Die draad het begin na aanleiding van my vraag hier onder maar het toe op “resensies”, menings en ervarings oor al die ruskampe en satelliet kampe in die Kruger wildtuin met kampeerplekke uitgeloop. Dit is van onskatbare waarde vir enige voornemende of terugkerende kampeerder in die nasionale park.
Hier is die oorspronklike plasing en vraag:
Uit die aard van die saak het almal hulle voorkeure, is dit redelik subjektief en is daar drastiese verskille tussen seisoene en binne/buite seisoen maar ek wil tog die draad begin. As daar dalk reeds so een is; verwys my gerus daarheen.
Ons staanplek vir Julie is reeds bespreek; 4 aande by Punda Maria, 4 aande by Shingwedzi en 3 aande by Tsendze. Ek ken die wildtuin goed en besoek dit al vir 47 jaar elke jaar ten minste een keer. Die meerderheid van my besoeke was egter nie kampering nie en ek het nog net by Shingwedzi, Tsendze, Letaba, Balule, Satara, Pretoriuskop en Malelane kampeer en die laaste keer was by Tsendze omtrent 7 jaar gelede.
Alhoewel ek lief is vir die Suide en wildbesigtiging daar goed is, is dit vir my te besig en moet ek vanwee skoolvakansies van volgende jaar af binne seisoen gaan. Ek verkies dus om nie verder Suid as Satara te gaan nie. Ek en my vrou verkies rus en vrede bo skares en verkeersknope by elke leeu en daarom die drie ruskampe waarby ons vanjaar staan. My klong het egter verlede jaar toe ons in hutte by Punda Maria, Shingwedzi en Letaba geslaap het laasgenoemde die meeste geniet want hy hou baie van die olifantmuseum en die natuurlewe rolprente wat saans daar buite vertoon word.
Ek wil egter weet uit ‘n kampeerperspektief watter julle gunsteling ruskampe is om by te staan en waarom? Ek moet een of ander tyd besluit waar ons volgende jaar wil gaan staan.
Dankie Oom Chris, die drie…
Dankie Oom Chris, die drie kampe waarby ons in Julie gaan staan is nou gedek. Ek sien uit na die verder Suid aangesien ek oorweeg om volgende jaar vir afwisseling in daardie rigting te beweeg - dalk Satara, Balule en Letaba of Tsendze. Gelukkig is my Kavango gerat vir kampeerplekke sonder elektrisiteit en mamma sal nie huil nie want alles behalwe die haardroër vir sussie se hare sal nog werk, maar ons kan hulle maar in die dag was.
'n Klompie nuttelose amateuragtige inligting
Voordat ek my persoonlike opinies en waarnemings gee oor die res van die kampeerplekke in die wildtuin, wil ek net gou ‘n bietjie meedeel oor wat ek sedert 1987 doen t.o.v. my amateuragtige rekordhouding in die wildtuin. Ek het ‘n eie unieke rekordsisteem ontwerp vir my persoonlike wildwaarnemings. Ek sal nie nou in detail daarop ingaan nie, maar ek raak tog enkele punte aan. Onderstaande mag jou (wat hier lees) dalk reeds verveel sonder dat ek meer detail te verskaf (jammer!!)
My doelwit was om elke toeriste-roete in die wildtuin ‘n minimum van 3 keer te ry (sommiges het ek reeds meer as 100 keer gery). Ek is nog besig om 2019 se rekords op rekenaar te verwerk, maar ek het sedert 1987 reeds meer as 25 000 km in die wildtuin afgelê en ‘n totaal van 275 nagte in die wildtuin oorgebly. Ons poog om alle wild te tel – ja, selfs rooibokke en groot troppe buffels wat ons soms maar moet skat. Ons is daardie simpel CAM Hilux-bakkie wat by elke troppie rooibokke stop. Maar kom ek los dit eers daar.
Skaarser wildsoorte dra volgens my sisteem ‘n hoër gewig as dié wat meer algemeen is. Daarom dra kampe soos Mopani en Tsendze ‘n hoër waarde a.g.v. die skaars wildsoorte wat daar voorkom. Kom ek verskaf (vir baie mense) ‘n klompie nuttelose inligting, maar wat vir myself tog baie interressant is. Kampe wat volgens my amateuragtige wyse van rekordhouding hoër gewig dra as die wildtuingemiddeld is (en kom ek bepaal my by kampe waar jy kan kampeer) is in volgorde:
Tsendze 181,8%
Satara 126,7%
Onder-Sabie 122,7%
Shingwedzi 120,5%
Krokodilbrug 115,0%
Punda Maria 113,4%
Berg-en-Dal/Malelane 107,6%
Kampe wat laer as die wildtuingemiddeld vaar (ook in numeriese orde) is:
Maroela 95,1%
Balule 83,1%
Letaba 81,2%
Skukuza 63,7%
Pretoriuskop 60,5%
Andere se ervarings mag anders wees. En buitendien, dit gaan mos nie net oor wildwaarnemings nie. Alhoewel my persoonlike rekords vir my aandui dat Pretoriuskop een van die swakker omgewings is wat wild aanbetref, is dit een van my gunsteling kampe in die wildtuin.
Ek het net gedink dat ek hierdie agtergrond gee sodat diegene wat my opinies t.o.v. spesifieke kampe lees, dalk ‘n klein bietjie begrip het hoekom ek soms die opinie uitspreek dat ‘n kamp nie in ‘n goeie wildomgewing geleë is nie.
Dis vrek interessant Oom…
Dis vrek interessant Oom Chris! Ek sou graag die volledige statistiek wou bestudeer.
Kolskoot inligting
Môre Chris
Ek is oortuig jou "amateuragtige" statistiese analise weerspieël die wildwaarnemings/voorkoms 100% korrek.
Nou het ek 'n baie goeie inligtings verwysingsbron om na te verwys, as mense wil weet waarom ek na my gunsteling kampe, die bo-gemiddeldes keer op keer teruggaan.
Jy is nie dalk 'n ere veldwagter nie?
Groete
Jy is nie dalk 'n ere…
Jy is nie dalk 'n ere veldwagter nie?
Ek het baie oorweging daaraan gegee om aan te sluit, maar 'n verskeidenheid faktore het my daarvan weerhou. Die grootste enkele rede is die feit dat ek vir praktiese redes by die naaste streek moet inskakel en 'n verpligting het om hulle maandvergaderings gereeld by te woon. In hierdie geval is dit die Boland-streek en hulle vergaderings het destyds (toe ek navraag gedoen het) saans in Somerset-Wes vergader. Dit sou ryery in die donker beteken - en ek doen dit al vir jare nie meer nie.
Maar dat hulle goeie werk doen, is gewis. Ek ken etlike van die lede wat in Karoo Nasionale Park diens doen.
Ek sou graag die volledige statistiek wou bestudeer.
Ek sal dit met graagte deel, maar dit beslaan tans honderde bladsye van Excel 'spreadsheets'. My kinders moedig my aan om my inligting te publiseer, maar ek doen dit sommer net vir persoonlike genot. Nogtans deel ek met graagte my inligting.
Chris
Middag Chris ! Maggies jy is beskeie om so na jou as amateuragtig te verwys. Terwyl dit vir jou groot plesier gee om die staistiek by te hou, hoef jy geensins verskoning te maak nie. Ek persoonlik sien nie kans vir die administrasie wat dit tot gevolg het nie (was vir 44 jaar betrokke by administrasie, bestuur en beheer van inligting van my werkgewer) MAAR as 'n ander ou dit doen, dan geniet ek die lees daarvan. Dus, baie dankie dat jy dit met ons deel !
Ek hou nogal daarvan om na wild-sensus syfers te kyk en dit met verskillende jare s'n te verelyk. Weer eens MAAR, wildkyk is vir my bloot 'n bonus in die Wildtuin. Ek hou van kampering in die verskillende tipe ruskampe wat elkeen oor 'n eie uniekheid beskik en dan die wonderlike natuurskoon met sy verskillende tipe flora, koppies en randjies, riviere, spruite, damme en drinkgate.
Wilde diere en die voëllewe in die Wildtuin is 'n wonderlike ervaring, maar ek beskou dit nie as 'n doel om dit te vind nie. Vir my is dit 'n bonus om dit raak te loop en ek beskou myself bevoorreg indien ons wel gelukkig is daarmee. Toe ons nog klein kinders in die huis gehad het, was die fokus wel op die vind van diere omdat dit kinders fassineer. En dan het ons boeke byderhand gehad om die kinders van 'n spesifieke dier meer te leer.
Ai maar dit is 'n lekker, interessante plek !
Letaba
My eerste kampeer-herinnering in die wildtuin strek vanaf 1965 toe ek vir die eerste keer saam met my ouers met ‘n klein wit tentjie in Letaba gaan kamp het. Ons gesin van 5 moes snags styf langsmekaar lê. Destyds was die kampeerterrein aan die teenoorgestelde kant in die kamp vanwaar dit nou is – m.a.w. jy’t links gehou wanneer jy by die hoofhek inkom. Sedertdien vul Letaba my nog altyd met nostalgie.
Persoonlik reken ek dit is een van die mooiste ruskampe in die wildtuin danksy die bome en die uitgestrekte uitsig oor die Letabarivier. Die kampeerarea is seker ook die mees skaduryke wat jy in die wildtuin sal vind.
Toe ons vir die eerste keer as gesin met ons woonwa in Letaba gaan kamp het (1994), was die staanplekke nog met gras beplant. Met aankoms is ‘n spesifieke staanplek aan jou toegeken. Verskeie staanplekke was “afgeblok” ten einde die gras weer herstelkans te gee. A.g.v. ernstige droogtes wat deesdae amper meer die norm is as nat jare, is daar weggedoen met hierdie praktyk en die grasstaanplekke het plek gemaak vir die hedendaagse grond-staanplekke.
Letaba se kampeerterrein is lekker gelyk en soos reeds gesê besonders skaduryk – om op te som, ‘n lekker ruskamp om te kampeer. Ons was verlede jaar weliswaar teleurgesteld toe ons op 30 April net vir een nag oorgestaan het oppad na Punda Maria. Ons het naby die groot ablusieblok gestaan en dit was besonders onnet. Maar toe ons terugkeer vir ons 7-nagte kamp het ons naby die ablusie aan die verste punt van die kamp gestaan – en dit was ten alle tye netjies.
Letaba is (wat my aanbetref) een van die swakker wildbesigtigings-areas in die wildtuin. Ek was al by geleentheid verras met wonderlike “sightings” om die kamp, maar daar is beslis baie beter wildareas in die wildtuin. Maar ten spyte hiervan, is Letaba gereeld deel van my reisplan. Ek geniet die kamp. Soms kuier ons sommer die heeldag in die kamp deur sommer net voor teen die rivier op ‘n bankie te gaan sit en kyk na die wild wat kom water drink. Of om sommer lekker op die restaurantstoep (wat ook ‘n wonderlike uitsig oor die rivier het) te gaan sit en ‘n koue goue te geniet. En met elke besoek kan ek myself net nie weerhou om ‘n draai in die Olifant-museum te gaan maak nie.
Sedert rekordhouding het ons reeds 31 nagte in Letaba oorgebly. Maar ek reken dat ons meer as 100 nagte in Letaba gebly het toe ons in die vroeë 80’s in Tzaneen gewoon het. Letaba was ons naaste kamp en ons het bykans elke maand vir ‘n naweek wildtuin toe gegaan. Ek het dus verdere nostalgiese herinneringe van dié kamp toe my kinders nog klein was. En ek glo dit is waar die grondslag gelê is vir beide van hulle se besondere liefde vir die wildtuin.
Ek plaas graag ‘n paar foto’s.
2006

2015 (nie my woonwa nie, maar die bosbokke pas bedags jou kampplek op terwyl jy gaan ry).

2016 (En daar staan die sak brikette weer, Len. Maar darem die sak hout ook.)

Ek was maar verplig om vir my waghonde, of liewer wagbokke, ietsie te voer (ek weet ek mag nie) anders pas hulle nie my kamp op as ek weg is nie.


Toelatings eksamen gedop
Middag Chris
Ai tog, daar dop jy die toelatingseksamen met jou wagbok foto. Nou kan jy maar "ere veldwagter" op jou maag skryf. ![]()
Sit nou asb die reisverslag voort, so al suid
Groete
Knap gedaan
Chris, jy kan jouself op die skouer klop.
Jou inligting is vir ons van onskatbare waarde.
Welgedaan!
Balule
Eintlik moet ek glad nie iets oor Balule as kampeerterrein sê nie, want ek is nie by magte om my oor hierdie kampie uit te laat nie. Ek het nog nooit in Balule gekamp nie. Ek het wel in my Tzaneen-jare eenkeer vir twee nagte in een van die hutte gebly - en dit was 'n fees.
Daardie tyd is daar nog saans 'n groot vuur gemaak en almal het vir hulle 'n bietjie kole uitgekrap om te braai - en lekker gesels. Wat ek verder onthou is die voortdurende "honk-honk" van die seekoeie en die parafienlampies in die hutte en die badkamer.
Al wat my tot dusver weerhou het om in Balule te gaan kamp is die paar kilometer gruispad wat ek met my ou padkaravaantjie moet aflê. Ek't nou 14" rims (wat's die Engels vir 'n rim?) laat opsit. Dalk oorweeg ek dit vorentoe om wel Balule as kampeerbestemming te beproef (ek wil baie graag). Diegene wat meermale daar kamp (soos Len) het my as't ware reeds oortuig ek "loose" uit.
Ek ken die paaie rondom Balule redelik goed. Kere wat ek in Olifants gebly het, of selfs Letaba en Satara, het ek àl die paaie, wat ek as deel van die Balule-"netwerk" beskou, gery. Inderwaarheid het ek reeds meer as 1 800 km op paaie, wat ek reken die Balule-"netwerk" vorm, afgelê. En op grond daarvan reken ek (my persoonlike ervaring) dat Balule 'n ondergemiddelde area is wat wild aanbetref. Maar soos boontoe genoem, dit gaan nie net oor wild nie.
Terloops, daar sou jare gelede 'n kampie net vir kampeerdoeleindes, wes van Balule, gebou word - by die monding van die Ngotsospruit in die Olifantsrivier. Met die grawe van die eerste fondasies is daar artefakte van eeue gelede gevind. Bouwerk is dadelik gestaak en die Universiteit van Pretoria het voortgegaan met opgrawings. Sover my kennis strek is niks verder van die beoogde Ngotsomond kamp (dit sou die naam wees) gehoor nie. Of selfs wat tydens die opgrawings gevind is nie. Dit sal nogal interressant wees om te verneem wat die "outcome" was.
Etlike jare gelede, toe Balule nog nie gereserveer was vir "slegs inwonende gaste" nie, kon enigeen nog daar inry. Ons het eendag daar ingedraai. In die kamp het 'n swartman met 'n R1 geweer rondgeloop. Hy't geen uniform aangehad nie. Synde nog die apartheidstyd, het ons ietswat ongemaklik gevoel. Ek het wel die moed bymekaar geskraap en hom gevra wat die doel van die geweer is. Sy antwoord was dat hy die bobbejane moet skiet. Toe ek hom vra waarom hy nie 'n uniform dra nie het hy geantwoord dat die bobbejane nie nader kom as hy 'n uniform dra nie. Soms wens ek heimelik hulle wil weer só begin optree teen bobbejane en ape.
Ek hoop maar 'n Balule-kenner, soos Len, gee vir ons meer inligting oor hierdie kampie.
'n Ware storie - Letaba se hiënas
Ek kan nie onthou of ek op hierdie forum die volgende vertel het nie. Verskoon dus as ek myself herhaal. Maar ek dink nou-nou daaraan toe ek weer ons lekker wildtuinbesoeke tydens ons Tzaneen-dae in herinnering roep.
'n Vriend van my het vir 'n week in Letaba gekuier en gevra ons moet tydens hul laaste naweek ook Letaba toe kom. Ons was beide in hutte akkommodasie sonder stort en toiletgeriewe.
Die Vrydagaand om die vuur vertel hulle toe dat daar die vorige twee nagte klaarblyklik 'n hiëna in die kamp was. Sy vrou het die vorige aand oppad terug van die badkamer af iets agter haar gehoor wat klink soos 'n hond se asemhaling. Sy't die stuk ingesit rondawel toe en in die proses haar "panty" en bra (wat oor aar arm was) o.a. verloor.
Ons het later gaan slaap. Maar ons was nog jonk en etlike biere se koppe is geknak. Dit het uiteraard meegebring dat ek noodwendig die nag moes opstaan. Daardie jare was daar 'n "koos" in die hutte. Ek het altyd geweier om dit te gebruik.
Ek gaan toe uit, maar gedagtig aan die hiëna in die kamp, besluit ek dat ek waaragtig nie ablusie toe gaan loop nie. Langs ons rondawel het 'n massiewe hardekoolstomp gestaan. Daar en dan besluit ek dat dit die plek is waar ek my blaas gaan ledig. Ek het skaars begin, toe hoor ek die honde-asem kort agter my. Daai jare het ek slegs met 'n PT broek geslaap. Voordat ek kon knyp, het ek alles net so gelos en gehardloop vir die deur. Laasgenoemde het toegeklap en Ralie en die kinders was eensklaps almal wakker. My broek was waternat. Danksy 'n wasbak in die hut, kon ek darem die ergste gemors "opruim".
Die volgende oggend het ek die area om die boomstomp gaan verken vir hiëna-spore. Nie 'n teken binne 'n 20 -30 meter radius nie "It was all in the mind" toe ek die asemhaling gehoor het.
Terloops - daar was vanjaar tydens ons laaste twee aande in Letaba beslis 'n hiëna in die kamp. Hy't o.a. my buurman se koelboks flenters gebyt en sy spore was oral te sien.
Balule
Balule : Chris, die stukkie grondpad (S91) vanaf die H1-4 teerpad en oor die Olifantsrivier laagwaterbrug op die S90 is omtrent 6km lank en skrik beslis nie 'n teerpad karavaan af nie. Ek ry dit maar stadig net om nie onnodig stof op te tel nie, maar dit is "poeding".
As jy Balule vanuit die suide benader, boek in by Satara-kamp en as jy uit die noorde kom, boek in by Olifants-kamp, maar moet liewer nie die S92 grondpad vandaar benader nie. Ry eerder om op die teerpad tot by die S91 grondpad.
Volgens onlangse gegewens wat ek byhou is daar suid van Balule (veral die nuwe S147 pad) tot noord van Olifants 'n trop van minstens ses wildehonde, twee luiperds met 'n welpie of twee en 'n trop van 10 leeus. Die klanke van seekoeie in die naby vloeiende Olifantsrivier is hemels !
Chris, sluit gerus Balule tydens jou volgende besoek in.
Satara
Satara – die kamp op die vlakte. Ek ken verskeie mense wat ek as volg kan opsom: “Satara is die wildtuin en die wildtuin is Satara”. En oor die algemeen kan hulle oor dieselfde kam geskeer word, naamlik hulle is “leeumense”. As jy een van hulle vanaand by die buite-kombuis raakloop en hy/sy vra jou wat jy vandag gesien het, verwag hulle dat jy moet antwoord hoe gelukkig jy met roofdiere was. Of hy/sy sal vir jou vertel dat hulle vandag niks gesien het nie, afgesien van groot troppe blouwildebeeste of bontkwaggas wat hulle gesien het. Hulle is mense wat nie opgewonde kan raak oor ‘n skaars rietbok of swartwitpens nie. Ek en my Ralie het nou-al die gewoonte aangeleer om uit te brei oor die pragtige rooiboktroppe wat ons gekry het – en word soms snaaks aangekyk.
Satara is die kamp waar ek nog die meeste (sedert 1987 se rekordhouding begin het) oorgebly het, naamlik 48 nagte. En ek is nie ‘n besonderse liefhebber van dié kamp nie. Jy kan jouself baie gelukkig ag as jy ‘n gelyk, skaduryke staanplek naby ‘n kragpunt en kraan kry. In daardie opsig was die geluksgodin darem nog meestal aan my kant, maar ons het ook by geleentheid die spreekwoordelike kortstrooitjie getrek.
Die ablusies is meeste van die tyd maar so-so. As die wind waai is dit maar geneig om erg stowwerig te wees – ek het dit eenkeer tydens ’n September-besoek ervaar.
Maar dat die wild in die omgewing opmaak vir die paar tekortkominge is nie altemit nie. En my ervaring is dat daar nie naastenby sulke chaos op die paaie is soos rondom Skukuza en Onder-Sabie wanneer daar ‘n roofdier “sighting” is nie. Mense het ook hulle gunstelingroetes rondom Satara. Die S100 is seker die bekendste daarvan. Maar as daar nou na my mening ‘n “overrated” roete in die wildtuin is, is dit die S100. Gelukkig het jy ‘n groot verskeidenheid van roetes wat jy by Satara kan ry.
Een van die beste luiperd “spots” is suid van die kamp op die H1-3 tussen die bruggie oor die N’wanetsispruit en die H6-afdraai. Nsemanidam (op die H7) stel selde teleur wat groot getalle wild aanbetref. Die Gudzanipad (S41) kan ook baie goeie besigtigings oplewer. Ons was in 2017 o.a. gelukkig om dié area se supertrop leeus hier te vind.
Daar is net geen manier waarop jy die hele trop (veral as hulle naby laan die pad lê) kan afneem nie.

Iets anders wat ek van Satara geniet is die keuse van piekniekplekke wat binne maklike bereik is. N’wanetsi, Timbavati en Muzandzeni is almal relatief naby. Ek ry nie só ver op ‘n dag nie, maar baie mense dink niks daarvan om tot Tshokwane of Nhlanguleni (en terug) te ry nie.
Muzandzeni

Ons het al eenkeer in Satara net met die tent en gazebo gekamp vir 7 aande. Ek geniet my woonwa, maar om in 'n tent te bly en so 'n bietjie op jou geriewe in te boet, is darem ook maar lekker. Dit is in elk geval wat ons in Kgalagadi doen.
2011

2014 (Die keer toe my seun-hulle saam met ons was en ons 'n bietjie van 'n kort strooitjie getrek het met 'n staanplek).

2017

2019 (Waar Wessel my laas gesien het).

Nee wat, ten spyte van al die negatiewe dinge wat van Satara gesê word, sal ek dit maar moeilik "skip" op toekomstige wildtuin-reisplanne.
Ek stem saam.....
Ek stem saam, die groot voordeel van Satara is die wildparadys om die kamp, die talle paaie reg rondom Satara en die klomp naby-geleë piekniekplekke. Jy hoef glad nie van al hierdie Satara-voordele af te sien as jy by Balule kamp nie - dis net 46km noord van Satara. As ons by Satara kamp, slaan ons Balule oor en ook andersom.
En soos ek hierbo op bladsy 1 genoem het, het ons al heerlike staanplekke by Satara bekom. Maar ons het nou al tweekeer in Meimaand ons vasgeloop by Satara se mees suidelik ablusie dat 'n groot klomp skoolkinders van omliggende skole daar kom kamp. Maar hulle word uitstekend en gedissiplineerd gehanteer. Dit pla nie omdat hierdie kinders moet leer van die belangrikheid van natuurbewaring en hoe jy gemeenskaplike geriewe gebruik en netjies agter laat. As jy dus bereid is om sê na 19:00 die badkamers te gebruik, sal jy nie eers weet van hulle teenwoordigheid nie.
Die draad raak net al hoe lekkerder!
Letaba en Olifants/Balule is weliswaar nie die mees produktiewe dele in terme van wildbesigtiging nie, maar ons het al langs die Letaba tussen Olifants en Letaba (ek ken nie die padnommers nie en is te lui om dit nou na te slaan) wildehonde, leeus en verlede jaar 'n luiperd gesien. Wat ek geniet van Letaba is die groot olifantbulle. Dis lekker om troppe met kleintjies te sien (en mens sien hulle ook daar rond) maar die groot menere met die swaar ivoor is darem maar mooi. Letaba kamp is ook 'n pragtige kamp wat ek geniet en dis lekker naby aan die hek sonder dat daar te veel verkeer is. Rondry en stilhou langs die twee riviere en die uitklim op die brûe is ook 'n groot voordeel in die omgewing. Die laagwaterbrug by Balule is ook altyd heerlik (en natuurlik die kampie self).
Satara en omstreke is puik in terme van wildbesigtiging en ek stem saam dat die verskeidenheid roetes en piekniekplekke 'n bonus is. Ek dink ons moet maar die nadele van die kampeerterrein trotseer volgende jaar en dalk Tsendze, Letaba en Satara doen. Ek sien egter uit na die verdere resensies en besprekings Suid van Satara.
Ek deel maar 'n paar fotos wat ek Paasnaweek 2014 in die Olifants omgewing geneem het sodat dit nie net my vervelige hardop dink hierbo is wat julle hoef te betrag nie. Ek het toe nog 'n ordentlike kamera gehad. My vrou het dit intussen oorgeneem vir haar besigheid want haar oue het gekalf, so nou moet ek maar met my foon fotos neem. Laat weet as iemand 'n Canon 300mm F4 Image Stabilised lens wil koop...
Die laaste foto is van 'n pootlose akkedis, die res sal julle self kan uitmaak.









Satara piekniekplekke
Môre Chris en ander vriende
Chris Boucher is heeltmal korrek, die nabygeleë piekniekplekke om Satara is vir my ook 'n pluspunt.
Dit is nogal lekker om vroegoggend die pad te vat, met koelboks gereed, en dan soos sy foto wys, lekker ontbyt te maak. Die toilette is gewoonlik skoon en bruikbaar, wat ook meestal verligting bring.
Na so 'n ontbyt en benerek, terug kamp toe met 'n ander roete en hopenlik diere.
Chris-wildehont: Jou vrou gaan mos saam wildtuin toe, dan kan die kamera mos ook. OF, mis ek iets ?? Dis hoe dit mos werk as mens net 1 vrou het
Groete
Net om te.....
Net om te wys ek weet waarvan Chris praat, maak ons ook ontbyt by Muzandzeni, nogal by die tafel langs Chris hulle s'n ! Sommer 'n klompie olifante daar naby in die agtergrond.

Dis hoe dit mos werk as…
Dis hoe dit mos werk as mens net 1 vrou het
Ja, wat hare is, is hare en wat myne is, is ook hare





Mooi Chris....
Mooi Chris, verduideliking aanvaar ! (voor ek moet gaan skyt...)