6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Wildtuin restaurante Kruger 2026 Rona du Plessis -11 minutes ago
Rona... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -15 minutes ago
Geert se braaivleise.... Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -50 minutes ago
Traction control Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -8 hours ago
Braai Lux Oktober 2026 saam gesels Geert -11 hours ago
Kappie e Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -14 hours ago

Uiteet

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Wie van ons is ywerige uiteters? Wie van ons het 'n renons in uiteet?

Toe ek destyds (1973) by Elsenburg Landboukollege begin studeer het, is ek die eerste aand (vrywillig) saamgesleep na die Spur in Stellenbosch, waar ek bekendgestel is aan die Spur Burger. Dit was vir my 'n hemelse (by wyse van uitdrukking) ervaring. Ek was "hooked".

As kind sou my pa ons "once in 'n blue moon" na een van die plaaslike hotelle in my "komvandaan" (Tulbagh) geneem het vir 'n Sondag-middagete. Dit was lekker om die vier- tot vyfgang-maaltyd te geniet - beginnende by sop, vis, hoofgereg met minstens twee soorte vleis, nagereg en afgesluit met koffie. Maar dit het nie veel anders as ma se kos geproe nie. Die eintlike idee agter pa se gebaar om ons uit te neem vir 'n hotel-ete was inderwaarheid maar om vir ma 'n afdag agter die tradisionele Sondag-grooteet-kospotte te gee.

Maar my Spur Burger ervaring het my smaakkliere vir iets vreklekkers laat begin verlang. Enkele jare na my troue het daar 'n Spur in die Paarl oopgemaak. Wellington, waar ons toe gewoon het, was naby genoeg aan die Paarl om soms (net soms, want geld was skraps) 'n Spur Burger-bederf te gaan geniet.

Toe begin ek 'n nuwe betrekking in Tzaneen - en my Spur tande was getrek, totdat 'n Spur in Pietersburg oopgemaak het. As ons om een of ander rede Pietersburg toe moes gaan, was die Spur uiteraard deel van die dagbeplanning.

Tot vandag is Spur se burger (veral daardie gepaardgaande gebraaide uie) steeds my gunsteling burger - as ek wel nog by geleentheid die opsie het om ietsie te gaan eet. Maar eintlik is ons al vir baie jare "genees" van uiteet. In my werkende lewe het ek baie uitgeëet (nie burgers nie). Die maatskappy vir wie ek gewerk het, het ook 'n beleid gehad (omdat ons baie van die huis af weg was) dat werknemers op my posvlak een keer per maand hulle gesin mog uitneem vir ete op maatskappykoste.

Deesdae wil ek en Ralie amper niks weet van uiteet nie. 'n Wimpy-ontbyt tydens vakansie is amper al wat ons nog oorweeg.

Maar toe laat ek my yskasdeur se "gasket" vervang net voordat ons Roemenië toe vertrek het. Terwyl die man wat die vervanging gedoen het besig is, raak ek sommer aan die gesels met hom. Hy't deesdae sy eie besigheid, maar het vir etlike jare vir meer as een "franchise" groep gewerk as verkoelingstegnikus.

Ralie voel toe half skamerig omdat daar vuiligheid onder die "gasket" was (van 'n bykans 30 jaar oue yskas). Hy vertel ons toe wat jy teenkom in sommige restaurante se kombuise. En net daar ontneem hy my my enigste bietjie lus wat ek nog soms vir 'n burger (verskillende "franchises" s'n) of 'n Wimpy brekfis gehad het. Volgens hom bestaan daar amper nie meer dienste wat voorheen deur gesondheidsinspekteurs uitgevoer is nie - en klaarblyklik is dit duidelik te sien in higiëne standaarde wat in 'n baie groot persentasie van restaurantkombuise heers. Volgens hom is daar uitsonderings. Hy kon byvoorbeeld beswaarlik sy oë glo toe hy in Mtata se Wimpy moes gaan werk. Hy sê dit is een van die skoonste restaurantkombuise wat hy ooit teengekom het. Maar in dieselfde asem noem hy van 'n Wimpy in Umhlanga Rocks, waar hy sy oë nie kon glo toe hy sien hoe vuil dit is nie.

In kort - ons is nie meer uiteters nie en vermy dit sover moontlik.

Sedgefield

Jan Meyer

Sun, 28/08/2022 - 14:04

Dit is jammer dat dit so agteruit gegaan het. Jare gelede het ' n vriend van my die Wimpy en Jucy Lucy agentskap in Nelspruit gehad. Gereeld het ek die yskas deurseëls vervang en instandhouding gedoen. Selfs gloeilampe is vervang. Enige gebreke of vuilheid wat die inspekteur, wat elke twee maande gedoen is, opgeteken het is daar voor punte afgetrek en  kon die agentskap verloor as daar te veel foute was. 

Jucy Lucy het slegs vars sappe en broodjies verkoop. Alles wat op die dag gemaak is moet verkoop word en kon nie oorgedra word na die volgende dag nie. So regte beplanning was hoog op sy lys.

My seun het restaurante bestuur en het vir my gesê om nooit kos terug te stuur nie. Die sjef hou nie daarvan nie. Los liewers die  kos en eet dit nie. 

Op vakansie gebruik ons nog Wimpy oppad en Mug & Bean in Onder Sabie.

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 28/08/2022 - 15:15

Ek moet erken dat ek verlede jaar redelik mildelik gebruik gemaak het van Onder-Sabie se Mugg & Bean. Dit was elke keer lekker om van die dié restaurant se houtdek af oor die rivier uit te kyk. Ons was selfs so gelukkig om een dag 'n leeuwyfie daar te sien loop.

En Mopani se restaurantdek is ook nie te versmaai nie. Om daar op die oewer van die Pionierdam die olifante se kerjakker in die dam dop te hou, bly maar mooi.

Worcester

Wildehont

Sun, 28/08/2022 - 18:06

Ek het nog net een keer voedselvergiftiging gekry van klaar voorbereide kos wat ek gekoop het. Dit was in SA, nie in een van die ander 14 Afrika lande of die 13 Westerse lande wat ek tot dusver besoek het nie. Dit gesê; ek is ook nie gek oor uiteet nie. Dis duur, en dis tussen ander mense. Ek staan veel eerder soos vanmiddag twee ure voor die stoof en braaiplek en eet die resultate saam met my gesin. 

Centurion

Voortrekker

Sun, 28/08/2022 - 19:10

So een of dalk 2 keer per maand, paar koue biere en ribs smiley

Tel take aways ook?   Romans, Wimpy, Mcdonalds, Burger King, Steers, KFC.... 

Brits

Wessel Strydom

Mon, 29/08/2022 - 07:02

Môre vriende

As kind van 'n onderwyser op die platteland, was uiteet ons nie beskore nie.

Ek het ook eers op Stellenbosch bewus geword van eetplekke, soos die Spur en Cattle Baron. Ek het 'n sielkundige probleem gehad om uit te gaan eet, want my 3 etes was reeds betaal, ingesluit by die koshuisgelde. Dit het net gevoel soos geldmors. 

Veel later toe ek studiebeurse gehad het, het ek ook die spur ontdek, met die "Devil's mushroom fork", as ekstra saam met die burger.

Deesdae eet ons eintlik net uit met spesiale geleenthede soos verjaarsdae, troudag, soms 'n bederf by Jasmyn in Hartbeespoort. Gister was so 'n geleentheid, en het heerlike buffetete gehad by Thatch haven in dorp. 

O ja, amper vergeet ek, met groet van kinders, wat emigreer na Miami, het ons in seekos restourant by nuwe hawe in Hermaus gaan eet.

  

Vaalpark

Johann L

Mon, 29/08/2022 - 07:28

Môre, ek voel nou verplig om ook my siening hier te deel, ons eet graag uit, uit blikkies uit.wink

Nee ernstig, ons is nie lief vir uit eet nie, ek het al te veel "stories" oor higieniese toestande, en ander optrede van kokke en waiters wat ontsteld is gehoor. Die goed draai in my kop as ek net daar sou in stap.

Jeffreys baai

Lapskag

Mon, 29/08/2022 - 07:56

Goeie môre, ons eet so af toe uit, veral by Ocean basket of so, maar bly maar duur. Ons probeer 'n lekker ontbyt deur werk varal as ons toer, somer 'n Wimpy of dalk by 'n padstal. Het ook al by ons kwekery se snoepie gaan ontbyt eet, so in die natuur. 

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus