Môre vriende,
Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?
Hier is die fb skakel.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
STAP.
Vir die wat nou wonder waarvan ek nou praat, laat ek nou stap vir stap vir julle verduidelik. Ek praat van die verskillende maniere van stap. Sit nou maar net vir n oomblik stil en sien jouself stap, hoe stap jy? Ja man, ek weet die slimmes gaan sê, treetjie vir treetjie.
Daar is ouens wat sukkel om te loop agv. hul gesondheid, dit kan n ou verstaan en ek spot geensins met hulle nie. Ek vertel sommer net ligtelik. My broer hulle sê bv ek stap so bakarm gorilla styl. Noudat ek daaraan dink, hulle kan seker reg wees. Ons het mos almal so n bietjie bobbejaan in ons. Party so bietjie meer as ander. Kyk maar net wat se stupid goed kan ons aanvang.
As ek saam die vrou mall toe gaan, breek my rug omtrent af van so vorentoe en agter toe, dan die heen en weer stappery. Ek sê altyd, sê vir my stap Kaap toe en ek begin nou stap. Moenie vir my sê gaan stap in n Mall nie, ek dood net daar.
Ek gaan sit eerder in die breë gange. Dit is as jy n plekkie kan vind. Nou moet jy besluit in watter rigting jy wil kyk. Van watter kant af gaan die meeste mense kom? Dit is mos nou vir jou n lekker plek om mense se stap dop te hou.
Weer wil ek hê julle moet aan my dink as n bobbejaan. Hulle het mos n spesifieke manier van kyk as hul so op hul se gaaie sit. Hul koppe so vinnig van links na regs beweeg, net om seker te maak hul mis niks nie. Met daai bruin geel ogies wat alles dophou.
Kom daar n omie aan met sulke bak bene. Hulle het mos so n rol stap. Hulle rol so van links na regs en dan weer terug. Lyk asof hul arms soos krukke hier reg langs hul gaan vasdruk, dan rol hul weer terug, met die terugrol word die volgende tree gegee. Lyk kompleet soos pikkewyne.
Langs hom stap die tannie met die knock knees. Hulle weer lyk soos iemand wat weerskante van n pad wil loop. As jy langs hul loop of verby wil gaan moet jy versigtig wees dat jy nie trip nie.
Dan kry jy die kiertsregop stappers, lyk of hul n snoekerstok ingesluk het. Hulle kan nie regtig by die middel buig nie, of so dink ek maar. Onbuigbaar bewandel hul die gange.
Nou kry jy die wat krom stap, van hulle lê so op die winkeltrollies. Gewoonlik is dit ouens met rugprobleme.
Die teenoorgesteldes is die ouens, gewoonlik maer mense, hulle sal nou regtig agteroor buig vir jou. Hulle voete is so n voet agter hul heupe, middeltjies so vooruit gestoot. Lyk kompleet asof hul maer boudjies by hul se voete verby wil gaan.
Jy kry ook die wat so stadig stap, miskien meer van n drentel. My oorlê pa het altyd gesê jy stel nie n ou aan wat stadig stap nie. Dit lyk mos of hul nie lus is om te loop nie. Seker niks leliker as n jong man wat so lui drentel stap het nie.
Dan kry jy die vinnige en flink stappers. Hulle stap asof hul die bus gaan mis. Ek hou van hulle, die oomblik wat hul jou sien, kan hul vassteek en gou n woordjie wissel.
Ek is lief vir stap. Nou die dag gaan kuier ons vir my swaer hulle en gaan stap n bietjie. Neem ek die foto van die grot so in n oorhang. Ons is so aan die oorkant op n gelykte. Lyk so rustig, gaan lê so op my maag op die gras om n mooi hoek te kry vir die foto. Zoom ek in. Ek is oortuig die bobbejane slaap snags daar. Swaer, sê ek, kom ons stap soontoe.
Jors, staan op, sê hy, ons is net in die tuin. Het ek my nou wragties so ingeleef in die storie ek dog ek is in die berge.
Vreugde en vrede vir julle.


Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
DIE TRAILER MET DIE SURPRISE.
Kuier n vriend se vriend en nog n vriend van hulle se vriend gister hier op die plaas. Ek verteĺ dit nou maar so om die mense anoniem te hou. Vertel die vrou van jare gelede wat hul in n viermotor groep op n familie toer gaan in Zimbabwe, op vakansie.
Ouma is saam hul in die motor. Op dag twee word hul vakansie planne heeltemal deurmekaar gekrap. Staan hul vroeg op, hul wil Vic falls toe die dag, ouma kom nie uit die kamer uit. Iemand gaan kyk. Lê ouma ewe rustig yskoud in die bed. Ouma is weg. Daar is nie vreeslik tyd om te rou nie. Om n lyk terug te kry in Suid Afrika van buite die land is n hele gedoente. Hulle sien nie kans om ouma agter te laat daar in die vreemde nie.
Net daar besluit hul hul gaan ouma toedraai in lakens en in die sesvoetwaentjie onder inpak met ligter goedjies bo-op. Julle weet mos hoe smokkel die ouens goed in en uit. So het hul ouma netjiese pajamatjies aangetrek, toegedraai in lakens, n matrasie in die waentjie gesit en ouma soos n mummy gaan neerlê. Met n lekker sagte kussinkie onder die kop. Verder het hul ouma toegepak met allerhande ligter goedjies.
Toe is dit, grenspos en doeane, hier kom ons. Daar word maar n bietjie lepel gegee, dit is warm wêreld. Hulle moet ouma so gou as moonlik by yskaste uitkry, terug in Suid Afrika.
Hoe nader hul aan die grenspos kom hoe angstiger raak hul. Wat as hul alles deursoek en ouma in die waentjie kry. Hoe verduidelik hul dit.
Daar gekom is almal uit die motors met hul paspoorte daar na die kantore toe. Hul kry dit toe reg op ouma se paspoort tussen die ander deurgewerk te kry.
Nou is dit nog net die kar en ouma in die waentjie dan is hulle koppe deur. Stap terugna die kar. Hul steek verbaas vas. Daar staan hul kar, sonder n waentjie.
Hy is weg, ouma is ook nou heeltemal weg. Hulle kan nie die diefstal gaan aanmeld nie, die polisie kan tog nou nie n waentjie met n lyk kry nie. Boonop is sy eintlik nou onwettig in die land, haar paspoort is klaar gestempel daar sy klaar weer uit die land is.
So is hul sonder ouma oor Beitbrug terug in Suid Afrika. Hier moes hul ouma as vermis aangee om haar na jare dood gesertifiseer te kan kry.
Wie ookal daai waentjie gesteel het, het n surprise gekry.
En Ouma, tot vandag toe weet hul nie wat het van ouma geword nie. Ouma is regtig weg.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
MOORDENAARSKUIL/SPRUIT
Kuier ons die naweek saam met vriende op n plaas. Man, n spookstorie loop darem mooi op n plaas, hulle vertel net lekkerder, veral as dit donkerder raak.
Dan hou die ouens, veral die vroùens die vuur mooi aan die gang en sê maklik vir die mans om nog n stompie op te sit. So was dit ook die naweek toe ek van die spook vertel het wat ek n lift gegee het die nag daar buite Klerksdorp. Ek het jul al vertel.
Vertel n vriend van hier in die sewentiger jare toe hy in Potch op landbou college was. Hy gaan die naweek saam n studentemaat vir dié se ouers kuier daar by Witrivier. Die Saterdagaand gaan kuier hulle by diè ou se meisie, die bly weer in Sabie. Tot laatnag kuier hul en val naderhand in die pad terug Witrivier toe.
Hy sê op n plek ry jy so tussen koppe deur en dan sak die pad so af waar jy naderhand oor n spruit ry. Anderkant klim die pad weer na ander koppe. Hy besluit hy wil rook, haal n sigaret uit en steek hom aan, miskien moet ek eerder sê probeer hom aansteek. Op daardie stadium was die kar se vensters nog toe. Vertel hy dat die aansteker se vlam doodwaai asof iemand hom doodblaas. Hy voel ook die wind hier neffens sy nek verby trek. Probeer hy weer, dieselfde gebeur. Naderhand gebruik hy eerder n vuurhoutjie. Dieselfde gebeur. Dit is asof iemand hom doodblaas. Om de dood kry hy nie sy sigaret aangesteek nie. Sy vriend sê, jy kan maar los. Hy hou nie van vlamme en rook nie en hy beduie so na agter. Kyk hy om sien hy niks, sy vriend sê daar sit hy reg agter jou. Ek sien hom, jy sal hom nie sien nie maar ek sien hom. Dit is hy wat die vlam doodblaas.
Nou vertel die man dat die plek se naam Moordenaarsspruit of kuil is.
Blykbaar is die man daar vermoor en aan die brand gesteek. Tot vandag toe nog sal jy nie jou sigaret aangesteek kry vanaf die koppe aan die duskant tot by die koppe aan die anderkant van die spruit nie. Selfs met veldbrande, sal daai kol rondom afbrand. Dit sal lyk asof jy n koëlronde sirkel om hom getrek het. Brand brand hy nie.
En blykbaar spook hy op sy lekkerste as die son die aand gesak het en daar was sulke rooi gloede.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
Vanoggend gedink ek wil jul weer hierdie storie vertel, miskien is dit omdat ek nou so lus is vir die wildtuin.
WILDTUIN KASKENADES.
Bel ek gisteraand vir Wille Willem. Praat ons sommer so, oor onthou jy nog stories?
Maar kom ek vertel julle.Een jaar loop ek Willie Willem daar by Berg en Dal raak. Het die man nou ook vir jou n liefde vir die wildtuin. Kyk, ek en die man se koppe werk nou mos ook omtrent dieselfde.
n Ou hoor mos daar in die wildtuin die mense praat hul gaan op n " Wilds Trip." Ek het al gehoor as iemand hoog gesool is, hy is op n trip. Die ander trip wat ek ken is as jy iemand trip. Maar eintlik is dit nou nie afrikaans nie, sal baie mense vir jou sê. Dit is seker so, maar vanoggend vat ek jul op n trip, wildtuin toe.
Ons kamp saam met Wille Willem in Berg en Dal. Die aand daar om die vuur, na n ou ietsie om te drink besluit ons mans, vanaand is die aand wat ons n massa slip hou. Ons gaan uitslip uit die kamp uit. Ons lig die vrouens so in. Gou gou weet almal daar rondom ons van hierdie malligheid en die meeste sê, hul gaan saam. Dit kan mos net lekker wees, so n "Night Walk" deur die bosse en dink net die opwinding om dit met n klomp onervare toergidse te doen. Man die adrenalien gaan die heeltyd so deur jou are bruis.
Wille Willem sê hy het een van daai swart plastic sambokke wat die boytjies so by die robotte vir selfverdediging verkoop onder sy bakkie se seat, hy sal hom saamvat. Ek het my Joseph Roger knipmes, hy gaan ook saam. Sy vrou sê sy het pepperspray en my vrou sê sy het haar skokstok in haar handsak.
Ek noem dat ek die oggend gesien het daar by die driffie is n gat in die heining wat die parkeraad al n paar keer gefix het, ons sal daar kan uit. Ons sal net n paar drade daar moet loswikkel dan is ons uit. Ek het die man sommer net MacGyver begin noem, hy sê, dit sal nie n probleem wees nie en pluk daar aan sy belt aan n skede en haal daar n mes gedoente uit. Man, het daai ding nou vir jou tools, knip jy hier oop dan het jy n tang. Slaan jy hom toe en trek daar, is dit n skêr. Daar is skroewedraaiers, platpunte,sterpunte, you name it. Vertel hy dit is n Swiss Army Knife. Jy sal met daai mes n hele enjin kan uitmekaar haal en aanmekaar kan sit.
Na ietsie vir die pad en toe die kamp stil raak is ons daar weg af driffie toe, koplampies op die kop. Die vrouens met hul toilet toe gaan torches. Sommer gou gou het MacGywer die drade los en so haak haak het ons almal deurgekruip en word ons formasie saamgestel anderkant die draad. Wille Willem heel voor met sy sambok, dan ek met my oop Joseph Roger en dan MacGywer. Daarna die res van die groep. Daar word in MacGywer se boek opgeteken wie almal daar is. My vrou is braaf, met haar skokstok loop sy heel agter om die agterhoede te dek.
So in n enkel gelid is ons toe daar die bosse in. Daai koplampies skyn al soekende in die bosse in. Hier en daar tel ons oë op. Hoe verder ons wegbeweeg van die kamp en sy ligte af hoe donkerder word dit in die bos. n Koplamp is sterk as jy vleis braai maar sit hom in n bos dan is dit so asof sy straal wegraak, sy straal lyk mos naderhand of hy so krom trek terug aarde toe om dan net in die niet te verdwyn.
Nou ek weet tot vandag toe nog nie wat dit was nie, party sê dit was n leeu, n ander sê dit was n hiëna. Ek weet net dit was iets wat voor ons n lawaai gemaak het. Met die wat almal skielik tot stilstand gekom het loop my vrou in die vrou voor haar vas, die skokstok so op bouthoogte en die bloublits verlig die omgewing met daai kenmerkende tiktiktik geluid van n skokstok. Sy choke daai arme vrou, sy gee een hengse gil en slaan die vrou voor haar met haar torch oor die kop. Wille Willem slaan met sy sambok hier teen n bos vas, ek en MacGywer swaai met ons messe so vooruit, in n dreigende houding, met die het ons mekaar ook n paar snymerke toegedien. Die moeilikheid het eintlik gekom toe Willem se vrou haar pepperspray beginne rondspuit. Wat n gemors om almal weer bymekaar te kry. Hoe ons almal so vinnig, sonder om te haak, deur daai gat in die draad gekom het, weet ek ook nie. Op n stadium het ek net gesien Wille Willem swaai sy sambok asof hy beeste in n drukgang indruk en ek het ook weer die grrrrr van die skokstok gehoor toe my vrou buk om deur te kruip. Gehawend het ons by ons kampvuur gaan sit en stompe op die kole gegooi. Ek vra toe, "Wil enige een van julle n ietsie drink? " Wat n dom vraag.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
BERG EN DAL SKOOLKAMP.
Met die wat ek, Wille Willem, MacGyver en al die ander Slippers weer terug is om die kampvuur na ons minder geslaagde, nie toelaatbare " Night Walk" buite die grensdrade het Wilde Willem die volgende te vertelle oor dié kamp. Hy vra so in die groep in.
Wie van julle kan onthou op skool van al die bustoere wat altyd gereël was ? Man, dit was darem nou vir jou lekker nê, sê vra hy. Nou ek weet nie of dit Help Mekaar of Soek Mekaar skool was nie maar so besluit die skool dat hulle n toer gaan reël na die Kruger om die kinders bietjie aan die natuur bekend te stel. Ou Gawie, die kinders het hom die doop naam “Dirty Harry “ gegee, omdat hy so baie na Clint Eastwood gelyk het en juffrou Smit, Bolla is die toerleiers. Haar naam weer, is omdat sy haar hare so in n bolla agter haar kop vas gemaak het. Die hare het sy so styf ingetrek in die bol in, dat sy nie haar oë kon knip nie. Sy het sulke groot oë gehad. Haar voorkop was seepglad getrek, lyk of sy n facelift gehad het, so styf is hy ingegetrek. Die agterste hare is weer so styf boontoe opgetrek in die bolla in, haar boudjies sou nooit uitsak van ouderdom nie. Hulle het gelyk soos twee varsgebakte beskuitkorsies wat mooi uitgerys het. Kan nou nog nie dink dat sulke mooi mense hul skoonheid daai jare met sulke snaakse modegiere kom staan en verbloem het nie.
So vertrek die bus met Dirty Harry, die bus bestuurder en Bolla om agter die meisies te kyk. Dirty Harry was veronderstel om die seuns onder bedwang te hou. Dit was so stokoue Bedford bus wat baie gerook het, hy het seker so 10 km op n liter olie gegee. Die bus arriveer in so n rookwolk by Berg& Dal kampeer plek en al die kinders borrel opgewonde uit die bus. Voor ek verder vertel daar was 3 musketeer op die bus, Neelsie, Vaatjie (die naam se alles), en Rooies. Hulle was onhebelik stout en Rooies was die leier. Die poetse wat die 3 gebak het, het soms vir hulle n drag slae opgelewer maar wat, seuns is mos maar seuns.
Fluks word die eenman tente opgeslaan met Dirty Harry en Bolla se tente in die middel en die seuns regs van Harry en die meisietente links van Bolla, sodoende kan hulle die laat nag sluipers vasvat. Onmiddelik is Rooies en sy trawante daar weg om te verken en kattekwaad aan te vang. Eers sluip hulle in die meisies toilette in en sit “clingwrap “oor die toilette en slaan die deksels terug. Daarna is dit “ Omo “ in die toilet se spoel tenk. Tevrede met hulle konkelwerk loop hulle die res van die dag rond. Die aand breek aan en dit is stort tyd, nou julle wat die Kruger ken, daai muurtjies in die storte is mos kort en is nie opgebou tot teen die dak nie. Rooies stort met sy pêlle en hulle hoor hier is iemand langs hulle ook besig om te stort, Rooies staan op Vaatjie se skouers en loer oor die muur en hier staan Dirty Harry, hy was besig om sy hare te was en uit te spoel, Neelsie gee vir Rooies die sjampoo bottel aan en so terwyl Harry die skuim uitwas drip hulle nog meer sjampoo op sy kop. En dan skuim ou Harry se hare weer, naderhand vat Harry sy bottel sjampoo en lees die aanwysings, maar raak niks wys deur wat hy daar lees nie. Ou Rooies hulle wil hul doodlag en besluit die gedoente is nou afgesaag en keer terug tente toe na hulle stilletjies uit die badkamers verdwyn het. Maar Rooies het ander “tricks “ook, hy het rubber slange en spinnekoppe ook saam gebring en dit in van die seuns se slaapsakke gesit vroeër die aand .
Nou begin die chaos, die meisies in die toilette gil, dit skuim as hulle die toilet flush, die clingwrap bring ander ongemak en natuurlik weet die seuns van niks. Nou is dit hulle beurt om in te kruip in die slaapsakke en daar word die rubber slange en spinnekoppe ontdek, dis n rumoer en gegil. Maar Karma is n blikskottel, vroeër die dag het n groot akkedis in Rooies se slaapsak ingekruip en die lê nou lekker snoesig en slaap. Rooies sê nag aan sy vriende en gaan na sy eenman tentjie en kruip in sy slaapsak in, die ritsluier word tot teen sy ken opgetrek en hy kry sy lê. Skielik voel hy daar kruip iets teen sy been op en hy vlieg soos wit weerlig op in sy slaapsak, daar is nie tyd om ritsluier los te maak nie. Hy hol sommer so in sy slaapsak, sy tent met toue en penne uit die grond en hy gil soos n maer vark terwyl hy op Bolla se tent afstorm, en hardloop ou Harry skoon onderste bo, wat by Bolla se tent uitkom. Hy het glo n pomp gaan soek by die juffrou, syne glo by die huis vergeet……… tsk tsk tsk ….. mense waar is julle gedagtes ….. vir sy opblaas matras natuurlik. Die hele kamp is in rep en roer en toe besef ou Harry wie is die sondebokke. Die paar dae daar, het daai drie mannetjies se gatte elke dag gebrand met hul stoutighede. Die rit terug in die bus was bietjie ongemaklik vir ons 3 maters, hulle het die hele rit gestaan, hulle gatvelle het gebrand. Na daai kamp het Bolla met haar groot oë net oë gehad vir Dirty Harry. Ek dink hy was so stilweg bly hy het sy pomp by die huis vergeet. Ek verstaan dat Dirty Harry en juffrou Smit later getrou het en nog steeds skool hou.
Droogweg sê Wille Willem dit was dalk n gekombineerde skool, Soek en Help Mekaar soos wat die kinders mekaar help soek het om weer die regte goed by die regte tente te kry.
Toe sê die vrouens dit is tyd om te gaan inkruip. Die kole nog bloedrooi, jy sal nog n skaap op hulle kan braai. Toe ek dit voorstel aan die ander manne wat toe al met hul "coolbags" in die hande gestaan het, het ek gesien van hulle wou hom weer neersit. Ek sê ook sommer, sit nog n bietjie man, ek wil jul nog n storie vertel. Die kyke van die vrouens het ons egter anders laat besluit.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
GROOT OOG.
Praat ek en Wille Willem gisteraand. Die man het sy oge laat opereer. Eers die een en toe n week of wat later die ander een. Een oop oog en een grootoog, dit is nou met die groot wit patch op. Nou is hy nog brilloos en kan nog net dofweg sien. Vertel die man my hoe lekker dit is om te weet hy gaan weer lekker kan sien na n maand of twee se herstel tyd.
Eintlik was dit sy vrou wat aangedring het dat hy moet gaan vir die operasies. En ook nie hieroor of daaroor nie, hierdie gevoel voel van hom kon sy nie meer verdra nie. Menige glase gebreek daarmee.
Blykbaar selfs met die nursies n kans gevat in die hospitaal, kon kamstig nie die badkamer kry nie. Tas tas hy kamstig so in die lug om te voel waar sy pad is, dan vat hy n nursie raak. Het hul nou hul hande vol gehad met die man wat badkamer toe wil gaan.Voel voel hy sy weg oop met die nursies wat in alle windrigtings in skarrel om weg te kom
Verbeel jou, skielik is hy bang vir sy Zip. Dit is glo wat hy hul vertel het. Maar wat, die nursies ken ou ooms se stories en het hul nie aan hom gesteur nie. Sê nogal so ewe, met ons oë is daar niks fout nie oom, ons sien reg deur jou plannetjies.
Grootoog met die een groot gerek om beter te kan sien en die ander een nog met die groot wit patch op staar hy dan na hulle omdat hul hom nie wil glo nie.
Is hy naderhand daar in die badkamer in. Die volgende oomblik weergalm daar n bloedstollende gil en n vreeslike gekerm. Die saalsustertjie hardloop na die deur, klop en kry net n " huhh" en maak oop. Daar staan Wille Willem ten volle geklee en skaterlag.
Ek het julle mos gesê ek is bang vir die zip, sê hy en lag te lekker.
In die land van die blindes is eenoog koning, vertel hy my. Selfs met sy swak sig het hy gesien waar gaan hy hul vang, dink ek by myself.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
KARAVAAN SE EILANDBED.
Gister vir jul vertel hoe ek n selfaangestelde sekuriteitswag/karwag geword het by my vrou se huismark.
Weereens is dit nou iets wat gister gebeur het wat ek moet vertel.
Gister was dit die laaste dag van Ann se huismark.
Nee wag, ek jul gou iets vra. Het jul al opgelet dat n eilandbed in n karavaan so smaller word na die voete toe? As jy die matras oplig op sy shocks lyk hy kompleet soos ń kis, net breër. Gaan kyk bietjie, n kis loop nouer na die voete toe. Boonop loop hy dan nog van groot bo na kleiner op die vloer.
Die mark is verby en nou begin die opruimingswerk. Die uitstallers breek hul stalletjies af. Ek breek die gazebo af wat amper so groot soos n sirkus tent is, ja oraait, miskien so n bietjie kleiner.
Met dit gedoen is daar ń duisend en een goed wat moet teruggaan na hul plekke in Ann se huiswinkel.
Die karavaan moet ook weer terug gestoot word tot op sy plek. Die kampstoele en kamptafels moet ook weer teruggaan karavaan toe.
So dra ek alles wat karavaan toe moet gaan tot by hom,sluit oop en sit die tafels en stoele so skuins teen die kaste neer. Die stoele kom voor die as in die neuskaste.
Met hulle op hul plek is dit net daar waar die moeilikheid begin met die goed wat onder die eilandbed moet kom.
Die wa was skoongemaak na ons Drakensville kamp en daar was dit lekker koud.Alles is gewas na die kamp en op die bed lê so n gekwilte deken. Ou maat, is daai ding n gewig, hy weeg maklik kort duskant n ton.
Lig ek die matras op met die shocks wat alles so skuins regop hou.
Het ek jul vertel van hierdie nuwe brille van my, blykbaar is hierdie een traaifokuls, jy traai mos die heeltyd fokus met hulle.
Hou bietjie n ou met so n nuwe bril dop. Ek dink, of kom ek vra eers so, onthou jul nog daai kunshondjies wat die oumense so in hul ou motors se agtervenster gesit het wat se koppe so in die ry gewieg het? Hul koppe het mos so in die rondte geswaai en op en af beweeg. Kompleet soos n dronkie se kop, hul koppe kan mos ook nie stilstaan nie. Hul onderlyf en kop lyk so asof dit aan twee verskillende mense behoort. Dit is nou presies wat gebeur as jy n nuwe bril kry. Jou oë is gevestig op iets, stokstyf staar hul daar waar hul wil fokus, nou begin jy jou kop eers op en af beweeg om die fokuspunt te soek, sodra jy die op en af ingestel het beweeg jy jou kop links en regs om die senter te kry. Nou net presies so maak n ou met n nuwe bril, stokstyf staar jou oë, maar jou kop wieg rond.
So van dronkies gepraat, in die ou dae voor daar blaaspypies was het die spietkop gesê hul moet sy vinger volg, die het hy dan van links na regs voor jou beweeg, dan bly n dronkie se oë mos links kyk maar sy kop waggel regs. Daai vertraagte reaksie was genoeg bewys dat die ou se kop, lyf en oë aan drie verskillende ouens behoort.
Besluit ek toe om n tafel, hierdie wat so aan die karavaan hak wat so n allimunium hoekyster raam het, eerste in te sit. Hy moet in daai doodskis kom, heel agter by die koppenend.
Hy moet op die verste punt van my af gaan lê, dus lig ek my linkervoet op om binne in die bedkompartement of liewer hierdie dubbeldoor doodskis te trap.Terselfdertyd moet jou kop en bolyf afsak om half onder die skuinste van die bed in te gaan.
Ouens wat brille dra sal jou sê, n trappie is n moeilike ding. Jy weet nooit presies hoe hoog of laag hy is nie. Daai bleddy bril se fokus maak toe dat ek my voet seker so 50 mm te min lig. Met die wat die tafel se gewig nou anderkant my middelpunt is om balans te hou neuk ek met tafel en al, kop eerste in die kas in en stamp seker met die valslag teen die skuins matras of shocks. Alles gebeur gelyk, so in paaiemente. Die plank met matras en swaar deken bo-op, slaan my agter die kop. My voorkop en neus slaan die hoekyster van die tafel. Op daai stadium is my kop tussen die bed se plank en die tafel se blad vasgedruk soos n vrou se borste as sy vir n mammogram moet gaan. Dit is iets verskrikliks, die ongemak en die pyn. Ek val binne in die doodskis in. My lyf en linkerbeen binne die kis met my regterbeen, net my kuit en voet hang halfpad buite onder die bed uit.
Daar lê ek binne die kis en ek sien al die hoofopskrif in die plaaslike koerantjie,
"Man sterf binne kis".
Die bediende wat nog iets in die wa wou kom bêre kom op die petalje af, sy lig my doodskis se deksel op. Sorry,sorry sê sy asof dit haar skuld is.
Met n sakdoek hier teen my voorkop en neus gedruk, klim ek bloeiende met n gesukkel weer daar uit onder die eilandbed uit.
Ek is so bly ons ry môre Marloth toe. Ek kort n vakansie, ek kry nie meer lekker gefokus nie.Amper was ek lang bome toe.
Soos ek sê, hierdie het laas jaar gebeur.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
PARTYTJIES.
Kom ons gister hier in Kimberley aan. Ons drie kleinkinders hier verjaar al drie in November. Daar is besluit om al drie se partytjies hierdie naweek te hou. Gister was Sias(8) sin, vandag die ander tweetjies (3 en 10)) sin.
Man, voel dit mos nou vir my of ek weer kind is gister. Die maatjies arriveer. Almal so sewe of agt jaar oud. Oulike klomp kindertjies. Die dorpsoutjies groet met n hallo oom, hallo tannie. Die plaas klonge kom groet met n handdruk en n drukkie vir die vrou.
Nou is dit eers, veels geluk liewe maatjie omdat jy verjaar en toe word daar in n koor die jare afgetel tot agt met enetjie wat toe sommer tot 9 tel, lag die kinders te lekker vir sy mistake.
Nou word daar gekuier en gespeel. Naderhand is dit roomystyd. Hulle gesels n hond uit n bos uit. Op daai ouderdom praat hul mos party so snaaks, die erre word gebry of getrek na RRRe wat so beklemtoon word. So ook met die esse. Die t's word mos n tche
So vertel die een dat " aek het noui dag my ma tche kar besthuur, ry ek amper n Thewe honDert Duithend Rand tche Mercthedes deur n muur.
n Ander een vra, " wat het jy al geskiet? , een antwoord, "ek het nourie dag n torrrrie getthkiet met my daisy"
Tipies seuns moet een groter gaan en sê, "ek wou nou die dag n koedoe tthkiet met my pa se gun, maar hy het nie n scope oppie, toe tthkiet ek n moertthe gat in die gras"
Almal lag te lekker.
Toe begin die my " pa stories". Die grootste,sterkste en die beste, hul hero's. Ai, kinders en hul onskuld.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
HUIS KOOP.
Jare gelede stel ek belang in n huis. Nou, huiskoop is nie perdekoop nie. Huise is duur en jy kan maklik vir jouself n kat in n sak koop. Jy moet dinge mooi uitkyk.
Die plek het ek nou omtrent met n bottel brandewyn en n twee liter coke gekoop. Reël die agent dat ons die middag sesuur as die mense by die huis is sal gaan kyk. Op pad soontoe waarsku hy my dat hulle huurders is en dat hul nie baie vriendelik is nie. Blykbaar omdat hul nou sal moet trek.
Dit was ook so, ontvangs was kil. So, asof hul sê, kyk en kyk klaar en kry jou ry. Die agent spook om hul eenkant te hou dat ek kan kyk. Maar ek het die mense klaar opgesom en n paar dinge van hulle gesien.
Is naderhand daar weg en ek vind op n manier uit waar die man werk, hy is n mecanic. Werk by n plaaslike trekkerhandelaar. Vroutjie is n ontvangsdame by n tandarts. Ek wil graag weer na die plek gaan kyk, maar sonder die agent. Ek wil meer weet, en wie kan jou nou meer onverbloemde inligting gee as die huurder.
Die volgende aand sesuur, sonder n afspraak, druk ek die klokkie, bottel brandewyn in die een hand, pak ys in die ander hand, twee liter coke onder die een arm vasgeknyp.
Maak nors meneer die deur oop. Toe hy die proviant sien kom daar n effense smile op sy gesig. Vinnig sê ek, ek het ietsie saamgebring en gedink hul sal my baie van die plek kan vertel.
Vroutjie bring vinnig nog n glas, hul is al klaar besig met sulke halwe glase. Die halwe bottel brandewyn het ek die vorige aand al in die kombuis gesien met hul glase en coke. Met my ook nou glas in die hand vat hul my weer op n in diepte toer van die huis.
Al die plekkies waar die agent my vinnig verbygelei het kan ek nou omtrent met n vergrootglas ondersoek. Ek maak aantekeninge so ver soos ons gaan.
Kort kort kry ons n refill. Hul huur al drie jaar. Daar is baie inligting. Dit borrel uit hul uit. Met die bottel wat vinnig sak is ek later daar weg met n baie dankie. Dit wat oor was het ek vir hul gelos. Toe ek ry sê die vrou sy sien eintlik nou uit om te trek na n nuwe plek toe met die wat ek so opgewonde is oor hul woonplek.
Man was ek toe darem vir jou in n goeie onderhandelingsposisie toe ek weer n afspraak maak met die agent.
Het toe die plek gekoop, een van my beste kope ooit.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
DIE BRAG GAT.
Vra Wille Willem my gisteraand of ek so iemand ken. Sê ek, wie ken nie so iemand nie. Party ouens gaan egter heeltemal te ver met alles. Vertel hy my die storie van hier in die sestiger sewentiger jare.
En so n persoon was oom Koos, hy was n plaasboer daar in die Karoo vlakte. Elke maand met sy besoek aan die dorp, dan het mens mos ander boere in die dorp raak geloop en dan moet hulle hoor ou Koos het die grootste trekker, die duurste stoetbul, die vetste skape en wat meer. Die ander boere het al keelvol geraak met oom Koos se gebraggery en die een boer kry n plan wat hy met die ander boere bespreek. Natuurlik moet tant San ook betrek word, sy werk in die plaaslike sentrale. Onthou julle nog daai plaas telefone, een lang lui en twee kortes, dit is jou lui maar natuurlik kan almal inluister op daai oproep. So reël die manne met tant San sy bel vir oom Koos, kyk daardie jare kan jy nie direk gebel het nie jy, moes deur die exchange op die dorp gaan. Die telefoon lui by oom Koos en hy antwoord, dis tant San Ou Koos, hier van die sentrale, sê sy. Hier in n minister van Pretoria wat met jou wil praat. Minister praat maar jy is deur, sê sy. Die boer wat sy stem vermom en nog boonop so in n leë visblikkie voor sy mond praat, sê. Dagsê, dit is minister Schoeman van landbou wat praat, kan ek met Mnr Vermeulen praat asseblief. Dit is hy wat praat se oom Koos. Ag meneer Vermeulen, tot hier in Pretoria hoor ons van jou spogplaas en aanteel en ons het dit nou goed gedink om jou te vra of ons jou plaas as model plaas aan die ander boere kan bekendstel sodat die sukkelende opkomende boere kan sien hoe n plaas bestuur moet word. Maar alte seker se oom Koos en noem my sommer Koos sê hy. Ag baie dankie Koos se die” minister “ ek en my kollegas sal die ander boere in kennis stel dan kom hou ons n skoudag daar by jou en jou spogplaas. In sy noppies dat iemand in die regering weet van sy spogplaas vra oom Koos nou wanneer wil die “minister" n draai kom maak. Koos hoe lyk dit vir die einde van die maand vir jou, sê so die 30ste. Ou Koos sê, net so oomblik, ek net in my dagboek kyk. Loer hy op die kerk almanak bokant die slinger foon, sien dit is n Vrydag. Ja sê hy, ek sal dit kan inpas. En nogmaals dankie vir die geleentheid, julle is almal baie welkom en lui af. Die ander boere wat ingeluister het op die oproep lê soos hulle lag. Oom Koos het skaars die foon neergesit of hy vlieg daar uit die huis en kommandeer al wat n plaas volkie op en dis net orders en bevele. Die plaas moet reggeruk word, die skewe vee kraal mure moet regop staan en sommer weer wit gekalk word, die slap grensdrade word weer styf gespan, die hoendehokke kry nuwe sinkplate op en die trekkers en toerusting word gewas en sommer gepolish ook. Die groente tuin word geskoffel en onkruid word uitgetrek, so worstel die volkies van sonop tot sononder om daai plaas reg te ruk. n Skaduwee mag nie eers skuinsval nie of hy word reggeruk. Met die Vetveeveiling was oom Koos die grootste aankoper die week daarna. En so het die dertigste gekom, vroegoggend spuit oom Koos se mense die grondpad tot by die teerpad nat vir die stof. Geen minister of boer het opgedaag by oom Koos se spogplaas nie . n Week later ry oom Koos dorp toe en hy kan sien hoe die ander boere agter hulle hande vir hom lag, dis toe wat dit hom so tussen die ogge slaan. Iemand het n lelike poets op hom getrek. Hy het nooit die skuldige opgespoor nie maar hy wat oom Koos was het nooit ooit weer gebrag oor sy landgoed nie. Tot die dag van sy dood het daai plaas n regte egte spogplaas gebly. Die ander boere het baie sleg gevoel oor die streep wat hulle oom Koos getrek het maar niemand was braaf genoeg om oom Koos die waarheid te vertel nie. Na sy afsterwe was dit een van die grootste boedels in die omgewing wat ooit bereken moes word.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
n BIETJIE LEEN.
Wille Willem vertel van die keer.
Hierdie is woorde wat enige Pa nie wil hoor van sy tiener seun nie “ Pa mag ek vanaand die kar n bietjie leen ? Junior, dis nou my seun kom nou die aand en vra daai gevreesde woorde, Pa kan ek jou kar n bietjie leen. Hoekom hul altyd die bietjie inbring weet ek nie. Seker om dit mooier op die oor te laat val. Die ou softie in my gee in en ek oorhandig die bakkie se sleutels met die woorde. Jy jaag nie met my bakkie nie die clutch is op sy laaste asem. Nee nooit Pa verseker Junior my en hy is daar weg. Die volgende oggend lê Junior pens en pooitjies op die rusbank en speel sy “Gamer”speletjies. Ek stap na buite om op te check of die bakkie nog padvaardig is. Stap terug in die sitkamer en sê vir Junior “Kom ek wil jou iets wys “Jy dink seker jou Pa is die domste esel wat op twee bene loop. Haai nooit Pa ek het nog altyd gedink Pa is n intelligente man. Buite by die bakkie vra ek hom “Maak oop die bakkie se bonnet “Hy maak so en ek vra hom , wat sien jy , n enjin Pa, woeps die eerste kopklap. Nou wat maak die enjin loop ? Petrol Pa …. En woeps nog n kopklap .Junior ek vra jou weer jy dink seker Pa is die onnoselste idioot op aarde en nee moenie nou begin huil nie, jou Ma gaan jou nie kom help nie. Sê my hoe het jy gister aand die bakkie in die drive-way gekry ……. Gestoot of wat ? want toe ek die sleutel draai val die petrol naald skoon uit die bakkie uit so leeg is hy. Nou het ek hom aan die oor beet en sleep hom agter waar die petrol tenk sit en haal die vullerklep af en druk sy gesig by die oop gat. Wat ruik jy vra ek hom “Niks Pa “ Raait sê ek, nou vat jy daai 5 liter kan en loop Garage toe en koop petrol met jou sakgeld en ek hoop albei jou bene pyn so ver jy loop. Dan kom jy terug en gooi die petrol in die tenk ……… Dan kom staan jy hier voor die bakkie sodat ek oor jou kan ry.
Dink die kjênd nie sy pa is snaaks nie.
Vreugde en vrede vir julle
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
HET PA GEWEET....
Gister so vertel van die seuns wat die kar so n bietjie wil leen. Man, het die pa's nou daarop reageer. Ou Lourens Basson daar van Richardsbaai se wêreld gryp sy foon daar in die hospitaal waar hy lê met n been probleem. Miskien dalk van die kinders wat hom op sy voete gehelp het toe hul sy rygoed afgeskryf het toe hul jonger was. Nee, darem nie, hy het geval en sy been beseer. In elk geval, hy skryf, dit is elke pa se mees gevreesde oomblik daardie. As die seun vra, pa kan ek jou kar n bietjie leen.
As ek destyds net geweet het...
Ek het onlangs uitgevind wat daardie 3l V6 4×4 dubbelkajuit COURIER bakkie se topspoed was.
Ek het ook nou eers uitgevind wat sy regte egte 0 tot 60kpu en 0 tot 100kpu tyd was.
Dat daardie V6 baie krag gehad het, het ek geweet maar dat hy tot met die oorskakeling na derde rat kan "tekkie" was vir my nuus.
Ek het ook nou eers uitgevind dat daardie bakkie 15 passasiers op daardie halwe bak kon laai.
Ook het ek uitgevind hoe ń tiener ń spoedboete wat deur die pos kom, kon onderskep en mbv vriende se bydraes betaal kan word.
Pa's met tiener seuns het baie meer om hul oor te bekommer as ma's met tiener dogters.
Lag ek te lekker. Carel Potgieter skryf weer hy het op agt geleer bestuur met sy pa se Ford trekker. Toe op pa se Ford F250. Later op ma se 69 Pontiac. Hy sê, toe kan hy nou oordenklik bestuur. Begin sy pa en sy oom in 63 by Datsun Nissan Rosslyn as direkteure.
Vir 27 jaar het sy pa elke 3 maande n nuwe maatskappy voertuig gekry. Vir elke kar het Carel vir hom spaar sleutels laat maak toe hy nog onder hul dak was. Dit het hom n klomp geld gekos, maar hy het skelm wiele gehad.
Hy sê, as pa en ma uitgegaan het die aand, het hy ook uitgegaan. Min het hul daarvan geweet.
My pa is op 89jr in 2013 oorlede, so hy het nooit geweet daarvan nie!! Goeie jare gewees daai! My pa was baie betrokke by Sarel v d Merwe wat destyds so goed gedoen het met Rallies met die Datsun SSS en ook op Kyalami! - so ons was gereeld saam by Rallies en ook naweke op Sat by Kyalami omdat Datsun hul geborg het! Ons het op n plot in Dewildt Pta gebly en die bokser Kallie Knoetze het agter ons op die Brits pad gebly. Hy het ook van my pa se maatskappy karre, soos die Datsun 300 C met Z conversion gekoop. Datsun het hom ook geborg so ek was ook na baie boks toernooie genooi!! Kallie se afrigter - Billy Lotter was n toets beampte by Silverton toetsgronde, so het ek op die dag wat ek 18 geword het reeds my kode 14+02 lisensies gekry! ![]()
![]()
Goeie dae!! Jy laat my nou op 60 terug dink aan baie goed! Die huis wat my pa op De wildt gebou het is vandag bekend as die Bundu Inn Lodge!!
Ja broer, dit was mooi en lekker jare gewees. Stoutgat en brandgat, maar steeds lekker.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende.
Die afgelope twee dae het ons gepraat van boetie wat pappie se kar n bietjie leen. Gister het n ma reageer en gesê om dogters te hê is net so n riller. Nou waar is n beter man om daaroor uit te vra as Wille Willem. Hy sê sy naam kom juis uit sy vryers dae, vermaan my nogal om niks daarvan te sê nie. Maar julle ken my, ek kan mos nou nie sulke goed van julle af weghou nie.
SUSSIE SE BOYFRIEND.
Daar is seker niemand wat sy geweer so styf vashou soos n veligheidswag agter in n Cash In Transit voertuig nie, behalwe n Pa met n mooi 16 jarige dogter. So sleep my dogter Nonnie so n dreksel van n jong man in my huis in. Sy stel my voor aan die kêrel en ek skud daai bleek pap handjie dat hy amper uit sy een oorbel val, ek sien hy het hoeka al die ander een verloor. In sy ander hand hou hy n pakkie Gunston plein en matches vas. Ek kry so n rilling langs my ruggraat af as ek dink die mannetjie het seker my meisiekjênd gesoen groet. Sommer van die begin af het die mannetjie met sy een oorbel vir my ongebalanseerd gelyk. Hy het my nie aangestaan nie. Maar toe die kêrel my “ Howzit Ballie “ noem trek my moer meter al in die rooi. Was toe al lus en neuk sy tande uit sy bek uit. Mamma sien n ding kom en sy sê, kom Pappa, kom help my in die kombuis. Net om my uit die sitkamer te kry. Later die aand sit Romeo en Juliet in die sitkamer en ek sê vir Sussie, jy weet 10 uur is ligte uit, nê my Pop. Sal die vent vir my sê, Is okay ou Ballie ek is nie hier om boek te lees nie. En by the way, sy is nou my pop en ek kan lekker popspeel in die donker. Dit was die laaste strooi, ek gryp die vent aan sy kraag en ook hier agter by sy belt en froggie hardloop hom oppad na die voordeur. Met ons wat binne n paar tree volspoed is en ek wat vir die smal sitkamerdeur mik, hardloop hy nou kop eerste in die muur nefens die deur vas. Vir jare het daar so n vet kol op die verf gesit. Afwas was jy nie vir hom af nie. Moes naderhand die kol doodverf.
Waar was ek nou weer, o ja!! So is ons gangaf, waar hy die vrou se telefoontafel ook in sy dinges in hardloop. Die pote breek af en die ou slinger telefoontjie spat eenkant toe. Die het net so n krrrr.... gegee. So in die verbygaan net gehoor die sentrale vroutjie vra " nommer asseblief". By die voordeur gekom, die staan gelukkig oop en is so n klein bietjie breër, maak ek seker die man hardloop eers teen die deur kosyn vas en toe na buite. Sal die kêrel dit waag om so n slaan hou na my te mik. Pappa toe is die gort gaar, kyk ek het rofstoei op skool gehad en ken nog al die moves, ek knoop daai maargat in n pretzel grip, julle ken daai greep. Jou opponent kan net sy oogballe en miskien n pinkie beweeg. Soos n wafferse Jan Wilkens pen ek daai ventjie daar op die rooi gepolishde stoepvloer vas. Ek is seker hy kon harpuis ruik. Kyk ou broer, ek het die vrou en vir Sussie die hele tyd hier om ons gesien, hulle monde het beweeg maar daar was geen klank nie. Ek dink my ore het toegeslaan.Toe begin die klank weer deurkom, Sussie gil en sê, stop dit Pa, ek is lief vir hom. My vrou skreeu op my, waar is jou maniere dit is n gas. Vra so ewe, het jy vandag jou medikasie geneem? Intussen lê ek op Romeo met my volle 130 kg en ek voel die man haal swaar asem, staan toe maar op, hy is bloedrooi in die gesig. Tot vandag toe nog weet ek nie of dit van die stoep polish was of wat nie. Gryp hom weer aan sy kraag en boender hom by die stoeptrappies af. Sy Big Six Cortina het nog tot in derde gespin. So is hy toe daar weg, sonder om te groet. Nou ja blyk toe dat ek nie die held in my eie huis is nie, ek het daai koue skouers van die vrou en Sussie n week lank gehad. Sussie deel my toe mee dat sy en Romeo se kys uit is, hy wil glo nie met n meisie uitgaan wie se Pa mal is nie. Kamstig bang hul kinders is ook eendag so. Wou my eers vervies, maar nou ja.
Ou broer, la ek jou nou vertel, om kjênders groot te maak issie maklik nie.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
ANGEL SOOS IN ENGEL.
Vanoggend gesels ek hier vanuit Ventersdorp met julle.Was jy al hier, man, hier is nou vir jou interessante mense. Dit is my grootword wêreld die. Toe ons gister nabykom, dink ek by myself, ek gaan huis toe.
My een broer, pa en ma lê hier begrawe. Sal altyd soos huis voel hier. My suster bly hier, nou vertel sy my die ding van die ou oom en tannie. Hulle is al oud, die oom 83 en die tannie nou tagtig. Sal maar liewer nie name noem nie.
Die tannie noem die oom Angel. Hulle het glo nou al vir jou getrek in hul lewe. Net n rukkie, dan trek hulle. En ook nie net in die dorp nie. Menig maal uit die dorp uit. Nou weer, bel hul haar nou die dag, jy moet n bietjie vir ons n plekkie soek, ons wil terug Ventersdorp toe.Ons is nie meer happy hier in Rustenburg nie. Terloops, dit was nou al die tweede keer wat hul soontoe getrek het, elke keer maar weer terug Ventersdorp toe.
Nou vertel sy, sy het met die wegtrek hul gaan help pak. Die tannie is siek, sy gee orders so uit die bed. Kort kort roep sy met n skerp stemmetjie " Angel....Aangel.....Aaangell" Die ou oom is al baie doof. Hoe minder hy hoor hoe harder skree sy. Boonop loop hy met n kierie Nou is Sus besig by haar in die kamer. Daai mandjie bo op die kas moet jy vir my asb die goedjies in hierdie laai in pak beduie sy. Nou word daar weer na oom Angel geroep. "Angel....Aangel...Aaangelll, kom haal die goed van die kas af vir Elize". Sus sê, die arme oom sukkel om te loop, maar hy moet dit kom afhaal. Tannie, los die oom , ek sal self afhaal. Dan is dit maar net,nee kind, "Angel.....Aangel......Aaangelll" roep sy weer. Ja, en die dag wat hul toe daar in Rustenburg aankom is sy dadelik gehospitaliseer. Oom Angel moes alleen uitpak.
Die ou Sus van my. Sy onttferm haar oor die oumense. Sorg vir n paar in die ouetehuis en in die dorp. Dokters toe, apteek, munisipaliteit en dorp toe vat, ken sy van. Selfs Klerksdorp na die spesialiste toe vat, ken sy van. Nou die dag kom sy uit die bank uit, stap daar n ou oom moeisaam met n walker. Die ou bene is stram en styf. Waar gaan oom heen, vra sy. Nou beduie hy straataf na n winkel so n blok en n half verder. Dit gaan hom n ewigheid vat dink sy en bied hom n geleentheid aan. Met hom in die kar ry hul, daar gekom is dit n gesukkel, het alles nou stokstyf ga staan en raak aan die ou oom. Die ou bene is styf, skop omtrent die vloerplaat tot teen die radiator vas. Daar sit sy, sy vertel sy het omtrent die ou oom uitmekaar gehaal om hom uit die kar te kry. Voet vir voet eers uitgehaal, dan moet sy die been hier by die knieg met haar hande forseer om te buig, eers dan kan sy die linkerbeen uitswaai, maar dit is nou ook nie asof die ou met sy boude op n turntable sit nie. Met die wat die regterbeen nog styfgeskop teen die vloerplaat is, maak dit dit moeilik. Met moeite het sy toe die ou oom weer uit die kar gekry. Ja swaerie, om oud te word issie maklik nie.
Vreugde en vrede vir julle.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
JEUKERIGHEID.
Ou swaer, kom ek jou nou sê, dit is n aardige ding. Jy kry mos verskillende jeukerighede. Ek hoor baie mense praat deeske dae van rustelose bene. Man, ek ken nie so vir n ding nie, maar ek verstaan dit is n nare ding om aan te ly. Dit lyk my, as ek nou reg verstaan, dit is iets wat ouer mense kry.
Ja daar is so iets soos oumens siektes.
Nou, ek het nou so vir n ding gaan staan en opdoen, wat hul noem jeukerigheid. Lankal wat ek al die kriewelrigheid voel, maar ek kon hom nie mooi plaas nie. Ek kan nie vir jou presies sê waar hy is nie. Hoe verder ek gegaan het, hoe erger het die ding gesta raak.
Lees ek laas week van iemand wat n Turner's Swift karavaan wil verkoop. Dit is asof jy my met n hamer tussen die oë slaan, toe weet ek waar die jeukerigheid lê. Dr.Google diagnoseer die siekte met die eerste soekslag. Alhoewel die doktertjie dit nie direk sê nie maak ek die afleiding dat die genesing daarin sal lê om die ou karavantjie te koop.
Wil die vrou my toe ook nie glo toe ek die ding vir haar beduie nie. Eintlik is dit n geloofsding. Jy mag mos nie begeer nie. Nou as ek die karavantjie koop gaan ek mos nou die begeerte hokslaan, dink jy nie so nie?
Nou begin die reëlings. Kry iemand in daai wêreld om net eers vir my te gaan kyk of dit die moeite werd is om heen en terug nege honderd kilometer te ry. Mooi maar baie werk sê die man, ek besluit dit is nou maar om self te gaan kyk.
Die vrou reken my Vrydag toe ons nog oppad is dat n rol doringdraad ook sal help vir die jeukerigheid, sy sê my gat jeuk. Ek het haar toe vermaan om nie so lelik te praat nie. Wat gaan jy met twee karavane maak, vra sy. Kamp, reken ek haar. Kyk sy my net so skeef aan.
Toe die karavantjie gaan koop en vanoggend vat ons haar terug Bethlehem toe. Haar Vrydag daar in Coligny se wêreld gaan haal en tot in Ventersdorp gesleep. Sommer vir my Sus ook kom kuier.
Wat n plesier, sy tou te lekker. Het nou al onder ingekruip, ek het nou maar besluit dit is n sy, sien niks los rondswaai daar onder nie.
Raak die vrou toe nou opgewonde oor my medikasie so oor die naweek. Ek het haar aangesteek. Gisteraand tot laat toe nog gesels hoe sien sy hom in haar geestesoog, hoe hy nou binne moet lyk. Blinds, kleure, uitleg en allerhande sulke dinge. Nou smaak dit my hierdie ding gaan my n klomp geld kos, om nou weer haar jeugerigheid stil te maak.
Die bloemen ding is soos Covid, hoogs aansteeklik ou broer, hoogs aansteeklik sê ek jou.
Vreugde en vrede vir julle.

Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
MY OU BICYCLE.
Sitlê ek een Saterdag op my TV stoel en kyk die groot trappery, mense bedaar, dit is nie die ouer saamtrek by Brackenfell nie, maar 97.4 radiostasie se groot fiets wedren. Daar is nou alle figure en shapes op daai fietse. Maar ek moet bysê, die meeste is lenig gebou. Hulle dra mos sulke stywe outfits. Aan die vrouens lyk dit goed. Hulle sê mos fietsry gee jou mooi boude. As ek die dames so sit en bekyk lyk dit of hul waar praat met hul getrimde boudjies. Netjies man, netjies sê ek jou.
Maak my skoon sleg voel dat ek so ledig rondlê . My bier proe skielik nie meer so lekker nie en die niknaks proe half af. Kyk sommer gou na hul Best before date's. Die is nog reg. Het eers half geskrik met die covid ding dat my smaak nou nie meer lekker is nie. Ek besef dat dit hierdie skuldige slegvoel gevoelentheid is wat die wrang smaak in die bek veroorsaak.
Net daar besluit ek om iets daaraan te doen en dat ek moet begin oefen, het hoeka nog my ou dikwiel fiets hier in die garage. Nou vlieg ek op en stap na die garage, maar ai, die fiets staan al so lank dat die ketting geroes het. Mens sal sweer hy het vir n jaar op Richards Baai se strand gelê. Ek sleep hom uit na buite. Die wiele is ook half en half gelock. Albei wiele is pap eers moet ek die pomp gaan soek. Ek blaas daai bande tot by 3 bar maar nog steeds lyk hulle pap as ek my gewig op die fiets sit. Nou bespuit ek alles wat lyk of hul kan en moet beweeg met spookpie. Stram stram begin alles weer lewe kry. Die vrou hoor die getswier... tswier en kom uitgestap en vra ,"wat doen jy nou al weer?" Ek gaan fietsry, sê ek, kan jy nie sien nie. Sy het toe maar net haar kop geskud en omgedraai. So in haar wegstap net n gemompel gehoor, iets van oumans en hul jeukerigheid. Wat sê jy, vra ek, maak sy asof sy my nie hoor nie.
Ek spuit ook n halwe kan olie op die goete uit. Nou loop soek ek n costume om aan te trek. Daar in die kjenders se kamer kry ek so n swart drafbroek gedoente wat so kan rek, hoekom hul die goed nie saamvat nie, weet net hulle. Hulle is mos nou al jare uit die huis uit.Trek hom aan, hy fit net net, maar toe ek so afkyk sien ek die gedoente gaan nie werk nie. My skaamte word nou eers beklemtoon. Bo-oor trek ek my kakiebroek aan, nou lyk dit beter. Dit lyk te aardig met die lang swart pype wat onder uitsteek by die kakiebroek se pype. Dan is dit nou die ou maer wit beentjies wat wit uitkom, net tot hul wegraak in my lang WP rugby kouse. Die ruik die ene motballe, hulle ook in n boks in die garage gekry. Het lankal nie meer tekkies nie en trek my tuinvellies aan wat by die agterdeur staan. Die droë modder sommer so teen die trap afgeslaan. Ek staan buite by die druiwe prieël reg by die kombuis se venster en gooi my regter been in die lug om dit oor die fiets se saal te kry, net om my broek en goed te traai. Skielik skeur die materiaal hier by my crutch en ek flash die vrou in die kombuis ek hoor net borde val. Terug in die huis trek ek my ou weermag PT broek aan en saam die WP kouse lyk ek nou amper soos n spinnekop op steroids. Nou soek ek n valhelm, in my ou weermag baalsak kry ek my ou mosdop. Plaas het ek maar my staaldak opgesit het. Kry ook n ou PT vest vir die bolyf. Die span so styf oor my boepens dat hy my lae rug so intrek, seker soos n vrou met n korset moet voel, dink ek so by my selwers.
Die plan is om, hier agter ons is daar n stywe bult, heng die munisipaliteit se lorries kan nie eers daar op nie, dit is nou my begin punt daai. Waar was my brein daai dag. By so n bult staan en trap jy mos, skaars 20 tree getrap toe hyg my asem soos n asma lyer wat sy pompie verloor het, gelukkig stop n samaritaan met n bakkie en offer om my boontoe te vat. Bo gekom, nou is dit maklik, dis afdraende al die pad. Ek bestyg my bicycle. Hy het nog een van daai breë sale met die springs onder. Met my vetgat verdwyn daai saal soos die maer saeltjies van deeske dae. My PT broek en helfte van my jockey onderbroek verdwyn in julle weet wat in. My boude vou om die saal en beland daar tussen daai twee springs se coils in. Maar ek byt vas en daar gaat ek. Manne die fiets loop asof hy op Teflon is, al hoe vinniger. Die baie olie skiet so n swartstreep deur die lig en verf n streep oor my rug, nek en mosdop. Halfpad teen die bult af sien ek uit die hoek van my oog n erf met n groot Alsation wat na die oop hek hardloop en my wil jaag. Nou trap ek verwoed. Die hond het hom hoeka met my spoed misgis en hardloop voor die fiets se wiel in, ek trap sy tjank af en ek val my tjank af. Daar lê ek en die hond, hy wil nie meer byt nie, en ek wil nie meer fietsry nie. Kom ER met hul ambulans daar aangejaag en reken my hul sal die weermag se ambulans moet laat kom, daar ek glo na n army casevac lyk. Ek lyk naar , ge-camouflage met army mosdop en bebloed lyk dit of ek in n oorlog was. Ek is afgevoer hospitaal toe en die hond is veearts toe. Bene en arms in gips lê ek in die hospitaal en Dominee kom besoek my. Na ek hom die storie vertel het sê hy "Maar broer jy kon daai hond dood gery het" Was eers lus en voeg hom iets toe.
En die vrou, sy het by die buurdogter gehoor van my val en erg bekommerd daar by die ongelukstoneel aangejaag gekom. Toe sy sien ek is oraait, het haar bekommerdheid omgeskakel na bedonnerdheid. Het dit ook maar moeilik ou swaer, sê Wille Willem, en dit alles oor meisies in stywe fietsry kleertjies.
Vreugde en vrede vir julle.
NS. Môre vertel ek jul van laas nag se skietery hier by ons huis, vandaar vandag se laat skrywe.
Jors se Kampstories op fb ...
Dagsê vriende,
CARAVAN SECURITY VS WHOEVER.
Ou broer, kom ek jou nou n ding vertel, wat n gemors was dit nou nie vir jou eergister nie.
Gister het jul gesien dat my storie helemal laat was. As jul nou verder lees sal julle sien hoekom dit so was.
Kom ek laatmiddag van die dorp af. My vrou het kuiergaste wat in die straat geparkeer het. Druk die afstandbeheer om die deur oop te maak. Dit is n groot dubbel houtdeur, hoog genoeg vir n soliede dak karavaan. Broer, is die ding nou vir jou swaar. Toe hy oopmaak ry ek vorentoe, die volgende oomblik val daar van bo af iets met n hengse slag op die voorruit. Ek dog iemand gooi my met n baksteen. Die vrou wat die lawaai hoor storm uit die huis uit. Daar breek die deur se "bracket" wat die as en "spring" van die deur ondersteun uit die muur uit. Die deur lê nou onder die plafon op sy spore. Die deur sak net so n voet en n half dan steek hy vas sou jy hom wil laat sak.
Kort voor vyf bel ek my verskaffer, sorry oom, sal nie vandag kan help nie, môreoggend, eerste ding is ek daar by oom. Wou eers de hel in raak maar besluit maar om vrede te maak daarmee.
My probleem is, alles staan nou oop van die straat af. Twee karavane, my bakkie en n waentjie staan voor die motorhuise. Die tweede wa is die ou Turner's Swift wat ek wil mooi maak.
Wat nou gemaak? Ek sê vir die vrou ek gaan in die karavaan slaap. Sy moet in die huis slaap, daar is n alarm en sy is relatief veilig.
Baie jare gelede het ek met n inbreker n stel afgetrap, so ek is nou redelik ingestel op veiligheid. Selfs ons tuin is beveilig met n paar surprises.
Lag maar, selfs die leeubekkies is getrain om aan te val. Die olifant ore sal jou bo van jou voete af klap as jy te naby kom. Ek speel sommer.
Vat ek van my boobytraps wat ek gebruik as ons gaan kamp. Toe die son sak stel ek hulle op, een in die deuropening en nog n paar tussen die karavane asook by die bakkie. Hulle werk basies soos n antipersoneelmyn van vroeër jare, met n tripwire. Behalwe dat dit n slagpen het wat n Hilty slagdoppie afslaan. Raas net soveel soos n 9 mil. Toe dit slapenstyd raak is die vrou bed toe, en ek karavaan toe. Slaap ek mos nou so te sê op straat die nag.
Ek het myself ingewurm in n ou stel browns. Die hemp kan net die twee boonste knope toemaak. Moet seker kompleet lyk soos twee wegbind gordyne wat my boepens ontbloot. Met my army bootse en staaldak is ek daar uit by die deur nadat ek good night gesê het vir die vrou. Die 9mil aan my belt, Joseph Roger in my broeksak, vir "in case" n knopkierie in die ander hand. In my broeksak is ook n paniek knoppie vir die sekuriteitsfirma.
Na obserwasie van my onmiddelike omgewing is ek daar in die kararvaan in. Slaap met my armybootse aan soos op patrollie op die grens. Ek lieg n bietjie oor die kleredrag.... en die boepens.😁😁
Wat n nag, sleg geslaap. Half drie skrik ek wakker met die deur wat probeer afsak en vassteek. Hoor iets buite, vlieg op. Druk die afstandbeheerde ligte om aan te gaan, alles terwyl ek by die deur uitvlieg in n aanvallende posisie. In die straat staan n bakkie voor die deur met n sekuriteitsbeampte wat nader kom. Ek wil hom keer voordat hy die eerste boobytrap aftrap by die deuropening. Maar helaas is ek te laat. Die arme mannetjie is amper van sy voete af met die skoot wat klap en die oom met n 9 mil wat lyk of hy wil aanval met sy gordyn pajama hemp, boepens en veelkleurige pajamabroek.
Wat toe blykbaar gebeur het is dat hy op patrollie was, en gesien het die deur staan oop. Omdat dit die enigste toegang tot ons erf is, is hul in besit van n afstandbeheerder. Hy het diè gedruk dat die deur kan toemaak, omdat hy weet die deur is altyd toe. Dit was hittete of Caravan Security en Silent night Security het mekaar gegryp. Amper was ek en die mannetjie in n geveg betrokke. Terug by die voordeur agter die sekuriteitshek staan die vrou met haar 38, ewe gereed vir aksie. Moes toe eers die hele storie vertel.
Ewenwel, die ouens was net na agt hier om die deur te herstel, dit is hoekom my storie laat was gister.
Die tuinfoto is maar net om te wys hoe onopsigtelik die tripwire is. Die foto is n ft van hom af geneem.
O ja, as jy wil kom kuier, reël maar net dat ek daarvan weet dat ek al die surprises kan wegvat dat jy nou nie n landmyn gaan sta en aftrap hie by my nie. Netnou kos die kuiertjie jou n arm en n been.
Vreugde en vrede vir julle.





Ek sien daai
Eina vir die maermerries kyk Willem ou Jors mag maar