakte vis en tjips (terwyl ons wag).

Dan het ons verskillende Kaap-gebore vriende wat graag snoek braai en dit geniet ek baie  -  elkeen het sy eie manier van hoe dit gebraai word, maar die snoek word altyd vars gekoop by uitgesoekte viswinkels.

Dis omtrent die beste wat ek kan rapporteer oor vis-eet.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 30/04/2023 - 18:40

.... ek kyk darem self nie 'n stukkie winkel-gebakte stokvis in die bek nie. En daai plekke se tjips is gewoonlik egte-regte slaptjips - nie "French Fries" nie. En 'n tuisgebakte stukkie stokvis (nie I&J of Sea Harvest se supermark boksies nie) is darem self knap. By my seun wag daar nog 'n hele boks stokvisfilette wat hy by 'n Porra (wat 'n vis & tjipswinkel in Grabouw het) aankoop.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 01/05/2023 - 06:48

Môre visvreters

Daar is natuurlik die bekende Mariners eetplek by Houtbaai se hawe. Ons het laasjaar daar gaan "vis en tjips" vars uit die see. Wat 'n absolute prentjie-mooi plek om daar op die stoep te sit en oor berg en see te kyk.

Deesdae is die bediening in die polisterine koshouers, maar in my studentedae was dit die gebruiklike ongedrukte koerantpapier. 

Let wel, die ete was om Marie en suster te bederf, maar ek het dit ook oorleef. Die paaie soheentoe is net 'n riller van verkeer, fietsryers en stappers. Grompie het so groot soos 'n Amerikaanse seswiel bakkie gevoel op daardie nou paaie, van Grootte Schuur se kant af..  

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 01/05/2023 - 07:41

Ja Wessel, dit was nog altyd 'n besonderse lekker seekos-eetplek. Ek was ongelukkig baie jare gelede laas daar. Dit was op 'n stadium 'n tradisionele eetplek vir die kere wat ek oorsese kollegas in die Kaap ontvang het. Twee items was altyd op hulle "to see" lysie as dit hul eerste besoek aan die Kaap was, naamlik Tafelberg toe met die sweefspoor en Kaappunt toe. Dit het gewoonlik opgeëindig met 'n laatmiddag-ete by Mariner's Wharf.

Nog 'n tradisie tydens die ete was om hulle bekend te stel aan Durbanville Hills se Sauvignon Blanc waaroor almal altyd gaande was. Dit het my ook die geleentheid gegee om lekker te kan eet en goeie wyn te drink op maatskappykoste.

Ek dink dit is omtrent tyd dat ek en Ralie weer só 'n Kaapse Skiereiland toertjie gaan doen - net Tafelberg uitgesluit. Ek dink nie ek sal sommer weer vir mammie daarbo kry nie. Die laaste keer wat sy saam was, saam met oorsese kollegas, het daar 'n hidroliese pyp by die boonste kabelkar-stasie gebars. Die platform wat links en regs skuif om die onderskeie twee kabelkarre in te laat, kon gevolglik nie skuif nie. Ons het vir sowat 40 minute sowat 50 meter vanaf die boonste stasie in die lug bly hang. Ralie was skytbang. Ons is later weer laat teruggaan na onder en ons geld teruggegee.

0
Brits

Wessel Strydom

Tue, 02/05/2023 - 06:30

Môre vriend, nou wonder ek wat wou jy hierbo sê, of wou jy net 'n punt maak?laugh

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 04/05/2023 - 08:28

…is dat dit na vis smaak. Nie ek of Salomien is vreeslik lief vir vis nie. Ons hou van mossels en lekker sagte calamari dan en wan gaan ook goed af. Stokvis nou en dan sal ons ook eet, en kabeljou het ek al geëet en geniet maar dis gewoonlik duur. Snoek is gewoonlik te olierig of te droog in my ervaring. 
 

Dalk is daar nog vis spesies wat ‘n matige vis smaak het soos stokvis en kabeljou waarvan ek nie weet nie. Ek het in Zimbabwe en Botswana gereeld bream geëet en dit was ook lekker. Ek dink dit heet kurper in Afrikaans, of Tilapia wat waarskynlik die genus is, maar ek vermoed daar is verskillende spesies. Baber het ek ook een keer geëet, en dit was meer soos vleis as vis. Ek is dit egter eens met Wessel, dat grate my afsit. Ek neem aan Chris Boucher se kou aan een kant en grate uit aan die ander kant van die mond is tong in die kies. Dit sal nie vir my werk nie. 

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 04/05/2023 - 09:09

…is dat dit na vis smaak. Nie ek of Salomien is vreeslik lief vir vis nie. Ons hou van mossels en lekker sagte calamari dan en wan gaan ook goed af. Stokvis nou en dan sal ons ook eet, en kabeljou het ek al geëet en geniet maar dis gewoonlik duur. Snoek is gewoonlik te olierig of te droog in my ervaring. 

Stem, as ek vis wil eet hier by ons gaan ek Ocean Basket toe en geniet dit met droë wit wyn.  Dan stink my rooster nie vir maande na vis nie. 🤫🤔😉

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 01/07/2023 - 19:45

.... as jou seun se hengelvriend lief is vir visvang, maar nie lief is om vis te eet nie. Dan word sy galjoene aan sy hengelmaat se pa geskenk. Sodoende is my galjoen-voorraad weer baie goed aangevul - waarvan een vanaand op die kole beland. Lekker!!!

Galjoen

0
Brackenfell

HennieBo

Mon, 03/07/2023 - 07:32

Ai, so lus nou vir 'n stukkie vis. Ek is inteendeel nie iemand wat al baie vis gebraai het nie. Nog net een keer Geelstert en dan 'n paar keer snoek.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Mon, 03/07/2023 - 10:43

..............op jou battery piepie nie, maar ek dink 'n skaaptjoppie of 'n lekker steak sou dalk lekkerder op die kole gesmaak het.  Maar alles is darem nie verlore nie,  ek hou tog van snoek wat 'n vriend van my op kole braai en dan 'n "hake parcel" met slaptjips wat die Porra-tannie hier naby verkoop !

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Mon, 03/07/2023 - 11:38

... ek respekteer jou smake en voorkeure. Maar het jy al die koning van alle braaivisse, galjoen op die kole, geëet. En ja - ek's ook lief vir beide visse wat jy hierbo noem. Vars snoek (nie bevrore) is deesdae net haas onbekombaar. En "hake", oftewel stokvis, met regte-egte slaptjips (met die klem op "slap") soos die Porra-tannie dit maak is donners lekker. Maar ek verkies om die vars stokvisfilette by die Porra te koop en self te bak. Eerskomende Woensdagaand is dit hoeka op die Boucher-spyskaart.

My seun (wat terloops vanoggend in Skukuza vir hulle laaste aand in die wildtuin aangekom het) het Donderdagaand kabeljou in Berg-&-Dal gebraai. Hy aard na sy pa - vrek oor sy vis.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 03/07/2023 - 11:50

.... wat die arme leeus, moes dink toe daai gebraaide visreuk oor die heining waai.

Beslis 'n vreemde reuk vir Kruger.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus