Koro-Koro
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear

luister nou wereldwyd stereo

help lekker reseptenuwe onderwerparrowgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

41051 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Oom Len... ATKV Eiland 2018 GerhardM -31 minutes ago
Ry ook maar altyd n 12V… Is jou spaar styf Harry Du Randt -2 hours ago
Ons tel die 3 slapies saam… Amper tyd! Voortrekker -2 hours ago
Stephan, daai opgewondenheid… Amper tyd! Johann L -2 hours ago
Stephan julle moet dit… Amper tyd! Dusty -2 hours ago
Baie beter!!!

Net 'n meer…
Army Dae Arie -2 hours ago
More golden words Lag 'n slag Voortrekker -3 hours ago

My verbintenis met die wildtuin.

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on Wed, 05/12/2018 - 09:42
Forums

Synde Len enkele wildtuindinge aanraak en ook 'n klip in die bos gooi dat hier tans niks op die forum aangaan nie, het ek besluit om ook 'n bietjie "wildtuin" te gesels.

Ek is oppad 65 toe. My eerste kennismaking met die wildtuin was toe ek 11 jaar oud was. Ek was klaarblyklik as 2-jarige ook in die wildtuin (m.a.w. in 1956), maar daarvan kan ek uiteraard niks onthou nie.

Maar in 1965 (my standerd 4 jaar) is ek saam met my ouers en 17- sowel as 1-jarige susters vir die winter-skoolvakansie wildtuin toe. My pa het destyds d.m.v. die AA bespreek en kon slegs kampeerplek kry. Ons is met sy Zephyr (met 'n kleinerige wit tentjie agterin) Letaba toe vir (as ek reg onthou) 4 aande. Waarop ons geslaap het, kan ek nie onthou nie. Maar wat ek wel onthou is dat ons saans net-net in die tentjie ingepas het.

Phalaborwa-hek (waar ons ingegaan het) was toe nog 'n redelike nuwe hek. By die hek aangekom, het my pa uitgeklim (by 'n klein kantoortjie wat op die middelman tussen die "In-" en "Uitgange" gebou was. Terwyl ons in die Zephyr wag, het my pa uitgekom en 'n stuk droë olifantvel en 'n klossie olifant-sterthare vir ons in die kar kom wys. Daardie dik stuk vel en die dik hare het my bygebly. Hy't ook 'n boekie "Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke" gekoop en met die inklimslag gesê dat daar klaarblyklik 'n groot trop olifante by die eerste drinkplek is.

Daardie jare was alles nog gruispaaie (sover ek kan onthou). Die huidige H9 teerpad tussen Phalaborwa en Letaba het nog nie bestaan nie. Die enigste roete na Letaba was die huidige S131. Aangesien ek nog nooit 'n olifant in die natuur gesien het nie, was die verwagting dus uiters groot om die trop, waarvan ons ingelig was, by die drinkplek te sien. Ek aanvaar dat die drinkplek was die huidige Ngwenyeni. Toe ons die drinkplek benader, was die trop besig om die pad oor te steek. My pa (wat ek glo ook maar bang was) het my en my ouer suster bang gemaak deur te sê hy gaan nou maar tussen die olifante deurry. Beide van ons was byna onder trane.

Terwyl ons wag dat almal die pad oorsteek, hou 'n veldwagter in sy groot Ford- of Chev-bakkie langs ons stil en begin 'n geselsie met my pa. Hy sê toe ons kan agter hom ry, dan hoef ons nie langer te wag vir al die olifante om die pad te kruis nie. So gesê, so gedaan. Toe ons aan die ander kant staan, sê hy ons kan gou agter hom aanry tot by die krip (op 'n pad wat nie toeganklik vir toeriste was nie). Hy wil vir ons iets besonders gaan wys. En was dit nie besonders nie!! Tot vandag bly 'n "sighting" van bastergemsbokke nog steeds vir my een van die waardevolste besigtigings wat jy in die wildtuin kan sien. Sedert daardie tyd het ek nog slegs 4 verdere bastergemsbok '"sightings" in die wildtuin beleef (my laaste was verlede jaar naby Mopani).

In Letaba het ons tent opgeslaan naby een van die destydse steenkool "donkies" wat oral in die kampe was vir warm water. Ten spyte van ons beknopte slaap snags, was Letaba 'n wonderlike belewenis. Ek onthou onder andere 'n besoek aan Olifants wat toe nog 'n relatief nuwe kamp was. Ek onthou ook die rolprent- en skyfievertonings elke aand. Ek was "hooked" (tot vandag toe).

Toe ons moes oppak in Letaba, het my pa besluit om by Numbi uit te gaan. Ons het laterig die middag in Skukuza gekom en op die ingewing van die oomblik het my pa besluit om te verneem of daar nie dalk akkommodasie beskikbaar was nie. En die opgewondenheid was groot toe ons 'n 5-bed hut kon kry. Ons het soos konings geslaap - elkeen op sy eie bed en ruimte om te beweeg. Daardie aand het ek my laaste skyfie- en/of rolprentvertoning van die wildtuinvakansie gaan kyk.

Die wildtuin het toe reeds diep onder my vel ingekruip. Maar dit sou etlike jare neem voordat ek weer daar kon kom. En die volgende twee besoeke was slegs dagbesoeke in 1971 en 1973 onderskeidelik.

Maar die boekie wat ek hierbo genoem het, was 'n kleinood. Ek het daardie boekie letterlik uit my kop geken. Die eerste dier was 'n krimpvarkie, gevolg deur 'n bobbejaan en dan 'n blou-aap ens. Ek het die detail van elke dier geken. Ek was wildtuin "mal" - vandag nog.

Ek vertel later verder oor my verhouding met hierdie wonderlike plek.

Port Elizabeth

Antie

Wed, 05/12/2018 - 10:00

Dankie Chris.   Dit is altyd lekker om wildtuinstories te hoor.    'n Mens kan agterkom wanneer iemand lief (of is dit verlief?) is vir die wildtuin.  Julle vertel dit so lekker.yes

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 05/12/2018 - 10:24

..............dit was nou  lekker leesstof.  Ek is nou sommer lus om in die argiewe hier by my rond te krap vir nog ou fotos van my Wildtuin-ervarings.

Hoe lyk dit, het jy nie ook argiewe fotos nie ?

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 05/12/2018 - 10:55

Die twee dagbesoeke waarna ek verwys, was tydens my matriekjaar toe ons in Hazyview gebly het en by Numbi ingegaan en Orpen uitgegaan het. Ek onthou ons padkos-ontbyt daardie oggend in Pretoriuskop en sedertdien is dit 'n ou kamp wat vir my besonderse nostalgiese waarde het.

Die volgende dagbesoek was in 1973 (toe student aan Elsenburg Landboukollege) toe ons in Magoebaskloof gebly het en by Phalaborwa ingegaan en die destyds nuwe Krugerhek uitgegaan het.

Nee man, ek jok. My volgende besoek was ook 'n dagbesoek in 1976 toe ons in Witrivier gebly het en by Numbi in en uit is. Dit was Ralie se eerste blootstelling aan die wildtuin.

En toe verhuis ons in 1980 na Tzaneen. En hier het die groot verhouding met die wildtuin begin. Tydens ons 3½-lange verblyf in Tzaneen het daar beswaarlik 'n maand omgegaan wat ons nie minstens een naweek in die wildtuin was nie. Letaba was ons naaste kamp en meeste van ons naweekbesoeke is daar deurgebring.

Een van die staaltjies wat ek helder onthou van 'n naweekbesoek, was toe vriende van ons (ook van Tzaneen) reeds die hele voorafgaande week in Letaba was. Toe ons die Vrydagaand by hulle aansluit, vertel hulle ons dat daar een die vorige aande 'n hiëna in die kamp was. Synde ons in hutte (sonder eie stort/toilet) gebly het, was ons aangewese om die algemene ablusies te gebruik. Ons vriendin vertel toe sy die vorige aand van die ablusie af terugstap na hul hut, hoor sy iets wat agter haar asemhaal - soos 'n hond. Sy sit toe die stuk in na hulle hut - en in die proses verloor sy onder andere haar 'panty'.

Daardie aand kuier ons lekker om die vuur. En siende dat ons nog jonk was, bly die voggies (wat toe nog grootliks bier was) nie agter nie. Die hutte het wel 'n "koos" in die rondawel gehad indien jy dalk 'n behoefte gedurende die nag gehad het om 'n draai te loop. Ek word toe wel in die nag wakker a.g.v. die klomp bier, maar besluit ek gaan waaragtig nie die""koos" gebruik nie. Ek het net in 'n PT-broek geslaap en besluit toe dat die dooie hardekoolstomp langs ons rondawel die aangewese plek is om die blaas te ledig. (Ek belowe ek doen dit nie meer vandag nie - daarvoor het ons 'n Porta Potti).

Terwyl ek net so lekker begin piepie, hoor ek iets soos 'n hond wat agter my asemhaal. Natuurlik die hiëna!! Ek los toe die PT-broek se rek (wat ek net afgetrek het) voordat ek die "kraan toedraai" en maak myself waternat. Ek kon nie vinnig genoeg wegkom om in die veiligheid van die rondawel te kom nie. Die sifdeur klap met 'n harde slag toe - en die hele rondawel is wakker (dalk nog die bure ook). En daar staan ek met 'n natgep...te broek.

Die volgende oggend gaan kyk ek toe of ek die spore van die hiëna kan vind om te sien hoe naby hy aan my was. Geen teken van 'n spoor in minstens 'n 20 meter omtrek om daardie boomstomp nie. Die asemhaling was dus "all in the mind".

Aan die einde van 1983 trek ons terug Boland toe. En die hunkering na naweke in hetsy Punda Maria, Shingwedzi, Letaba, Olifants, Balule, Orpen, Satara, Skukuza of Pretoriuskop het pal bly vassteek. In 1985 moes ons eenvoudig na ons gunsteling bestemming terugkeer en gaan kuier toe vir die eerste keer vir bykans die volle winter-vakansie in die wildtuin.

Nadat vriende in Grabouw (waar ons toe sedertdien woon) ons ompraat om saam te gaan met vakansie na Namibië (destyds nog Suidwes-Afrika), gaan ons toe in 1986 o.a. Kalahari Gemsbokpark (soos dit toe bekend gestaan het) en Etosha toe. Ek sien toe baie uit na die Etosha-gedeelte, want 'n oom wat saam met my pa gewerk het, het jare vantevore te vertelle gehad dat as jy eers eenkeer in Etosha was, keer jy nie sommer terug Krugerwildtuin toe nie.

Daar en dan besluit ek toe dat ek gaan rekord hou van al die wild in Etosha - en met my volgende besoek aan die wildtuin gaan ek dieselfde doen. Dan kan ek mos self die twee plekke vergelyk. Hoe "stupid" kan 'n mens nie wees. Dit is onvergelykbare plekke. Baie mense is lief vir beide en sommiges verkies die een bo die ander. Na my eerste besoek aan Etosha (waar ek sedertdien nog slegs weer een keer daarna was) het ek besef dat die Kruger is my plek. Niks teen Etosha nie - ek geniet dit. Maar ek verkies selfs Kgalagadi (waar ek intussen meermale was) bo Ettosha. Let wel - ek is gek oor Namibië as toeriste-bestemming.

Toe ons in 1987 terugkeer wildtuin toe, hou ek vir die eerste keer rekord van my wildbesigtigings. En dit was die begin van iets wat ek tot vandag toe volhou.

Nadat ek David Paynter en Wilf Nussey se boek "Die Krugerwildtuin in Woord en Beeld" gelees het - nee, 'n paar keer gelees het - het ek besluit ek wil ook soos David Paynter elke toeristepad in die Krugerwildtuin 'n minimum van 3 keer ry. Dit is wat hy gedoen het ten einde tersaaklike inligting te versamel vir die boek. Ek het daardie persoonlik teiken verlede jaar bereik na meer as 23 000 km en 220 nagte in die wildtuin.

Maar meer oor hierdie malligheid op 'n later stadium.

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 05/12/2018 - 11:01

Len - ja as ek rondkrap sal ek seker nog 'n klompie 'kiekies' kry wat ek sal moet in-"scan". Maar ek sal later beslis 'n paar van die meer onlangse digitale foto's plaas. Die kiekies is iewers in albums. Ek het vroeër jare grootliks met 'n Super 8 mm rolprentkamera afgeneem (waarop ek nog my eerste "kill" van 'n luiperd wat 'n vlakvark gevang het, het) en later met videokamera. Daardie jare het ek tot my spyt min foto's geneem.

Toe't ek oorgeskakel na my eerste digitale kamera - en deesdae neem ek net met my selfoon.

Centurion

Wit Eland

Wed, 05/12/2018 - 11:05

More Almal, is nuut hier maar n paar ure oud maar geniet elke storie. Het nou die dag n bevlieging gehad twee uur die oggend op en vir die dag kruger park toe en die aand terug in Centurion. Hoop net hulle kry meer reen as ons. Hier is so n paar fotos van dag kuier.

Die eerste foto is iets uit n boek uit nog nooit gesien nie. Die mis op long tom pas en oor die laeveld was besonders mooi.

Centurion

Voortrekker

Wed, 05/12/2018 - 11:24

Baie Welkom Wit Eland!    Dankie  dat jy by kampforum aangesluit het.  Ek hoop jy gaan nog lekker saam kuie, kamp en gesels hier!  

Geniet dit!  smiley

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 05/12/2018 - 12:46

......Wit Eland, ek huil my morsdood as ek vanoggend Wildtuin toe ry en dink vanaand is ek weer by die huis !  Dis darem heeltemal te kort, maar wys ook hoe hierdie plek onder ons vel inkruip.

Welkom hier - vertel ons egter 'n bietjie meer van jou en jou kampstories.

Waar kom die forumnaam "Wit Eland" vandaan ?

Ns. Die foto waar die olifant oor die wit pad met die blou lug in die agtergrond is treffend !

Centurion

Wit Eland

Wed, 05/12/2018 - 13:35

Dankie vir die verwelkoming.

Die naam of liewer die se ding is "Met die spoed van die Heilige Wit Eland" my wit trok se naam is die "Heilige Wit Eland" Toe word ek onder my friende Wit Eland.

My gesin en van my friende is kranige hengelaars en ons soek gereeld n verskoning om te gaan vis en dan gebeur die kamp ding. Is tenminste 4 keer n jaar (kan dalk meer wees) in Marloth en die wild tuin. Het naby Kaapmuiden op n plaas gewerk en was omtrent elke naweek in die wild tuin en dit was nog altyd kamp my kinders het so groot geword en hulle doen dit ook. Dinokeng sien ons baie meer maar is nie die Kruger nie. Ons trek laer met tente en kamp te lekker, my seuns skerts altyd en vra my hoekom moet hulle die kar en waentjie afpak want pa hulle gaan mos die naweek weer. Ek bly buite die stad, om daar te werk is erg genoeg en Almal wat my ken weet as jy my vra wat eet ons vannaand is die antwoord altyd ons braai. So daar is so n kort opsomming van wie ek en my gesin is.

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 05/12/2018 - 16:39

In 1978 bly ek en Ralie vir die eerste keer saam in die wildtuin oor. Dit was ook die eerste keer wat ek weer in die wildtuin gebly het sedert my 1965 vakansie saam met my ouers. En die eerste keer dat sy in wildtuin oorslaap. Ons was vir 2 of 3 nagte elk (ek kan nie lekker onthou nie) in Pretoriuskop en Onder-Sabie. Dit was ook my enigste besoek aan die wildtuin waartydens my heel eerste "sighting" 'n leeu was - pas nadat ons by Numbi ingegaan het.

Maar soos voorheen genoem, begin my rekordhouding in die wildtuin toe in 1987. Dit was aanvanklik maar omslagtig, maar oor die jare het dit meer "vaartbelyn" geword. In die beginjare was Ralie gou-gou keelvol vir al die skryfwerk en is dit vinnig aan my oorhandig. Dit het noodwendig meegebring dat ekself die skryfwerk moes begin doen en sy agter die stuur ingeklim het. Deesdae, nadat ek die stelsel meer "vaartbelyn"gemaak het, skryf Ralie weer en ek bestuur. My kinders kan hulle tot vandag toe nog nie indink om nie saam te help wild tel as hulle saam met ons ry nie.

In sommige getalle is dit maklik om die telwerk te doen. Maar as jy groot troppe hetsy rooibokke, buffels of wat ookal kry, is jy gedwonge om maar so akkuraat as moontlik te skat. Hoe meer volop 'n bepaalde spesie is, hoe laer is die waarde wat daaraan geheg word. Of andersom, hoe skaarser die spesie, hoe hoër die waarde wat daaraan gekoppel word. 

Ek het oor die jare ook vir myself riglyne begin stel oor maksimum afstande wat ek op 'n dag aflê. Ek ry nie meer as 125 km op 'n dag nie. M.a.w. wanneer ek van kamp verwissel moet my volgende kamp ook nie meer as 125 km wees nie. Ek het oor die jare aangeleer om 'n maksimum spoed van 30 kph in die park te ry. Vir my is dit veral van belang as ek sleep. Want ry ek by iets verby - dan is dit "verby". En jy sien in elk geval soveel meer van die kleiner mooi dingetjies as jy stadig ry. Dit bly my verstom dat mense (veral as hulle sleep) teen 50 kph (of selfs vinniger) ry. Ek vra altyd myself af: "Wat kom maak hulle in die wildtuin?" 

Met my rekordhouding het ek al vir myself bewys dat die Tsendze/Mopani-area by verre die beste area is t.o.v. wildbesigtiging in die wildtuin. Nie omrede daar meer wild of roofdiere is nie. Die teendeel is eerder waar. Maar die skaarser spesies wat EK graag wil sien, soos o.a. bastergemsbokke, tsessebe's, tropiese steenbokkies en elande word meer dikwels gesien. So ook baie groot troppe buffels, baie olifante en al die roofdierspesies. Terselfdertyd is Mopani 'n pragkamp op die oewer van die Pionierdam en meer rustigheid as wat Tsendze bied kan jy beswaarlik in enige ander plek in die wildtuin vind.

Satara en Onder-Sabie loop kop-aan-kop wat wildgetalle aanbetref. Beide kampe is geleë in goeie wildomgewing. Maar Satara se kampeerplek (waar ek jaar na jaar oorstaan) laat maar veel te wense oor terwyl Onder-Sabie se kampeerplek netjies is, maar baie onprakties met die klein staanplekkies wat deur een of ander onnadenkende persoon saamgeflans is. Maar tog geniet ek Onder-Sabie met die prag-uitsig oor die Sabierivier.

Krokodilbrug is ook in 'n baie goeie wildomgewing geleë. Ek is baie lief vir die baie mooi omgewing, maar die blaffende plaashonde en waterpompe aan die oorkant van die rivier kan so 'n bietjie van 'n demper plaas op die rustigheid van die naglewe. Maar dit is ook die kamp waar leeus my byna bang gebrul het in die nag toe dit klink of hulle hier langs my staan en brul. Dit is ook een van die netjieste kampe in die wildtuin.

Die Berg-en-Dal omgewing is na my mening ook een van die goeie wildomgewings en seker dié deel in die wildtuin met die mooiste topografie. En sonder twyfel die wildehond "hoofstad" van die wildtuin. Maar my onlangse belewenisse t.o.v. die kampeerarea, veral die toestand van die ablusies, het my entoesiasme vir hierdie besonderse mooi kamp grootliks gedemp. Ek sal eerder gaan kamp in die naby-geleë Malelane-kampie, wat in 'n mate, soos Krokodilbrug, ongelukkig net deur die Krokodilrivier geskei word van die landbou-aktiwiteite aan die oorkant.

'n Ander gunsteling is Shingwedzi. Geleë in 'n goeie wildarea op die oewer van die Shingwedzirivier.

Die Orpen/Maroela-omgewing kan ook goeie besigtigings oplewer, maar as wildbesigtiging een van jou prioriteite is, is die res van die kampe minder goed wat my aanbetref. Maar elkeen het sy eie mooi en bekoring. Ek het te veel jare terug in Balule gebly om my daaroor uit te laat. Maar wat ek lees van Balule laat dit klink na een van die idilliese plekke om in die wildtuin te bly. Ek wil graag daar gaan kamp, maar die klompie kilometer gruispad sit my af vir my gewone ou padwaentjie.

Punda Maria is 'n lieflike kampie met 'n mate van 'n ouwêreldse atmosfeer. Dit is só stil in daardie omgewing dat jy soms amper die gevoel wil kry dat julle die enigste besoekers is. Letaba is seker een van die mooiste en boomrykste kampe in die wildtuin. 'n Beter uitsig kan jy nie kry as in Olifants nie - veral as jy bevoorreg is om 'n rondawel met 'n uitsig te kan kry. Olifants het natuurlik nie kampeerplek nie.

Persoonlik is ek nie lief vir Skukuza nie. Nee kom, ek moet dit beter stel. Ek is nie 'n liefhebber van die Skukuza-omgewing nie - grootliks a.g.v. die verkeer op die paaie in die omgewing. As jy gelukkig is om 'n goeie "sighting" te hê, begeef jy jouself sommer gou-gou in 'n "traffic jam".

Pretoriuskop is, wat my aanbetref geleë in 'n swakkerige wildarea met oorheersende vaalbome en tamboekiegras. Maar ai, dit bly een van my gunsteling kampe wat tog 'n sekere nostalgiese waarde bied.

Nie een van die bosveldkampies kon nog daarin slaag om werklik onder my vel in te kruip nie. Dit is eerstens duur om daar te bly omdat jy natuurlik betaal vir die relatiewe luuksheid.  Ek het die meeste van hulle probeer vir 'n nag of twee, maar ek beleef nie 'n wildtuin-atmosfeer in dié kampe nie.

Ek noem sommer so 'n paar syfers sedert rekordhouding van 1987. In die 31 jaar van rekordhouding sedert 1987 was ek slegs in 7 kalenderjare nie in die wildtuin nie. Soos voorheen genoem, het ek tydens hierdie besoeke meer as 23 000 km in die park afgelê. My gemiddelde spoed is net onder 17 kph (stoppe vir wildbesigtiging ingesluit).

Vaalpark Vrystaat

Johann L

Wed, 05/12/2018 - 16:41

Daars hy, baie welkom hier Wit Eland,  jy moet lekker saam gesêls👍

Chris, daar is mense wat net weet hoe om 'n storie lekker te skryf, jy is beslis een van hulle, ek ry sommer more na oom Paul se tuin toe, eish, kan nou nie. (Ek sal moet wag dat diesel pryse styg, ek gooi nie goed koop goed in my kar niewink)

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 05/12/2018 - 23:09

...............vir jou netjiese opsomming van kampe in die Wildtuin.  Een ding is egter seker, jy moet jou beswaar oor die gruispad Balule toe 'n bietjie oorboord gooi en dit tog op die proef stel.  Boek in by Olifants, ry teerpad om en benader Balule dan met die S91, dis maar 5km grondpad.  Ek het ook maar 'n teerpad karavaan en pas hom soos 'n baba op, maar hierdie ou entjie grondpad teen 'n slakkepas-spoed is poeding.  Die nuwe S147 eenrigting pad suid van Balule (wat jy alleenlik van die H1-4 kan benader) is pragtig met verrassende wildlewe.

Ek hou noukeurig die wildbesigtigings forums dop en is verbaas oor die aansienlike toename van leeus, luiperds, cheethas en wildehonde in die Mopani en Tsendze omgewing.  Dan is daar ook 'n merkbare toename in wildlewe noord van Shingwedzi in die omgewing van die S56.

Secunda

Sleep nou

Thu, 06/12/2018 - 05:08

Chris jy mag maar skryf ek nou lekke getoer en wiltuin lug ingeasem wit Eland welkom op forum 

Roodepoort

HennieBo

Thu, 06/12/2018 - 06:29

Julle beskryf dit so goed dat ek nie hoef Wildtuin toe te gaan nie.

Hel nee, as ek so lees dan moet ek dalk maar 'n plan maak en wel die Wildtuin trippie iewers inpas. Sal dalk nog 'n paar knoppies druk om inligting te kry.