Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Verkiesing effek November 2026 Wessel Strydom -32 minutes ago
Geniet jou video's... Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -12 hours ago
Goeie hout... November 2026 Wessel Strydom -21 hours ago
ANC is soos.... November 2026 Wessel Strydom -1 day ago
Goeie hout... November 2026 Wessel Strydom -1 day ago
Einde van ANC? November 2026 Goeie Hout -1 day ago

Varkvleis

Pretoria
Profile picture for user Slowstrike
Submitted by Slowstrike on
Forums

Vader Krismis het my plaas toe mos heeltemal misgery. Dalk was dit net dat sy takbokke ook nie vir die plaaspad wat Raubex se lorries so uitry, kans gesien het nie. Ek weet nie hoe lyk dit as 'n slee 'n skokbreker gebreek het nie, maar dit moet 'n taamlike gemors wees as Rudolph 'n been breek. Veral omdat ek my plaaspad met 'n leeuboer deel.

Nee, die plaaspaaie is nou so erg dat ek een nommer kleiner onderklere moet dra om nie my ruggraat te ontwrig of uit my klere te skommel nie. Moes al twee maal verlede jaar gaan vir nuwe krone. Die laaste keer so net voor Krismis moes hulle 'n speleoloog vra om na my te soek nadat ek vir 'n lorrie uitgeswaai het en in 'n slaggat geland het.. Laasgenoemde is sommer 'n grappie,

Ek was net goed op dreef na Krismis toe toe byt 'n vark my. Ja wragtag, 'n yslike hap hier net agter die regter knie. As jy skielik 'n volwasse potbelly-varkie persent kry, kamma vir 'n Krismisboks, moet jy weet dat daar 'n goeie rede voor is. Of die pasiënt kan jou nie betaal nie of hy hou nie van jou nie.

Die ding se naam is Napoleon en is in sy vorige lewe grootgemaak op kaas en jogurt. Dus voeter hy kronies in die kombuis in en maak die yskasdeur oop, druk sy kort vet snoet in die rakke en soek sy kaas, maar in die proses gooi hy alles uit en maal dit tot 'n pulp tussen sy kloutjies. Napoleon loop en og-og vir almal en toe begin hy vryerig raak. Die trappe, die trekker se wiel, die windhond, die Jack Russell en die gaste moet deurloop.

Soos ek nou maar is, leef en laat leef, elke diertjie het sy plesiertjie, besluit ek in my onnoselheid dat vark se kind net sy eie sog nodig het om vrede op die werf te bring. Ek bring vir Mariè Antoinette met groot omhaal agter in die Modus op die plaaswerf aan. Ons het begin met die sog in die kattebak, maar vyf kilometer verder, druk sy die agterste sitplek vorentoe en sit toe die wêreld en bekyk soos Dana Snyman maar wens om te kyk vir 'n nuwe reisartikel of twee.

Die verligte persoon by wie ek haar gekoop het, het haar oorskiet beet gevoer vir brekfis. Sy blerts op my sitplek en toe ek amper die kar omgooi as gevolg van die aanslag op my reuksintuig, vang my oog daardie rooi jiggie bondel en omdat die Modus se outomatiese ruitreguleerder befoeter is na 'n halfwas kaping, gaan ek op 'n varkmistrip voor ek 'n plek kry om af te trek. Ek braak langs Oom Charl Hertzog se plaasheining dat sy skousaalperde bleek word om die kiewe.

Napoleon is dankbaar bly en dek vir Mariè, my inkopies in 'n Sparsak, my mediese tas en die Jack Russell voordat ek my sitplek skoongewas het. Na die liefdesmaaksessie is Mariè ook nie so mak as wat haar vorige eienaar my belowe het nie. Voor ek nog hek kan toemaak, gee sy so 'n histeriese gilletjie toe die windhond kom groet en daar hol al R600 se varkvleis pad-af. Jet, die windhondreun, dink dit is 'n lekker speletjie en sit haar met gemak agterna. Sy gee nog so 'n gilletjie en Phakisa, die windhondteef se voorouers was beslis meer aggressief as die sagte Jet s'n en sy besluit dat hierdie 'n jagtog moet wees. Sy loop Mariè in sekondes van 'n yslike agterstand af in die grond in. Gelukkig besef vrak se kind dat dit waarskynlik veiliger is by die mensekind wat so staan en gil en sy maak 'n u-draai en hier kom sy. Nou gooi sy wilde esse om onderdeur windhond se kind se bene te kom. Phakisa kyk nie op nie en vark mik op my. Ek wil weg spring, maar hoewel ek die varkvleis kan vermy, tref 'n opgewonde windhond my soos 'n torpedo. Ek skel so dat Phakisa twee dae lank wegkruip in die stoor en Mariè kalm agter Napoleon aan drentel.

Of dit die liefde was, dit weet ek nou nie, maar Napoleon begin so skeef loop soos 'n Modus met 'n gebreekte skokbreker, rys sy nekhare soos 'n kwaaihond en grom hier diep uit sy keel. Pure tiekie horrorfliek. En toe begin die vark byt. Kyk, dis snaaks as dit nie jy is wat gebyt word nie. Enige grootmens wat voor 'n dertig sentimeter hoë rondvetvarkie uithol is, snaaks. Ek lag my dood wanneer Abel en Seun laat waai voor die vark, want toe byt hy nog nie die huismense nie. Hulle dra ook hoë werkstewels en hy maak nie juis hond haaraf nie.

Kom ek skemerdonker een aand terug van die werk af, moeg gesukkel en diep ingedagte oor my finansiële sakies, dink ek nou nie aan Napoleon nie. Teen die tyd wat ek die dreigende grom hoor, peul hy al onder my kar uit en byt my aan my been. Ek gil soos Chubb se alarm. My broek se pyp is stukkend en ek voel bloed aan my been. Eers is ek tot stilte geskok, maar toe slaan ek hom met die twee liter koeldrankbottel op die kop. Toe hy stert in die lug weghardloop, gooi ek hom met my brood. Die windhonde verjaag hom vir my verder en vreet toe die brood op vir hulle moeite.

Ek hink die huis in en sien 'n reuse persblou swam in die waai van my been. Twee weke lank bly dit blou en seer en ek sien hoe Seun en Abel agter hulle hande lag as hulle my sien.

Ek het oorweeg om hom te spit maar tot dusver kon niemand op die plaas hom inhardloop en vang nie. Die windhonde het hom en sy vrou gelukkig tot buite die plaaswerf verban.

Vanoggend met die uitry werk toe, sien ek net vir Napoleon. Ek hou stil en bespied hulle lêplekke met my verkyker. Ek sien Mariè lê en haas my om te sien of sy nie seergekry het nie. Napoleon vreet mielies en ignoreer my, want Phakisa draf saam. Daar is agt nuwe aankomelinge. A ha! Dit los sommer my kersgeskenkprobleem op!

(Met erkenning aan Douwlina du Plessis)

0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus