6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Rona ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -10 minutes ago
Jan... Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -30 minutes ago
Wessel Vakansiebeplanning 2026/27 Jan Meyer -1 hour ago
Het die rooi kadotjie gesien… Forum Herstel en terugvoering neef Herman -2 hours ago
Jan... Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -3 hours ago
Privaat Boodskap Opsie Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -4 hours ago

Strydoms in Kruger '23

Brits
Submitted by Wessel Strydom on
Forums

Middag vriende

Nounet my bespreking afgehandel vir Kruger volgende jaar. Dit is as volg;

Shingwedzi: 30 Mei

Punda Maria: 31 Mei tot 5 Junie

Tsendze:          5 Junie tot 10 Junie

Satara:             10 Junie tot 15 Junie

Berg & Dal:     15 Junie

Huistoe:           16 Junie

Ons beplan om in P.Borwa Aventura oor te slaap die aand van 29 Mei. 

Ek voel gemaklik en veilig op die Pietersburg - Tzaneen - P.Borwa pad, en uiteraard die N4 terug.  

Brits

Wessel Strydom

Sat, 17/06/2023 - 18:10

Naand vriende

Ek sien julle gesels so lekker oor sonkrag ondersteuning op Chris S se gespreklyn. Laat ek julle net gou vertel;

So help 3 sterk manne my om die wa staan te maak op nr 26. Te dankbaar vir die hulp, en te polite om kapsie te maak, stoot hulle my huisie op verkeerde plek. Die wa kry 36C son in namiddag, en ek hol rond soos verpleegsuster met bedpanne om panele in die sonkolle te hou. 

Nodeloos om te seg, met die son wat omtrent eers 8h00 begin skyn, en alweer 15h00 verdwyn op nr 26, het my 2 N.Lunas,  my 320watt panele uitgedaag. Ek kon met moeite my 210amp.hr batterye bo 50% hou. 

As ek weer gaan, sal ek op nr27 gaan staan. Mens kan die beste en sterkste sonkrag stelsels hê, maar sonder son help dit niks. Gas toerusting bly 'n goedkoop wenner.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 17/06/2023 - 18:31

..............jammer dat julle in Tsendze gesukkel het met die sonkrag, ten spyte daarvan dat julle net 5 dae daar was.

Ek het altyd gedink dis suurdruiwe van my omdat ek nie son-laaiers vir my enkel battery het nie, maar jou laaste sin hierbo kan ek beslis nie mee verskil nie. Ons gas- karavaan yskas en losstaande vrieskas het vir 7 dae by Tsendze probleemvry hul ding gedoen en die karavaan -LED ligte en waterpomp asook die bietjie gebruik van die "movers" kon nie die enkel battery onder 80% kry nie.

Maar miskien was julle net ongelukkig om op dié betrokke staanplek nie genoeg son te hê nie.

Worcester

Wildehont

Sun, 18/06/2023 - 09:21

In Kgalagadi het ek geen probleem gehad om die ses aande sonder elektrisiteit deur te sien nie. Daar was egter baie min bewolkte weer. By Tsendze verlede jaar moes ons die gevriesde goed skuif na een van die vrieskaste wat voorsien word. Dit was vanwee bewolkte weer. 2021 het ons dieselfde probleem gehad daar, en ek het toe nog net een paneel gehad sonder ‘n verlengkoord. 
 

Mens kan ook net soveel panele saamry, en Wessel het reeds baie meer poeier as ek in daardie afdeling. My twee panele saam lewer maar 160W, en dit is volgens Willie Grobler van Echo al wat my wa se laaier kan vat. Maar selfs met Wessel se verdubbeling daarvan met ‘n slim PBE laaistelsel weet ons nou jy kom nie die mas op sonder voldoende son nie. 
 

Dis jammer dat jy daarmee moes sukkel Wessel. Ek weet hoe dit voel as mens nie genoeg son kry om terug te sit wat jy uit die batterye haal nie. Gelukkig is die kamp vrieskaste beskikbaar by Tsendze as mens sukkel, en wildritte behoort die Engel in die Prado se battery genoeg te laai om ons ander goedjies koud te hou. Die ingeboude yskassie tussen die voor sitplekke gaan ook handig te pas kom as mens dors raak tydens ‘n wildrit. 

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 09:37

Môre vriende

ek gaan nie veel meer oor Punda deel as wat alreeds geplaas is nie. Wat ek egter wil byvoeg, is dat daar 'n splinternuwe wasmasjien en tuimeldroër beskikbaar is, ingesit terwyl ons daar was.

Die boonste ablusieblok is in 'n baie beter toestand, as die ene onder by die watergat. Urinale se pype lek na buite en dis effe onsmaaklik. 

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 09:58

Wat kan mens van die kamp seg, behalwe PUIK!!!! Geen primate wat pla en skoon/netjies. Rodger en Evilina is bobaas, loop elke aand om en gesels met almal. doen moeite om inwonende trapsuutjies en uiltjie vir almal te wys. Hoe hulle dit reg kry om geen primate plaag te hê nie, is 'n wonder.

Ablusie blokke is silwerskoon en 'n plesier om te gebruik.

Omgewing is mooi, en daar was oral nog baie water in die veld.

Ek plaas 'n paar fotos om karakter oor te dra.

gompou

ollie

verkl

tra

kamp

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 10:09

Soos genoem, dit bly 'n gewilde bestemming vir my, en ook vir ander. Die kamp was tot oorlopens vol. Hier is baie verbeteringe aangebring, ablusie blok 1 en 2 is opgradeer, staanplekke duidelik gemerk, kragpunte werk almal, en nuwe wasmasjiene en droërs. Baie wild in groot troppe om die kamp, en natuurlik die heerlike gebrul van leeus in mens se ore, elke aand.

Soos Chris B reeds genoem het, was ons baie gelukkig om sommer die lekkerste platste, staanplek naby ablusie blok 2 te kry. Lekker koelte gehad vir omtrent die hele dag.  

Afgesien van troppe rooibokke, sebras, selfs paar buffels, ook baie leeus gekry, maar geen luiperds nie. Opvallend was die merkbare waarneming van arende om Satara. 

arend 2

arend

koedoe

kamp

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 10:15

Na Satara tref ons toe Berg&Dal. Dit was natuurlik langnaweek, en die plek het oorgeloop. Mens hou plek vir tot 4 waens, sommer my wat se naam gestrip. so word ek weggejaag by 1ste ablusieblok, en eindig heel agter, regoor nr 3 ablusieblok, heerlik onder groot Rooi-essenhoutboom. Ons het letterlik geplak, niks opgelaan vir die 2 aande nie. 

Baie min renosters gesien, wel wildehond, en luiperds, en leeus.

By James se suiping breek 'n Subaro op die laagwaterbrug, voor my. Gelukkig kom ou van voor, die draai om en sleep die kar van die brug af. Vol outomaties, kry dit nie aangeskakel nie, selfs nie met oorbrugkabels nie. 

Die res en fotos volg hierna.

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 18/06/2023 - 10:31

... het jy mooi gekyk in daardie appelblaar wat voor Grompie is op jou 4de foto van Tsendze. Dit is die einste boom waarin die swartmamba boomrotte gejag het toe ons die eerste keer op No 26 gestaan het.

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 10:47

Ons het lekker onder daai boom in koelte gesit terwyl dit so warm was. Glo my, ek het elke dag aan jou vertelling gedink, en elke boom van tak tot tak bespied, sonder om 'n woord te rep oor jou mamba. Het nie die krag om die wa te skuif nie, want dit so die gevolg gewees hetlaugh

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 10:57

Die kamp was omtrent vol, ouens ry op en af om staning te kry, ander slaap net in pad soos hulle wag dat mense vertrek. Die kamp omgewing is te naby aan hek, dagbesoekers dra geweldig by tot verkeer en opeenhopings by wildbesigtiging.

Terug na die Subaro, die ou het die kar van die brug afgesleep, en daar het ons dit probeer "start", sonder sukses. Hy sleep toe maar die kar, ongeveer 25km tot by Malelane hek. Ek vermoed dat die ratkas in die proses beskadig is, want ons wou nie in die veld probeer om dryfaste te ontkoppel nie. 

Dit maak ons toe laat, want natuurlik kry ons toe die luiperd wat wil jag, en 'n verdwaalde enkele wildehond in die pad.

hond

leeus

leeus

luiperd

kamp

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 11:22

Daar is net te veel fotos om te deel, soos onse Neef geseg het, 'n bok is 'n bok. So ook  arende, promvoëls, leeus, sebras ensovoorts. 

Sommer so paar los gedagtes;

1] Safaripark P.Borwa is steeds 'n gewilde staanplek. Baie mense kamp daar vie etlike dae, en ry dan wildtuin toe. Dit kan grootbesparing wees, R175/aand teenoor R360/aand in willetuin.

2] Ons het in geen wildtuin kamp beurtkrag [sonder krag] gewees nie. Almal het opwekkers.

3] Iemand van Brits wat ons in P.Borwa raakloop, het nooit sy bevestigingsbrief gekry nie, en moes omdraai by hek. Sanparke het blykbaar nie sy betaling ontvang nie. 

4] 'n Egpaar van Heidelberg TVL, daag by Orpenhek op, 'n hele week te vroeg!!! Kon darem 1 aand in Satara plek kry, waa5na hulle terug is huistoe, om weer terug te ry die naweek.

5] 'n Egpaar uit atal het nie seker gemaak van al hulle beprekings nie, en kry toe in Satara 'n geen-krag staanplek, tot hulle verbasing.

6] Alle paaie is in 'n goeie toestand, behalwe teerpad by Nkulu. Die gewilde grondpaaie is effe sinkplaat gery, soos die S100.

7] Ongeag die feit dat ons 'n week voor skole-sluit daar weg is, was die kampe almal BAIE vol. Ek kry Chris B se seun jammer wat in B&D sy staanplek moet vind.

8] Natuurlik sal ek weer gaan, maar sekerlik nie Punda toe nie. Ek het Tsendze geniet, en sal moontlik weer sovêr Noord gaan. Les geleer daar, plaas jou wa presies waar jou eie gesonde verstand vir jou wys. Ek wou afbreek en die wa skuif die volgende oggend, maar Marie wou nie.

9] Weens ouderdom, en gebrek aan "movers" word mens se staanplek keuse redelik beperk. Ons het plekke gesoek waar ek die wa maklik kon instoot, en weer op eie houtjie kan hak en uitkry. 

10] Behalwe vir Satara en Tsendze se staanplekke is netjies uitgemerk. Self die plekke teen die draad in Satara het nou toegangspaaie. B&D se staanplekke, heel agter by ablusieblok 3 is gladnie uitgemerk nie, dis maar mogge troffe. Sommige is ook moeilik om te bereik.

11] Opvallend was;

die baie Mobi Lodges orals.

Gecko waens was ook volop, veral Limpopo en Gauteng nommers.   

Natallers gebruik meestal Afrispoor waens

Bush Lapas is baie gewild, veral by Wes Kaap mense

Kavangos was uiters skaars.

Oorheersende sleepvoertuig is beslis 'n Toyota produk. Ek het lanklaas soveel Hiluxe Fortuners en LC 300's bymekaar gesien. 

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 18/06/2023 - 12:38

... jy moet net baie vroeg by B&D wees. Daarom dat pappa vir hom (my seun) die raad gegee het om die voorafgaande aand in Malelane-kamp te slaap. Hulle sal eers die namiddag daar arriveer vanaf Loskopdam - en dan is jou kanse maar skraal om 'n lekker plek te kry. Dit het 2 jaar gelede vir hulle gewerk. Vir my het dit ook gewerk deurdat ons vroegoggend in B&D was en 'n uitstekende staanplek kon kry.

Juis vir hierdie rede het ek 'n beleid om nie meer as 125 km te ry wanneer ek kampe verwissel nie - behalwe vir Tsendze waar ek vooraf weet wat my staanpleknommer is. Ek ry nie vinniger as 30 kpu in die wildtuin nie - maar gewoonlik 20 - 25 kpu. Ry jy vinniger, ry jy maklik iets verby en dit is vrek moeilik om met wa agteraan terug te stoot - en ek wil niks mis in die wildtuin nie.

Daarom is my Mei 2024 bespreking in Shingwedzi die eerste nag in 'n chalet, want ek sal te laat daar kom vanaf Tzaneen (soos tans beplan). Die volgende oggend kan ek reeds vroeg gaan kyk waar pak mense dalk op by 'n lekker staanplek.

Maar nou ja - jy soen vir Marie op jou manier en ek soen vir Ralie op my manier.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 18/06/2023 - 14:33

Ek is veral bly oor die nuwe wasmasjiene en droërs.  Miskien sal jy onthou dat ek skriftelik ernstig beswaar gemmak oor die flenters was-toerusting by feitlik al die kampe.  Ek het 'n netjiese verskoning van SANParke gekry met die belofte dat nuwe masjiene oppad is.  Lyk vir my hulle het woord gehou.

Brits

Wessel Strydom

Sun, 18/06/2023 - 18:48

Naand Geert

Nee, ek het nie fotos nie. ek voel te ongemaklik met kamera in ablusieblok. Wel, ek hoop dis opgradeer, want dit lyk anders as toe ek in Junie 2019 laas daar was.

 

Pretoria

Geert

Sun, 18/06/2023 - 18:55

Dankie Wessel, ek was maar net nuuskierig. Ons gaan Julie daar kuier, sal nice wees as dit opgegradeer is. Ek het wel fotos gesien waar hulle staanplekke afbaken

Brits

Wessel Strydom

Mon, 19/06/2023 - 07:03

Môre vriende

So kamp ons onder die boom, heel spartaans met geen grondseil en tent. Kom staan daar mense met jong kinders voor ons, en gou is daar omtrent 8 kleintjies wat speel. Hulle grawe slote vanaf die kraan, tot in kniediep gate wat as damme dien. Dit gaan baie jolig en die ouers dink dis oulik. Ongelukkig begin die modderwater toe loop waar ek sit en eet. Brompie sit toe sy dik stem aan, en roep hulle tot orde, en draai die kraan toe.

Nou is ek later bekommerd dat die belhamel iets kan doen uit weerwraak, soos 'n wiel afblaas, of van ons goed wegsteek. So word ek wakker ongeveer 3 uur Saterdagoggend, want dit klink of ons koelhouer weggedra word. Spring daar uit om knaap te vang, en wat vind ek, die berugte ratel van B&D. Sit die knaap daar en vreet tjoklits, dat dit by sy ore uitloop. Ek het nie eers daaraan gedink om hom af te neem nie.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 19/06/2023 - 10:35

............dat oumense nie wil leer om kosvoorraad (tjoklits is mos ook kos !) nie in die Wildtuin weg te sluit nie.  Ek glo darem die ratel was dankbaar en hy sou beslis die volgende nag 'n ander oumens se ongebêrede kosvoorraad uitgesnuffel het.

Brits

Wessel Strydom

Mon, 19/06/2023 - 13:40

Middag Len

Ons is eintlik baie gesteld daarop om enige houer met kos, souse en dies meer wat na kos ruik, met die stroppe toe te gespe. Ons maak elke deurtjie van woonwa toe, ook die buitekombuis se klap.

Daardie aand het ek net die Coleman misgekyk, en nie gestrop nie.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 19/06/2023 - 14:01

Ek het al uit meer as een bron gehoor van die lastige ystervark in die Karoo Nas Park se kampeerarea. 'n Paar jaar gelede kamp ons op ons destydse voorkeur-staanplek - die eerste een aan regterkant as jy die kamp anti-kloksgewys inry. Ek los toe 'n leë koelsakkie, wat nogal sentimentele waarde vir my gehad het, buite op die Coleman koelhouer. Beide was leeg.

Toe ek die een oggend uit die karavaan kom, vang my oog dadelik die Coleman houer wat half skeef staan en ek let op my koelsakkie (wat ek in Pretoriuskop gekoop het - vandaar die sentiment) is skoonveld. Maar die "evidence" is toe baie duidelik. Dié plot was nog nie geplavei nie en op die grond, voor die grondnet, lê ta se spoortjies en die sleepmerke van die koelsakkie. Ek het dit gevolg tot waar dit anderkant die begraafplasie onderdeur die leeu "proof" draad verdwyn het. Onnodig om te sê, die ou sakkie is nooit weer gesien nie.

My enigste interaksie met 'n ratel in die wildtuin was in Mopani. Ons het gebraai en ek stap na die yskas, wat op die stoep staan, om ietsie kouds uit te haal. Die vullisdrom het neffens die stoep gestaan, knap by die yskas. Die volgende oomblik hoor ek net die snaakse gromgeluid hier langs my. Toe ek met die kopflits na die drom se kant toe lig, draai die ratel om en hardloop weg. Ek het die afleiding gemaak dat hy op die punt was om die drom om te gooi. Ons gebruik die uitdrukking "ek het my poep weggeskrik", maar ek dink die ratel het syne ook weggeskrik.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus