6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Het die rooi kadotjie gesien… Forum Herstel en terugvoering neef Herman -54 minutes ago
Jan... Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -1 hour ago
Privaat Boodskap Opsie Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -2 hours ago
Foto neem Vakansiebeplanning 2026/27 Geert -3 hours ago
100de by mekaar. Vakansiebeplanning 2026/27 neef Herman -3 hours ago
Dankie Geert Vakansiebeplanning 2026/27 Jan Meyer -4 hours ago

Strydoms in Kruger '23

Brits
Submitted by Wessel Strydom on
Forums

Middag vriende

Nounet my bespreking afgehandel vir Kruger volgende jaar. Dit is as volg;

Shingwedzi: 30 Mei

Punda Maria: 31 Mei tot 5 Junie

Tsendze:          5 Junie tot 10 Junie

Satara:             10 Junie tot 15 Junie

Berg & Dal:     15 Junie

Huistoe:           16 Junie

Ons beplan om in P.Borwa Aventura oor te slaap die aand van 29 Mei. 

Ek voel gemaklik en veilig op die Pietersburg - Tzaneen - P.Borwa pad, en uiteraard die N4 terug.  

Worcester

Wildehont

Sun, 04/06/2023 - 14:43

Ek was onder die indruk dat julle wel in onlangse jare in Punda gekamp het? Smaak my ek's verkeerd.

Ons was net een keer daar in 2019, en het toe in van die lang rye kamers gebly (die boonste ry). 2021 was ons bespreek daar vir kampering, maar het besluit om langer in Shingwedzi te bly nadat ons ‘n skoolvriend van my en sy gesin in Shingwedzi gekry het wat van Punda af gekom het. Hulle het ‘n soortgelyke ervaring wild gewys as Wessel hulle tans gehad, en ons het in elk geval Shingwedzi geniet. Ons het egter in Victoria-Wes oppad terug ‘n gesin ontmoet wat by Punda was en alles van wildehonde tot luiperd en leeus daar gesien het. Mens weet nooit wat jy gaan kry nie, dis deel van die bekoring. 
 

Sterkte met die oppak en lang rit Tsendze toe Wessel. Moenie bang wees vir die mopanie bos daar nie. Daar is baie wild en oop vlaktes ook. 

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 04/06/2023 - 15:51

Ons het vier keer in Punda gekamp, een keer in een van die groot huise (net verby die winkel/ontvangs) gebly en een keer net vir 'n enkele nag in een van die safaritente. Die eerste twee keer het ons al wat 'n pad is verken en o.a. die Pafuri-area "platgery". Toe het ons vir onsself uitgemaak dat die S99 is ons gunstelingroete. Ons enigste leeus wat ons ooit in dié omgewing gesien het was op die S99. Ons het wildehonde drie keer daar gesien - eenkeer met 'n vangs. Ons het ook 'n fantastiese luiperd "sighting" op die stuk teerpad tussen die twee S99-aansluitings gehad, sowel as 'n LIT (leopard in tree) op die S99.

Die enkele aand in die safaritent is ons vermaak deur 'n bosnagaap en 4 grootkolmuskeljaatkatte op ons stoep. Hulle was natuurlik daaraan gewoond dat toeriste hulle voer en het kom kyk of hulle nie 'n gelukkie by ons ook kon kry nie.  Ek wil nie Wessel se draad besoedel nie, maar sal foto's plaas van laasgenoemde wanneer ek weer agter my laptop sit. Vir nou sit ek knus by my gasverwarmer hier in 'n koue nat Kleinmond en tennis kyk.

Wat my aanbetref is Punda wonderlike omgewing.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 04/06/2023 - 18:58

..............jammer dat julle verblyf in Punda nie vir julle gegee het wat julle graag wou gehad het nie.. Ek het nog altyd 'n wonderlike ervaring van kampering by Punda gehad ten spyte daarvan dat die wildlewe soms minder opwindend was.  Soos voorheen vermeld, het ons laaste besoek in 2020 toe die kamp buite seisoen stampvol bespreek was, my lus iewat geblus en ek gaan 'n paar  jaar hierdie kamp oorslaan.
 

Ek is vol vertroue julle gaan 'n lekker ervaring by Tsendze en omgewing hê.

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 06/06/2023 - 07:39

Wessel het vroegoggend laat weet dat hy en Marie het gister in 36°C in Tsendze op No 26 opgeslaan. No 26 is my en Ralie se gunsteling staanplek in Tsendze.

Hy noem dat hulle gister baie olifante, buffels en kwaggas op die S50 (die Shawupad) gekry het en dat hulle vroeg vanoggend alweer gaan wild soek.

Worcester

Wildehont

Tue, 06/06/2023 - 08:17

Dankie vir die nuus. Dis een van die baie dinge van Tsendze waarvan ek hou - daar is geen selfoonsein nie. Die S50 met sy reeks watergate is ‘n lekker pad.

Worcester

Wildehont

Wed, 07/06/2023 - 08:01

Daar was twee meningstukke oor bewaring op Maroela media gister en verlede week waarin die skrywer aanvoer dat daar beweer word dat daar 34 000 olifante saam met Wessel in die Kruger wildtuin is tans. Volgens gister se artikel is meer as 95% van die groot bome met blaardakke reeds vernietig deur al die olifante. SANPARKE versuim egter om iets daaraan te doen, en faal om hulle bewaringsmandaat uit te voer volgens die skrywer. Hy wil hê hulle moet 30 000 olifante afmaak. Wessel sal seker nie omgee nie wink

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 07/06/2023 - 09:59

... se volle WhatsApp van gisteraand hier woord vir woord aan:

Naand Chris, gister was 36C vandag bewolk en 23C gewees. Mooi omgewing veral by samevloeiing en langs rivier. S49 en S50 steeds olifante, buffels en sebras. Ek vra mede kampers om ablusie deur oop te maak, net ingeval daar 'n olifant is. Nee vriend, as ek my blaker draai is daar olifante. Twee lotte het my by Pionierdam vasgekeer op 1 rigting paadjie. Nog geen katte gekry. Die kamp is puik.

Worcester

Wildehont

Fri, 09/06/2023 - 12:12

Dis maar droog hier op die forum en ek verveel die lede met my insette oor my tweede battery in die Prado. Plaas bietjie terugvoer en foto’s wannneer julle weer sein het. Ek hoop julle geniet nog julle toer!

Worcester

Wildehont

Sat, 10/06/2023 - 11:29

Op ‘n ander gesprekslyn vertel Oom Neef dat Wessel warm kry by Tsendze en Wessel het my ook laat weet dat hy sukkel om sy panele in die son te hou ten einde batterye gelaai te hou. Dis half ironies.
 

Ek weet hy hou nie van warm kry nie, maar dis darem ‘n voorreg om in die winter te kla dat dit te warm is. Hier by ons was dit gister 20 grade en dit lyk of dit vandag weer oppad is daarheen. Sover is dit ‘n lieflike dag, maar as dit die tyd van die jaar so lyk beteken dit net een ding. Daar is ‘n koue front oppad en die NW wind gaan een of ander tyd erg begin waai. 

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 10/06/2023 - 18:29

... het my nou-nou uit Satara gebel waar hulle vandag aangekom het. Hy sê toe hulle oor die Olifantsrivier ry, en hy begeef hom in die vlakte-wêreld van Satara - toe voel hy weer meer tuis in die wildtuin. Ironies - hy staan op die staanplek waar ek gestaan het toe ons mekaar in 2019 in Satara raakgekamp het, terwyl ons in 2021 op dieselfde staanplek gestaan het waar hy in 2019 gestaan het.

Verblydende nuus, volgens hom, is dat die hoof-ablusieblok in Satara baie netjies oorgedoen is. Dit was haas tyd, want dit het veels te wense oorgelaat.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 10/06/2023 - 18:53

..................Wessel se kuier in die Wildtuin staan einde se kant toe.  Ek hoop hulle gaan baie gelukkig wees in Satara met interessante wildbesigtigings.  Vandag oor 'n week is hulle by die huis in Brits.

ChrisB, presies waar is dié betrokke staanplek ?

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 10/06/2023 - 19:09

.... as jy die kampeerarea inkom, is daar 'n kruising. Draai links by die kruising en dan die eerste staanplek aan regterkant - in die skadu van knoppiesblaarbome.

Wessel het in 2019 op die tweede plek, wanneer jy regs draai by die kruising, gestaan (waar ons in 2021 gestaan het. Dit is so te sê teenaan die ablusieblok wat nou opgegradeer is - net 'n vrek ongemaklike staanplek om in te kom.

Volgens Wessel is die staanplekke ook nou duidelik uitgemerk.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 12/06/2023 - 21:36

..................het ons 'n tyd terug op daardie presiese staanplek in Satara gestaan.  Wat my wel gepla het, ons het verkeerd opgeslaan met die tent wat wes gekyk het en die middagson het ons gekook  -  moet sê, dit was wel in Oktobermaand.

.

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 13/06/2023 - 14:04

Synde ou Wessel so stil is, kaap ons maar sy gesprekslyn. Hier is 'n foto van hoe ons op daardie betrokke staanplek (waar Wessel klarblyklik nou staan) gekamp het. Ons het in die rigting van die rondawels gekyk.

Satara

En hierdie outjie het aand na aand kom loer of daar nie iets te ase is nie. Vir my het hy/sy doodstil bly sit. Maar as Ralie die geringste beweging gemaak het, het ta ernstig geblaas.

Satara

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 13/06/2023 - 18:41

Hy sê dat hy steeds sukkel om op die internet in te kom. Hy geniet Satara. Diens is blykbaar puik. Kamp is vol. Wild is blykbaar volop op die S125 (Swenipad) en S126. Drie keer vandag vuilbaarde gekry - o.a. naby Muzandzeni piekniekplek en by Nsemanidam. Laasgenoemde is ook een van my gunstelingplekke om lang tye te verwyl.

Worcester

Wildehont

Tue, 13/06/2023 - 20:19

Hy sê dat hy steeds sukkel om op die internet in te kom. 

Ek vergewe hom. Ek gaan waarskynlik dieselfde doen, en maar stil wees hier terwyl ons in Die Tuin is. By Shingwedzi weet ek lol die sein en by Tsendze is daar bykans niks. Eerder as om mens se siel te versondig met elektronika en radioseine kan mens na die voëls luister.  

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 16/06/2023 - 16:57

............Wessel-hulle se Wildtuin-trippie lê op sy rug !  Hulle is seker al tuis in Brits terwyl ek hier skryf.  Hoop hy kom blaas 'n bietjie lewe hier in op die forum want ek sien nogal uit na sy terugvoer.

Brits

Wessel Strydom

Sat, 17/06/2023 - 17:42

Naand vriende

Ons was 13h30 veilig terug by ons huis. N4 was doodstil, net trokke, meer as olifante. Grompie het my beindruk. Ek het van Berg en Dal tot by Milly's 8km/l gekry, trokke en al. Vandaar tot in Brits 'n aangename 9km/l teen 97km/hr GPS.

Die pad is totaal verander by Milly's, mens gaan nou met op en afritte soheentoe. Veilig onder deur N4, geen gesukkel meer om in N4 te kom nie. 

Ons het net mooi 3000km gery uit en tuis. Ek sal nog uitwerk hoeveel was wille tuin afstand. Ek sal van môre af begin detail vertel en fotos laai. Van en om Satara en B&D baie leeus, luiperds maar weinig renosters, wat kommerwekkend is.

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 17/06/2023 - 17:54

Ai Wessel, ons soek nie 'n afgeskeepte verslaggie nie  -  daaglikse, baie detail met fotos asb.

Baie bly julle is veilig tuis en dat jy met jou Grompie lekker kan spog !

Jy is nou seker moeg, gaan slaap maar vroegerig !

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus