Ek is nog besig om weer my voete hier by die huis te vind na die afgelope kort wildtuin-vakansie. Maar die beplanning vir die komende kort Namibië-trippie kan nie agterweë bly nie want dit is om die draai. Ek het skaars uitgepak en ek is al weer besig om my inpak lys agtermekaar te kry. Amper al wat bykom op die lys is paspoorte. Hierdie keer kan ek die 40 liter Waeco (wat intussen herstel is) saamneem, want ek kan maar net vir die eerste 4 aande vleis saamneem. Met Suid-Afrika se bek-en-klouseer status mag ons nie vleis oor die grens neem nie (en ek wil nie kanse vat nie).
Ons vertrek (DV) op 20 April. Ons reisplan sien as volg daarna uit:
20 Apr: Donkieshoek (Lekkeslaap) - Calvinia
21 Apr: Kalahari Guest Farm - 51 km noord van Upington
22 & 23 Apr: Twee Rivieren, Kgalagadi Oorgrenspark
24 Apr: Plaas Kowes (Lekkeslaap) - 30 km suid van Gochas, Namibië
25 Apr: Casa Amico Mio (Lekkeslaap) - Windhoek
26 & 27 Apr: Quivertree (Lekkeslaap) - Swakopmund
28 Apr: Hudup Guest House (Lekkeslaap) - Maltahöhe
29 & 30 Apr: Villelodge (Lekkeslaap) - Lüderitz
1 Mei: Grünau Chalets - Grünau
2 Mei: Maskam Guest Farm (Lekkeslaap) - Vanrhynsdorp
3 Mei: Tuis
Ek sal seker maar eers na die toer kan terugvoering gee, want datasein sal seker maar 'n probleem wees aangesien ek nie oor "roaming" beskik nie en dit sal buitendien maar duur wees. My skoonseun en kleindogter was nog nooit in Namibië nie en my dogter was 38 jaar gelede laas daar. Dit is eintlik maar om hulle onthalwe dat ons die toertjie doen - en vir eers dan platsak is wat vakansie-begrotings aanbetref.
Praat ek en ouma gister…
Praat ek en ouma gister middag. Ons gaan moet vir volgende jaar n Namibia toer beplan. Als in die Toyota vir kamp. Maar, die gaan net gebruik word as daar nie ander akkomodasie is nie. Lekker vêr trip, Sossusvlei, Mirabib, Etosha, Epupa falls, Drotsky's, Caprivi, Vic Falls, ek dink so 3 tot 4 weke. Net na April vakansie klink omtrent tyd.
Sjoe ChrisB...................
.............noudat ek weer na julle reisplan kyk, dis darem 'n moerse toer daardie om dit binne 14 dae af te lê ! Maar ek glo dat julle dit saam met die kinders baie sal geniet. As julle stokflou terugkeer, sal jy beslis 'n kamp-vakansie nodig hê om tot verhaal te kom.
Len ...
... ja, dit is 'n stywe trippie. Die aanvanklike plan was om net die suide van Namibië te doen. Maar toe my kleindogter hoor dat ons Namibië toe gaan was haar hoogste prioriteit om quad bike te gaan ry by Walvisbaai. En soos 'n simpel oupa maar is, wysig die ouballie sy planne. Maar die kinders sien baie uit na die toertjie en voorbereiding is in volle swang.
Nou karring my seun ook nog om, net 3 dae nadat ons teruggekeer, het saam met hom en 2 vriende Walvisbaai toe te vlieg, 'n 4x4 te huur en Henties toe te gaan vir 'n week. Maar dié oukêrel sal te platsak wees na dese om só-iets aan te pak. Inteendeel, ek sal te platsak wees om voor die volgende somer weer te gaan kamp. En mammie "nag" alreeds om volgende winter Roemenië toe te gaan want die Noorweërs (wat gister by hul huis aangekom het na hul kort vakansie saam met ons in die wildtuin) het ons genooi om o.a. by hulle te gaan kuier. Maar daar sal baie water in die see moet loop alvorens dit kan gebeur (lees: "fondse in die spaarrekening moet opbou").
Chris, dis nie..................
.............."fair" om te diskrimineer tussen jou kinders nie - jy sal daardie Henties-toe vlug-trippie saam met boeta moet heroorweeg.
Dankie Johann
Ons geniet gewis ons ver kinders se kuier hier in Suid-Afrika. En ons is uiters dankbaar teenoor hul Noorweegse filantroop-vriend wat dit vir hulle moontlik gemaak het. Laasgenoemde het al hulle vlugkostes, verblyf in die wildtuin, Kaapse Waterfront en Hartenbos betaal. Hy het ook die huur van hul minibus in die wildtuin sowel as die week in die Kaap betaal. Dan het hy hulle meermale "entertain" met restaurant-etes (waarvan ons ook drie etes in die wildtuin meegemaak het).
Maar nou moet pa/oupa maar sy sak skud, want sendelinge beskik nou nie juis oor veel fondse nie. Gelukkig het my dogter 'n broer wat ook graag haar "hand vat". Ek weet dat hy sal ten volle instaan vir sy pa se kostes as ek sou besluit om saam te gaan hengel, maar ek wil nie op sy nek lê nie. En buitendien wil ek eerder elke oomblik saam met my ver kinders geniet terwyl hulle hier kuier. My seun bly net anderkant die "klip" van my af - in Grabouw en ons sien mekaar baie dikwels.
Len - dus sal ek maar my hengel-lus bietjie inhou. My seun het vanoggend video clips van ander hengelvriende by Hentiesbaai aangestuur. Dan word my lus om daar langs die viswaters te gaan staan met 'n visstok in die hand baie groot.
Synde Len ...
... nou so fluks is met sy inpakkery vir sy vakansie, kan ek ook net meld dat sommige voorbereidings aan my kant ook in plek val. Ek het gister die dokument van die "Geel Sambreel-mense" ontvang wat bevestig dat die Hilux ten volle gedek is in Namibië. Alhoewel hulle nog nooit by die grens gevra het vir sodanige dokumente nie, word dit tog aangedui dat jy sulke bewyse (insluitende die registrasiebewys) saam met jou moet hê. Die SA-plakker, wat ook 'n vereiste is, is gister aangebring.
Die vleis vir die eerste paar aande se braai (totdat ons die grens oorsteek) word môre by my plaaslike slagter afgehaal - ek mag mos nie vleis oor die grens neem nie. Die 40 liter Waeco word vandag aangeskakel sodat dit gereed is vir die langpad. Die kassie sal sy werk moet doen. As ek kyk na YR.no se weervoorspelling vir die week vorentoe, lyk dit of ons in warm wêreld inry. Vir Calvinia word Saterdag 30° voorspel, maar Upington se voorspelling vir Sondag is 34°. Twee Rivieren wys vir Maandag en Dinsdag 36° en 34° onderskeidelik.
Len. Len geniet daai…
Len.
Len geniet daai voorbereidings, dit is so deel van gees op bou soos daai oomblik wat jy haak en vertrek. Hier by my gaan dit ook so, my vrou lag altyd as die voorbereidings so lank voor die tyd (vir lang toere) begin, maar sy sal dit nie erken nie maar, sy raak ook ernstig besig met alles.
Chris.
Soos altyd hou ek jou vertellings met fotos dop, weet sommer julle gaan dit geniet.
Hallo Chris
Sien dat julle vertrekdatum reeds môre is (skaars terug uit die noorde
).
Ek glo dat dit 'n baie spesiale ervaring saam met julle kinders gaan wees. Veilige reis vir julle en indien moontlik hoor ons graag tussendeur 'n een-en-ander. Geniet!
Dankie Rona
Die pakwerk is afgehandel. Slegs die "cooler box", vrieskas en tasse word môre-oggend gelaai. Ek hoop om nie later as 08:30 weg te kom nie. Ons eerste mikpunt is Rietdakkie padstal tussen Worcester en Wolseley vir 'n brekkie.
Ek hoop om darem nog die eerste 4 aande (terwyl ons nog binne SA grense is) bietjie verslag te gee.
Môre Chris…
Môre Chris.................................................'n veilige en heerlike reis word julle toegewens.
Geniet Chris.
Geniet die trip Chris..
Dat ek met hang ore hier sit, is regtig so. Skoon weemoedig van verlange na ń bietjie woestyn sand tussen die tone.
Ons is gister op beplande tyd weg, ...
... nl 08:30. Ons het aanvanklik 'n bietjie moeilik gery in digte mis wat eers tussen die N2 en Villiersdorp verbeter het. Ons eerste stop was by Rietdakkie padstal tussen Worcester en Wolseley vir 'n baie lekker unieke brekfis. Hulle bedien die gebakte eiers, spek en tamatie/uie-smoor op (of liewer binne) 'n varsgebakte roosterkoek. Heerlik!!

Na 'n vinnige draaitjie deur my grootword-dorp, Tulbagh, het ons verder deurgedruk tot by Kardoesie padstal in die Piekenierskloofpas, waar ons 'n paar peuselgoed aangevul het - o.a. baie lekker koeksisters en dadelballetjies.
'n Koffiestop by Klawer se Wimpy en hervul van duur diesel het gevolg alvorens ons die laaste ent pad na Calvinia aangepak het - met groot frustrasie aan die onderpunt van Vanrhynspas. Ons is laaaank opgehou by 'n Stop/Ry. Die hele pas bestaan tans uit 'n enkelbaan. Eers moes ons wag vir die streep "side-tippers" wat die pas afkruip. Toe moes ons opkruip teen die pas uit agter groot trokke wat voor ons in die ry gestaan het. Jy kon 'n eier in hierdie ouballie se gat gaarmaak.
Maar ons wonderlike verblyfplek het daarvoor opgemaak. Donkieshoek, op 'n kleinhoewe buite Calvinia, was een van die netjieste selfsorgplekke waar ons nog ooit oornag het. En ek was verras om te sien dat hulle 5 kampeerplekke met kragpunte het.


Ek sal weer video clips plaas as ek eers weer terug is by die huis.
Vanoggend het ons 'n lekker ontbyt by Die Windpomp in Brandvlei geëet. Watter unieke plek. Moenie Brandvlei verbyry sonder om by Die Windpomp in te loer nie.
Jammer, nou sukkel ek met verdere foto's. Ek gesels weer later. Ons is tans by Kalahari Guest House & Farm Stall, 50 km noord van Upington, op pad Twee Rivieren toe.
Behalwe vir................
...........die sto/go en trokke oppenhoud, lyk dit of julle lekker ry, kuier en eet !
Geniet dit Chris !
Ns. Ek is nie baie jaloers nie, ons kom eerskomende Sondag aan die beurt !
Doppelganger
Jislaaik Chris, jou dogter en Ralie lyk op 'n haar na dieselfde!!!!
Gelukkig is jou besoekpunte en oorslaapplekke nou vasgevang in forum se geheue tot ek dit nodig kry.
Jissie Wessel
Lyk sy nie meer na haar pa nie? Sy's dan 'n mooi meisiekind.





Sal fyn dophou...
....want ek was nog nie werklik in Namibië nie. As student deur tot by Ais-ais. Daai dae geen paspoorte nodig gehad nie, kon mens net gaan, toe nog SuidWes gewees.