Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Goeie hout... November 2026 Wessel Strydom -2 hours ago
Olie prys en Jodiumpille November 2026 Wessel Strydom -23 hours ago
Pretoria November 2026 Geert -23 hours ago
Tydens ons 2de aand ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -1 day ago
Overstrand Munisipaliteit November 2026 Chris Boucher -1 day ago
Verkiesing effek November 2026 Wessel Strydom -1 day ago

Met of sonder kamp heining??

Brits
Submitted by Wessel Strydom on
Forums

Na aanleiding van die gesels oor hiëna in/om kampe, wonder ek;

verkies julle 'n heining om 'n wildtuin kamp of nie.?

Ek het vriende wat nog altyd net op plekke gekamp het waar daar geen heinings is nie. Daarvolgens het hulle aangepas om oplettend te wees, vroeg te eet en klaar te maak buite, en dan daktent toe te verkas. Hulle was nou vir 1ste keer Kruger toe, en vind die heining 'n aanpassing en effe van 'n negatiewe faktor.  

Ek weer, het nog nooit so gekamp nie, en sal egter nooit werklik ontspan nie. Om heeltyd op die uitkyk te wees vir diere wat jou mag bedreig is nie my idee van vakansie hou nie. Gee my maar 'n ordentlike heining om die kamp. 

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 22/02/2024 - 14:00

... van daai ou banggatte. En Ralie sal geheel en al by die huis bly as sy sonder 'n heining in die wilde wêreld moet kamp.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 22/02/2024 - 15:38

Omheinde ruskampe in reservate met gevaarlike wild is die uitsondering op die reël. Ek praat nou nie van SA nie, maar van die lande in Afrika (15 van hulle) wat ek al besoek het. Dis net hier in SA, Namibië se Etosha en Zimbabwe se Hwange en Matobo waar ruskampe omhein is. Ek dink dis dalk omdat die volumes toeriste so hoog is. 
 

In die ander lande kan ek nie aan een omheinde ruskamp dink nie. Ek het baie kampeer en in vaste verblyf geslaap in reservate met gevaarlike wild toe ek in toerisme gewerk het en vir meer as twee jaar gewoon in Botswana in kampe sonder heinings. Mens moet versigtig bly, en in Savuti kon die hiënas soms lastig wees. Maar ek het nooit onveilig gevoel nie. Jy moet net nie buite slaap nie. Dis heerlik om so naby aan die natuur te wees, veral waar daar nie elektrisiteit en ligte is nie.
 

In Botswana is daar nie eers ‘n ouderdomsbeperking nie. Ons outjies was saam Polentswa en Rooiputs toe en het dit baie geniet en hulle mooi gedra.
 

Maar ruskampe sonder heinings sal nie werk in die Kruger wildtuin nie. Daar sal te veel insidente wees met die mense wat nie by die reëls hou nie. En daar is ongelukkig baie van hulle. 

0
Pretoria
Profile picture for user Geert

Geert

Thu, 22/02/2024 - 17:37

Ja....ek verkies ook heinings. Baie van die wat op plekke kamp sonder heinings is ook maar bang....kampeer met groot kaliber jag gewere.

Dieselfde soos in die wildtuin.....daai morning walks. Ek het n probleem daarmee, as jy so braaf wil wees, gaan doen dit sonder om agter n groot kaliber jag geweer aan te loop. Jy loop in hulle area en ons almal weet jy mag nie eers uitklim uit jou kar nie vir jou veiligheid. Nou loop jy daar....as roofdier of olifant jou gaan aanval .....wat sy natuurlike instink is, hoekom hom dan wil skiet?

Dieselfde met die organisering van fiets ry en hardloop maratonne in Big5 reservate.....gaan my verstand te bowe.....RESPEKTEER DIE NATUUR

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Thu, 22/02/2024 - 18:44

Ek het 33 drie dag staptoere met ‘n .458 gelei in ‘n 150 duisend hektaar konsessie in Botswana waar daar onder andere 7000 olifante gebly het en het nooit tydens ‘n staptoer ‘n skoot afgevuur nie. Mens moet net stil wees en mooi luister, ruigtes vermy en die diere se gedrag dophou en ken. Ek is twee keer deur olifante bestorm, en my broek het letterlik gebewe daarna maar nie ek, een van my gaste of die olifante het seergekry nie. 

0
Brits

Wessel Strydom

Thu, 22/02/2024 - 19:35

Ek lees Chris S se inset, maar ek is 100% in ooreenstemming met Geert se standpunt.

Daar is net een in die groep wat braaf is, of wat se senuwees in 'n krisis ingee, en jy het moeilikheid. Ek is van mening dat elke persoon wat aan sulke aktiwiteite in 'n wildtuin deelneem, 'n vrywaringsvorm teken. 

Die " geldmaak" beginsel word net te vêr gedryf.  Ongeag die deelnemers aan fietsrenne, en hardloop sessies se veiligheid, dit ontneem my van die ongerepte natuur van die wildtuin. dis die laaste ding wat ek wil sien, as ek betaal het om in 'n wildtuin te wees.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 23/02/2024 - 08:34

Ek hoor wat julle sê, en ek stem saam:

  • stap en ander wildbesigtiging moenie gemeng word nie (op dieselfde tyd in dieselfde gebied bedryf word nie).
  • fietsrenne en marathons is nie my ding nie. Ek gun egter vir almal hulle plek in die son. Of sulke aktiwiteite in reservate met gevaarlike wild gehou moet word weet ek nie so mooi nie. As ek daaraan deelgeneem het sou ek dit nie in ‘n reservaat met gevaarlike wild doen nie. Weghardloop vir gevaarlike wild is ‘n resep om geëet te word, al doen jy dit onbewustelik. 
  • stap in die veld waar gevaarlike wild woon moet reg gedoen word. Dis glad nie uniek aan die Kruger wildtuin nie. In lg het dit aanvanklik net in wilderness gebiede gebeur. Dit is areas waar die publiek nie mag/kan ry nie. Die grootste deel van die wildtuin is wilderness gebiede. Dis waar die wilderness staptoere plaasvind.


Ek en Salomien was al op die Sweni een in 2012. Jy slaap in ‘n basiese kampie wat omhein is, en gaan uit vir oggend en middag stappe. Ons was ook al in Umfolozi op ‘n staptoer van die Wilderness Leadership School. Dis ook in ‘n gebied waar geen paaie is nie. Daar dra mens alles saam, en slaap op die grond buite. Daar is geen geriewe nie, en dit werk op ‘n los geen spoor basis. As mens praat fluister jy en voor die stap begin, gee jy jou horlosie en selfoon in. Dis werklik die naaste wat jy aan die natuur kan kom. Jy maak beurte om snags wag te staan, en op my beurt een aand het twee leeus amper tussen die slapendes ingeloop. Toe ek hulle sien, en hulle vir my, het hulle ‘n 90° draai gemaak en oor ‘n bult verdwyn. Ons het hulle later heelwat verder hoor brul. Ons was ook twee keer in Pilanesberg se wilderness gebied op staptoere waar mens op die grond in die veld slaap. Daar het ons te voet gesien hoe ‘n swart renoster ‘n witte wegjaag. Daarna het ons tot binne 50m gestap van waar die swarte gaan lê het. Alhoewel hy in ons rigting gekyk het, het hy nooit geweet ons is daar nie. Hulle sig is baie swak en die wind het na ons toe gewaai. 
 

Voor al die bg het ek vir ‘n jaar lank staptoere gelei in Botswana, en voordat ek dit gedoen het het ek teoretiese opleiding ontvang en praktiese toetse afgelê, en ook gestap in Klaserie, Zimbabwe, en Zambië. Alhoewel ek gelukkig was om gereeld olifante, buffels, leeus en selfs ‘n luiperd of twee te voet te sien is dit nie waaroor stap gaan nie. As jy naby wild wil kom is ‘n voertuig die aangewese manier. Dis ook nie die doel van stap nie. Mens is op die grond, op dieselfde vlak as die diere, reptiele, insekte en plante. Daar is nie ‘n raserige voertuig nie so jy hoor, sien en ruik dinge wat jy nie andersins kan nie. Jy ervaar die veld soos wat die diere dit ervaar, en as jy ‘n goed opgeleide gids het leer jy vrek interessante goed. Ek het baie kursusse en selfstudie gedoen oor baie jare en die ekologie leer verstaan. Dit was vrek lekker om toe vir ‘n jaar lank in dieselfde gebied staptoere te lei en die gebied te leer ken en te sien hoe dit verander oor die seisoene. In die drie dae se stap waar ons by twee verskillende stapkampe geslaap het, het ons oor net drie tweespoor paadjies gestap. Die res van die tyd was ons in areas waar niemand anders kon uitkom nie. Dit was hemels, al was dit werk. 

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Fri, 23/02/2024 - 08:55

Waardeer dat jy die gedeel het. Dít is net soos ons die veld verkies. Jy moet die voorliefde het vir die wildernis, anders sal dit moeilk begryp word. In Botswana gaan jy op ń paar dae trip in Mekoros waar die seekoeie en krokodille ook nog teenwoordig is. Slaap op die grond, een ń vissie wat gids gevang het saam bietjie rys.  Gidse dra nie gewere nie,  soggens voor jy roei, stap julle veld in, kyk voëls spore, en wat in die omgewing is. 

Ek het al vertel op vorige gesprekke waar leeus in Mamili die tent beruik het, en so gebrul het dat die aarde bewe. Of die keer in Kaudom toe n Olifant bo- oor ons tent geleun het on doringboompeule te pluk. Sy asemhaling, en grammel van sy maag sal my altyd by bly.

Op Chiefs Island het ek saam twee gidse gestap, hulle sonder gewere, om die leeus op te spoor wat die vorige nag om Odd Balls gebrul het. Odd Balls is n kampie in die Okovango Delta. 

As ek die ervarings moet vergelyk met die samedromming van voertuie om n leeu wat onder ń boom lê en slaap, is daar eenvoudig net mooi geen vergelyke nie.

Moet my nou nie skiet nie, maar dit voel werklik asof jy  agter ń draad gaan wegkruip. Laat my nogals  voel of die rolle omgekeerd is vir wat in ń dieretuin gebeur.

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 23/02/2024 - 11:59

Ek lees so lekker aan julle verhale, dat ek amper sal kans sien om saam met julle veld toe te gaan.laugh

Ons het al 'n paar keer alleen by 'n leeu of luiperd gestaan. Dan voel ek so lekker en skuldig oor my geluk, dat ek eintlik wens daar kom nog 'n voertuig om dit mee te deel. 

Die teendeel is egter meer kere die geval, soveel voertuie wat saamdrom, mens is eintlik bang jy word gestamp. Dan moet jy met 'n woonwa partymaal deur so 'n verkeersknoop probeer sukkel.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sat, 24/02/2024 - 16:35

..............die ouderdom wat inskop, maar ek is heeltemal op my gelukkigste tydens karavaan-kampering in die Kruger Wildtuin, in die suide, middel of die noorde, en met of sonder krag in 'n ruskamp wat toegekamp is. Ek verkies ook om redelik veilig te voel in die ruskampe sonder om heeltyd oor my skouer te moet loer vir gevare.  Ek besef terdeë dat gevare mag dalk uitsonderlik opduik, maar dit hou my nie wakker nie. Ek hou juis daarvan om saans buite by 'n vuurtjie deur te bring eerder as om myself na sononder in my blyplek te moet toesluit.  Aan die anderkant geniet ek die piekniekplekke wat nie toegekamp is nie en ons gebruik dit voluit, maar weer eens tog waaksaam en nie onverantwoordelik nie.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 24/02/2024 - 17:13

... eerstens is ek bly om te verneem jou wildtuinplanne is steeds in plek. Sterkte met die gesondheid.

Ek kon nie my persoonlike gevoel, t.o.v. 'n kampheining al dan nie, beter verwoord as wat jy dit hierbo gedoen het nie.

'n Klompie jare gelede was dit nog hoog op my wenslysie om minstens een van die wildernis staptoere in die wildtuin te onderneem. Daar kan jy in afgekampde kampies oornag en bedags saam met gewapende gidse gaan stap. Dit het my nogal aangestaan, maar nooit vir Ralie nie - en dit het my tot 'n groot mate weerhou om so-iets te doen. Maar nou't ek nie meer lus vir so-iets nie.

Maar ek respekteer diégene wat 'n bietjie meer wild wil gaan.

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Sat, 24/02/2024 - 17:25

Wat ek hier bo geskryf het, sal seker nie weer gebeur nie. Miskien ń Kaudom trip, maar dit is dit. In ń Mekoro sit en roei, of met n rugsak te stap, is ongelukkig nie meer doenbaar nie. So dit is maar ń hunkering na plekke en tye wat nie werklik meer doenbaar is nie.

Vandag is ek dood tevrede om in ń omheinde kamp te sit, dit is wat die huidige situasie is, en ek aanvaar dit so. Maar dat die samedromming van ń klomp mense met lang lense wat dwars in ń pad gaan staan.... wys my ons is nie regtig dieselfde dam se ganse nie. Maar dit is ń ander gesprek.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 24/02/2024 - 19:07

....dwars in die pad gaan staan."

  Aai my vriend Herman, 1 van die dae is daar 'n wit Hilux, waarvan die kamera 'n kort lens het, ook dwars in die pad staangemaak. Ek sal met die eienaar mooipraat en noem daar is ander damganse wat nie daarvan hou nie.laugh 

Dis nou die ganse wat 'n kamera en vêrkyker gekombineerd wil hê.wink

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus