Op Wessel se versoek begin ek die gesprekslyn om alles oor ons kuier bymekaar te hou.
Almal weet al ons vertrek DV 26 Desember en keer weer 11 Januarie terug. Ons staan vir die eerste keer op nr 33 tydens die besoek. Ons is baie opgewonde oor die vakansie!

Ons kamp staan
Ek en die kinders het nou heerlik baljaar in die see. Ons vuurtjie brand en die see gesels in die agtergrond. Ons is met vakansie!

nr 33 lyk beslis .....
...na 'n wenner!!! Amper privaat en seker met lekker koelte. Die boom links op foto, neuskant, lyk of dit heerlike namiddag koelte kan bied.
Nou moet jy met grashark daai sandstroke mooi hark, sodat jy kan bespied vir slangsleepsels uit daai bosse.![]()
Ek dink julle gaan baie hou van nr 33.
Skaduwee maar…
Die boom links hang oor ‘n sandstrook. Die Ranger staan daar. Dis nou wel in die skaduwee, maar die boom mors blommetjies en stuifmeel. Dit lyk darem nie of dit taai sap mors nie.
Die plaveisel gedeelte is in die son. Die wa se regterkant kyk Wes so ons leefarea is darem in die namiddag uit die son. Vir die oggendson het ons die blou gazebo opgeslaan. Die groot voordeel van die staanplek is dat dit uit die wind is, en net aan een kant bure het. Dit is dus baie privaat.
Ek het nog geen teken van slange gesien nie, maar toe ek vanoggend die krat met droeë hout wat ek van Worcester af gebring het - om die plaaslike gekoopte hout wat nie so droog is nie aan te help - onder die braaiplek inskuif, skarrel ‘n skerpioen agterna. Darem een met ‘n dun stertjie.
Die kamp loop nou leeg. Ons het die R60 gaan betaal by die kantoor en uitgevra daaroor en oor die blokbesprekings. Die R60 is volgens hulle net om beheer uit te oefen sodat hulle weet hoe die bewegings lyk elke dag. By die huisies is dit R100, en daar is meer werk as op ‘n staanplek. Ek aanvaar as hulle sê jy moet betaal om vroeër in te kom gaan gaste dit vasmaak, dan weet die oord wat om te verwag.
Die blokbesprekings is afgeskaf, maar baie mense het aanvaar dit geld nog en dienooreenkomstig datums aangevra toe hulle aanlyn bespreek het. Dus waarom die oord nou taamlik leegloop en ‘n nuwe span later vandag intrek. Ek het gevra of die feit dat mense die datums kan kies nie gapings laat nie, maar sy sê hulle is vol bespreek tydens die skoolvakansie - vir volgende Desember ook.
Ons staanplek van die ander kant af
Noudat die bure weg is kan mens sien 32 is baie knap. Dis seker waarom hulle in die pad voor die Ranger sit en kuier het.

Dis lekker ...
... om te weet hoe jou staanplek lyk. Dit is een van die staanplekke waarna ons gaan het vir ons laat-Januarie wegbreek.
Geniet dit Wildehont. Ek hoop julle het lekker seevakansie-weer. Hier in Kleinmond het die vakansiegangers 2 uitstekende dae op Kersdag en gister gehad - amper té warm na my smaak. Ek is dankbaar vir die koeler weer vandag.
Chris S....
....sjoe, met verwysing na die foto hierbo, waar bakkie in koelte staan, is nr 33 op die oog af, 'n moeilik bereikbare staanplek. Dis nou as iemand op nr32 styf teen nr 33 se kant, en voor opgeslaan het. Ek sou nie my wa daar ingekry het nie, ek het nie skuiwers op nie.
Afgesien van privaatheid, sou julle nie beter gedoen het met wa se rug Noord, sodat tent en leefarea tot onder/teenaan koelte strek, waar trokkie nou staan nie??
Ek sal moet heroorweeg, en dalk maar ook op oumens nommers tussen hek en ablusie gaan kamp maak.![]()
So maak mens...
"Uit 'n ander hoek" vertel die storie
. Dit lyk asof julle reeds heerlik ontspan in 'n lekker gerieflike kamp-opset. Ek hoop die weer bly alpad so mooi - dit sal beteken dat julle strand toe kan gaan en net miskien wag die bloublasie weer om te groet......... Onthou om jou foon saam te neem![]()
Lekker setup
Lekker setup wat jy daar het Wildehont....geniet dit!
Lekker setup
Lekker setup wat jy daar het Wildehont....geniet dit!
Bedrywig
Met ‘n amper tienjarige en ‘n agtjarige is vakansie by die see bedrywig. Kara en veral Chris het die pret van in die see swem ontdek, en Kara kan dit nog nie alleen doen nie. Verlede jaar het sy meer in die sand gespeel, en Chris net voor in die vlak water. Nou wil sy ook in die branders speel, en Chris is ‘n tipiese seuntjie wat dieper wil ingaan en die golwe ry en daaroor en onderdeur spring en duik.
Die swemplek hier is by ‘n groot sandbank, en daar is in Desember lewensredders. Laagwater is die water ver in vlak, en die sandbank tem die branders. Daar kom egter steeds sterkes deur, en soms kom hulle terug van die strand af en self skuins verby om die volume water weer oor die sandbank te kry. Dit gee ‘n ontstuimige besigheid af. Hoogwater is natuurlik bietjie rowwer. Gister was dit 07:49 laag en toe eers weer 20:19. Ons gaan swem elke keer so naby as moontlik aan laagwater vir ongeveer twee ure.
Ons vat net handdoeke en bodyboards saam en kom terug kamp toe as ons klaar geswem het. Tydens vorige besoeke het ek en Salomien ons lekker ingerig op die strand, en meestal ontspan terwyl die kinders speel. Ek geniet dit om saam met die kinders in die see te speel, al is dit meestal om vir Kara op te pas. Die venster waartydens mens met hulle kan speel is so klein. Ek sien my jonger self ook in Chris, toe ek vir ure aaneen golwe gery het. Salomien is egter nie so mal oor in die see swem nie, en sy mis die rus.
Die water is mooi helder, en op die sandbank sien mens gereeld krappe en vissies. Eergisteroggend het ek ook ‘n klein pylstert gesien, en gisteroggend het die dolfyne net agter die branders verbygeswem. Ongelukkig is hier heelwat bloublasies as die wind aanlandig waai, en gistermiddag het een vir Chris op sy pinkie bygekom. Hy was baie ontsteld omdat een hom tydens ons vorige besoek ook bygekom het, en ons drie nog nie een keer deurgeloop het nie.
Die weer is sover lieflik, en dis aansienlik warmer as vorige jare, Ongelukkig kom die spelery in die see ook met ander beserings, en altwee kinders (en ons) het rash van die sand en soutwater. Gister oor middagete is ons eers George toe om beter swembroeke vir die kinders te kry wat die sand uithou. Toe het ons ‘n draai gemaak by vriende van Worcester wat elke Desember by Pine Creek in Grootbrak staan. Ons kinders het in die swembad daar geswem saam met hulle s‘n en putt-putt gespeel. Ons moes egter R50 per persoon dagbesoekers fooi betaal!
Ek sê vir Salomien, mense verskil maar. Pine Creek is langs die Brakrivier maar heeltemal te ver van die see af om te stap. Daar is ook mense wat permanent daar bly en baie staanplekke. Ons sal nie daar gaan staan nie, maar hulle is dol daaroor. Hulle sê hulle het eergisteraand ‘n groot reënbui gehad, terwyl dit hier net vir omtrent 10 minute liggies gereën het. Ons ander vriende van Worcester wat elke jaar Hartenbos toe gaan (hulle kon eers van 5 Januarie af plek kry) sê hulle het nou ‘n hele paar waarskuwings van die ATKV af gekry dat hulle fietse moet vassluit daar. Dis die eerste keer wat dit gebeur. Hartenbos is vir ons heeltemal te groot en besig, maar so verskil mense maar. Party is dol daaroor, ander verkies Dwarswegstrand en ander weer Pine Creek.
Dis my storie vir nou, ons staan baie lekker op 33. Ek neem nie regtig foto’s nie maar hier is een van 30 waar ons weer oor ‘n jaar staan as ons gespaar bly.

Lekker verslag Chris…
Lekker verslag Chris.....................................en hoop die reën trek bietjie hier na ons toe.
Nou al vir amper twee weke geen reën nie en dit is vrek warm.
Verdrinking ???
Ek sien die koerante vermeld 'n verdrinking naby Glentana. 'n Vakansieganger kon die seuntjie red van die sandbank af, maar die volwassene wat by hom was, kon ongelukkig te laat uit die see gehaal word.
Dra jy kennis/gelees daarvan??
NS: Blykbaar is die swemstrand by Victoria baai berug vir erge seestrome, wat menigmaal mense in die moeilikheid laat beland.
Verdrinking by Glentana
Ek was nie bewus daarvan nie. Het nou op die www gesoek en daarvan gelees. Dit het die middag wat ons hier aangekom het gebeur by Glentana. Dis baie hartseer.
Die stuk strand tussen Glentana en Grootbrak is nie die beste vir swem nie. Tussen die kampterrein hier, en die swemplek voor die huise in die oord is ‘n sterk sleurstroom. Mens kan dit duidelik sien want daar is geen branders nie. Gister het die dolfyne tot amper teen die strand in die sloep geswem, so diep is dit. Ons bly maar op die groot sandbank tussen die vlae. Dis ‘n hele ent van die sloep af.
Besige dag
Ons was vandag baie lank op die strand (meestal in die see). Ons vriende by Pine Creek en hulle bure het kom kuier. Terwyl ek vanoggend saam met Kara in die vlak water staan spoel ‘n baie groot jellievis verby. Ons het verder heerlik baljaar en gespeel. So voor 14:00 het ons kom braai en kuier by ons staanplek. Hulle is 16:00 terug Pine Creek toe, en ons het verder hier ontspan terwyl die kinders lekker gespeel het in die oord met maatjies hier.
Die oord het ‘n nuwe (vir ons) publieke toilet en rolstoel toilet aan die buitekant van die ablusie ingerig. Dis baie gerieflik want dan hoef mens nie elke keer al die pad in die ablusie in te loop om te gaan piepie nie. Die tweede foto het ek so halfuur gelede geneem. Vanaand gaan ons doeksag slaap.


'n Regte seevakansie
Dit klink heerlik!
Die foto kort voor son-onder is pragtig. 'n Laaang strand om lekker ver te gaan stap....
Geniet elke dag daar.
My eerste steek
Vanoggend weer wakker geword met lieflike sonskyn en ‘n stewige bries (nog nie regtig ‘n wind nie). Ons is so na 09:00 strand toe, net na laagwater. Maar die bries is aanlandig en tussen die sandbank en die strand is ‘n stroom in die rigting van Kleinbrak wat toe bloublasie op bloublasie begin verby bring.
Terwyl ek nou hier tik hoor ek skielik “Oom, oom se vrou vra Oom moet asb ‘n grafie bring - daar is ‘n skerpioen by die badkamer”. Ek vra toe sommer vir Clara wat my kom roep het en wie ons al van verlede jaar af ken om dit vir Salomien te vat.
Gelukkig het Chris Jnr en Salomien - hulle het gaan swem terwyl ek en Kara ‘n resieskar met sand gebou het - die bloues vrygespring. Ons het die wat uitspoel toe vir die toringslakkies gevoer en gekyk hoe hulle dit verorber. Ek was baie lus om af te koel (al is die see taamlik warm vandag), maar net toe ek so bo enkeldiepte in is voel ek ‘n steek sensasie en toe ek afkyk sien ek die bloublasie wegdryf van my regter enkel af. Gelukkig het die lewensredders ‘n spuitbottel met ammoniak en dit was nie vir lank seer nie. Daar kry ek my eerste steek op 52.
Salomien het sopas terug gekom van die ablusie af, en sê die skerpioen was in haar waslap en het haar gesteek. Gelukkig is dit die bas skerpioene met die dun stertjie wat hier voorkom. Ons het al ‘n paar gesien. Dis haar tweede onderonsie met ‘n skerpioen. Een het haar bygekom toe ons in die Tuli blok was jare gelede.
Beide gelukkig....
...wat stekies aanbetref.![]()
Gits, hoe kom die karnallie in Salomien se waslap, wat seker opgehang was??
Die teenwoordigheid van skerpioene en nog wat, kom seker maar saam met die bosse/struike om julle staanplek.
Goeie vraag
Gits, hoe kom die karnallie in Salomien se waslap, wat seker opgehang was??
Ek het hulle al in die hout gekry hier, maar haar waslap was opgehang aan ‘n hakie teen die kantseil van die stoep afdak.






Hulle pak op
Nee wat, ek is nie kwaad vir hulle nie. Hulle pak in elk geval op. Meeste mense gaan môre huis toe. Lyk my hulle was nog op die blok besprekings.