SANParke het bekend gemaak dat een van 5 renosterstropers Dinsdag 2 April 2019 in die Krokodilbrug-omgewing van die Kruger Wildtuin deur 'n olifant aangeval en doodgetrap is. Die ander 4 het daarin geslaag om te ontsnap. Die 4 ontsnaptes het die oorledene se familie in Komatiepoort dienooreenkomstig verwittig. Die familie het SANParke versoek om te help om die lyk van die oorledene te vind en dit het die geleentheid geskep dat die SAPD van Komatipoort die 4 stropers inhegtenis kon neem wat hierdie week in die hof sal verskyn.
Intussen het veldwagters daarin geslaag om die oorblyfsels van die oorledene, net 'n kopbeen en broek, op te spoor. Dit blyk dat 'n trop leeus die liggam verorber het.
Op sosiale media braak die publiek bloeddorstig gal teenoor renosterstropers en verskriklike doodswense word teenoor hulle uitgespreek. Ek wonder hoeveel mense verlekker hulle in hierdie geval ?
Ek glo dit is redelik bekend dat ek 'n natuurliefhebber is en veral dat ek baie lief is vir die Kruger Wildtuin. Maar dit is tog tragies dat iemand, die kind van 'n pa en 'n ma, dalk die pa van kinders en die eggenoot van 'n vrou, sy lewe op so 'n manier moes verloor. Ek hoop die nare gebeure skrik tog in 'n mate die planne van potensiële stropers af. Ek sou baie eerder wou sien dat stropers lang gevangenis-strawwe opgelê word.
Stropery sou nooit tot so 'n geweldige mate toegeneem het nie as die ekonomie van Suid-Afrika beter werkgeleenthede vir werkloses geskep het.
Ek wonder hoeveel mense…
Ek wonder hoeveel mense verlekker hulle in hierdie geval ?
Ek verlekker my nie daarin nie. Maar ek sukkel beslis om simpatie te ervaar.
Die dood....
Die dood van mens of dier op 'n onnatuurlike wyse is na my mening altyd 'n tragedie en verdien simpatie. Die ander sy van die saak is dat die dood van hierdie stroper tog maar op 'n natuurlike wyse plaasgevind het deurdat die olifant met 'n bedreiging afgereken het - ek dink nogal so en dan vervaag simpatie natuurlik.
Simpatie met die oorledenes se gesin sou tog geregverdig kon word, mits hulle nie bewus daarvan was dat stroping van renosters die doel van die oorledene was nie. SANparke het wel met die familie simpatie gaan betuig want as die familie nie SANparke van die tragedie verwittig het nie, sou die oorblywende 4 stropers nooit vasgetrek kon word nie.
Simpatie met die oorledenes…
Simpatie met die oorledenes se gesin sou tog geregverdig kon word, mits hulle nie bewus daarvan was dat stroping van renosters die doel van die oorledene was nie.
Len - die "bold" gedeelte wat ek aanhaal moes nie dalk eerder gelees het: "tensy hulle bewus was dat stroping van renosters die doel van die oorledene was" ?? Of vervang "mits" met "indien" ?? Ek sê-vra maar net.
Dit is nie reg om mens te…
Dit is nie reg om mens te verlekker in die dood van 'n ander nie. Maar jy is 'n beter mens as ek, as jy simpatie voel vir die afgestorwene. Ek het vir seker meegevoel met enigiemand wie 'n geliefde verloor aan 'n (totaal) onnatuurlike oorsaak soos om deur inbrekers gedood te word of in 'n ongeluk te sterf.
Die stropers is egter per definisie misdadigers en hulle weet dit ook, anders sou hulle dit mos helder oordag en ten aanskoue van almal gedoen het. Verder moet jy nie met die leeu se bal speel en verbaas wees as hy jou byt nie.
Ek kom sekerlik ongevoelig voor, maar al is jy hoe werkloos kan dit nie as regverdiging gebruik word daarvoor om misdaad van enige vorm te pleeg om kos in die hande te kry nie. Bedel dan eerder.
Misplaaste simpatie/empatie
Middag vriende
Hierdie is nouweer 'n sensitiewe onderwerp, maar;
ek kan geen simpatie ervaar met 'n misdadiger nie, hetsy dit 'n wildstroper of 'n plaasmoordenaar is nie. Selfs as dit iemand was wat uit sy voertuig was, en doodgetrap of opgevreet word, het ek weinig simpatie.
As mens "leef met die swaard, dan sal jy sekerlik ook sterf by die swaard.
Groete
Wessel
Baie goeie nuues so op n…
Baie goeie nuues so op n koue Maandag- jammer, die natuur het sy gang gegaan.
Chris...
Chris, ek weet ook nie, maar ek glo jy weet wat ek bedoel. Dalk is "indien" tog die beter woord.
Ns. My woordeboek sê : "mits" = "op voorwaarde dat". Dus, my bedoeling was dat simpatie aan die oorledene se gesin geregverdig is op voorwaarde dat hulle nie bewus was dat die doelwit van die oorledene was om renosters te stroop nie.
Interessant hoe mense iets lees wat nie daar geskryf staan nie. Ek het nooit simpatie verklaar met die stroper-oorledene nie.
Ek verstaan nou jou sin…
Ek verstaan nou jou sin beter Len. Die "mits" het net vir my nie heeltemal reg geklink nie. Maar noudat jy noem dat jou bedoeling "op voorwaarde dat" was, klink dit tog nie verkeerd nie. Ek het ook nou in my HAT gaan naslaan. Jy's 100% korrek. Net so bietjie van 'n mis-interpretasie gewees van my kant af.





Ek het dit gesien op Maroela…
Ek het dit gesien op Maroela Media, hier is die berig: https://maroelamedia.co…
Dit was ook die eerste gedagte wat by my opgekom het: "mooi so Olifant"