Dagsê, het die 2003 model Prado 4l v6 van my dogter gekoop. Sy wou inruil op VW en inruil geoffer was R30k onder boekinruilwaarde en R45k onder handelaars retail.
Pragtige voertuig, kilos 280 000km, dalk hoog, maar loop soos n horlosie. Ek het R115k betaal en sal vir dieselfde laat gaan. Of ek hou dit vir dalk eendag Kunene mond toe ry.




Stuitigheid
Daar was nie drank betrokke nie. Dit was pure stuitigheid. Die Everest makeer eintlik niks, en het nog nie eers 160 000km gery nie. Dit het genoeg poeier, en daardie is goeie enjins. Dit het ook hope spasie. Dit ry egter hard, soos ‘n ou bakkie.
Die Prado gaan waarskynlik 2km/l minder lewer, maar is baie geriefliker, uiteraard meer luuks en het hope krag. Die enjins is al lank in die land en baie betroubaar. Die een is gereeld by Toyota gediens, en die olie is mooi goud en al die ander vloeistowwe reg en seker die regte soort as Toyota dit gediens het. Die bakwerk makeer niks, en alles werk soos dit moet.
Ek gaan ‘n ruk daarmee ry, en besluit of ek dit of die Everest gaan hou. Een van die twee sal moet gaan. Teen huidige pryse gaan brandstof my R3 000 meer kos op ‘n wildtuin toer. Tyd sal leer of dit die moeite werd is vir die ekstra gerief en krag. Gelukkig het dit net R160 000 gekos.

Welkom by......
Môre Chris S
.....die elite groep wat Prado's kan bekostig en geniet. Ek hoop jy is baie gelukkig daarmee. Dit is mos hoe 'n kersgeskenk moet lyk.
Ek aanvaar dat jy daarmee Dwarswegstrand toe gaan sleep. Ek sal graag wil hoor hoe het die Prado jou Kavango gesleep.
Ek weet watter ene ek sou hou, in goeie geloof. Wat seg mammie van daai stuitigheid.?
In aansluiting by Wessel, ...
.... ek weet ook watter een ek sou hou. Daai kilo's is "peanuts" vir 'n Toy. Geniet hom.
Ek het altyd gesê dat ek geen begeerte het vir luukse Duitse of enige ander eksotiese voertuig nie indien ek die fondse daarvoor hê Die enigste voertuig op my wenslysie is 'n Prado.
Dink Wessel sal dit be-aam, …
Dink Wessel sal dit be-aam, 'n 6 silinder veral die groter 4 liter modelle, hetsy reguit ses of V 6 ry vreeslik lekker. Dis net dat almal van hulle 'n ernstige drink probleem het, geen behandeling kry dit uit hulle uit nie. Onthou maar om ook in jou eie petrol raffinadery te belê en op ' sleepwa saam te sleep anders wink bankrotskap baie vinnig! Net ter illustrasie, my 4 liter Territory met sy 80 liter tenk en die Fleetline agterna op ons jaarlikse wegbreek Scottburgh toe....van vertrek in Centurion tot by daai Engen by Bergview, Harrismith is daai tenk basies op dampe, 80 liter daarmee heen! Selfde roete, selfde Fleetline is die 3.2l (diesel) Ranger se (ook) 80l tenk nog meer as halfvol. Volgemaak by Bergview gee dit ons genoeg tot by Scottburgh plus nog 2+ weke se rondry sonder sleep. Met die Territory se 4l moes ek weer opvul voordat ons Scottburgh haal. In baie opsigte mis ek die 4l maar wat brandstof aanbetref is ek deesdae heel solvent en nie meer bankrot
Hoor graag van die (brandstof!) ervarings verder in die pad af!
Elke seun se droom
Die enigste voertuig op my wenslysie is 'n Prado.
Ek wou altyd ‘n Land Cruiser 100 gehad het. Maar ‘n Prado is ‘n kortkoppie agter, en darem effens ligter op petrol. Wat die km betref; dis baie maar ek ry gemiddeld 9 000km ‘n jaar met my sleepvoertuig so daar is maklik nog 10 jaar oor op die enjin en teen daardie tyd sal ek my laaste voertuig moet koop vir aftrede.
Soos ek genoem het is die Prado gereeld gediens by Toyota, en het net een eienaar gehad voor Pieter-Steph dit vir ses maande gehad het. Ek het bietjie op forums gelees en die ouens rapporteer in Australië oor 700 000km op die enjins solank dit gereeld nuwe olie kry. Ek gaan vandag bietjie by Toyota hier in Worcester (waar dit ook laas gediens is) uitvind wat hulle stelsel wys tot dusver aan die kar gedoen is.
Wat seg mammie van daai stuitigheid.?
Sy was deel van die besluit. Die kinders is ook in hulle noppies, Junior sê gister die kar skud nie so baie soos die Ford nie. Ek glo dit sal soos ‘n droom sleep. Nie dat daar iets fout was met die Everest se sleepvermoë nie.
Ek sal net moet uitwerk wat die sweet spot is in terme van snelheid om die beste verbruik te kry. Ek maak my reg vir 5,5km/l as ek mooi ry (wat ek wel doen - ek versnel nie vinnig nie) maar daar is maar ‘n paar opdraendes oppad Dwarswegstrand toe, en as daardie V6 so saggies begin dreun teen ‘n bult op dan sien mens amper die naald van die brandstof meter val.
Gemiddelde verbruik
Hoor graag van die (brandstof!) ervarings verder in die pad af!
Die Prado se rekenaartjie wys 14l/100km as die gemiddelde verbruik. As dit egter so akkuraat soos my RAV (wat net ‘n jaar ouer is) s’n is gaan 20l/100km waarskynlik die werklike syfer wees. Die probleem is dat ek die tenk weer sal moet volmaak om uit te werk wat die werklike verbruik is, en vir die 180l het mens omtrent ‘n tweede verband nodig.
Kry sy kurwes
Môre Chris
Kyk of jy by die handelaar, die werkwinkel bestuurder/voorman sy wringkragkurwe kan kry. Dit gaan jou baie help om optimaal te sleep.
Hoeveel ratte vorentoe, en is dit outomaties? Ekskuus dalk het ek dit misgelees.
Grootwind is heeltemal korrek, ek verlang soms nog na my ou Territory. Dors gewees, maar daarmee moet jy maar vrede maak. Moet net nie die pedaal trap, agter daai diep dreuning aan nie. Probeer maar katvoet wegtrek, dis baie moeilik.
Ek is nou skoon jaloers, sal maar ou Grompie gaan was, al reen dit.
Chris en Prado
Baie geluk met daai Prado daai voertuig hou aan en aan ja en aan ![]()
Baie geluk met daai Prado…
Baie geluk met daai Prado. There is NO REPLACEMENT FOR DISPLACEMENT. Vra maar wil Willem.
Automaties
Hoeveel ratte vorentoe, en is dit outomaties?
5 ratte vorentoe en dis ‘n outomaties. As dit in D is en ek druk die hefboom regs wys dit 4. Ek het nog nie kans gehad om te lees nie, maar ek neem aan dit skakel 5de rat af.
Teen die hoeveelheid km wat…
Teen die hoeveelheid km wat ek per jaar daarmee ry behoort dit tot kort duskant aftrede te hou. Teen daardie tyd sal ek maar kyk of ek ‘n goeie tweedehandse Prado kan kry vir gebruik na aftrede.
Ek lees nou weer deur die draad en wonder of Chris S nou besluit het om dalk af te tree.
Aftree
Ek lees nou weer deur die draad en wonder of Chris S nou besluit het om dalk af te tree.
Haha! Ek het dit ook nou die dag gelees. Soos ek vroeër genoem het was dit uit en uit stuitigheid en totaal onnodig. Ek het dit net gister toetsbestuur in en om Riebeeck Kasteel, en van die du Toit’s se plaas Kloovenburg af Worcester toe. Dit ry baie lekker, en ek sien uit na die sleep ervaring. Ek sien egter nie uit na die meer as R3 000 wat dit gaan kos om vol te kry nie (daar is nog so halwe 90l tenk in volgens die meter).
Genugtig................,
.................in Worcester gebeur dinge darem baie vinnig. Geluk met jou PSduT-Prado Chris - ek glo jy gaan baie gelukkig wees !
Jy sou nie die kar gekoop…
Jy sou nie die kar gekoop het vir ekonomiese petrol verbruik nie. Nee, daai is uit en uit 'n gemaklike voertuig wat sal sleep soos 'n droom.
Ek sê nogsteeds dat niks wat ek gery het, het my karavane beter gesleep as my 4L V6 Territory nie. Ek het lank met 'n 2.8 Turbo diesel Isuzu, 3.0L DTEQ Isuzu gesleep en huidiglik met 'n Chev Trailblazer. Die Chev maak die meeste Nm van almal maar die Territory se brute krag was net lekker. Willem se ST is nog sterker.
Geniet daai Toy.
2 000 000km
Lees vandag in Daily Mail van n oubaas wat in Nieu Zeeland daagliks koeante aflewer met sy ouerige Corolla. Lyk soos ons Taz model. Die het nou 2mil km gedoen. OOrspronkloke enjin en ratkas.
So daar is nog miljoene kilometers vir Chris oor op die Prado. Net die dem perol gaan pla.
Corolla....
Middag Herman
moes jy nou dit aan die groot klok hang!!!
Ek is juis met 'n fyn strategie besig om Marie te oortuig dat haar Corrola verby sy raklewe is. Dis 'n 2002 model, die 1300cc met 140 000km agter die blad. 'n Regte ou staatmakertjie.
As ek so deur die draad lees…
As ek so deur die draad lees, dink ek aan 'n ou gesêgde "mens kan nie geld weg steek nie"![]()
Baie geluk Chris, mag jy daai Prado tot "doomsday" ry.
Skuld
Mens kan nie skuld wegsteek nie. Die aankoop kom uit my huis verband. Dit was ‘n what the hell oomblik. Ek het eers met Pieter-Steph gesels op Gumtree, en toe dit blyk dat die voertuig goed onderhou is het ek besluit om te gaan kyk. Ek het al my inspeksielys vir tweedehandse voertuie op die forum gedeel, en dit is saam.
Ek het die voertuig ordentlik deurgekyk buite en binne, in die enjinkap, van onder en van bo. Elke hoek afgedruk of getrek om die skokbrekers te toets, die wiele ordentlik bekyk, CV joints se rubbers, die ligte getoets en toe eers aangesluit. Dit het dadelik gevat sonder om die pedaal te raak, en doeksag geloop. Toe sluit ek af, sit die ligte aan en draai weer en dit vat weer foutloos.
Eers daarna het ons gaan ry, ook op ‘n grondpad om laestrek te toets. Die buitekant van die kar is nie foutloos nie - dit is al 14 jaar oud. Daar is ‘n paar chips op die verf, maar dit lyk of dit onderdak gestaan het. Hier en daar ‘n skaafplek op die leersitplekke, en krappe op plastiek in die kattebak. Die dash is darem heel - baie ou Prados s’n is gekraak. Die bande het ook nog heelwat loopvlak.
Dis ‘n klomp kar vir R160k, en mens leef net een keer. My duurste kar tot op hede is die Everest (R205k) wat toe drie jaar oud was en 78 000km op gehad het. Die Prado gaan Dwarswegstrand toe, en as dit lekker loop Kgalagadi toe. Dit sal bepaal of dit bly of gly.
Verkoop prys en moontlikhede
Môre Chris S
As jy nou jou huiswerk verder doen, watter van die Prado en Everest gaan die maklikste verkoop, vir die grootste prys?
Dis duidelik dat jy eintlik nie beide wil behou nie. Wat ek ook reeds kan sê, die Prado gaan lekker loop en sleep, maak nie saak waarheen nie. Indien julle ernstig is om 4x4 gebiede te verken, dalk met die Kavango op sleeptou, SAL die Prado die meer aangewese voertuig wees. Behalwe al die luukses, bied die permanente 4x4 aandrywing, met lae strek soveel meer voordele as die Everest.
Gaan hou nou vakansie, en begin solank dink aan die verkoop van die Everest. Hoe gouer jy dit doen, hoe gouer lyk jou huisverband beter. Verskans jou so gou moontlik teen onvoorsiene uitgawes, of dan die bietjie duurder brandstofkostes.
Daar is 'n Kavango-groep, en 'n Gecko-groep op Facebook, en ek loer soms daar in. Opvallend is die feit dat daardie persone onse land, Namibië, tot in Zambië plat toer, met meestal Prado's as sleepvoertuie.
Laastens, ek het gevind dat mens makliker kinders grootmaak en glipsies oorsien in 'n gebruikte voertuig, as 'n splinternuwe ene, juis omdat daar reeds 'n paar merkies is.
Jy het skielik baie om te doen voor julle Dwarswegstrand toe ry, belangrikste is die sleepbal se hoogte. Onthou as jy daar by Swellendam kom, en so 'n warm gevoel onder jou blaker ervaar, dis nie die ratkas nie, dis die sitplekverwarmer wat aangeskakel mag wees.





Wildehont, was daar drank…
Wildehont, was daar drank betrokke?
Wil jou nie afskrik nie, maar op die kilometer afstand, is Prado se algemene probleem silinderkoppe. En dit is n bitter duur besigheid.
Maar, wens jou baie gelukkige kilometers.