Laat ek maar sien wat se reaksies hier gaan volg, hopelik is daar by lede baie beplanning vir die jaar.
Ons was Jan 2024 by Umfula buite Parys vir so week.
Bespreek en betaal vir 21/03/24 tot 27/03/24 by Zelpy Fishing Magaliesberg.
Bespreek, moet nog betaal, vir 24/05/24 tot 26/05/24 by Marula Oase naby Bella Bella, regoor Klein Kariba.
Sover is dit dit vir die jaar, ons kinders van Australia kom Desember 2024 tot Januarie 2025 vir ons kuier en ons moet nog besluit waar ons gaan om hulle hul land van herkoms te wys.
Tussen die twee tye is vir ons nog oop vir beplanning tot so omtrend September die jaar.
Wat is julle beplanning vir die natuur opsoek?
Devoetpadkloof
Dis ook een van ons gunstelinge. Juis gister na hul spesiale aanbieding gekyk van R1220 vir 7 nagte.....dis baie billik. Geniet dit Shaun
Netsoos Wessel aan Herman op bl.3 sê, "net vir................
............duidelikheid", moenie op my staatmaak by Karoo Nasionale Park in Meimaand nie. Vir ingeval julle nie weet nie, dan is ek in die Kruger Wildtuin, mits een of ander krankheid nie weer kopuit steek nie.
Herfsblaar bende??
Dalk eendag, binnekort kry ons dit reg om weer dieselfde gesinne bymekaar te kry, vir 'n opvolg.
Ten minste gaan jy en Lapskag mekaar raakloop in willetuin.
Hierdie "Herfsblaar bende" - ding
is nou nie van toepassing hier nie, maar aangesien hierbo daarna verwys word, skryf ek verder...
Ek moes vêr gaan oplees waaroor dit gaan en ek dink die benaming pas niemand wat aan die samekoms deelgeneem het nie. Julle is almal gans te with-it daarvoor. Die enigste faktor wat hier tel is ingesteldheid teenoor kampering en Len stel die voorbeeld. Sal julle nie maar asb. weer dink oor die benaming (vir 'n opvolg) nie? - veral as ek ook uitgenooi word...![]()
![]()
Rona...
...wat pla aan die naam?
Bende, tog nie, Saartjie van Trompie se dae het mos ook ,n bende gehad, of is ek verkeerd.
Herfs---omdat dit met ouderdom assosieer word?
Dis net so jammer dat almal so wyd versprei is, dat almal nog persoonlike prioriteite het, wat beplanning bemoeilik. dit maak 'n keuse van 'n plek vir 'n saamkam/ttrek seker maar moeilik.
Die Herfsblaar saamtrek het maar net toevallig gebeur, maar dit was kort en BAIE aangenaam.
Voorbereidings vorder
Ek het nie Saterdag daarby uitgekom nie, maar gister voor kerk het ek heelwat uitgerig:
Ek het die Kavango se haak en inlooprem skokbreker nagegaan. Ook maar goed so, want die voorste bout wat die skokbreker vashou was taamlik los. Verlede jaar na Kgalagadi, toe ons afsak op die N2 by Mosselbaai oppad Hartenbos toe, was daar ‘n klapgeluid. Toe ek by Hartenbos kyk, was die bout heeltemal uitgedraai. Gelukkig kon dit nie uitval nie. Ek wonder hoekom was dit nou weer los. Na Kagaladi kan mens verstaan vanwee die paaie daar. Ek sal dit van nou voor en na elke sleep nagaan.
Die battery wat agter in die Ranger kom waarvan die Engel wat ook daarin kom werk is op laai gesit sodat dit mooi vol kan laai.
Die wa is reggepak binne, en ‘n bottel of twee van ons streek se beste vuurwater is in die een kassie gepak.
Die gasbottel wat ek Saterdag laat volmaak het is in die neuskas gesit en die reguleerder se seël is Vaseline gesmeer sodat dit nie kan lek nie.
Die muti waarmee ek die VVS braairooster skoonmaak elke dag is aangevul. Ek koop dit by die koöperasie, maar kan nie onthou wat is die goed se naam nie. Dis ‘n alkaliese skoonmaakmiddel wat mens met water verdun. Ek spuit dit met ‘n spuitbotteltjie op die vuil rooster en dan was selfs gebrande marinade maklik met ‘n sponsie af na so tien minute.
Na kerk het ek en Salomien kruideniers gaan koop wat saamgaan, en tuis het Salomien dit sommer in die Wolfpak kratte gepak waarin dit vervoer word. Ons het Donderdag reeds die vleis in die Kavango se vrieskas gepak.
Donderdagoggend moet ons net ons klere, handdoeke, toiletware en beddegoed in die wa pak, fietse op die rak agterop hang en al die negosie agter in die Ranger pak voor ons haak en sleep. Salomien wil by Rooiberg kelder tussen Worcester en Robertson wyn koop oppad, en daarna behoort ons so 3,5 ure te ry tot by Dwarswegstrand.
ChrisS, kan sien dat julle…
ChrisS, kan sien dat julle ook super opgewonde is.
Man, ek hou van hierdie vertellinge,..............
.........'n mens raak sommer deel van die kampervaring. Twee dinge :-
- Die Vaseline-storie : eerste keer wat ek verneem van die reguleerder se seël wat moontlik kan lek. Ek sal dit ook maar veiligheidshalwe doen want myne se rubberseël is al 19 jaar oud.
- Ek gaan ook by ons koöperasie soek vir daardie wondermiddel om die braairooster mee skoon te maak.
Geniet julle rit Donderdag.
Vaseline vir gas silinder seël
Die Kavango se gaspyp het ‘n koppelstuk soos die een hier onder. Die laedruk reguleerder sit inlyn ‘n entjie verder in die pyp. Die koppelstuk het ‘n plat O-ring seël wat teen die silinder druk om die gat waar dit inskroef. Die laedruk reguleerders wat direk in die silinder inskroef se seël sit op die punt wat inskroef en taper sodat dit mooi seël. Ek glo nie hulle sal sommer lek nie. Die Kavango het met ‘n gas silinder gekom wat ‘n geelkoper klep bo-op het waarop die koppelstuk hier onder mooi oplyn en pas. As mens egter die gewone blou silinder gebruik waarvan die klep versink is in die silinder kan die koppelstuk soms lek. Dis hoekom ek gister vaseline gesmeer het, en toe met bietjie seepwater seker gemaak het dit lek nie.

Seel gebreek
My seel het n keer nie meer mooi geseel nie....seker krakie ingehad. Gasbottel het aan die brand geslaan....ons het ons allies afgeskrik. Gelukkig was dit n losstaande gasbottel buite gewees en nie een in karavaan nie.....vlam was ook naby bottel gewees
Spaar seëls
Ek ry spaar seëls saam. Die O-ring van die Kavango se koppelstuk het een keer verloor toe en die gasbottel tydens ‘n toer moes laat volmaak. Toe moes ek eers ‘n seël gaan koop voor ons dit weer kon gebruik. Ek het altyd elke aand die gas toegedraai voor ek gaan slaap het. Ek moet dit weer begin doen, sommer ook voor ons die staanplek verlaat.
Al die Kamp beplanning en…
Al die Kamp beplanning en regmaak om te sleep maak ons ook opgewonde. As die Chris'se terug is, is dit amper ek en Len se beurt en die wat ook gaan kamp. Ons het vandag ook vir ons 'n porta potti aangeskaf en die nidig wyntjies om saam Len te gaan geniet. Sal volgende week begin skoonmaak en regpak vir ons wildtuin trip. Gaan nou eers weer saam die klein kinders kuier.
As jy ....
... die Porta Potti en wynaankope in dieselfde asem noem, maak ek die afleiding dat jy snags gereed wil wees vir die ernstige drinkery saans??
Net so Chris, Len het mos…
Net so Chris, Len het mos gesê dat daar nie spietkops is nie en dat ons nie net een wyntjie gaan drink nie. Nou maak ek maar voorsorg. Gelukkig weet jy ek drink nie so baie nie, ons wil dit net gaan geniet.
Min tyd
Vanoggend bel die dame by Dwarswegstrandoord om te bevestig wanneer ons beplan om daar aan te kom. Ek vra haar toe of daar iemand op Geert se staanplek (28) is. As ek die Kavango met die leefarea na die see toe wil opslaan moet ek oor 28 kan ry met die Ranger. Die Kavango het mos nie movers nie.
Sy sê toe die mense op 28 gaan uit, maar die nuwe intrekkers wil vroeg inkom. Sy bel hulle toe om uit te vind hoe vroeg, en bel my terug om te laat weet dat ons 11:00 daar moet wees as ons oor 28 wil ry om die wa staan te maak. Salomien wou by Rooiberg kelder stop om wyn te koop môreoggend, maar het hulle gebel en die wyn sal by die sekuriteitswag gelos word.
Ek sal dus vanaand moet pak wat ek kan, want Salomien moet nog werk doen. Hopelik kan ek die gesin teen 07:00 in die kar hê met al ons negosie. Ek glo nie ek gaan ‘n gesprekslyn skep vir die vakansie nie. Ek kruip gewoonlik ook in my dop in terwyl ons weg is. Maar ek sal af en toe inloer en ‘n foto of twee plaas.

Ja, maar
Dankie Geert. Ons het al twee keer op 30 gestaan, so ek ken daardie paadjie. Die probleem is dat ek agteruit sal moet stoot op die paadjie om die wa op staanplek 29 te kry as ek nie vooruit tot op 28 kan ry met die Ranger en dan die wa afhaak op 29 nie.
As ek agteruit van die graspaadjie af instoot gaan die wa se leefarea na staanplek 24 toe wys. Daar staan reeds iemand, so ek kan ook nie daaroor ry nie. Ek sal verkies as die wa se leefarea see toe kyk, en die neus dus na 28 toe. Sonder movers gaan ek dit net regkry deur tot op of oor 28 te ry.
Ek wil ook verkieslik nie die wa se neus na die see of na 24 wil laat kyk nie want die plaveisel val see se kant toe en dan kyk die leefarea na bure toe. Eg sal ek in elk geval nie regkry nie, want die Ranger kan nie ver genoeg na die see se kant toe ry nie. Lg wasrskynlik ook nie, want daar is reeds iemand op 24.
Ek sou dalk die wa kon afhaak en dan met die hand probeer omswaai sodat die neus na 28 kyk. Die neuswiel behoort te loop op die plaveisel. Maar dan kan ek nie die wa se wiel aan die laer kant sonder ‘n domkrag op die geel wig kry om dit oor die breedte waterpas te maak staan nie.
Ek kla ook nie oor ‘n verskoning om vroeër te ry en in te klok nie. Dan staan die kamp vroeër en kan ons nog die middag geniet daar.
Hout heining
Daars n hout heining tussen 28 en 29, maar soos ek op foto's kyk behoort jy agter hom verby te kan ry
Minste moeite...
...is ry met bakkie se neus in. Net genoeg om na afhaak uit te kom daarmee. Trek wa dan reg met vele hande---ligte werk. Gebruik domkrag by 'n wiel as moet level oor as. Of, na afgehak, sleep met lang tou of strop oor 28 tot op wig.![]()
Lekker seelug ruik.





De Voetpadkloof
Ons saam twee ander huisgesinne gaan vanaf die 25 tot 28 April kamp by De voetpadkloof ons staan langs mekaar en sowaar het ons staanplek 28 gekry lekke groot baie opgewonde weet dis nie n vakansie nie maar n nodige wegbreek