Net eers 'n bietjie agtergrond. Ek het in Pretoria grootgeword en my eerste 23 jaar van lewe daar gewoon. Daarna het ek vir 3 jaar in die Vrystaatse dorpie Memel gebly en toe weer 9 jaar in Pretoria. Vandaar is ek verplaas Kaapstad toe vir 4 jaar en toe in Johannesburg vir 4 jaar, weer terug Kaapstad toe vir 6 jaar. Vandaar is ek 7 jaar Zimbabwe toe verplaas en daarna vir 2 jaar Angola toe. En toe tree ek af in Kaapstad en is nou 16 jaar al hier. Ek het dus die grootste deel van my lewe in Stormers land gewoon, maar was ook deel van Bloubul-wêreld, Lions-wêreld en ook Cheetha-wêreld.
Gegewe hierdie agtergrond kyk ek vanmiddag op TV die wedstryd op Loftus tussen die Bulle en die Lions, en wat 'n opwindende wedstryd wat wipplank gery het tussen die twee spanne was dit nie. Op die ou einde wen die Bulle net-net met 30 / 28. Gegewe my verlyf in albei provinsies, het ek elke keer opgewonde geraak wie ookal van die twee voorloop. Wat ek baie van die Leeus ondersteuners hou, hulle ondersteun hulle span deur dik en dun tye en sit altyd die pawljoen vol as hul span op Ellispark speel.
Die Bulle het gesukkel met die wegtrek van die spel, maar tog later die oorhand gekry, ook maar net-net. Wat vir my opvallend was is die lang-aangee van die bal wat telkens deu 'n teenstander onderskep word.
Ek is nie 'n vreeslik rugby-"fan" nie, maar gegewe die gebrek aan kampgeselsies dog ek ek noem dit maar net en het die spel baie geniet.
Toe bek....
....want dit was nie my span wat gespeel het nie.
Lank lank gelede kon ek oor rugby opgewonde raak, maar nou skeel dit my min.
Vanmiddag se rugbywedstryd
Goeie naand Len en Chris.
Min gedink dat hierdie onderwerp my eerste deelname aan die kampforum sou wees sedert ek n paar dae gelede aangesluit het. Ek het heelparty ure se genotvolle leesstof gehad, daarom dat ek lekker kon lag oor Chris se stelling hierbo. Met al jou wye kampervaring moet jy asb. nooit weer wegloop nie....
Len, ek het self vanmiddag n paar uur te spaar gehad en het besluit om die rugby te kyk alhoewel ek nie die reeks volg nie. As gebore Noord-Transvaler (Pilanesberg om presies te wees) het ek uiteraard die Bulls ondersteun en dan ook nie sonder heelwat benoude oomblike nie. Jy som die wedstryd so goed op. Ek wonder hoeveel balle onderskep is deur die lang-aangee balle - soveel maal in een wedstryd was voorwaar uitsonderlik.
My voorskeursport is tennis.....as julle daaroor ook wil gesels:)
Om kampervaring te deel moet ek nog die toepaslike draad/drade gaan soek...
Hallo Rona
Dankie vir jou saamgesels. Tennis, ja en toe het ou Jockie sy gat gesien !
Jockie....
Len, as ek die water so toets wil dit my voorkom dat ons dieselfde sentimente (of die gebrek daaraan) deel. Dat hy n briljante tennisspeler is kan ons nie betwyfel nie, maar n totale gebrek aan sportmangees het gemaak dat ek geen liefde vir hom het nie en altyd sy mededingers ondersteun. Wat more se eindstryd betref het ek nie regtig n gunsteling nie (hou van albei), maar mag Sinner wen net omdat hy ons n groot guns bewys het. Sjoe, miskien was dit n bietjie kras, maar my eerlike mening.
Chris, wens ek het ook die dames gevolg, maar iewers moes ek die streep trek want ander prioriteite vereis aandag (lees tyd)
Sal aan julle dink met die eindstryd.........geniet dit en mag die beste een wen
Dis nou 'n sport wat ....
...ek aktief aan deelgeneem het, soos hierbo genoem---" het ook die dames gevolg, maar iewers moes ek die streep trek"
Ouderdom haal seker maar almal in!!![]()
Ek het genoeg in die k.k…
Ek het genoeg in die k.k getrap daaroor.
Chris, ja ek het daai bydraes so gekyk en besef dat daar 'n paar moeilikheid makers was en dan was daar sekeres wat wou "in" wees en kommentaar wou lewer wat nie goed afgegaan het nie. Laat ek eerder sê, ek is trots Suid Afrikaans as dit by my rugby kom.
Ek wil nie weer die dinge opvlam nie, maar dit is en was my siening.
Verkleurmannetjie
Ek het al in al die provinsies behalwe die Vrystaat en Oos- en Noord-Kaap gebly maar ek is gebore en getoë in Pretoria. Dus bly ek ‘n Bul, al kry hulle nul. Ek kan nie ‘n ander span ondersteun nie, al kan ek dit waardeer as hulle goed speel.
Die Leeus het gister na my mening beter gespeel as die Bulle. Hulle verdediging was rotsvas. As dit nie vir die skoppe was wat hulle gemis het nie, het die uitslag anders gelyk. Ek dink ook ons was gelukkig om Akker se drie toegeken te kry. Maar ek vat die wen. Goosen se strafskop van binne sy eie helfte was puik, al het hy ‘n ander strafskop verbrou deur dit agter die hoekvlag te stuur.
Rondtrekker
Ek het ook maar heelwat in my lewe tussen rugby-unies rondbeweeg. Ek is 'n gebore en getoë Bolander. Ek het tot my graad 10 (destyds standerd 8) my skolerugby in die Boland gespeel (Tulbagh). Gevolglik is ek van kleins-af 'n geharde Boland-ondersteuner.
My laaste 2 skooljare het ek in Cheetah-wêreld (inderwaarheid Oos-Vrystaat - Ficksburg) my skolerugby gespeel. Tydens my weermagdae (Youngsfield) en die twee opvolgende jare (Elsenburg Landbou-kollege) het ek binne WP-grense rugby gespeel.
Dit is opgevolg met een jaar se klubrugby terug in die Boland, naamlik Wellington. Na een jaar se klubrugby vir Swellendam (SWD) het ek vir 'n verdere 3 jaar weer vir Wellington gespeel. Toe verhuis ek Blou Bul-kontrei toe (inderwaarheid Verre Noord - deesdae bekend as Limpopo Blou Bulle) waar ek vir 3 jaar vir Letaba (Letsitele) gespeel het.
En sedertdien weer terug Boland toe, waar ek weer sedert 1984 woon - vir meer as 17 jaar in Grabouw en reeds meer as 22 jaar in Kleinmond. Toe ek terugkom in die Boland het ek my spelerstewels opgehang en besluit om skeidsregter te word - wat ek tot 1997 gedoen het.
WP (natuurlik nou ook Stormers) is maar ons Wes-Kapenaars se algemene span wat ons ondersteun - ek bedoel nou diegene wat hier rond gegroot het. Maar nog al die jare "cheer" ek teen die WP - net as hulle teen Boland speel. Ek hoop van harte dat Johan Rupert en Patrice Motsepe se belegging in Boland gaan binne die afsienbare tyd dividende oplewer.
Ons besoedel nou Len se gesprekslyn ...
... met tennis-stories. Maar ek is in teenstelling met Rona 'n baie groot Djokovic-aanhanger. Maar ek is ook 'n Sinner-ondersteuner. Ek was al die pad agter Sinner vandag, maar het na die eerste twee stelle vrede gemaak met die feit dat Medvedev die wedstryd gaan wen - wat toe nie gebeur het nie. Dit was 'n lekker wedstryd om te kyk.
Boland en Rupert
O genade, is daar dan nie EFF ondersteuners in die Boland nie. Dit is opvallend dat daar nooit iets goeds vir Rupert gesê kan word vanweë sy y "white money" nie, maar dis heel aanvaarbaar as daardie "sonder kleur" geskenk word aan sulke goeie projekte.
Soos jy sê, WP is maar in ons bloed, so saam met die rooiwyn, vir die wat daar gegroot het. Net jammer, ek het seker al my Kaapse aksent verloor. Ek het egter nog nie 'n stronthuis by die see nie.
Moet lag
'n stronthuis by die see
Ek moet lag hiervoor, want ek is van Pretoria af. Gelukkig nie van die Ooste nie, so ek haal asem - nie hol awesome nie.
Dit was vir ons nogal ‘n ontnugtering toe ons universiteit toe is. Ons was vier outjies van die noorde van Die Magaliesberg, wat ‘n lieflike streek was. Die begin van die bosveld min of meer. Die res van ons eerstejaars wat van Pretoria was, was van Pretoria-Oos. Hulle wou aanvanklik nie met ons meng nie, en dit het maar moeilik gegaan om die ys te breek.
Boland
Ek wil nie hare kloof met Mnr Boucher nie, veral nie as dit oor rugby gaan nie ![]()
Maar Kleinmond is mos nie in die Boland nie? Dis in die Overberg. En rugby gewys is dit in SWD. Tulbagh is in die Boland, so ek stem saam dat Mnr Boucher se wortels daar is.
Ek moet sê ek is beïndruk met sy rugby CV! Duidelik ‘n sportiewe man, as ek kyk hoe speel hy deesdae nog rolbal en jukskei ook.
Nee Chris WH
Boland Rugby se grense strek tot Gansbaai, Riviersonderend en Montagu. Selfs Laingsburg resorteer nog onder Boland. Bonnievale en Bredasdorp val wel onder SWD. So ook Beaufort-Wes.
Kleinmond se rugbyspan speel in Boland se klubkompetisies. M.a.w. Overberg se klubspanne is deel van Boland.
Ek was op 'n stadium voorsitter van Grabouw Rugbyklub, en toe ook verkies tot voorsitter van die destydse Overberg Sub-unie. Dit was 'n initiatief wat deur Dr Danie Craven gedryf was. Ek het dit as 'n persoonlike voorreg ervaar om 'n vergadering saam met hom, Dougie Dyers en Ian Kirkpatrick by Houwhoek Hotel te kon hê om 'n paar kwelpunte uit te stryk.
As beginner-skeidsregter in die Boland het ek verskeie kere in Gansbaai, Laingsburg en Touwsrivier gaan blaas. Daardie klubs het toe in die Bolandse derde liga deelgeneem.
ChrisWH, soos gesê..................
.......................ek is ook 'n gebore en oud Pretorianer, en raai wat, nogal van die Ooste van Pretoria ! Maar destyds toe ek nog opskool was, was daar nog nie 'n Waterkloof Hoërskool wat van "stronthuise" en "hol ook nie awesome" gepraat het nie.
Waar bly jy?
Na aanleiding van Chris WH se inset hierbo - iemand het eendag op die vraag "Waar bly jy?" geantwoord: "Ek bly dronk."





Ek hou my smoel toe ...
... oor enige rugby-geselsies.