Hierdie onderwerp is dalk meer van toepassing op eienaars van boswaens met soliede aste. Eergister nadat ons gehaak het by Jongensfontein wys my een vriend wat saam gekamp het aan my uit dat dit lyk of die Kavango se vere ver verbysteek aan die agterkant. Toe ons na die anderkant kyk lyk dit dieselfde. Op die oog af kom dit dus voor dat die wa oorlaai is, of dat die vere pap is (sien foto hier onder).
Ek gaan lees toe bietjie op, en kry hierdie riglyne om die vering na te gaan. Ek moet nog onder die wa inklim om mooi seker te maak niks is gekraak of anders fout nie. Die laaste ding wat ek wil beleef is dat ‘n blad/blaaie breek in Kgalagadi. Dit sal die toer lelik in die wiele ry. Ek het gisteraand bietjie rondgekrap op die 4x4 forum in gesprekslyne oor Kavango waens. Die foto’s wat ander eienaars daar geplaas het waarop vere sigbaar is lyk net soos myne (met die omgebuigde punt wat verby steek aan die agterkant).
Ek hoor graag wat die ervare mense hier se mening is, en herinner ander eienaars van waens met bladvere om dit na te gaan.

skokbrekers ...
die nuwe as wat ek gekry het, het 'n bracket aangesweis waar jy 'n skokbreker aan kan heg. Sien die oorsee se waens met die Alko as het almal die skokbreker aan.
Glo die skokbreker sal baie help.
Ek glo ook dit sal help.
Ek dink die grootste probleem is hegplek aan die karavaan.
Louis het vere gekry
Dit sal Woensdag hier wees. Hy wag net die die kwotasie. Ek maak my reg vir so R4 500. Ek hoop nie dis meer nie!
Is jy nog nugter??
Chris S, ek sal begryp as jy reeds ietsie gevat het vanoggend, na daai goeie nuus.
Onthou dis 'n langtermyn belegging in jou wa. Dan praat ek nie eers oor die gemoedsrus waarmee jy die Kalahari tog gaan aanpak nie.
Chris S....
Môre Chris
Onthou om seker te maak dat die Kavango nie gaan hak aan jou garage deur nie. Moontlik gaan dit effe hoër wees met die nuwe vere.
Ek onthou vaagweg dat jy genoem het dat dit reeds netnet ingaan in jou garage.
Moenie slapende honde wakker maak nie
Onthou om seker te maak dat die Kavango nie gaan hak aan jou garage deur nie. Moontlik gaan dit effe hoër wees met die nuwe vere.
Ek het gister gemeet van die grond na die bokant van die modderskerm aan weerskante, en van die grond na die pyp raam onder die wa aan die voorkant aan weerskante. Die linkerkant is 50mm laer as die regterkant, en die bladvere is meer reguit aan die linkerkant.
Dit kan wees omdat die batterye aan die linkerkant is, en die kombuis met die staal tafel in sy flap ook. Oor tyd het die vere links dus harder gewerk. Ek hoop die nuwe vere herstel net die ewewig, en lig nie die wa noemenswaardig nie. Anders gaan ek moet bande afblaas op die korttermyn, en uitgrawe by die motorhuis se ingang as ‘n permanente oplossing.
Ek twyfel...
...darem of die kombuis, met tafel en batterye die oorwegende oorsaak is.
Dalk het dit meer te doene met die paaie waar die wa tevore [vorige eienaar] beweeg het.
Ek weet dat myne 'n paar keer Mabuwhesuhuwe toe was, agter 'n Ranger met 20" wiele, en self ook daarmee. Ek het myne onmiddellik laat diens en wiellaers vervang, na aankoop.
Ek wou maar net jou bedag maak op so 'n hak moontlikheid. Laat die beterhelfte op 'n leer staan sodat sy mooi die dak kan dophou, die eerste keer.
Spanwerk
Laat die beterhelfte op 'n leer staan sodat sy mooi die dak kan dophou
Salomien staan reeds op ‘n gereedskapskas om die motorhuisdeur op en af te beweeg sodat dit nie die dak beskadig wanneer ek die Kavango in- of uit die motorhuis trek nie. Ek sal maar moet kyk en as die wa enigsins lig gaan ek waarskynlik ‘n oprol motorhuisdeur moet soek. Salomien sê daar is maar omtrent 20mm speling op die ergste deel van die in- of uit trek.
Interressante en belangrike…
Interressante en belangrike onderwerp!
My '95 Fleetline het die Al Ko rubber vering wat lyk my baie algemeen gebruik word. natuurlik het die draad nou veroorsaak dat ek my "Bekommer Hoed" opsit....My Fleetline staan die grootste deel van elke jaar op bokkies met wiele in die lug, maw geen stres op die veerstelsel nie. Maar nou beginne ek wonder met ons jaarlikse Scottburgh vakansie in Junie/Julie om die draai of die veerstelsel nog reg is....enige voorstelle hoe mens dit nagaan? (Die wa word baie lig gelaai met meeste goed wat saamgaan in die bakkie, slegs klere, bietjie vleis en kos en potte/panne in die wa as ons ry). Sou dink die afstand tussen band en bokant van die modderskerm is 'n aanduiding, maar hoeveel moet dit min of meer wees?
Grootwind...
Naand GW
Waar laai jy die voggies???![]()
Moeilike vrae wat jy opper. Daai afstand tussen band en modderskerm is natuurlik nie in konkreet gegiet nie. Dit hang af van;
jou wa se jaarmodel en wiel grootte
tipe bande wat jy op het
Ek het my '95 Fleetline met 50mm gelig om 14" wiele en gepaardgaande 14" bakkiebande op te sit. Het jy nog die oorspronklike 13" wiele en bande op jou wa?
Die belangrikste spasie wat jy moet dophou, is die tussen jou band se loopvlak, na die naaste moddeskerm punt, aan die agterkant. As ek reg onthou beweeg/sak die wiel effe na agter onder gewig en beweging van die Alko vering. Maak seker dat jy daar genoeg spasie het, dat dit nie daar sal raak onder slaggat toestande nie.
As jy jou wys en middelvinger breedte saam [~45mm] daar het, behoort jy OK te wees.
Amper my tyd en geld gemors
Die wa is vandag 13:00 na Louis toe. Hy vra of ek wil wag, maar ek het vergaderings. Toe ek dit wil gaan haal is net die een kant se nuwe vere op. Die nuwe pak vere vir die anderkant wat langs die oues lê bekommer my. Die blaaie is aansienlik dunner. Louis is gou iewers heen, so ek bel hom en spreek my kommer uit. Hy sê hy sal gaan kyk en die wa vir my bring wannneer dit klaar is. Teen 17:30 na ek hom vier keer probeer bel het ry ek maar na sy werkswinkel want toe kon ek al ‘n eier in my agterent kook.
Daar aangekom is hy net oppad om die Kavango te haak. Hy het die ou vere teruggesit want hy sê daar is niks fout met hulle nie en hy sal eerder met hulle Botswana toe ry as met die nuwes. Hy het net nuwe busse ingesit want die oues was poegaai. Hy sê dit is maar die swaar dra aan die linkerkant wat die vere platter druk, maar daar is nie ‘n gevaar dat die wa sal bottom out nie. Ek het die een nuwe pak saamgevat vir ingeval. Selfs as net een blad breek kan mens ten minste ‘n nuwe in sy plek sit en iewers kom in plaas van om gestrand te wees of ‘n arm en ‘n been vir ‘n uitroep te betaal. Hier onder is die verskil tussen oud en nuut duidelik.

Chris,....
.....terwyl al die moeite gedoen is, kon jou werktuigkundige nie die ou linkerkant en regterkantse vere omgeruil het om te kompenseer vir die linkerkant wat iewat gesak het nie ?
Slim plan maar nee
Hy het nie Oom Len. Ek het die linkerkant se pak gesien toe dit van die wa af was, en die nuwe pak wat regs moes opkom daarop gesit om te vergelyk. Ek het ongelukkig nie ‘n foto geneem nie, maar die kurwe van die twee pakke was identies. Dit beteken natuurlik nie dat die ou pak onder lading dieselfde gaan optree as die nuwe nie. Die Kavango is egter so ontwerp dat daar meer gewig aan die linkerkant gelaai word. Twee batterye opsigself is ‘n swaar las. Dan is die kombuis ook aan daardie kant, met ‘n opvou staaltafel in sy deur, ‘n staal blad wat afslaan met die stofie op en alles wat mens in die kombuis se laaie pak. Die linkerkant is ongeveer 40mm laer by die bokant van die modderskerm as regs. Die omruil van die vere sou heel moontlik ‘n verskil maak - maar hulle het dit om die beurt afgehaal.
Immers weet jy nou dat die…
Immers weet jy nou dat die stuk wat agter uitsteek nie n probleem is nie ??? Ek het aanvanklik gedink die vere het maar, soos die Prado sin, pap geraak en gaan le. Maar as die nuwes se kurwe dieselfde is, soos jy noem, klink dit nie of dit pap geraak het nie.
Swaar dra al aan die 1 kant
Môre vriende
Dis mos 'n feit dat hoe ouer ons word, hoe verder terug in die verlede onthou mens gebeure. So val dit my by van my tannie se 1970-Cortina.
Sy was boekhouer en andere by die Ford garage op my grootword dorp. So koop sy 'n Cortina, dit het al die kurwes gehad, so effe fastback na agter. Na etlike jare se alleen ry, het die Cortina ook so ooglopend aan die regterkant gesak. Wat die probleem was, sal ek nie weet nie, maar of haar 75kg dit oor etlike jare veroorsaak het, kan ek amper nie glo nie.
Dalk moet ek ook maar my Kavango, as voorsorg maatreël, anders begin pak. My 2 batterye [~40kg] is ook aan die linkerkant, met dieselfde kombuis opset as Chris S s'n. Om te kompenseer sal ek maar die swaar goed aan die regterkant gaan pak. Nou moet ek egter Marie oortuig om haar klere regs te gaan pak.
Ek kan 120kg aanvanklik minder laai deur die watertenk eers by die bestemming vol te maak. Skielik besef ek, waens met die 25l kanne het 'n groot voordeel. Na 'n oornag kan mens net die kan leegmaak, en jy is ontslae van die water gewig. Die watertenk is net agter die as, en is dwars gemonteer, dus behoort dit 'n eweredige verspreiding van gewig te gee.
Tog, ek sal verwag dat tydens ontwerp, sulke faktore ingereken word om die veerstelsel se vermoë te bepaal.
Daai L vorm blad???
Môre Herman
Daai afgebuigde onderste veer op sy 1ste foto, het my ook laat wonder. Skielik tref dit my, kan dit so gevorm wees met 'n doel;
Moet dit keer dat onder sekere omstandighede die blaaie nie "uithak" nie. As bladvere platter gedruk word, moet hulle lengte [span] tog toeneem.
Sulke tegniese insig ontbreek by my, ek gaan nou eers kyk hoe is die Hilux se vere gemonteer, voor ek my naam dalk verder gat maak.





Vat sommer.....
....die wa soheentoe. Dit lyk of daai manne jou sommer gou gaan kan help.