Len...
...so lekker om van jou te verneem.
Jy het omtrent 'n lekker vooruitsig om volgende jaar saam met jou broer in Kruger te kuier. Ek hoop dit gaan realiseer.
Waar is jou broer se dogter in Engeland, en by watter universiteit is sy daar betrokke. My jongste dogter is woon en werksaam in London.
Herinneringe
Dis iets wat mens nie kan koop nie, en niemand by jou kan steel nie. Ja, daar is siektetoestande wat dit kan vertroebel of laat verdwyn, maar daaroor het mens geen beheer nie.
Ons gesin is geseënd met die wonderlike herinneringe wat ons al kon opbou. Bederf is dalk ‘n meer gepaste beskrywing. In my agterkop het ek geweet dit sou nie vir ewig so kon aanhou nie, omdat my uitgawes (en daarmee saam lewenskoste) vinniger opgaan as my inkomste. My rasionele denke het geweet dis nie volhoubaar nie, maar ek het maar gehoop ‘n wonderwerk gebeur by my werk en ‘n wit, Afrikaanse man oor 50 kry ‘n bevordering. Ek het verlede week bevestiging gekry dat dit ‘n valse hoop was.
Ek sal maar fyn beplan en sommetjies maak en kyk of ons dan een groot kampeervakansie ‘n jaar kan doen in plaas van twee, en tussenin dalk nog ‘n wegbreek of twee hier naby.
Ek is bly dit gaan goed met Oom Len. Koester die herinneringe en geniet die beplanning vir volgende jaar se Krugerwildtuin. Ek weet hoe lief Oom daardie plek het. Ek het dieselfde siekte.
Wessel,..........
...........om jou vraag te beantwoord, sy woon in Bournemouth, Engeland en is verbonde aan Bournemouth universiteit waar sy 'n lektor in filmredegie is.
Eelkeen van ons bereik maar…
Eelkeen van ons bereik maar daai punt in ons lewens wanneer dinge nie meer so maklik is as voorheen nie. Tans voel ek en die Goewerment nog padwaardig maar ons begin partymaal soos ou Isuzu trokkies klink, daai met die "squeeky" suspensies wat so chirrie-chirrie by mens verbyry (met 'n stokou karavaan aan die sleephaak)! Oor die laaste 15 jaar of so met ons gereelde Junie/Julie kampe by Scotties en altyd op dieselfde staanplek het ons gesien hoe van die vorige gereelde kamp bure al hoe minder begin word en met vreemde gesigte vervang word. Party oud-stryders kom nog elke jaar vir 'n rukkie "kamp", maar dan is dit sonder karavaan en "kamp" is dan in een van die naby geleë vakansie woonstelle, tot dat dit ook te veel begin raak. Ekself is nou goed op pad 70 toe. Wie weet hoe lank ons die Sensation nog sinvol kan gebruik...dalk 10 jaar as ons gelukkig is?





En so het elke huis sy kruis.............Ek was besig om myself
Die afgelope paar weke was ek besig om myself jammer te kry wanneer ek hier op die forum lees van almal se heerlike kampervarings en beplanning vir komende kampeervakansies terwyl ek hier by die huis sit met net baie aangename kampeer-ervarings oor 'n periode van 56 jaar. As ek by my studeerkamervenster uitkyk tot binne-in my leë karavaan-motorhuis dan wil ek amper 'n traantjie pik. Maar as ek Chris Wildehont se plasing hierbo lees, het ek tog baie om (ten spyte van my huidige omstandighede) voor dankbaar te wees. Destyds met drie klein spruitjies in die huis en later tieners tot jong volwassenes wat nog by ons aan huis was, het ek ook maar gesukkel om die boeke te laat klop en kort-kort moes lewensstyl aanpassings gemaak word om dit reg te kry. Maar tog, as ek terugdink, is ons daardeur en kon ek en Annatjie die eerste 16 jaar van my aftrede redelik gemaklik en ontspanne lewe - dus, baie om tog voor dankbaar te wees.
Ek verwyl deesdae baie van my tyd om die TV program Wild-Africa te kyk waar verskeie wildtuine se wildtonele gebeeldsend word - die meeste daarvan in Sabi-Sand, Kruger Wildtuin en omliggende privaat-wildtuine. Dit sal seker nooit 'n eie ervaring van die wildlewe vervang nie, maar tog geniet ek dit om dit op my nuwe, reuse TV-skerm te kyk.
Ten spyte daarvan dat my kamplewe verby is, is daar darem 'n interessante beplanning besig om te ontwikkel. My broer en sy vrou woon in Oostenryk (ons twee is my oorlede ouers se enigste kinders) en ons probeer 'n ontmoeting volgende jaar in die Kruger Wildtuin reël. Hulle ongetroude dogter is verbonde aan 'n universiteit in Engeland en sy wil graag ook by ons aansluit. My broer was op sy dag 'n ere-veldwagter van SanParke en is netsoos ek baie lief vir die Wildtuin. Wat so 'n byeenkoms besonders sal maak is hy is nou 80 en ek 78 en ons vorige saamkuier in die Wildtuin was toe ons nog skoolkinders was saam met my ouers !
Jammer vir dié langdradige nie-kampeer storie, maar ek hoop dit bied 'n bietjie vertroosting vir ChrisS om te wys dat mettertyd verloop dinge tog nie te sleg nie ten spyte van tussentydse spoedhobbels wat oorkom moet word.