6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Dankie Geert Vakansiebeplanning 2026/27 Jan Meyer -47 minutes ago
Jan Meyer Vakansiebeplanning 2026/27 Geert -6 hours ago
Toer alte lekker saam Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -8 hours ago
6 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -9 hours ago
Swak sein Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -9 hours ago
Op n ander blad gelees..copy en paste Bestuurderslisensie Geert -11 hours ago

Smalle na Oom Paul se tuin Julie ‘23

Worcester
Submitted by Wildehont on
Forums

Dis nog nie naby genoeg om slapies te begin tel nie, maar oor vier weke is ons DV oppad Potchefstroom toe van Kambro af. Ons vriende wat saam was Kgalagadi toe het gister kop uitgetrek. Riël wil nie sy Penta so ver sleep nie, en dit gaan te duur wees om ‘n wa te huur. Dit is dus net ons vier Smalletjies.  
 

So lyk ons program:

29 Junie Worcester na Kambro

30 Junie Kambro na Potchefstroom 

2 Julie Potchefstroom na Phalaborwa 

3 Julie Phalaborwa na Shingwedzi 

9 Julie Shingwedzi na Tsendze 

14 Julie Tsendze na Potchefstroom 

15 Julie Potchefstroom na Victoria-Wes

16 Julie Victoria-Wes na Worcester 

Vaalpark

Johann L

Mon, 17/07/2023 - 06:58

Haha Len, baie goed gestellaugh

Die een ding wat lekker is om NIE Wildtuin toe te gaan NIE, is jy hoef nie terug te keer huis toe na die normale doen van dinge nie,

Worcester

Wildehont

Mon, 17/07/2023 - 08:22

Ons het gistermiddag 14:50 by die huis stilgehou. Ons is dankbaar vir ‘n veilige toer sonder teespoed, en geniet goeie herrineringe daaraan. Ek sal nog meer vertel soos ek tyd kry, maar hier onder is die opsomming van my brandstofverbruik en kostes en die afstand gereis.
 

Die Prado se verbruik gaan nooit by die nuwer diesels uitkom nie, maar ek is heel tevrede met wat ek gekry het met vier mense, al ons negosie en die swaar Kavango op sleeptou. En ek het die ry met die Prado baie geniet. Dis ‘n lieflike voertuig. Al nadeel is wanneer mens dit aansluit voor jy wegtrek by ‘n wildbesigtiging. Al raak jy nie aan die versneller nie (ek draai net die sleutel) is daar ‘n harde dreuning wanneer die V6 vat, voor die revolusies daal na luierspoed. Dit laat diere soms skrik. 

A

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 17/07/2023 - 09:22

Welkom tuis !

Jou sleep-brandstof verbruik met die V6 petrol Prado is glad nie sleg nie.  Jou 5,89 kpl (17 l/100 km) vergelyk heel goed met my diesel Pathfinder en die Exclusive van 6,25 kpl (16 l/100km).

Dankie vir die koste van petrol per liter vir die hele rit want diesel se koste is deesdae ook in dieselfde omgewing  -  dit help baie om te begroot vir brandstofkoste Wildtuin toe en terug tot in die Kaap.

Ek sien uit na jou verdere vertelling van julle vakansie.

Brackenfell

HennieBo

Mon, 17/07/2023 - 09:43

Daai is baie goeie brandstof verbruik vir 'n 4L petrol masjien in 'n groot bakwerk. Jou wa is ook nie lig nie. Al die gemak van die voertuig maak op daarvoor.

Worcester

Wildehont

Tue, 18/07/2023 - 08:23

Jou 5,89 kpl (17 l/100 km) vergelyk heel goed met my diesel Pathfinder en die Exclusive van 6,25 kpl (16 l/100km).

 

Dankie Oom Len. Nou is ek nog meer trots op die verbruik!
 

Dankie ook vir almal se saam lees, kommentaar en goeie wense. Soos ek tyd kry gaan ek nog meer vertel van ons wedervaringe, en ‘n paar foto’s plaas. 

Worcester

Wildehont

Wed, 19/07/2023 - 09:53

Ek dink tog jou agtergrond maak dat jy n aanvoeling het waar en waneer om iets te verwag, en geduldig te wees.

Ek wou nog reageer op Oom Neef se stelling hier bo. Gary Player word aangehaal dat hy gesê het; hoe meer hy oefen hoe gelukkiger raak hy. 
 

Ek het wel heelwat ervaring van wild soek en wild kyk, en ken die tekens wat die bos laat en gee. Dit het al gehelp om luiperds te sien, omdat ek gehoor het patryse en eekhorings gaan tekere. Albei die luiperds wat ons verlede jaar gesien het, het ek so gekry. 
 

Ek weet ook baie van diere se gedrag en gewoontes, wat help om te “voorspel” wat hulle gaan doen of waar hulle moontlik gaan wees. Dit alles sal egter niks in die sak bring, as die diere nie in die eerste plek naby genoeg aan die pad en in ‘n oop genoeg area is terwyl ons daar verby ry nie.
 

Geluk speel dus die grootste rol daarin om mooi besigtigings te kry. Dit, en soms ander besoekers se hulp. Ons ry wel stadig (gemiddeld so 20 na 25kph), en ek skakel amper altyd die kar af as ons stop om na iets te kyk. Ek hou ook altyd my venster oop, al is dit koud en net op ‘n skrefie. So kan ek mooi hoor, en klank aanwysings kry. Meestal doen ek dit eintlik om die bosveld se geluide te geniet. Ons hou ook maklik stil vir ‘n halfuur by ‘n watergat en kyk wat dop uit. Daar is altyd iets om te sien, al is dit net ‘n mooi boom en ‘n paar voëls. 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 19/07/2023 - 10:38

.... is in vele opsigte voëls van eenderse vere. Wat spoed aanbetref beskryf jy dit asof dit ekself is wat ry. Ook die oop venster. Ons stop ook soms net 'n by 'n mooi plek, skakel af en luister na die veld - al sien ons nie juis iets noemenswaardig nie.

Ons maak deesdae selde piekniek by 'n piekniekplek. Ons vat sommer toebroodjies, of ontbytgraan met joghurt en iets soos 'n gekookte eier saam, asook koffie en geniet ons ontbyt/brunch onder 'n lekker boom - hetsy by 'n watergat of langs 'n rivier.

Ek ons hou stil by elke "sighting" - of dit nou rooibokke of enige ander redelik algemene wildsoort is, want hierdie parra probeer mos so akkuraat moontlik tel (soms skat met groot troppe) ter wille van sy rekordhouding.

Worcester

Wildehont

Wed, 19/07/2023 - 11:06

Nadat ons amper ‘n uur gevat het om by Phalaborwa in te kom het ons net na 11:00 in Shingwedzi aangekom. Toe ons klaar kamp gemaak het, het die kinders gaan swem. Ek het self lekker warm gekry na die opslaan, maar het net een lengte deur geloop om af te koel. Die water was te koud vir swem. Dit was egter ‘n aangename uitstappie, veral met die jong dame in ‘n deurtrekker wat haar boude gesonbruin het langs die swembad. Die stukkies lap was vleeskleurig, en Salomien het opgemerk dat dit amper lyk asof sy kaal is. Ek het maar gemaak of ek nie regtig sien nie. Ongelukkig is daar ook net foto’s in my brein daarvan.

A

Terwyl ons by die swembad gesit en wag het vir die kinders om klaar te swem, het ek met twee ander dames (met meer klere aan) gesels om uit te vind hoe lank hulle al in die omgewing is en wat hulle gesien het. Hulle vertel toe dat twee leeumannetjies ‘n eland platgetrek skaars 500m van die kamp se agter hek af in die Shingwedzi rivier. Ons het laatmiddag gaan kyk hoe een nou en dan aasvoëls wegjaag van die karkas af, en die ander oorkant die rivier lê en slaap. Daarna het ons net-net ‘n jagluiperd met twee kleintjies gemis wat oor die hoofpad gestap het.

B

Maandagaand het leeus deur die nag gebrul. Dinsdag vroeg is ons weer na die vangs, maar daar was net jakkalse en aasvoëls. Verder het ons buffels, olifante en algemene wild gesien op die Mphongolo ompad se onderste derde. Die drink trog by Lamont watergat was ongelukkig droog. Ons het voorheen al mooi besigtigings gehad daar. Gelukkig was hulle besig om dit te herstel toe ons terug kamp toe daar verby ry. Tydens die res van ons verblyf by Shingwedzi was daar water, en ons het bv lekker gesit en kyk hoe drink buffels en olifante daar. Ons het ‘n lieflike afskeid gehad tydens ons laaste middagrit toe twee troppe olifante daar kom drink het terwyl ons daar sit. Ons het besluit om eerder ‘n wildrit te doen en daarna by ons wa uit te span, as om die rugby te gaan kyk wat by die restaurant vertoon is. Dit was immers ons laaste aand by Shingwedzi.

Van die ander spesiale besigtigings tydens ons verblyf in Shingwedzi het ek al vertel. Dit vergelyk weliswaar nie met die magdom wonderlike dinge wat Geert al in die Suide gesien het tydens sy huidige besoek nie. Dis egter ‘n baie goeie oes vir die Noorde, en wat my die gelukkigste maak is dat die meeste voertuie wat by een besigtiging was, vyf was. Oor die algemeen was dit egter net twee of drie.

Ons laaste oggend het ons die Mphongolo ompad van onder tot bo deur gery, en lekker piekniek gebou by Babalala. Toe ons daar aankom was dit druk besig, maar gelukkig het ‘n groepie wat in die hoek naaste aan die watergat gesit het net begin oppak en kon ons die lekker plekkie kry. Ek het ‘n braaier nader gedra, en ons het heerlike worsbroodjies gemaak met Joey’s wors wat ek gebraai het. Terwyl ons vir die kole gewag het, het ons die olifante wat kom drink geniet. Daar was ook ‘n ou buffel, ‘n trop sebras en ‘n trop bastergemsbokke. Lg was baie spesiaal, en het lekker lank in die oopte gestaan terwyl ons daar gesit het.

C

Ons het langs ‘n lieflike gesin van Pretoria kampeer. Hulle is ook baie passievol oor die wildtuin, en die man is deel van ‘n span van vier wat die Firefinch toepassing vir slimfone ontwikkel het. Dit is ‘n oulike voëlkyk toepassing, maar werk lyk my op inskrywing. Jy kan dit nie aankoop en hou soos die Sasol en Roberts toepassings wat ek het nie. Dit was baie lekker om langs hulle te staan, en met hulle te gesels. Ons het ook ‘n paar spesiale besigtigings gedeel, omdat hulle net so stadig soos ons ry. Hulle was elke aand vroeg in die bed, en teen 21:00 was ons deel van die kamp teen die heining so stil dat ek en Salomien vir mekaar gefluister het. Daar was groter groepe nader aan die hutte wat later en harder gekuier het, maar dit het ons gelukkig nie gesteur nie. Nadat ek gekla het oor die personeeldorp die eerste aand, het ons hulle ook skaars weer gehoor. Die gesin wat langs ons gestaan het, het nog 7 nagte daar gestaan na ons weg is. Sy het vir Salomien laat weet dat die mense wat op ons staanplek kom staan het vreeslik laat gekuier en geraas het. Hulle het selfs musiek gespeel. Ons was dus baie gelukkig.

Salomien het ons die een aand bederf met ‘n sononder rit. Alhoewel ons nie roofdiere gesien het nie, het ons ‘n oulike gids gehad. Ons het siwette, muskeljaatkatte, ‘n ystervark en springhase en baie kolhase gesien. Die een springhaas het mooitjies voor die kar verby gehop, en dit was die mooiste wat ek nog een van die koddige diere gesien het.

Soos ek voorheen genoem het, het ons Shingwedzi weereens baie geniet en bly dit ons gunsteling kamp. Ek is bekommerd oor die impak wat die nuwe Shangoni hek op Shingwedzi en omgewing kan hê. Daar is reeds dagbesoekers wat van Punda Maria hek af ry om by Shingwedzi te kom piekniek hou, en te laat vertrek om betyds by de hek te wees sonder om heeltemal te vining te ry. Verder is ek selfsugtig, en wil nie hê daar moet meer mense in die omgewing wees as wat in Shingwedzi en die twee bosveld kampe kan bly nie.

Om mee af te sluit wat Shingwedzi betref; ‘n laaste paar opmerkings. Toe ons daar aangekom het, was daar nie ‘n wasmasjien in die groot ablusie nie. Daar is toe ‘n splinternuwe een ingesit, maar dit het net vir twee dae gewerk. Toe lek ‘n pyp, en hulle het nog gewag vir die installeerders om dit te kom regmaak toe ons weg is. Salomien moes dus noodgedwonge met die hand ‘n paar nodige kledingstukke was terwyl ek by Tsendze opgeslaan het. Ek het in die Kavango gestort, en kan my dus nie uitspreek oor die netheid van die storte nie. Ek vermoed egter hulle het ‘n dreinerings probleem gehad. Sien die foto hier onder van die krippe by die klein ablusieblok. Die dakke by die winkel en ontvangs is in ‘n toestand. Hulle is besig om ‘n nuwe dak (wat nie voorheen daar was nie) te bou oor die oop stuk voor die winkel en ontvangs, so ek neem aan hulle gaan nog die geboue se dakke ook regmaak. Die dak by die restaurant se stoep is ook oorgedoen/nuut gebou. Ek kan nie onthou of daar voorheen een was nie. Ons gaan nooit daarheen nie. Dit lyk na ‘n sintetiese materiaal eerder as gras. Daar is nog baie ape in die kamp, en ek dink hulle mag bydra daartoe dat grasdakke nie hou nie. Ons het alles wat hulle kan lok weggepak in die wa voor ons uit die kamp is, en het net skade gely van die eekhorings wat ‘n sak kole ‘n gat in geknaag het en ‘n houer grondboontjiebotter se deksel probeer oopkou het. Toe ons een oggend terugkom van ‘n rit af was die kampterrein vol ape. Ek het hulle met ‘n kettie verjaag terwyl Chris Jnr vir my klippe optel en aangee. Alhoewel ek ‘n paar skote ingekry het op van die ape, het hulle maar net weer teruggekom en geplunder sodra ons aanbeweeg na ‘n ander staanplek om daar te verjaag.

D

E

Worcester

Wildehont

Thu, 20/07/2023 - 11:45

As mens by die agterste hek uitgaan (een van die lekker goed van Shingwedzi, wat geen ander ruskamp in die wildtuin het waaraan ek kan dink nie, is dat dit die twee hekke het), en ‘n entjie aanhou met die S50 langs die rivier ry jy verby die kamp se riool suiwerings damme wat aan jou regterkant is. Ek het dit nie tydens vorige besoeke opgemerk nie, maar hierdie keer was daar gereeld ‘n nare riool klank in die omstreke van die damme. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 20/07/2023 - 12:41

..............daardie agterste hek is 'n lekker uitgang wat lei tot die oulike S50 pad al langs die Shingwedzi-rivier oppad na die Kanniedood-dam (wat intussen wel doodgegaan het).

Die rioolwerke aan jou regterkant met die uitgang slag is al jare daar en het moontlik onderhoud aandag nodig as daar slegte reuke in die lug hang.  Daar is 'n paar luukse chalets naby daardie hek en dit behoort vir toeriste wat daar tuisgaan, 'n nare ervaring te wees.

Ek hoop jy het dit gerapporteer.

Worcester

Wildehont

Fri, 21/07/2023 - 08:29

Ek is maar begroting bewus. Met ‘n petrol Prado moet mens wees. Verlede jaar het ons by Phalaborwa Town Guesthouse geslaap skuins oorkant die Engen vulstasie. Dit was vir my gangbaar, maar Salomien het nie daarvan gehou nie. Die jaar was ons by Casa Leitao neffens die Total vulstasie oorkant die SPAR. Die eenheid was groot en redelik netjies, maar die vloere en tafelblaaie was nie skoon nie. 
 

By beide blyplekke het ek kontrakwerkers en hulle voertuie gesien, wat seker by die myn werk. Phalaborwa is maar primer ‘n myndorp, en ek weet hoe is kontrakteurs, ek het self in konstruksie gewerk. Hulle werk hard en gewoonlik vuil, en staan vroeg op. Soms kuier hulle ook in die aande. Ek dink die verblyf wat binne my begroting val, word hoofsaaklik deur die kontrakteurs gebruik. Dis waarom ek vir volgende jaar eerder by Sable dam skuiling gaan probeer plek kry vir die aand voor Shingwedzi as in Phalaborwa. Dis effens duurder as wat my begroting vir vaste verblyf is, maar is ‘n lekker avontuur en ‘n ekstra nag in die wildtuin. Dit verhoed ook die lang wag in ‘n ry om in te kom die volgende oggend wat ons vanjaar beleef het. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 21/07/2023 - 09:20

Ek hou van 'n man wat deeglik beplan binne sy finansiële vermoëns al kos dit soms op jou tande byt. (Ek het nie verniet 44 jaar in 'n bank gewerk nie !)

Die voordeel van 'n padwa (ek weet jy kan nie kamp waar jy wil nie) is dat jy ALTYD in jou eie bed in jou karavaan oornag, by jou bestemming maar ook by oornag-plekke teen steeds redeliker pryse as vaste-akkommodasie  -  my onderbroeke en tandeborsel is vir die volle vakansie vandat ons vertrek tot ons weer terug by die huis is, op dieselfde kas gebêre.

Brits

Wessel Strydom

Fri, 21/07/2023 - 10:10

....is 'n beproewing, self vir ons 2 ouer mense. Ten einde geld te spaar, slaap ons maar die aande oppad in die wa. Ons kan die paar stoele en tafel van die agterste bed afhaal, en daar slaap.

Nou met die nuwe dikker en swaarder matras van die voorste bed, weet ek nog nie waar om daarmee heen te gaan nie. Gewoonlik ry dit agter op die bed en die ou matras kon ek in die bakkie vir die aand stoor. Dit dwing ons om die voorste bed en neus oop te maak, om te slaap. 

Was ek maar jonger......

Worcester

Wildehont

Fri, 21/07/2023 - 11:21

Met vier mense wat moet slaap en die agterste bed wat vol negosie gepak word, is een nag se oorslaap in die Kavango nie vir ons ‘n opsie nie. Waar ons ver genoeg toer om oppad oor te slaap is dit in elk geval te koud om in die wa te slaap. Ek reken dus maar noodgedwonge vaste verblyf in by die toer/e. 

Worcester

Wildehont

Fri, 28/07/2023 - 13:58

Hierdie sal moontlik my laaste inset op die gesprekslyn wees. Ek koester steeds heerlike herinneringe aan die toer, en het – soos julle weet – reeds ‘n soortgelyke toer bespreek vir 2024. Ek sal dalk later nog ‘n paar fotos wat ek met die kamera geneem het plaas. Maar eers my terugvoer oor die res van die toer na Shingwedzi.

Ons het ons laaste oggend daar opgepak terwyl die kinders gespeel het met ‘n nuwe maatjie wat hulle raakgeloop het. Ons het die staanplek so 09:30 ontruim. Die mense met die Exclusive wat volgens ons kampbure wat nog ‘n week by Shingwedzi gebly het so geraas het, het gestaan en wag vir ons om te gaan. As staanplek 15 of 14 weer beskikbaar is volgende jaar, sal ek weer daar staan. Omdat ‘n groot deel van Salomien se werk sosiale media bemarking is, help dit baie vir haar gemoed (en gevolglik myne) as sy goeie selfoonsein het. Staanplek 15 is lyk my die beste een daarvoor. Ek het reeds vertel hoe Nick Mallet ook agter die Kavango kom bel en boodskappe stuur het. Dit het darem ook ‘n boom, die naaste kraan is binne bereik van my tuinslang, en dis nie te ver van die swembad af nie. Ons kinders swem elke dag. Iets wat my opgeval het die laaste dag by Shingwedzi, is die swak gehalte van die toiletpapier in die ablusie. Dit skeur in klein stukkies af, en werk basies glad nie. Gelukkig vat ek maar gewoonlik my eie dubbellaag saam, maar ek moes wonder oor hoeveel SANPARKE betaal het vir daardie gemors wat waarskynlik iewers in ‘n kader se motorhuis gemaak is met ‘n goedkoop masjien uit Sjina. Oppad uit het ons die trein gesien waarvan ek elders vertel het.

A

Ons het maar gewikkel Tsendze toe, want daar was ‘n koue front oppad en weens die nuwe wasmasjien wat nie gewerk het by Shingwedzi nie, moes Salomien by Tsendze nog ‘n paar nodige kledingstukke was en droog kry voor die gure weer. Ons het ook nie regtig veel gesien oppad nie. By Mopani aangekom, het ‘n nare verrassing gewag. Ek het aanvanklik twee staanplekke bespreek omdat ons vriende sou saamgaan. By Tsendze het ek nommers 2 en 3 bespreek. Lg is baie gewild, waarskynlik die mees gewilde by Tsendze. Toe ons vriende nie meer kon gaan nie, het ek die besprekingskantoor in Pretoria geskakel en gevra dat staanplek 2 gekanselleer word. Ek het ook Mopani toe gebel om dit te bevestig, maar kon nie deurkom nie. Op die ou end het ek ‘n stemboodskap gelos.

 

Toe ek inboek by Mopani word staanplek 2 aan my toegeken. Ek verduidelik toe wat ek hier bo verduidelik het, maar word ingelig dat staanplek 3 reeds aan iemand anders toegeken is intussen. Ek praat mooi en probeer beskaafd redeneer maar daar kom dadels van. Uiteindelik vra ek vir die duty manager en moes toe wag tot hy kom. Hy deel my mee dat ek die kansellasie by die kamp se ontvangs moes doen, want hoofkantoor gee net vir hulle ‘n kansellasie deur en nie die versoek vir staanplek nommer nie. My pleidooi dat ek al ‘n jaar gelede staanplek 3 bespreek het, en dat ek en my gesin al ‘n jaar lank daarna uitsien val op dowe ore. Na ‘n vermorste uur moet ek staanplek 2 aanvaar, met 34 as die enigste beskikbare alternatief.

 

Aanvanklik is ek en Salomien baie teleurgesteld daaroor, maar ons het besluit om die beste daarvan te maak. Daar aangekom, sien ons toe dat staanplek 2 eintlik baie lekker is (en baie beter as 34, wat teen die pad is met amper niks skaduwee nie). Soos voorheen genoem het ek dit weer versoek vir volgende jaar, maar dit was reeds gevat. Dit het in die winter genoeg skaduwee vir die wa en tent, mens kan lekker privaat opslaan en steeds die heining sien sonder dat mense reg voor jou staanplek verby loop of draf, en daar is voldoende son vir panele solank dit nie bewolk is nie. Ek het ‘n Bluetooth monitor op die Kavango se batterye en die tweede battery in die Prado. Op die Kavango se batterye kon ek sien dat hulle steeds laai teen so net or 13V as dit bewolk is. Hulle laai dan egter nie vol nie. As die son skyn laai hulle teen 14,2V en kan die yskas ook maar loop, hulle is vol gelaai teen sononder. Die kinders het onmiddelik in die grond begin speel terwyl ek kamp gemaak het en Salomien klere gewas het. Gelukkig het die son nog geskyn, en het die klere vining droog geword aan ‘n ski tou wat ek tussen twee mopanies vasgemaak het. Ek het met Salomien gespot oor ons plakkerskamp, maar die klere was darem droog en afgehaal voordat ons naaste bure wat dit sou kon sien teruggekom het van hulle wildrit af. Hier is ‘n paar fotos van ons kamp, om ‘n idee te geen van hoe dit lyk.

 B

C

D

Rodger het kom groet, en gesê Mopani het hom gekontak om uit te vind watter staanplek ons gekies het. Hy het saam met ons sy ontevredenheid uitgespreek daaroor dat nr 3 gekanselleer is. Soos hy gesê het kon hulle mos dink dat ons nr 3 sal wil hou, aangesien dit die mees gewilde staanplek is. Hy het toe sommer gesê hy gaan nie vir Mopani laat weet watter staanplek ons gekies het nie, sodat hulle kan betaal vir hulle fout. Ek vermoed dit was maar net om ons beter te laat voel. Terwyl ons kos maak die aand hoor ek ‘n geritsel in die blare. By nadere ondersoek ontdek ek die padda.

E

As mens met ‘n kopliggie loop langs die paadjies, is daar oral in die dooie blare sulke klein groen ogies wat lyk of dit flikker in die lig. Ek het eers gedink dis motte, maar toe ek met ‘n sterker lig kyk sien ek dis wolfspinnekoppe. Daar is honderde van hulle. Kara het dit baie geniet, sy is lief vir goggas. Later daardie aand het ‘n stormwind opgesteek en heel nag gewaai. Toe ek opstaan was ons voorkamer vol mopanie blare.  

F

Die Maandagoggend het dit gereën, en was dit redelik stil wat wild aan betref. Ons het met die S50 gery verby Mooiplaas watergat, en ook na Nshawu 1 en 2. Toe maak ek die fout om die S48 te ry. Ek het dit verlede jaar ook gedoen, want op die kaart lyk dit asof die noordelike deel voor Klein Nshawu weer by die H1-6 aansluit. Dit is egter nie die geval nie, en die 17km van die S48 was verlede jaar doodstil. Hierdie keer was daar darem algemene wild. Toe ons by die H1-6 aankom en sien dis net 19km Letaba toe, besluit ons om daarheen te ry. Ons kry toe twee leeumannetjies in ‘n oop kol net suid van Twisappel watergat. Daar was ‘n trop wildebeeste en sebras waarin dit gelyk het of hulle belangstel, maar hulle het op die ou end weggedraai van die prooi af. Ek is saam met die kinders deur die olifantmuseum. Dis darem werklik ‘n oulike fasiliteit. Die nuwe winkel is nog in aanbou, en die ou een wat afgebrand het is gesloop. Ek en Salomien het saamgestem toe ons ry by Letaba, dat selfs die kamp vir ons te besig geraak het.

 

Later die middag het die son darem vir ‘n ruk geskyn, sodat ek die Kavango se batterye kon laai. Soos ek elders vertel het, het ek ons gevriesde vleis geskuif na een van die gas vrieskaste in die kamp en beide die Snomaster in die Kavango se kompartemente op 3 grade gestel en dit as yskas gebruik. Die Engel se battery in die Prado het genoegsaam gelaai met die DC tot DC laaier tydens wildritte om die Engel lekker koud te hou vir drinkgoed, en sommer om ys ook in te hou sodat dit langer hou. Dit was definitief ‘n goeie besluit om die laaier en tweede battery in die kar te sit vir die ekstra yskas. Dis ook lekker om die Prado se ingeboude yskassie tussen die voorste sitplekke te hê vir wanneer mens dors raak op ‘n wildrit.  

 

Maandagaand het die wind weer gewaai, en dit het gereën. Die voordeel van lg is dat die stof vir ‘n tydjie gaan lê het. Daar was groot troppe buffels, sebras en wildebeeste by Mooiplaas Dinsdag oggend. Ons het ook ‘n ratel gesien by Mopani se afdraai van die H1-6 af. Dit het egter vinnig verdwyn. Die wolke het darem gelig die oggend sodat die batterye weer kon laai. Soos ek elders aangedui het, hoef mens nie agter die son aan te hardloop by nr 2 nie. Daar is een optimale posisie vir sonpanele in die oggend, en ‘n tweede in die middag. My tuisgemaakte paaltjies vir die sonpanele het goed gewerk. Ek het elke paneel met ‘n rek aan ‘n L-pen in die grond vasgemaak om te keer dat die wind dit dalk omwaai en breek.  

G

H

‘n Tannie wat by nr 5 gestaan het, het ons vertel dat hulle ‘n leeuwyfie met vier welpies op ‘n vangs naby Tihongonyeni watergat gekry het. Dit was toe al na 10:00, en ons het besluit om die middag daar te gaan loer. Die leeu wyfie met die vier welpies was weg die middag. Daar was net jakkalse en aasvoëls en baie vlakte wild en gompoue. Die S143 is altyd baie vrugbaar in terme van vlakte wild. Daar is ook gereeld olifante en vrek baie gompoue.

Dinsdagaand was dit koud en dit het hard gereën. Die leeus het ook heel nag gebrul. Hulle was eers suid-oos van Tsendze, maar voor ons opgestaan het, het dit geklink of hulle meer in die rigting van Mooiplaas watergat was. Ons het hulle gaan soek op die S49 en S50 maar nie gekry nie. Later is ons Mopani toe om ys en hout te koop, toe kry ons hulle in die mopanies net voor die oop area voor Mopani se afdraai van die H1-9 af. Hulle het blykbaar iets gevang daar, maar ons kon nie die karkas sien nie. Ek het navraag gedoen by Mopani oor beskikbaarheid by Sable dam skuiling, en toe ons bespreking verander vir die laaste aand. Ek wou al lankal daar gaan slaap, en dit het meer sin gemaak vir die lang dag Potchefstroom toe. Die middag is ons op verby Nshawu na Tihongonyeni. Daar naby sien ons een eland en oral oppad en terug baie wildebeeste, sebras, buffels en olifante. Ons het geen kameelperde gesien sedert ons by Shingwedzi was nie.

Woensdagaand gaan ek en die kinders na die opwasfasiliteit. Daar is twee jong kannetjies met wie se ma ek die vorige dag gesels het toe ek skottelgoed gewas het. Die keer is hulle tannie saam met hulle. Ek neem aan dis hulle tannie, want hulle ma het gesê toe ons oor die vreemde weer gepraat het (koue en reën) haar sussie wat saam met hulle is bly in Stellenbosch terwyl hulle in Nelspruit bly. Die tannie was baie lank en vriendelik toe ek vra wat hulle gesien het die dag. Sy het ook vaagweg bekend gelyk. Toe ek terugstap karavaan toe besef ek sy lyk soos Vanes-mari du Toit, wat voorheen vir SA netbal gespeel het en met Matthew Proudfoot getroud was. Ek sê toe vir Salomien ek sweer ek het haar sopas by die opwasplek gesien. Later sien Salomien haar suster in die badkamers, en vra of haar sussie die netbalspeler is. Sy bevestig dit toe. Chris het later ‘n witkol uil naby ons wa gekry wat laag in ‘n boom gesit het. Dit was baie oulik.

Donderdagoggend het ons net ‘n kort draai gery en vir oulaas by Mooiplaas watergat ontbyt in die kar geniet. Dit was net 4 grade toe ons 07:00 gaan ry het. Ons het so laat gaan ry omdat dit so koud was in die Kavango, dat ek nie lus was vir opstaan nie. Terug by die kamp het ons opgepak en weggepak vir die reis terug huis toe, terwyl die kinders gespeel het. Dit het laat geraak, en elke keer as iemand by die hek inry was Salomien bang dis iemand wat op no 2 gaan kom staan. Dit was egter nog voor 14:00, wanneer mens amptelik mag inboek, so ek was nie bekommerd nie. Ons is op die ou end eers na 13:30 weg by Tsendze, en het maar amper die hele pad naby aan 50kph gery Letaba toe. By een van die diep dongas net voor Letaba se afdraai, staan daar ‘n paar karre. Toe ons daar stilhou vertel die bestuurder van ‘n motorhome ons dat daar ‘n luiperd was in die oopte in die donga. Die vrou in ‘n karretjie wat toe nog daar staan het volgens hom uitgeklim en omgeloop na die linkerkant waar die luiperd was. Dit het toe vir haar geskrik en agter takke ingeloop waar dit moeilik was om te sien. Ons het gesoek, maar kon dit nie meer sien nie. Ons is toe Letaba toe om te stort, aangesien daar nie sulke geriewe by die skuiling is nie.

I

Daarna moes ek druk om betyds by die Phalaborwa hek te kom. Daar kry mens die sakke met beddegoed, herlaaibare kolligte en ‘n rooster en braaibak waarvoor jy R300 deposito betaal. Toe is ons skuiling toe en het daar aangekom net na 17:30. Die nadeel van die skuiling is dat mens jou nie daar binne kan tuismaak voor die laaste mense daar weg is vir die dag nie. Daar is egter ‘n groot area met ‘n hek agter die skuiling, waar genoeg plek was om my kombinasie in te trek. Daar is ook twee netjiese put toilette wat gesluit is vir dagbesoekers maar waarvoor mens ‘n sleutel kry. Verder is daar twee braaiplekke wat elk in ‘n ronde sitbank ingebou is. Hier is ‘n foto wat ek geneem het terwyl Salomien die hek oopgemaak het voor ons inry.

J

J

Mens sal in die oop area kan ontspan en solank vuur aansteek al is daar nog mense daar. Volgende keer sal ek nie weer so laat daar wil aankom nie. Ek het een van my ligte wat met sonkrag laai aan ‘n balk in die skuiling vasgemaak vir lig, en vier beddens laat sak (daar is nege) sodat Salomien dit kon begin opmaak terwyl ek vuur maak en goed aandra skuiling toe. Chris Jnr het by ‘n oop luik gesit en uitkyk, en rietrotte raakgesien op die wal tussen die skuiling en die dam. Hulle was taamlik naby, en daar was ‘n hele klompie. Mens kon hulle hoor knaag en elke nou en dan een of twee sien loop in ‘n oop kol tussen die gras. Ek het aangeneem dat ons heel aand na hulle geritsel en geknaag gaan luister, maar hulle het stil geraak voor ons gaan slaap het. Daar was ook ‘n seekoei wat kom kyk het wat maak ons toe ons daar aankom, maar later vort is om te gaan wei. Ons kon olifante hoor wei agter die damwal, en later het die leeus uit daardie rigting begin brul. Hulle het die hele aand aangehou tot die volgende oggend, en ons kon aan die spore sien dat hulle agter die skuiling verbygeloop het deur die nag.

Nadat ons sosaties en ‘n Joey’s worsie gebraai het, het ons ingekruip. Dit was maar koud, maar hulle gee darem vir mens komberse ook. Die beddegoed was skoon en netjies. Selfs kussings en slope word voorsien. Ook muskietnette. Die matrasse is aan die kort kant, maar dit het my nie gepla nie. Ek het te lekker vir die leeus geluister elke keer as hulle brul. Daar was op ‘n stadium ‘n geskarrel en so halwe kermgeluid onder ons (die vloer staan op pale in die lug), ek neem aan dit was ‘n rietrot. Verder was dit lekker stil. Ek was bekommerd dat mens dalk die dorp sou hoor, maar mens kon nie. Terwyl ek by die vuur was, het ek wel mense hoor praat ‘n ent weg in die rigting van die teerpad. Ek het eers aangeneem dat dit ‘n patrollie was, wat iewers daar naby in die veld geslaap het. Later het ek my hande bak gemaak agter my ore en geluister. Ek het dit geleer toe ek staptoere gedoen het, dit help dat mens geluide van jou voorkant af heelwat beter kan hoor. Ek hoor toe dat dit witmense is wat gesels en lag. Ek fluit toe baie hard (ek kan baie hard fluit), en hulle raak oombliklik stil en het nie weer geraas nie. Ek het geen idee waar hulle was nie, tensy dit ‘n nagrit was wat van die hek af gekom het en gestop het vir iets. Ek het egter nie hulle voertuig gehoor nie.

Die Vrydagoggend is ons vroeg op, en het begin oppak. Die leeus was nou aan die teerpad se kant, en nog naby. Ons kon hulle egter nie sien nie. Ons het sommer gou ontbyt gehad terwyl ek goed weggepak het. Ek het vir my water warm gemaak in ‘n 5l bottel op die Kavango se stofie om mee lyf af te vee en gesig te was. Dit was maar weer lekker koud (6 grade).

J

Daar was ‘n paar hans voëls, waaronder die neushoring wat nie weggevlieg het nie maar my vinger gebyt het toe ek dit afneem. Seker gedink ek wil dit voer (iets wat ek glad nie doen nie).

K

Sal ek die oornag by die skuiling aanbeveel? Soos julle weet het ek reeds weer bespreek vir die eerste aand van ons toer volgende jaar. Soos ek ook genoem het wil ek nie weer so laat daar aankom nie, om meer van die besoek te maak. As jy lus is vir ‘n bietjie avontuur en ‘n vrou/gesin het wat dit sal kan hanteer/geniet sou ek dit aanbeveel. Dis ‘n unieke geleentheid om buite in die bos te wees, en al sien mens niks is dit tog lekker om te weet daar is nie ander mense nie en dat jy in relatiewe wilderness is maar veilig is. Toe ek voor die tyd op Tripadvisor kyk wat mense dink van die oornag skuiling, het iemand genoem dat hulle gehoor het daar woon ‘n swart mamba maar dat dit verwyder is. Dit was lank terug (2019 dink ek), maar ek moes dit nie vir Salomien vertel het nie. Sy het die muskietnette ekstra diep onder die matrasse ingedruk. Dit het ook nie gehelp dat ons bure by Shingwedzi vir ons vertel het van ‘n vriend van hulle wat tydens ‘n middagslapie by Gharagab deur ‘n geeslang gepik is en Upington toe moes vlieg met ‘n helikopter nie. Gelukkig was dit ‘n droeë byt.   

L

Ons het eers ‘n entjie in Masorini koppie se rigting gery om te kyk of ons die leeus kry, maar ons het nie. Toe is ons hek toe en het die beddegoed teruggegee en die deposito gekry. Daarna het Salomien vir haar koffie gekoop by die eerste vulstasie terwyl ek die banddruk nagegaan het. Ek het die bande redelik styf gepomp. Die Prado s’n 2,5 voor en 2,8 agter en die Kavango s’n 3. Die Prado se lugsakke was op 2. Die kombinasie was soos gewoonlik baie stabiel, maar die harde bande het effens hard gery. Toe ons Sondag kerk toe ry met die Prado, kon ek voel ek het nog nie die bande afgeblaas nie. Ek het wel die lugsakke afgeblaas, anders ry die kar baie hard.

Ons het goed gery Potchefstroom toe. Die enigste voorval was net na ons uit Tzaneen uit is. Na die laaste vulstasie oorkant die mall ry mens verby stalletjies wat vrugte verkoop, onder ‘n brug deur en dan maak die pad ‘n draai na regs teen die bult uit voor dit weer na links draai. Toe ek om lg draai kom staan daar ‘n verkeerspolisie motor, en ta stap in die pad in en wys ek moet aftrek. Ek sê toe beleefd vir hom dat dit ‘n gevaarlike plek is om af te trek, veral met ‘n karavaan wat nie so maklik stilhou nie. Hy was darem nie kwaad oor my kritiek nie, en het net my en die voertuie se lisensies nagegaan. Naby Nylstroom is daar ‘n koppie langs die N1 waarop ‘n klomp wit kruise geplant is, en die woord PLAASMOORDE staan. Ek moes toe aan 8-jarige Chris Jnr verduidelik wat plaasmoorde is, en waarom dit so baie gebeur en nie gekeer kan word nie. Dit was moeilik en hartseer. Nader aan Pretoria was daar dele waar een baan op die N1 gesluit was vir herseel. Mens mag nie kwaad word oor padwerke nie, want dit beteken hulle is besig om die pad te verbeter vir die volgende keer wat mens daar ry. Dit het ons egter taamlik vertraag. Ons het net voor spitsverkeer deur Pretoria gery op die N1, maar gelukkig teen die verkeer. Daar was reeds lang rye by die afritte en waar die R21 aansluit by die N1. Opvallend was hoe lelik (gevaarlik) van die mense ry, hoe nader mens aan Gauteng kom. Dieselfde was waar toe ons oppad op met die N12 Klerksdorp genader het. Ek behoort gewoond te wees daaraan, maar ek is nou al nege jaar hier in Worcester en het al vergeet hoe daardie rotresies was.

Die aand in Potchefstroom het ek die Kavango sommer gehaak gelos by Salomien se ouers, sodat ons die Saterdag vroeg kon wegtrek Victoria-Wes toe. My agterent was lekker lam toe ons in Potchefstroom kom na ‘n lang dag se ry. Die Saterdagoggend het ek gaan petrol ingooi om die hoek terwyl hulle groet, en hulle toe gaan haal. Ek het vir Salomien gevra om te kyk of sy iewers op die internet kommentaar kan kry op die wedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland. Ongelukkig kon sy. ‘n Paar insinkings op die pad tussen Strydenburg en Britstown ry nie lekker as daar aankomende verkeer is en mens nie regs kan beweeg om dit te vermy nie. Verder is die N12 in goeie toestand, en afgesien van die erts vragmotors nie baie besig nie. By die Merino Inn (ou Victoria-Wes hotel) kon ek gelukkig maklik parkering kry waarin ek die wa gehaak kon hou. Ons het sommer iets in die restaurant bestel en op die balkon voor ons kamer geëet. Ek het besef dat ‘n Saterdag dalk nie ‘n goeie aand is om daar oor te slaap nie. Die vorige keer was daar ‘n 70-ste verjaardag, en die keer ‘n kind se verjaardag, wat mense wat nie in die hotel bly nie, daar kom vier het. Gelukkig het die dame in beheer die kroeg (wat reg onder ons kamer was) 21:00 toegemaak en toe was dit stil. Die Sondag is ons so 08:00 daar weg, maar ek het by Travalia padstal gestop vir Salomien, en moes amper ‘n uur wag buite terwyl die kinders speel voor sy klaar besluit het wat sy wil koop. Ons het 14:50 tuis gestop, en toe afgepak.

M

Sommer ‘n paar laaste gedagtes om mee af te sluit:

  • Ons het al elders gepraat oor die beste staanplekke by Tsendze. Ons het een middag deur die kamp gestap, en die staanplekke van nr 5 tot 20 is te naby aan mekaar na my smaak. Van hulle het min son, en so een of twee weer geen skaduwee nie. 21 tot 24 is dalk te naby aan Mooiplaas piekniekplek. 25 tot 29 is nie sleg nie, en naby aan die heining en ablusies. Van hulle kan dalk te veel son kry in die middag. 30 tot 34 is meestal teen die pad, en van hulle is klein. Dis wel naby die heining, maar ek sal nie daar wil staan nie. Ons het tydens ons eerste besoek aan Tsendze in 2013 op een van daardie plekke gestaan, maar dit was sonder ‘n wa. Nr 1 is klein en teen twee paaie. Ek sal nie daar wil staan nie.
  • Die liggies langs die paadjies by Tsendze werk nie meer nie. In die ablusie naaste aan nr 2 was die een buitestort aan die mans se kant se lig baie dof en die ander een se deur kon nie sluit nie. As mens net die warm water oopdraai was die water se temperatuur darem gangbaar vir die koue wat ons daar beleef het.
  • Rodger en Elinah (nooit seker hoe spel mens hulle name nie) het net ons laaste aand ‘n draai kom maak by die staanplekke. Vorige jare het hulle elke aand verbygekom. Die braaier was wel elke dag skoongemaak, maar ek moet sê dat Shingwedzi s’n ook daagliks skoongemaak is en die rooster ook gewas met seep, water en ‘n lap. Ek het dit egter steeds skoongebrand en daarna afgeborsel voor elke braai.
  • As mens aan die binnekant van die heining aan die regterkant van die hek stap, is daar ‘n deel van die kamp heining wat taamlik lendelam is. Verder het alles wat ek gesien en gebruik het nog gewerk.
  • Daar was taamlik baie mense by Shingwedzi en Tsendxe wat hulle eie vuurmaakhout van buite af gebring het. Nogal baie hout ook. Ek het maar in die park gekoop teen ‘n redelike duur prys om die verspreiding van die kewer wat bome vrek maak te voorkom.           

 

Ek het weer tot die besef gekom waarom die Kruger wildtuin my gunsteling plek op aarde is (waar ek al was). Ek sê terwyl ons daar is, die tuin met sy lieflike plantegroei word deur niemand (menslik) onderhou nie. Die natuur gaan maar net sy gang, en dit bly so lieflik. Ja, ek weet dit word bestuur maar julle weet wat ek bedoel. Ek verlang steeds terug en sien al klaar uit na ons volgende besoek.

Brits

Wessel Strydom

Fri, 28/07/2023 - 15:14

...aan jou verslag.

Ek sien ook alreeds uit na my volgende besoek aan Kruger. Kan jy glo, ek het in goeie geloof sommer 6 aande in Tsendze bespreek. Bloot omdat dit lekker daar is, nie soseer oor die mopaniebosse en olifante nie.laugh

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 28/07/2023 - 18:10

.................vir die verslag oor julle doen en late tydens julle vakansie.

Jou laaste paragraaf som sommer ook my gevoel oor hierdie lieflike plek op.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus