Vandag het ons vanaf Hartenbos na Plettenbergbaai gery. Vanaf George tot Plettenbergbaai is seker die mooiste deel van die tuinroete. Toe ons Liewe Vader die stukkie aarde gemaak het, was hy seker in 'n baie goeie bui. Ons het dit al soveel keer gery, maar elke keer is dit van nuuts af weer mooi. Berge, die see, mere, plantegroei, alles werk saam om dit regtig een groot pragtige tuin te maak. Die wonder van die skepping laat mens klein voel.
Ons is veilig by Forever Plett. Ons het bietjie lank gesoek vir 'n staanplek en uiteindelik een gekies wat naby die ablusie is, son sal kry en darem 'n uitsig van die rivier het. Hier is heelwat bome met bessies en die voëls wat dit eet, mis op jou tent en karavaan. So ons wou ook nie direk onder bome staan nie. Ons staanplek lyk toe mooi gelyk maar op die ou end staan die karavaan baie lekker maar die tent is nie regtig op gelykgrond nie. Colin is vol fiemies en nie baie gelukkig daaroor nie maar ons sal dit gewoond raak. Ons het ongelukkig ook 'n sandkol onder die een deel van ons grondseil.
As jy by die hekke van Forever Plett inry, besef jy opnuut hoe pragtig dit hier is. Die rivier en die berge en die pragtig versorgde oord is iets om oor huis toe te skryf. Die ablusies is puik gehalte, eie aan die Forever Resorts. Ons ontvangs by die kantoor was uiters vriendelik. Ek weet ons gaan ons maand hier en in die mooi area baie geniet.
Dankie Fransman. Hier is…
Dankie Fransman. Hier is nogal heelwat meer karavane as wat ons verwag het. Colin was vas van plan om 'n bootjie te huur om met die rivier op te gaan om lyn in te gooi, maar nou het hulle gesê hul huur nie op die oomblik die gemotoriseerde bootjies uit nie. Weet nie hoekom nie. Jy kan nog 'n kano huur maar Colin sê hy vertrou nie sy eie balans nie. Hy dink as hy in die kano inklim, gaan dit met hom om meor (sy woord!). ![]()
Gelukkig vaar die plesierboot nog tussen die berge in, dit is op ons lysie van doendinge.
Bly julle is veilig Freda, …
Bly julle is veilig Freda, geniet Plet.
Goeie more Freda,…
Goeie more Freda,
Baie bly dat julle reis voorspoedig was. Geniet die maand daar.
Daai mooie plek!
Freda, daai deel van die land, veral Keurboomstrand le ons baie na aan die hart.
Doen julleself n guns en gaan eet een aand by Henrico's in Keurboomstrand. Die restaurant in The Dunes is ook bakgat.
Kry ook n vars gebakte paai by Thyme & Again!!
My aftreeplek is natuurlik in Keurboomstrand want ek het daar vakansie gehou van ek kan onthou en ons is jaarliks daar.
As julle dalk die motor se bande biki wil vuilmaak, vat die Uniondale pad daar langs julle en gaan eet ietsie by Angie se G-Spot wat op daai pad gelee is. Jy gaan hartlik verras wees met daai restaurant gehuggie tussen niks en nerens... en natuurlik die massiewe woude, pragtig man!!!
Geniet dit en onthou n foto of twee.





GENIET!!!!
Freda, bly julle veilig daar, en hoop die maand gaan HEERLIK wees!!!!
Groete vir Colin, en sê ek wag vir foto van GROOT vis!!!