Dinge begin so stadig rigting kry vir ons kort 3 weke wegbreek wat môre oor 3 weke begin. Die inpaklys is voltooi, die spyskaart aanmekaargesit en die wa se binnekant ge-"springclean". My tuiningenieur is weer volgende Maandag hier en dan word die wa van sy bokkies afgehaal, uitgetrek om gewas te word en gou na SupaQuick geneem om die battery (wat al etlike jare aankom) te laat toets ten einde seker te maak daar is nog genoeg woema om die "movers" te laat werk en tydens die reis die tru-kamera van krag te voorsien.
Ons reisplan is as volg:
4 Okt: N2-langs tot by Dwarswegstrandoord vir 3 aande.
7 Okt: N12-langs (George, Oudtshoorn, De Rust en via die pragtige Meiringspoort) na Karoo Nas Park vir 14 aande.
21 Okt: Aanvanklik N1-langs tot anderkant Touwsrivier waar ons suid wegdraai na Montagu vir 3 aande.
24 Okt: Huiswaarts via Wessel se grootword-dorp, Bonnievale, (waar ek gedwing word om tweekeer om die kerk te ry) voordat ons weer by die N2 by Stormsvlei aansluit vir ons laaste skof huistoe.
Kinderlik opgewonde want dit is bykans 2 jaar sedert ons laas gekamp het.
Rooi lig
Mensig - ek het 'n bietjie vergeet hoeveel goggatjies hier saans na die ligte aangelok word. Jy kan amper nie waag om jou karavaandeur oop te maak terwyl die binneligte aangeskakel is nie. Ons het gisteraand omtrent gesukkel om die goggas uit die kos te hou toe ons spaghetti bolognaise onder die stoeptent gemaak het.
Ek het gister n video gesien waar n kampeerder aan die een kantbvan sy wa n geel lig het en agter n rooi lig. By die geel lig was 100de muggies en by die rooi lig net so 2 of 3. Foto's is skermgrepe uit video
Dit smaak my ...
... ons gaan die erg hittige dae hierdie werk opgebruik hier in die Karoo. Môre verwag ons besondere hitte. YR voorspel vir môre 37°, maar Die Burger wys 39° vir môre. Van Maandag af neem die temperature af (nogal koelerig vir Maandag en Dinsdag), maar dan baie gematigde temperature as die ander "rakkers" (soos Wessel ons noem) vanaf Woensdag hier aansluit.
Die kamp het omtrént leeggeloop vanoggend. Hier aan die agterkant van die ablusies (waar ons staan) is daar nou slegs op 2 staanplekke kampeerders. Maar dit is naweek, dus sal dit seker redelik vol loop na vanmiddag se kant toe.
Dié twee oumense is vandag sommer net rustig - nie dat ons al enigsins anders was sedert ons hier aangekom het nie. Ons was jare gelede laas by die park se "Interpretive Centre" en het besluit om dit vanoggend 'n slaggie te besoek. Ek sal kyk hoe ons môre daaroor voel, maar ek het tans in my kop om dalk die Afsaal-roete te gaan ry.
Rustigheid
Tyd tot mens se beskikking is darem die kosbaarste ding op aarde. Geniet julle besoek aan die sentrum, die moontlike rondry, en die hitte. Ek het nog 132 e-posse wat ek moet deurwerk.
10 & 11 Okt
Ons het gistermiddag net weer tot by die Rooivalle gery. Hierdie keer het die klipspringers ons nie teleurgestel nie.

En vir Karoo Nas Park standaarde het ons goeie wildbesigtiging gehad met gemsbokke, springbokke, hartbeeste, koedoes, 'n vaalribbokram, bergkwaggas en bobbejane.
Vanoggend was ons na die "Interpretive Centre". Die tuine lyk mooi versorg, van die inligting is baie interressant (2 "r'e" of 1), maar daar kort tog 'n bietjie fynere sorg.
Vanaand, na 'n snikhete dag, sit ons lekker in ons "agterplaas" met 'n goue koue, waar ons 'n lamskenkelpotjie aanmekaar gaan timmer.

KarooNP nr 25
Naand Chris B, eintlik is nr 25 'n lekker staanplek. Twee kante toe met struike en bome, wat amper privaat agterplaas skep.
Het julle darem namiddag koelte oor die tent en woonwa daar?
Het jy 'n idee wanneer Jan Meyer daar insleep. As ek ref het kom Len en Herman saam daar aan op 16de [??]
Dink aan ‘n meisie
interressant (2 "r'e" of 1)
Ons is op skool geleer ‘n meisie dra een rok en twee sokkies. Dis hoe mens onthou daar is net een r.
Wessel ...
... ja, ons het lekker skadu in die later namiddag, maar die Karooson kan andersins maar piets - soos seker vandag beslis gaan gebeur met die voorspelling van 38°. Môre ook nog 35°, maar van Maandag af gaan die son hom blykbaar minder snaaks hou. Dit smaak my ons verduur nou maar die erge hitte en die ander rakkers gaan net die "mild" weer ervaar.
Maar tog - ons geniet elke oomblik van dié voorreg. Hier aan ons kant, seker maar die gatkant van die kamp, was dit maar leërig laasnag met slegs 3 staanplekke beset. Aan die ander kant was dit redelik vol.
Chris B
Ek glo jou!!!!!
Hier by ons in Brits, draai die kwik die afgelope paar dae so by 38C. k moet elke middag plante lawe. Boonop is dit baie droog, as ek na vriende met boorgate luister, wil dit voorkom of grondwater ook baie gesak [min] is.
Dalk moet julle twee maar tog die kans vat en topless gaan swem.
12 Oktober
Ons het ten spyte van die hitte (vandag se voorspelling is 38°), besluit om die Afsaal-roete te gaan. Ons het aanvanklik nogal heelwat wild gesien - en selfs die "evidence" van die swart spoke met relatief vars mis op drie plekke in die pad. Maar die spoke self het maar soos 'n spook gemaak - weggekruip.
Die Afsaal-hut het vir my nogal nostalgiese waarde. Voordat die leeus in die park vrygelaat is, het ek en Ralie by meer as een geleentheid ietsie kouds op die stoep gedrink - dit was voordat dit as akkommodasie-eenheid beskikbaar gestel is.

Na 'n kort breek by Doornhoek, waar dit slegs ons en 'n paar blou-ape was, het ons teruggekeer kamp toe - na 'n "bloedig-warm" karavaan. Sedertdien sit ek hier voor die lugreëlaar - te bang om my kop by die deur uit te steek.
Ek wag maar vir sonsaktyd voor ek sal waag om vuur aan te steek vir 'n paar Joey's Bacon Patties en groenmielies.
Afsaal roete
Chris, dis goed om te lees dat 4x2 Hilux daai roete kan baasraak. Ek sal dit tog onthou volgende jaar.
Het jy maar net gery, of moes jy 'n permit kry??
Chris, hallo!
'n Tweede probeerslag (iets het vasgehaak sodat ek nie 'n briefie kon stuur nie) om te sê dat, ten spyte van die hitte wat julle tans beleef, dit darem klink asof julle die Karoo geniet. Ek hoor van jou "bloedig-warm" karavaan, maar as ek die Afsaal-hut so kyk dan dink ek die kampeerplek is die beter keuse in hierdie stadium. Die hut is 'n pragtige prentjie, maar met sonkrag alleen?, geen bome en klippe wat waarskynlik rooi-warm gebak is al rondom dink ek dit is nie baie prettig om nou daar tuis te wees nie. 'n Mooi plekkie, nie te min.
Kuier lekker verder![]()
Wessel ...
... nee, jy kan maar net ry -sonder 'n permit. Die Kookfontein-roete kan ook gemaklik met 4x2 gedoen word.
Rona ...
... ek reken jy slaan die spyker op die kop met jou aanname dat die Afsaalhut nie 'n goeie roep in die huidige hitte is nie. As ek luister na die voorspelling vir môre wag daar nog 'n "scortcher" vir ons.
Maar's jy reg - ons geniet elke oomblik tot dusver. Laatmiddag het nog 3 van Bibi se koedoevriende saam met haar in die kampeerarea kom wei. Té mooi om die koedoes so tussen die karavane te sien.
Die son gaan steek vandag
Hier sit ek met my tweede beker koffie, oftewel Nescafé Classic (met erkenning aan die koffie-puriste), vir die oggend en waardeer die koeltetjie wat daar nog is. As ek kyk na die wolkloosheid en die absolute stilte in die lug met nie 'n blaartjie wat roer nie, dring die besef tot my deur dat die 38°C wat vir die tweede agtereenvolgende dag voorspel word, die waarheid blyk te wees.
Die kamp het so te sê leeg geloop vanoggend. Gister het die Sanparks-web gewys dat die park vanaand tjok-en-blok vol gaan wees. Ek wil sover gaan om te sê: Dit wil ek nog sien. Maar dalk word ek verkeerd bewys.
Die bergskilpaaie laat hulle egter nie afsit deur die hitte nie. Ek het die eerste ou al 07:15 vanoggend gesien - seker reeds op soek na 'n maatjie vir hulle daaglikse sekskapades. Skaamtelose goed, hulle.
SSk....
....of dan nou skillie- seks-kapades sal ek nogal wil waarneem. Dit moet beslis 'n moeitevolle gesukkel wees.
Jy moet sommer jou daktent so bietjie natgooi deur die dag en kyk of dit nie help nie.
Dit bly verstommend hoedat die park vir 'n oornag fasiliteit gebruik word. Soos swaeltjies, woer in namiddag, skrop nes, en woer daar gaat hulle alweer.
Kort blyers
Jy's reg Wessel. Die oorgrote meederheid van mense wat die park besoek, bly vir 'n enkele of dalk 2 aande oor. Min mense is so (noem dit maar) gek om vir 'n week of langer hier te staan. Maar ek is mos met 'n Karoo-blommetjie getroud en d.m.v. haar het ek 'n besondere liefde vir die Karoo gekweek - van só 'n aard dat ons sommer vir 2 (soos nou) of 3 weke hier kom kamp. Maar dat jy hier moers warm of moers koud kan kry (afhangende van die tyd van die jaar) is nie altemit nie. Ek het net nie verwag om gedurende die tweede week van Oktober só warm te kry soos tans die geval is nie.
Ek sien eintlik uit na môre en die res van volgende week, wanneer meer gematigde temperature voorspel word. Ons sal maar vanoggend 'n draai op Lammertjiesleegte gaan ry voordat ons die dorp aandurf. As jy vir twee weke hier kamp is dit ongelukkig soms nodig om dít ook te doen. Hier's nie 'n vulstasie in die park nie en ek moet mos genoeg diesel in die bakkie hê om die vuilbaarde en die spoke te gaan soek.





maar ek het soos 'n klip…
Miskien was die "voggies" ook bydraende faktor.