Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Ek dink Rona het my laat wen. Ek gaan verloor!!! Voortrekker -23 minutes ago
Foto's laai Kgalagadi Oktober 2026 Geert -1 hour ago
Toets foto Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -8 hours ago
Toets foto Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -8 hours ago
Toets foto Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -8 hours ago
Chris ek is besig om… Kgalagadi Oktober 2026 Voortrekker -8 hours ago

Jors se Kampstories op fb ...

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits
Submitted by Willem Brits on

Môre vriende,

Ek gaan probeer om dié Jors se Kampstories gereeld hier te plaas ?

Hier is die fb skakel.

 

Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 13/03/2020 - 08:57

Dagsê vriende,  
       So twee weke terug het ek mos stories gaan soek in n kroeg daar in Kimberley.Toe het ek jul vertel van Barney Bar en hy wat vir n moeilikheidmaker gesê het om my uit te los.Ek stamp jou nou met die kop dat jou kuite ontplof,het hy gesê.
      Ek het eintlik al vergeet hoe n intressante plek n kroeg is.Gister het ek dit weer goed gedink om by een n draai te gaan maak op n naburige dorp.Ek wil darem nou nie hê die ouens hier in Bethlehem moet sien ek lê helder oordag in die kroeë rond nie.Julle moet ook nou nie gaan staan en uitpraat nie.
   Kyk ek het mos nou n verskoning.As die vrou vra waar was jy,kan ek mos sê ek was daar,en ek was besig met navorsing vir n storie vir julle.
     Wat ek ook nie alles vir julle sal doen,net om n storie in die hande te kry nie.
   Wat ek wel toe gister agtergekom het is,jy gaan nie laatmiddag na ñ kroeg toe as die ouens klaar gesuip is nie.Jy soek dan vir moeilikheid.
  Verder hou die ouens nie van vreemdelinge nie.Ek weet nie of is hul bang jy kan dalk meer as hulle drink nie.Wat ook vir my intressant is ,is dat as jy groot van postuur is,soos ek,dan dink tot die kleinste outjie in die kroeg hy sal laaik om jou te do.......
    Die nadeel van so ñ barfight is dat hul in spanne fight,of so lyk dit in elk geval vir my.As dit net lyk of jy die oorhand kry kom daar net n volgende ou by, wat die vorige ou kom aflos.
     Die ouens in kroeë praat ook in tale,dikwels klink dit bekend.So met n sleng,is dit die regte woord.Hulle praat so sleperig.Dit bleik te wees dat hul mekaar tog redelik goed verstaan.Dan glo hul ook dat die ander heeltemal doof is en hul nie kan hoor nie.Almal praat kliphard.
    Die fout wat ek gemaak het is om vir die ouens n dop te koop,gedog dit sal hul meer toegeeflik maak om n storie of twee met my te deel.Wat ek egter onbewustelik gedoen het, was om die wat nog nie vir my kans gesien het nie,nou braaf te maak. Na n paar doppe wat ék gekoop het,het hul nou wel vir my kans gesien.
   Wat dit ook baie moeilik maak met hulle is die feit dat as dinge skeefloop en jy nou nie meer sit nie en opstaan,hulle die heeltyd bly beweeg.Hulle staan mos nie stil dat jy die saak kan uitpraat nie.
     Toe het ek wel agter gekom dat hul wel doof is,hul luister nie na n rede nie.
      Jul onthou nog daai hondjies wat die ouens vroeër jare in hul karre se agtervensters gesit het.Hul koppe het so gerol wieg as jy ry.Wel dit is hoe n dronk ou se kop beweeg.
       Nogal n moeilike teiken om raak te slaan,n ou wat rond steier en sy kop ook nog rond beweeg.
        Met die wat die teikens nie stilgestaan het nie, het niemand seergekry nie.Dit is wat n barfight so lekker maak.
      Na hierdie spekskiet barfight gaan ek nou vir my en die vrou n lekker koppie koffie maak.

Vreugde en vrede vir julle.
  NS.Foto geposeer.Ek is wel.😀

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sun, 15/03/2020 - 10:10

Môre vriende,
Matteus 26:75
En op daardie oomblik het daar n haan gekraai.  Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: "Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën" en hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Gebed
Onse vader wat in die hemel is, baie dankie vir n goeie nagrus.  Dankie dat ek so kan wakker word met n haan wat n nuwe lewensdag vir my aankondig.
Maar Here, ons kom in hierdie dag, en erken dat ons U so dikwels in ons lewens uitsluit.  Net soos Petrus ontken het dat hy Jesus ken, doen ons dit ook met dinge wat ons sê, dinge wat ons doen, dinge wat ons nie sê of doen nie, wat U van U kinders verwag het.
Ja, dan handel en wandel ons sonder U.  Vergewe ons daarvoor.  Gaan met ons elkeen in hierdie dag in, hou U hand oor elkeen uitgestrek.  Here,waar ons land en die wêreld veg teen die coronavirus, Here wil U gee dat mense nader aan U sal beweeg en sal besef dat U die sterkste teenmiddel is.  Dat U ons sal beskerm en dat U ook daar uitkoms sal gee.  Dit Vader, is ons gebed in hierdie oggend.
Amen.

Vanoggend word ek hier op die plaas wakker met plaas geluide en moes net die klanke en hierdie gedeelte met julle deel.
Mag jul in hierdie dag Sy Nabyheid, Vreugde en Vrede ervaar.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 16/03/2020 - 09:28

Dagsê vriende.
    Sien daar is ouens wat hul rubberslange so uitsit vir die apies en bobbejane. Die ouens het baie planne met hulle.Ek het gister sommer met so n terloopse plasing gewys wat ek doen,maar vir die wat dit nie gesien het nie vertel ek gou vinnig.
   Ek hang die bordjie voor my tent.Op hom staan "Apie en Bobbejaan,Gratis kastreer kliniek" Dit hou hulle regtig weg.Mense sê toe hul kan nie lees nie.Wat eintlik gebeur is dit,my medekampeerders kan wel lees.As ons dan n bietjie rondloop soos nou,dan gaan kyk my medekampeerders na die bordjie,hulle vind dit snaaks en gaan wys selfs miskien sy buurman. Daar is dus die heeldag beweging en n gelag van mense by my kampplek. Die outjies los my goed dus uit en plunder by die onbemande staanplekke.
    Terug by ons staanplek begin ek n worsie braai,sommer net vir die lekkerte.Goeie wors, jy sal my met n wip vang met lekker wors.Ons gaan n worsrolletjie of twee bou.Ons is mal oor n branderigheid,altyd n vars chillie in ons yskas.Brandsousies staan ook so in gelid daar as jy die yskasdeur oopmaak.Ons maak sulke branderige buns en val weg.
   Nou net van die boggers gepraat, daar begin hul met hul mannewalisse.Hul gryp en hardloop en gaan sit en eet net soos wat hul dit kan doen,ek verjaag hulle en skree, maar wat, net weer terug by my kampstoel dan is hul terug by die bure.Weet dit is verkeerd om hul kos te gee maar begin toe n paar buns bou.Ek gooi brandsous, chillies so in die hefte deurgesny met pitte en al. Nog n ander brandsousie en nog chillies.
  Gaan sit die buns daar neer by die staanplekke waar hul plunder en stap terug.Eintlik is ek mos nou nie skuldig nie,ek het hul mos nie kos gegee nie, hulle gaan dit maar net self kom haal.
  Toe begin die sports. Hulle het by n chillie feesmaal kom aansit. Daai goed brand,party skree en gooi weg net om deur n ander een opgeraap en verorber te word.Hulle los nie n krieseltjie oor nie.Party sit so en blaas, jy sien net tande.
   Later gesien van hulle se mae was omgekrap.Twee gesien, weet nou nog nie of hy sy eie mond traai koudblaas en of hy die ander een se boude probeer koudblaas het nie.Wat n gesig om te aanskou.

Vreugde en vrede vir elkeen.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 17/03/2020 - 07:16

Dagsê vriende,
     Ek was gister bank toe,dit is so al vir my asof plekke nou meer verbruikersvriendelik geraak het.Die rye is sommer kort en waar ouens altyd teen jou kom staan en druk het,is dit nou asof hul jou, jou spasie gun.
    Veral toe ek daar aant niese gaan het ek baie plek gehad in die bank.Van die mense het selfs uitgeloop.Sal sweer ek het n siekte soos wat die mense reageer het.
     Selfs die bankamptenare het my flink gehelp,asof hul my net daar uit wou kry.
     Ek is mos nie lief vir n TV nie,ook nie vir koerante nie.Ek glo die goed maak n ou negatief.Nou wil ek hê julle moet my n bietjie vertel,het ek nou êrens iets gemis.
     Dit is vir my so asof ek n verandering in mense se gedrag bespeur.
   Maar wat dit nou sommer so terloops.Wat ek jul eintlik wil van vertel was die storie wat ek die naweek daar op die plaas by die familie gehoor het.
  Ek kan my verstom oor mense en hul name asook die plekname.
   Dit is nou weer n storie wat oom Nicker de Jager oorvertel het van sy oupa grootjie M.P. de Jager (Blinkbaadjie).  
   Hy was van Riversdal  van die Duiwenshokplase en het met perde gesmous daardie jare en is daar weg met sy ossewa,osse en perde.Later van tyd is hy in die omgewing van Afrikaskop,Kestell en Harrismith.
    Hy verruil sy ossewa en osse vir die plaas Korfskop by Mnr Korf.Hy gaan Durban toe en reis per boot Kaap toe,terug na Riversdal.Vertel sy pa en broers van die plaas en hulle koop die helfte by hom.
   Sy pa kom toe vooruit op Kransfontein aan en slaan kamp op by n koppie wat hy gedink het Korfskop moet wees.
   Hy was n man wat baie plesierig was en gou gou het die mense die kop en plaas Jolliekop genoem. 
  Hy kom sy fout agter en trek na Korfskop,die regte plaas.
   Later het oupa Blinkbaadjie daar aangesluit.Hy het n ryk man geword.Op 48 is hy oorlede.
   Op daai staduim het hy in die Harrismith Vrede en Frankfort distrik op 48000 morg geboer.Dit is as my somme reg is 41,121.6 hektare.
    Seker van daar die naam oupa Blinkbaadjie.
Rus sag oom Blinkbaadjie,die nageslag en mense onthou jou nog steeds.
  
Vreugde en vrede vir julle en wees veilig.
NS. Die uittreksel kom uit n onbekende boek en die skrywer daarvan is ook onbekend.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 19/03/2020 - 09:33

Dagsê vriende,
Ons het nou n paar keer oor die slegte en die lelike gepraat van agteruitgang.  Dit wat was,noem ons dit.
Kom ons gooi n lekker koffietjie in en gaan sit by die kampvuur.  Man dit is darem maar mooi om so vroegoggend te sien hoe n nuwe dag ontwaak.
Wag ek maak gou n vuurtjie dan sit ons ons kampstoele hier rondom hom.  Wat dink julle, dink jul ons moet n ligte vuurtjie maak of n swaarder een?  Miskien met n hardekooltjie.  
Kom ons praat n bietjie positief.  Ons almal weet nou al van die negatiewe wat so in die nuus is.  Almal weet wat om te doen.  Doen dit wat reg is en gaan aan.  Moenie toelaat dat ander jou geluk steel met allerhande op en aanmerkings nie.
Praat ek nou so, laat weet ek vir oom Kaspaas daar in die wildtuin my plek is bespreek en ons is oppad, of liewer amper oppad, middel Mei.
Is die man bly dat ek hom laat weet.  Vertel hy my dat daar so half en half n vredesverdrag gesluit is tussen sy trop en die paintballbrigade.  Alles te danke aan die riot gear wat hul n vorige keer ontvang het van n skenker.  Ek het jul daarvan vertel, onthou julle.
Hy vertel dat dit nogal n konsternasie veroorsaak het die eerste keer wat hul n ruskamp binne geval het op een van hul strooptogte, so met hul onlustedrag.
Kyk ek kan myself dit net indink hoe dit moet lyk as n trop bobbejane n karavaankamp in masjeer, elkeen met n helm op die kop, knuppel en n skans in hul pote vasgeklem.
Vir n oomblik het dit gevoel of ek n Planet of the Apes rolprent kyk, toe ek besef hierdie is werklikheid.
Ek sien hoe die aggresiewe kampeerder aanlê met sy paintball geweer en hoe die balle ontplof teen hul skanse.  Hul grynslag agter hul skerms.  Jy sien net tande.
Aan hul swart helmits is daar selfs n plastiekglas skerm voor hul gesigte afgeslaan, seker maar net om n verfspatsel of twee af te keer.
Blykbaar het die kampeerders ook nou die gewoonte aangekweek om hul kosvoorrade agter slot en grendel te hou.
Oom Kaspaas se dit is goed en wel, hul het egter nou agtergekom dat die spinnekoppe en krieke gedink het, dat dit n veilige plek is om te bly, so in die wildtuin se kampe. Daar is nou n oorvloed van hulle in die kampe, daar is omtrent een onder elke klip in die kampe.
Hy sê, die rubberslang trick ken hul ook nou al lankal.  Volgens hom is dit vir hulle lekker om in ń kamp in te gaan en n bietjie die kampeerders se siele te gaan uittrek.
Vertel hy my van party ouens wat glo op hul skiet met ketties.  Is dit nou glo vir jou iets om te aanskou.  Party ouens het nog nooit n kettie in hul lewens vasgehou nie.  Dikwels hoor jy n " EINA #$¥₩£ " soos wat hul hul eie vingers of duime raakskiet, met n klip wat fwoer... fwoer.. fwoer deur die lug trek.  Heeltemal in ń verkeerde rigting.
Ander weer het laas as kind met een geskiet.  Hy sê, dat die ouens mekaar nog nie raakgeskiet het nie is n wonderwerk.
Volgens hom, al wat werk, en dit is nou so uit die bobbejaan se bek uit, die ouens moet hul kos wegsluit.
Hy sê ek moet ook hom en sy trop se groete oordra aan julle.

Vréugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 20/03/2020 - 08:04

Dagsê vriende,
    Ek het die klompie foto's sommer so,soos die Engelsman sal sê "randomly"hier uit my albums gekies.
    Die sonneblome het ons eergister verby gery en ek het omgedraai om die "onsie" te gaan neem. Dit is nou ons en die sonneblomme.
    Gisteraand het ek maar net weereens besef waardeur ons mense gaan.En nou praat ek van Jors se Kampvuur Stories se lede.
     Ek kan,as admin,byvoorbeeld sien hoeveel lede daagliks na die blad gaan kyk.Praat ek ook gisteraand met die admins van twee ander groepe en hulle ondervind dieselfde.
     Die mense besoek die groepe minder.Dit maak my bang,weet julle hoekom.Omdat die pandemie my land se mense en menswees aantas.Soveel so dat dit al is waaraan hul kan dink en oor kan praat.
     Ek ken jul bekommernisse,julle vrese.Ons is oupas en oumas,daai vrese ken ek ook.Ek ken die finansiële vrese,van beleggings en rentekoerse.Ek ken die vrese van n winkel wat minder en minder besoek word deur kliënte omdat mense by hul huise bly.Mense wat aan hul geld klou en of dit eerder by kruidenierwinkels spandeer. 
      Dit is so asof ons elkeen nou die dood in die gesig staar.En dood,maak ons morbied.Party mense is bang vir die dood.Ander vrees dit glad nie.
    Kom jy in versorgingseenhede en jy sien die oumense,sal baie van hul vir jou sê hul vra die Here dat Hy hul moet kom haal.
    Ek dink veral nou,het ons almal al gedink aan die dood.Dit is goed,dat ons onself ook daarop voorberei.
  Maar ek wil jul ook mooi kom vra,kom ons leef nog.Kom ons sien nog ook die mooi in die lewe,vandaar die foto's.
  Doen dit wat jy kan om jou,jou geliefdes,jou familie en jou naaste te beveilig.Maar wees versigtig dat jy nie tonnelvisie kry nie,dat jy die heeldag net in die tonnel afstaar nie.
     Daar is soveel dinge daar buite wat nog steeds mooi is.Die gekoer van n tortelduif nou daar buite asook die getjirp van die mossies.ń Nuwe dag het vandag vir my en vir jou aangebreek.
   Leef hom.
Leef hom uit dankbaarheid.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 21/03/2020 - 10:20

Dagsê vriende, 
        Gister het ek so een en n ander foto geplaas van windpompe.Het jul al n windpomp soos die een gesien.Kyk hierdie ou het n aar raakgeboor.
      Ek sal nogal graag wil weet wie vir hom water gewys het,hy kan.
      Jare gelede,in Klerksdorp besluit ek om te boor vir water,dan kan ek mos lekker tuinmaak.Man ek gaan n mooi tuin hê as ek water slaan.
   Nou kyk,n waterwyser is n spesie op hul eie.Elkeen glo sy manier van water wys is die beste.
    Jy kry die ou wat met n dun wilger tak mikstokkie loop.Dit moet ń wilgerboom sin wees en hy moet sewe dae oud wees vertel hy my.Blykbaar,eerstens omdat n wilgerboom baie lief is vir water en tweedens as hy sewe dae oud is gaan hy nou begin dors raak,hy is nou al sewe dae gespeen. 
   Ligweg hou hy dan die mikstokkie horisontaal,n takkie in elke hand,tussen duim en wysvinger vasgeknyp.
    Nou begin die soektog,eers deurkruis hy die voortuin.Kruis en dwars.Dan van die kant af en dan van daai kant af.Hy trap omtrent my gras wat ek met duur munisipale water so mooi gekry het in hul glory in.
   So hier en daar neig die mikkie afwaarts agter n vlou aartjie aan,dan gooi hy tot my ontsteltenis met wit kalk n kolletjie kalk op die gras.Nee,vertel hy, hy soek die rigting van die aar.
    Met die voorgrasperk nou vol hopies,lyk nogal soos molshope,connect hy op n stadium die lyne en gooi n pyl vir die rigting van die aar.
    Waar loop hy heen,ja jul het reg geraai onder die huis in.Oom is jy seker jy is nie nou op die huis se waterpype nie.
  Ou Swaer,moet jy nie worry nie,sê hy.As dit agter so belowend is soos hier voor en ons kan n paar sulke aardjies bymekaar bring gaan jy sterk water hê.
    In my verbeelding sien ek dadelik hierdie lushof.Hierdie oase,n wentuin.Ek wonder al klaar wanneer ek Big and Tall in Johannesburg toe kan gaan om vir my n aandpak te kan gaan uitkies vir die wentuin van die jaar kompetisie hier in Klerksdorp.
    Ek word terug geruk na die hede toe hy sê,kom ons gaan kyk agter.Daar gebeur dieselfde.Kruis en dwars.
   Met die grasperk vol molshopies connect hy die dots met strepe.Wragties daai voortste aar loop onderdeur die huis,rigting,bediendekamer en waenhuis.
    Oom is dit nie die waterpype nie?Weereens verseker hy my,laat ek jou nou wys.Nou sê hy terwyl hy die are wys,hierdie een is swakker,hierdie een is lekker sterk,so gaan hy aan.
   Waar al hierdie are bymekaar kom gooi hy n kruis met die kalk.Vat sy mikstokkie en stap nou uit verskillende rigtings oor die kruis,en wragties,elke keer reg bo die kruis draai daai stokkie grond toe.Daar is water.  
   Met my géld,veilig in sy sak is hy toe daar weg.Dadelik die kalkmolshope en strepe opgetel en skoon gespuit dat dit nie my gras doodmaak nie.Met een enkele pen die kruis aangedui.
   Volgende week vertel ek verder.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sun, 22/03/2020 - 09:46

Dagsê vriende, 
                          Daniël 6:17
 17. Die koning moes toe die bevel gee,en Daniël is gebring en in ń leeukuil gegooi.Die koning het vir Daniël gesê: "Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red"
                        Asook vers 28.
    "Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op aarde; Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered,"
                           Gebed.
  Onse Vader wat in die hemel is.Dankie Heer vir gespaarde lewens.Dankie vir ons geliefdes, ons gesinne en ons families.
   Ek bid vir elkeen wat nou hier lees,elke dienaar van U in ons land.
   Here ons dra elkeen aan U op.Hou Vader U hand van beskerming,U hand van genade en liefde oor ons elkeen uitgestrek.  
  Vereenig ons land en sy mense,en gee Vader dat mense na U sal draai. Gebruik ons om ander mense te vertel van ons grote God. Ek bid dat U hul dan sal aanraak.
  Vergewe ons oortredinge en help ons om elke dag soos kinders van Jesus te leef.Dat ander vir U, in ons lewens kan raaksien.
  Baie dankie vir U genade.
Amen.
   
Mag jul, God se liefde,vreugde en vrede in hierdie dag ervaar.
  Mooi dag.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 23/03/2020 - 09:31

Dagsê vriende,
               Die Waterwyser(vervolg)
   Ek het laas vertel van die waterwysers wat n spesie op hul eie is.Nou, die omie,ek het nou al sy naam vergeet,maar ek dink ons moes seker familie gewees het, want hy het my "ou Swaer" genoem,is toe daar weg met my geld, veilig in sy sak.
     By die werk noem ek aan ń kollega ek gaan boor en iemand het vir my water gewys."Hang ou Jors,dit is n duur storie jong.Jy moet eers seker maak,daar is water" sê hy.
     Nou skop die twyfel mos in.Hy noem ook van sy oom op Viljoenskroon,die boer glo daar in die omgewing.Hy wys nog al die jare water,nog nooit n droë gat gewys nie.Gee so ewe sy oom se naam en nommer en sê,bel hom laat hy net vir jou seker maak.
      So gesê,so gedoen.Daai selle aand draai ek die slingertjie van die phone.Setrale,goeie naand, antwoord die telefoniste.
     Viljoenskroon se sentrale,die sit my toe deur na n gesukkel.Net gehoor sy sê vir iemand,maak klaar asseblief,hooflyn oproep.
     Ek het nogal belangrik begin voel dat hul hul gesprek vir my gaan moet kortknip.
      Naand, Stoffel wat praat kom die rasperstem, na die drie kort en twee lang luie van die foon.Ewenwel,na ons gesprek, en ek wat toe ook onderneem om bo sy betaling hom ook te vergoed vir sy brandstof,reël ons dat hy sal laat weet wanneer hy kan kom.Hy is glo baie besig met die waterwys en boerdery.
    Een aand bel oom Stoffel, ja, hy kan Donderdag kom. Reël toe so. Vat spesiaal verlof vir die dag. Die pen wat my "ou Swaer"waterwyser aangedui het trek ek uit en trap n graaf daar in.
     Hy daag toe die Donderdag daar op met sy F100 bakkie.
     Kaalvoet klim hy daar uit met sy kakiekortbroek en hemp.Velhoed op die kop,die is al bruingevlek van die jare se sweet en vuil hande se vat,veral hier voor waar die hoed so n V maak.Dit is ook presies net daar waar hy hom raakvat en oplig met die groetslag.
    Goed om te ontmoet oom Stoffel,sê ek,selle hier ou Broer selle hier,sê hy terug,terwyl ons handskut.Ek dog hy breek elke beentjie in my hand.Hy kan vat die oom.Nee kyk,hierdie waterwysery maak nou dat ek familie ontmoet wat ek nooit eens van geweet het nie.My ma, skat ek moes seker so ses of sewe maande oud gewees het toe sy hom gehad het.En volgens sy sterk handruk moet ons afstammelinge van Simson wees.Nou gaan die familie ver terug.
    Met n, kom ons kyk, stap ons bakkie toe.Toe sien ek eers oom Stoffel se kuite,hy het boomstompe vir kuite. Hy krap agter op die bakkie tussen die leë oliedromme en tools rond en bring n mikstok daar tevoorskyn.
    Hierdie is n mikstok hoor.Blykbaar n geelperskeboom sin.Vertel hy vir my dit moet n geelperskeboom se mik wees.As die boom lekker vrugte dra kan jy maar daar vir jou n mik soek,hy gaan vir jou goeie en lekker water wys.
   As dit n boom is waarvan die vrugte na niks smaak nie,hou verby ou Broer,hou net verby.
  Nou is oom "ou Broer" op en af in die tuin met my so tree of wat agter hom.My oë gerig op die mikstok wat met krag horisontaal uitwaards gedruk word.
   So hier en daar sien ek die mik wil wil afwaarts neig,hy bewe eintlik so in oom Stoffel se hande.Nou agtertuin toe sê hy.So in die stap sê hy daar is so n paar krakies daar voor,maar hul is swak.
    Agter herhaal hy die hele kruis en dwars proses.Weer met my n paar tree agter hom.Hier lyk dit beter sê hy so oor sy skouer.Elke keer as hy afwaarts neig kyk ek nou na die grond.Sou ek toe eers sien hoe lyk oom Stoffel se hakke.Vol krake.Sulke harde hakke.Ek dink hy trap n dubbeltjie seker dat daar net poeier van hom oorbly.Terselfde tyd hoop ek nie die mikstok tel daai krake op nie
      Hy loop om die graaf,niks gebeur nie.Vra nogal so ewe,"nou die graaf hier in die gras?Nee sê ek, ek wil hê die tuinjong moet vir my daar n gat grou, ek wil n geelperskeboom daar plant.Gelukkig is ek agter hom en hy kon nie sien ek glimlag nie.  
   As ons water kry,gaan ek darem lekker geelperskes hê,dink ek so by myself.Heel aan die anderkant van die erf,in die hoek, draai daai mikstok in oom Stoffel se hande dat die sweet op sy voorkop uitslaan.
   Daai water is so sterk,hy draai die bas van die mikstok af,binne in oom Stoffel se hande.
  Ons het hom" ou Broer"ons het hom, roep oom Stoffel hard uit in sy rasper stem.Hy jubel behoorlik en sy opgewondenheid is aansteeklik,my glimlag strek rondom my kop.
    Met sy voetlange dropper as merker ingeslaan drink ons eers koffie.Later met sy vergoeding en sy brandstofgeld in sy sak groet ons by sy bakkie.
    Hy is haastig,hy moet nog parte optel by die koöperasie,sê hy.Stilweg dink ek,daar gaan my petrolgeld.
  Met n "laat weet my as jy waterslaan ou Broer,laat weet my"is hy daar weg.
   Ek stap agter toe en kap weer die pen in waar die graaf staan.Met my gekneusde hand is ek huis in.
   Nou het ek twee penne,maar nog nie water nie.
   Môre praat ons verder.

Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 24/03/2020 - 08:55

Dagsê vriende,
                        Waterwysers no.3
   Nou ja,nou het ek twee plekke waar ek kan boor,gister was Donderdag,Ou Broer (oom Stoffel) het sy dropper ingeslaan waar die water op my erf is.
   Kry ek die Vrydag die plaaslike koerant,die Klerksdorp Record.  
    Waterwyser wys sterkste water aan vir myngroep.n Foto wys hoe die water die lug inklief,meters bo die boor se toring draai en neerstort aarde toe.Wat n gesig..
   Dit was regtig daai jare groot nuus.Hierdie man het die myn se geoloë daardie jare ore aangesit met die water wat hy aangewys het.
    Nou sê my klein breintjie vir my,kry hierdie man.Met n hangse gesukkel spoor ek hom op en reël n afspraak.Hy is duur,wat sy pryse voor dit was weet ek nie.
   My twee aangeduide plekke se penne trek ek uit en merk hul nou met klippe.
     
Die dag kom hy daar aangery met sy brand new Mercedes Benz.Klim uit met sy netjiese langbroek Safaripak.
  Alles aan die man blink,goue horlosie die toetie.Swart aktetassie in die hand.
  Ons stel onself aan mekaar voor,het nou ook al sy regte naam vergeet maar wat ek wel kan onthou was dat ek sy maat was.
  Ou Maat,as ek vir jou water wys,is daar water,sê hy.So het hy my die heeltyd as "Ou Maat" of as " My Maat" aangespreek.
  Enige waarborg vra ek,niemand sal jou so n waarborg gee nie,sê hy.My ou maat het toe sy tassie daar oop op die tuintafel terwyl hy my beduie hoe die grondformasies daar loop in La Hoff,die woonbuurt.
     Blykbaar loop die krake soos golwe.As jy bo in die golf inboor,swak water,as jy onder inboor, sterk water.As daar n pocket in die draaipunt onder is,dan boor jy ń onderaardse meer raak.Soos die myn se gat vertel hy.
     Nou sien ek hoe kan ek water verkoop aan die hele buurt.
  In sy tassie wat met spons uitgevoer is lê daar verskillende staafies,party van stainless steel ander van koper.Hy haal twee identiese stainless steel staafies uit wat in die middel reghoekig gebuig is.
  So met n staafie in elke hand,waarvan die punte regvoor hom uitwys,stap hy dan rond.Sou die twee se punte na mekaar draai, dui dit vir hom n aar aan.Alles magnetiese velde verduidelik hy.
   ń Interessante proses om dop te hou.Sou die stafies na mekaar draai het hy gaan staan en dit het regtig gelyk of hy homself met n ingeboude GPS  plot op die erf.
  Voortuin gedoen, agtertuin gedoen.Sy kruis wat hy met n wit poeier gooi,is net mooi in die middel tussen "ou Swaer" en "ou Broer" se merkers.
  Met "ou Maat " se kruis gegooi kom hy met n volgende verkoopstegniek.
   Ou Maat,vir n verdere R250 kan ek vir jou bepaal hoe diep en sterk die water is,sê hy.Met my wat se buget nou in elk geval al in sy glory in is,stem ek in.Daai jare was dit baie geld. 
    Nou vat hy n staal liniaal van 300mm,wat hy so regop op die grond op die kruis vashou.n Reghoekig gebuigte koperstafie wat se punt weg wys van die kruis,word dan so van bokant sy kop afbeweeg na die leniaal.
  Wragties,begin die stafie na die leniaal draai.Op die presiese plek waar hy die leniaal raak neem hy die lesing op die liniaal. 
    n Berekening volgens n geheime formule word gedoen op sy breinpompie.Die water is op 60 meter en daar is so 2500 liter n uur.Sterk water ou maat.
  Met my gatsak wat al hoe leër word is hy daar weg.
  My "ou maat"se koerantfoto het my besluit op hom laat val.
  Dit is waar ons die boor staanmaak.n Boorman en sy helpers is ook ń nasie op hul eie,hou hul dop.
  Met my nou op vakansie om die boorproses te monitor.Wat n senutergende proses.
  Opgewonde  hou jy die eerste klompie meters se vordering dop.Hoe nader ons na die sestig meter kom hoe meer beangs raak ek.
 Sestig meter niks,sewentig meter niks.Bel my ou maat,jy moet net gaan,hy is daar ou maat,sê hy.
  Tagtig niks,vra vir die boorman,oom,jy het nou al baie gate geboor,wat sê jy.Met sy gebuigte bloudraad soek hy vir water.Hy lig my in,hier is nie water op jou erf nie.
   Negentig niks,honderd meter roep ek halt.Bel my ou maat,hy volstaan,daar is water.
  Die ou oom van die boor sien die moedeloosheid ,die teleurstelling op my gesig uitgespel,trane wat vlak lê in my oë.
  Kind,ek gaan vir jou nog twintig meter verniet boor.Dankbaar daarvoor,sê ek dit is reg,en het hy voortgegaan.Net miskien is daar water.Op 120 meter nog steeds net stof.
    Teleurgesteld het dit weer stil geraak op die erf.Die gat is geseël en dit het vir my soos n begrafnis gevoel.
   Van daardie dag af is ek in die besigheidswêreld baie versigtig vir vreemdelinge wat my "ou Maat" noem.

Vreugde en vrede vir julle.
 
Vreugde en vrede vir

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 25/03/2020 - 11:00

Dagsê vriende,
                       FOEFIESLIDE.
   Die afgelope paar dae het ek jul in drie aflewerings vertel van " Ou Swaer " , " Ou Broer" en " My Maat "
   Gister toe ek vertel van die boorman wat vir my water gesoek het met n bloudraad,toe dink ek, ek moet tog onthou om jul te vertel van ons foefieslides.
   Vanoggend kon ek om de dood nie onthou wat ek jul wou vertel nie.Gebeur dit met julle ook? Vind nogal dat dit al hoe meer gebeur hoe ouer ek word.
   Toe moet ek eers weer gister se storie gaan lees om my "topic" te kry.Het jul geweet jy kan stories van n sekere lid gaan soek.
   Op ons ouderdom ken ons mos van n vergrootglas,ons weet net nie altyd hoe om FB se vergrootglas te gebruik nie.
    By hom tik jy in Jors van Heerden, druk op hom,en hy soek al my stories op daai groep.Maklik nê?
  Maar kom ons kom terug na ons foefieslide storie.Kyk ons van Heerdentjies kon n foefieslide maak.Menigte van hul gemaak as kind,van bloudraad en n pyp.
   Ja,jy maak die een punt hoog in n boom vas aan n lekker duk en stewige tak.Dan druk jy die bloudraad deur n pyp en trek jy die ander punt styf en maak hom vas aan n ankerpunt op die grond.Gewoonlik n ander boom gewees of n stewige pen in die grond ingeslaan met die 16 pond hamer.
  Gewoonlik het die draad maar so met n "loop" gehang.Dit het egter gehelp met die "afsleck".O magties,ons kon die woord sê maar ek is nie seker hoe om hom te spel nie.Hy klink mos of hy met n gh eindig.Tannie google kry nie so n woord nie.
   Ewenwel,bou ons weer eendag een.Hy loop hoog uit n wilgerboom,bo-oor n beeskraal,oor n doringdraadheining veld in.Ons was 4 kinders,drie seuns en die jongste,n sussie.
    Omdat sy die ligste was moes sy hom eerste uittraai.Met die goingsak om die pyp gedraai dat hy haar nie kan brand nie is sy daar af,oor die kraal net voor die lyndraad sluk die pyp die goingsak in en daar hang sy.
 Hou vas sus,hou vas skree ek en hardloop  vir die waenhuis om n leër te kry.My twee groter broers waak by haar,sou sy val kan hul haar probeer vang.
   Met haar veilig op die grond,is dit nou my beurt.Ek maak seker toe ek die pyp toedraai met die goingsak dat hy nie die sak by die voortste opening sal kan insluk nie.
  Trek weg,n paar meter verder klap daai bloudraad soos n kanonskoot en sonder n parachute val ek.In my val sien ek n hoe die nat beesmiskoeke naderkom.
  Ek val myself in n ander bloedgroep in.My blou overalltjie groenbruin van die nat beesmis.Gelukkig niks gebreek nie.
   Dit was seker maar net n swak plekkie in die draad sê my ouer broers.Lag ons te lekker oor die petalje.
   Môre vertel ek verder hoe ons spoed vang.
  Vreugde en vrede vir julle.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Thu, 26/03/2020 - 09:08

Dagsê vriende,
           Foefie Slyde (vervolg).
 Gister het ek vertel hoe ons van Heerdentjies foefie slydes gebou het.
My oorlede vader se grond het aan Schoonspruit gegrens daar buite Ventersdorp.
   My twee ouer broers het toe onder geweldige geheimhouding n geheime maatskappy gestig.Populier Canopy Tours.Ek spot nou sommer met die naam,ek dink dit was seker een van die eerste canopy glydrade wat daar was.Dit was so 1963, 64 rond.
    Hul het daar langs die spruit twee massiewe groot,en hoë populierbome geidentifiseer.Die tak van waar die bloudraad gespan word na die volgende boom word ook mooi uitgekyk.
   Callie,ses jaar ouer as ek,die oudste het die bome geklim om te kyk hoe moelik gaan dit wees om daar te kom.Eerstens is daar n platform gebou waar die hoogste punt gaan wees.Toe is die draad om hom vasgebind.
  Met die ander punt is die ander boom geklim en teen n geskatte helling is hy vasgemaak aan die ander boom.
    As ek moet skat sal ek sê hy was so 25 tot dertig voet in die lug.
   Met die draad en sy pyp in plek is daar in die laaste boom ook n platform gebou.Die helling moet reg wees,te plat,dan gaan jy êrens vassteek en om dan te laat los, gaan jy jou te pletter val.Met die helling te skuins gaan jy jouself ook die ewigheid in, teen die ander boom vasgly.
    Callie en Willie is die ouens wat hom gery het,ek was te klein en te bang vir daai hoogtes.Die projek was skaars voltooi toe pa die platforms in die bome raaksien en hul na n hangse pakslae die platforms laat afbreek het.
    Die draad het egter nog baie jare steeds daar gespan tussen die twee bome gehang.
    Toe besluit ons,ons sal maar eerder by die laer aan die grond projekte bly.Daar het n kraglyn deur ons grond geloop en die kabels word vervang.
  Callie bedel by die omie n stuk van die ou kragkabels.By ons ou slide word n nuwe een met hierdie kabel gebou.Hy kry n katrol met twee handels met n hosepipe vir oordentlike vashouplek.Nou gaan hy lekker loop.
   Hy word ook sommer hoër in die hoogste toppe vasgemaak.Vir dìe onderste punt is daar n beter plan bedink.Ek meen hierdie is mos nou nie n ou bloudraadjie nie,nee man,hierdie is mos n lekker sterk kabel.
  Weereens loop die kabel oor die beeskraal en oor die lyndraad,rigting melkstalle.Die Farmall,presies soos op die fototjies,terloops,die het ek eendag daar in Middelburg by n Mall geneem,word opgestart.Miskien is dit waar Malls hul naam gekry het.
     Ons trek daai lang kabel behoorlik styf met die Farmall..
   Die neus van die Farmall tot teen die doringdraadheining wat by die melkstalle gespan is.
  Sus weer eerste,hy werk goed.My beurt,ek ry ook heel lekker.My ouer broers is groter en swaarder,hulle vang oordentlik spoed teen daai kabel af,wat so styf soos n kitaarsnaar gespan is.
   Nou moet jul verstaan dat n kabel wat styf getrek is teen n redelike helling,en jou eindpunt is die agterkant van n rooi Farmall nogal heel skrikwekkend kan raak.
    Jy moet redelik brieke uitpak as jou voete begin grondraak,en jou ontsnaproete moet van so n aard wees dat jy die rooi Farmall se agterkant mis.
  Teen volspoed nader hul die grond,briek,laat los en begin skuinsweg uithardloop om die trekker te vermy.
  Drie meter verder is die draadheining.Jy moes jou uitswaai en  briek ken.
  Ons het net lekker die trick geken toe pa op hierdie ding afkom.Met gatvelle wat brand moes ons maar weer iets anders soek om te doen.

Môre gaan ons ondergronds.
Vreugde en vrede vir julle.
 
Ns.Ek vra verskoning vir die engelse woorde,dit is maar soos ons daardie jare gepraat het.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Fri, 27/03/2020 - 09:01

Dagsê vriende,
      Ek voel tog ek wil ietsie sê rondom ons huidige omstandighede.Die meeste van ons was laas op skool gehok.Nou is ons weer gehok,en sommer vir 21 dae.
     Gister lees ek op FB n gesprek oor die " Lock Down " en die mense se reaksies daarop.Was dit nodig,was dit nodig vir drie weke,mag ek dit,mag ek dat is van die vrae wat gevra word.
     In engels sê hul mos "IT'S NOW OR NEVER,ek wil hom egter verander en sê,
 " IT'S NOW OR FEVER " Besluit self!!
    Kom ons staan saam,ons kan mos ! Bly in jou huis en op jou erf en gaan net dorp toe vir die uiterste noodsaaklikhede.Dit is vir ons eie beswil.
    Ek het al vir jul vertel van die vriend van ons wat vir n jaguitstappie so ge-camouflage was dat jy net sy geweer gesien rondsweef het,hy was omtrent onsigbaar.
   Wel,ons was gister by ou Apie se begrafnis.Kan jul jul indink hoe moeilik dit vir sy vrou moet wees,isolasie n dag na haar man se begrafnis.
   Ek gaan vir die 21 dae elke dag sommer net so n ietsie sê oor dit.
  
Laat ons by vandag se storie uitkom.

              Ons gaan ondergronds.

    Ons van Heerdentjies was n woelige klompie.Ons was besig,altyd iets gesoek om te doen,al was dit dikwels kwaaddoen. 
    Met die wat ons gatvelle nog skaars begin afkoel het na hierdie gevaarlike foefie slide wat ons gebou het,besluit ons om eerder ondergronds te gaan.
    Dit was verseker die stupitste ding wat ons ooit gedoen het.Ek ys om te dink wat kon gebeur het.Ons kon in n ewige isolasie gewees het,soos ek nou hier sit en skryf raak ek benoud net as ek daaraan dink. 
     Callie,die oudste broer dink dit goed dat ons n tonnel en n vertrek ondergronds moet bou daar onder by die spruit.
   Emers en grawe verdwyn skelm uit die waenhuis se gereedskapkamer.Nou gaan ons myn.Smiddae na skool is ons veld in.Daar word n plek gesoek,reg langs die spruit in die wal,gaan die tonnel se opening wees. 
   Die tonnel se bek en die tonnel self is net groot genoeg om in te kruip.Hy was seker so 3 tot vier meter lank.Vir dae word daar gegrou en emmers vol grond buitentoe, van die een kind na die ander aangegee.Die grond word in die sterklopende spruit gegooi om weggevoer te word,dat niemand kan sien daar lê hope grond nie.
   Toe word daar n ronde kamer uitgegrou,groot genoeg vir vier tot vyf kinders.In hom kon jy darem gehurk sit.Na n lang tyd is die grot voltooi en daar het ons smiddae gaan speel.Gaan ons huistoe is die ingang met takke en gras ge-camouflage en toegemaak.
    As jy nie van hom geweet het nie sou jy by hom verby gestap het.
   Ons geheime grot sê lewe was egter,en as ek nou daaraan dink, genadiglik,van korte duur.Een van ons beeste het bo-oor geloop en die sagte vleigrond het onder hom meegegee en die grot laat intuimel.
    Die velwagter het pa van dit kom inlig toe hy die bees soek.Met die bees weer uit en ons gatte wat behoorlik brand het ons daai dag met daai pak slae buitendien by die dood omgedraai.
   Nooit weer nie ,nooit ooit weer het ons eers daaraan gedink om weer so n onverantwoordelike projek aan te pak nie.
     
Vreugde en vrede vir julle en wees veilig.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sat, 28/03/2020 - 10:50

Dagsê vriende.
    Gister het ek en Ann sommer net n bietjie laat geslaap,lekker saam gekuier en saam kos gemaak.
     Ann het die week net n paar goedjies gaan koop wat ons gekort het,werklik seker n lysie van 8 of tien produkte.
   Kom ek gee jul net so n paar goedjies wat ek moes kry.
Verf vir ons kamer.
n Downlight Gloeilamp vir ons badkamer.
Verf vir die deurkosyne.
Verf vir plafonne.
Skuurpapier.
Skroewe.
Polly Filla.
Thinners en terbs.
Kwaste en rollers.
Sand en sement.
Pap en lap vir die dak.
  Dit is sommer net om n paar te noem.O ja,ek moes sommer ook stop vir gis as ek wil brood bak.
  Raai wat kon ek nie kry nie.Alles gekry behalwe gis,hul is uitverkoop.My hewige bakkievrag lysie se goed behoort julle n aanduiding te kan gee van wat ek gaan doen vir die res van die tyd.
    Wat ek baie snaaks vind,as iemand haar vra wat gaan julle doen die 21 dae,dan sê sy óns gaan die kamer verf en óns gaan die dak weer sy jaarlikse seël opsit op die laste.
   O ja,óns gaan ook n gekraakte facialbord vervang en verf.
   Ons is baie lief daarvoor om dinge saam te doen.Gisteraand net gehoor toe sy met een van die kinders praat óns gaan vandag in die tuin werk.
  Ag wat,so is dit maar,ek en die vrou kan lekker saamwerk.Ek het darem gehoor sy sê vir n vriendin sy het genoeg wol vir n hekelprojek of twee.
   Ons gaan baie dinge saam doen,sien daarna uit.
    Gister sê ek vir die vrou,weet jy wie kry ek nogal jammer in hierdie tyd.Wie,wil sy nuuskierig weet.Die ouens wat affairs het,hoe gaan hulle dit maak? 
  Miskien dink hul nou n bietjie mooi!

Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Sun, 29/03/2020 - 12:12

Dagsê vriende,
  Vergun my om vanoggend n langer stukkie te plaas.

                Matteus 18:20
20 Want waar twee of drie in my Naam saam is,daar is Ek by hulle.
  (Al aanbid jy alleen vandag asgevolg van die afsondering, Hy is by jou,julle is twee,met die grootste respek gesê)

  Jesus in Getsemane.
                       Matteus 26:37-38
37 Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem.Toe het Hy bedroef en beangs geword
38 en vir hulle gesê: " Ek voel doodsbenoud.Bly hier en waak saam met my."
39 Hy het n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: " My Vader , as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verby gaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." 

          Vers 42
ń Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: "My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied."

     Jesus het weereens sy dissipels aan die slaap gevind en hul alleen gelaat en vir n derde keer het Hy dieselfde woorde gaan bid.Kan u ,u indink hoe beangs en bang Jesus moes wees,want Hy het geweet presies wat gaan met Hom gebeur.Soos wat Hy weet hoeveel hare ek en jy op ons kop het,so het Hy ook geweet hoeveel hamerslae op die spykerpenne sou val om Hom aan n kruishout vas te spyker vir jou en my sondes. 
                   Vanoggend net n kort gebed,ek wil u vra om ook jou eie gebed te doen voor jy amen sê.
                           Gebed.
     Onse Vader wat in die Hemel is,dankie,dankie,dankie,vir U grootheid.U wat U wil laat geskied op aarde.U wat ons vrygekoop het met U seun aan n kruishout.Ons is vry.
    Here ek wil elkeen wat nou hierdie gebed lees,hul gesinne en families aan U opdra.Wil U ons beskerm en ons dra in hierdie tyd.
  Vergewe ons ons sondes.Vader,laat nie ons wil nie,maar U wil geskied.
.......................................................................

 Amen.
   
    Mag jul Sy Liefde,Sy Vrede en Sy Nabyheid in hierdie dag ervaar.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Mon, 30/03/2020 - 09:24

Môre,môre,
    Staan bietjie op,jul kan nie nou sommer net bly lê nie.Nee,magties.
    Wel,ek het jul gesê van wat ons alles gaan doen. Saterdag was tuindag. Die oggend gaan sit ek op n tuinbankie, vanwaar die fototjie geneem is. Sit ek die tuin so en kyk, toe lyk dit nou vir my regtig nie of hy regtig onmiddelikke aandag nodig het nie. Gelukkig kon ek die vrou toe ook oortuig en het sy naderhand saamgestem dat óns hom later die week kan doen.Maak ons toe eerder hoendervlerkies met Dirky sous en suurroom. Baie lekkerder en makliker as tuinwerk.
   Onthou jul nog die storie wat Sanet Els vertel het toe sy haar bejaarde ouers gevat het vir hul maandelikse inkopies en hoe haar pa (90)die trollie op drie wiele gebalanseerd gehou het vir die hele inkopietog.
    Wel gister laat weet sy my van nog iets wat hul aangevang het.Haar ouers bly by haar sus hulle in n tuinhuis wat vir hul gebou is.Met die afsondering besluit hul dat hul ouers heeltemal afgesonder moet word,pa is 90 ma 83.Hulle sal aankope doen vir hul ouers en dit op die stoep gaan los vir hulle.
  Hul  bediende wat inwoon besluit ook dat sy eerder daar wil bly in haar kwartiere.Hul reël met hul diensverskaffer om vir die bediendekamer n duel view TV te installeer om dit ook vir haar makliker te maak.Die tegnikus het dit kom doen en eers die aand kom hul agter dat daar groot fout is.Almal hul se TV's werk maar oupa en ouma se TV is af.Met alles wat nou in lock down is, is oupa en ouma nou behoorlik in afsondering en sal hul nou maar hierdie week kyk of hul gehelp kan word.
    Saterdagaand het ouma nou eers n bietjie genoeg gehad van n TV lose huis.Sy whattsapp haar dogter en vra of sy en pappie nie maar vir hul twee kampstoele kan uitdra tot voor hul dogter se TV kamer se venster nie.As hul dan die gordyne ooptrek en n venster oopmaak vir klank kan sy en pappie darem kom TV kyk en hul is darem ver van almal af.
  Sanet se haar sus bel haar omtrent in trane,met ouma se plan.Haar Sus wou dit nie toelaat nie,sy kan darem nie toelaat dat haar ouers in die tuin moet sit en TV kyk nie.Sus is baie ontsteld oor die penarie.Sy het egter beter gevoel toe Sanet sê,weet jy ma wou seker maar net n veldfliek bywoon,en soos sy haar ma ken,het sy seker al n piekniek mandjie met frikkadelle,hoenderboudjies en allerhande versnapperinge met n drink dingetjie gepak gehad voor sy gevra het of hul kan kom TV kyk.

Vreugde en vrede vir julle

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Tue, 31/03/2020 - 08:47

Dagsê vriende,
     Man, ek vertrou dit gaan goed met julle.Die oumense het mos altyd gesê " Ja dankie,onder die omstandighede,mag ons nie kla nie". Ek kan ook omtrent so sê vanoggend.Ek voel so half en half  "Moody" vanoggend. En wil jul weet hoekom. Kom ek vertel julle hoekom.
   Moody's het ons nou mos gaan sta en afgradeer na rommelstatus, so ek het vanoggend my rommelhoed op. Nee wat man,  ń mens doen dit mos nie. Ons is mos alreeds in sak en as,veral nou.Wil hul nou op ons kom sta en trap. Nou voel dit so asof ons varkkos is.
     Maar kom ek jul vertel, jy mors nie met ń Suid Afrikaner nie. Ons is nie gemors nie. Ons gaan ook nie dat enige iemand sommer so met ons mors nie.
     Vir my nou wil kom sta en vertel ons is op die ashoop. Lank nie gesien nie ou broer, lank nie gesien nie. Laat ons net deur hierdie dinge kom en weer n bietjie beweegruimte kry, dan " check" jy ons. Voor jy jou oë uitvee Mr Moody, of wie jy ookal is, het ons opgestaan uit die as.Dan skop ons daai selle asstofies in jul oë. Ons het nou baie tyd om planne uit te dink, en ons is bekend vir ons planne. 
Nou vertel n bietjie vir my hoe voel julle vanoggend, watter hoed sit julle vandag op? Ek is uit die asblik en het my boerehoed op.
Vreugde en vrede vir julle.

.

0
Daspoort Pretoria
Profile picture for user Willem Brits

Willem Brits

Wed, 01/04/2020 - 10:17

Dagse vriende,
                           Belasting.
   Ek is vanoggend so ontsteld,so dit gaan maar net n baie kort stukkie wees.
   Het jul vanoggend se nuus gesien? Kyk nou wil hul darem net te ver gaan met die ding.Ons gaan nou belas word op verborge lewensgenot.Ja,julle het reg gehoor.Op alles wat lekker is gaan ons nou belas word.Dit is nou van die slaapkamer af tot die hoeveelheid kere wat ons lag of smile
   Alles is volgens gemiddelde uitgewerk.Slaapkamerpret se gemiddeld is 2.635 keer per week,weet nie lekker hoe kom hul by daai een uit nie.Die gemiddelde mens lag 3.146 keer per dag en glimlag 6 keer per dag.n Lagbui is bereken teen 15 sekondes per lagbui en n smile teen 3 sekondes.
    Sou jy buite die gemiddelde val mag jy aansoek doen vir die laer belasting waar jy dan volgens meriete belas gaan word.As jy enkel is, n laer tarief op slaapkamerpret. Jy moet dit kan bewys. Saamwoners kry n boetebelasting,omrede dit hul nog nie toekom nie.
   Sou jy nors wees en of baie ernstig moet jy n brief voorlê vanaf n sielkundige om te staaf dat jy minder lag en of smile en op meriete sal hul dan besluit of jy afslag kry.
    Selfs op etes gaan jy belasting betaal op smaakgenot.Ook daar is n gemiddeld vasgestel hoeveel etes Suid Afrikaners per jaar eet en hoeveel lekker was en hoeveel nie n sukses was nie.
      Dit is regtig lagwekkend.Nou ja,ek maak vir my en die vrou vandag n 
kerriepotjie en hy prut te lekker. Ek is lief vir lekker eet en lag, ek sal maar betaal,ou swaer, wat sal ek nou maak.

Vreugde en vrede vir julle op die 1ste April.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus