6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Laaste oor die dekselse kappie Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -49 minutes ago
Lower Sabie Kruger 2026 Geert -52 minutes ago
Kappie e se toets Forum Herstel en terugvoering Wessel Strydom -1 hour ago
Laptop e..... Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -1 hour ago
Laptop... Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -1 hour ago
Thumbs up Forum Herstel en terugvoering Geert -1 hour ago

Namibië toe

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Ek is nog besig om weer my voete hier by die huis te vind na die afgelope kort wildtuin-vakansie. Maar die beplanning vir die komende kort Namibië-trippie kan nie agterweë bly nie want dit is om die draai. Ek het skaars uitgepak en ek is al weer besig om my inpak lys agtermekaar te kry. Amper al wat bykom op die lys is paspoorte. Hierdie keer kan ek die 40 liter Waeco (wat intussen herstel is) saamneem, want ek kan maar net vir die eerste 4 aande vleis saamneem. Met Suid-Afrika se bek-en-klouseer status mag ons nie vleis oor die grens  neem nie (en ek wil nie kanse vat nie).

Ons vertrek (DV) op 20 April. Ons reisplan sien as volg daarna uit:

20 Apr: Donkieshoek (Lekkeslaap) - Calvinia

21 Apr: Kalahari Guest Farm - 51 km noord van Upington

22 & 23 Apr: Twee Rivieren, Kgalagadi Oorgrenspark

24 Apr: Plaas Kowes (Lekkeslaap) - 30 km suid van Gochas, Namibië

25 Apr: Casa Amico Mio (Lekkeslaap) - Windhoek

26 & 27 Apr: Quivertree (Lekkeslaap) - Swakopmund

28 Apr: Hudup Guest House (Lekkeslaap) - Maltahöhe

29 & 30 Apr: Villelodge (Lekkeslaap) - Lüderitz

1 Mei: Grünau Chalets - Grünau

2 Mei: Maskam Guest Farm (Lekkeslaap) - Vanrhynsdorp

3 Mei: Tuis

Ek sal seker maar eers na die toer kan terugvoering gee, want datasein sal seker maar 'n probleem wees aangesien ek nie oor "roaming" beskik nie en dit sal buitendien maar duur wees. My skoonseun en kleindogter was nog nooit in Namibië nie en my dogter was 38 jaar gelede laas daar. Dit is eintlik maar om hulle onthalwe dat ons die toertjie doen - en vir eers dan platsak is wat vakansie-begrotings aanbetref.

Worcester

Wildehont

Fri, 26/04/2024 - 08:12

Ek was meer as 12 jaar laas in Namibië. Dit was toe ons my oorle moeder gevat het om die item op haar kluitklap lysie af te merk. Ek sal vrek graag weer wil gaan, maar dis net te ver vir bv ‘n Desembervakansie, veral as mens kampeer en heeltyd moet op- en afslaan. Geniet julle toer terdee. Gaan julle met die Khomas Hochland pad ry Swakopmund toe? Ons het dit in 2002 met motorfietse gedoen toe ons aan die Bike SA Desert Run deelgeneem het. Die landskappe is pragtig. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 26/04/2024 - 15:35

Ons was @ 14:00 hier. Nee Wildehont, ons het teerpad langs via Okahandja, Karibib en Usakos gery. Ons het die Hilux volgemaak met diesel in Okahandja (R22.17/liter) en onsself gevul met 'n Wimpy brekkie.

Net buite Usakos is 'n plek by 'n Shell vulstasie waar ons altyd lekker biltong, droëwors en chili bites koop as ons Henties toe gaan. Ons het vandag dieselfde gedoen - top-kwaliteit.

By Arandis, sowat 30 km vanaf Swakop het die bakkie gewys dat die buite temperatuur is 37°C - die hoogste nóg sedert verlede Saterdag toe ons reis begin het. Maar toe ons hier in Swakop arriveer is die temperatuur 16°C met 'n dik laag mis wat oor die see hang.

Ons is tuis in 'n puik plek wat ek deur Lekkeslaap gevind het. PUIK!!! Ek sal die video clip plaas saam met ander wat ek eers op You Tube moet laai as ek eers terug by die huis is.

As die weer ons toelaat is daar môre quad bikes in die duine op die spyskaart, asook Duin 7 vir diegene wat daarvoor kans sien. Ek en ouma sal maar net kyk.

Dan wil ek baie graag ook 'n maaltyd en Hansa Draught by Windpomp 14 gaan inwerk.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Fri, 26/04/2024 - 18:42

dis tye soos hierdie wat ek ook sê ek wens ek was nou daar! Ons ken Swakopmund en omgewing redelik - het 'n paar maal vir ons dogter gaan kuier terwyl sy in Langstrand gewoon en in Swakop gewerk het. Alhoewel dit 'n pragtige pad tussen die twee dorpies is, het ons al die nagmerrie beleef van daardie digte mislaag waarvan jy praat oor die pad sowel as 'n erge sandstorm wanneer die oos-wind waai. Maar sal graag weer wil teruggaan.

Geniet dit en maak die beste daarvan.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 28/04/2024 - 07:11

Ons het gister 'n fantastiese dag hier in en om Swakop gehad. Eerstens was Duin 7 aan die beurt. My dogter was die enigste een wat die duin kon oorwin. Tot my eie skande moet ek sê dat ek nie eens probeer het nie.

Na verwondering aan die duisende flaminke by Walvisbaai (hierdie is maar 'n klein klompie)

Swakop

het ons 'n lekker middagete in Walvisbaai se waterfront gaan geniet.

Swakop

Swakop

En toe vir my kleindogter se hoogtepunt van die hele trip - quad bikes in die duine. Hulle het hulself gate uit geniet.

Swakop

Daarna het ons gou 'n draai in Hentiesbaai gaan maak, want my dogter wou dié plek sien waarna haar broer keer op keer terugkeer (reeds weer op 6 Mei). Aag, en toe hunker my hart darem ook om weer 'n slag 'n ou lyntjie te gaan natmaak langs hierdie unieke stuk Namibwoestyn-kuslyn.

Vandag ry ons Maltahöhe toe via Solitaire, waar ons hoop om van oorlede Moose McGregor se  apfelstrudel te happe te kan kry.

Ons weer was maar koelerig hier in Swakop (20°C), maar ons keer weer vandag terug na die 30's+. Môre, na ontbyt by die Helmeringhausen Hotel, hoop ons om die wilde perde van Aus te siene te kry op pad na Lüderitz - waar Kolmanskop o.a. op ons "te sien lysie" is.

0
Oudtshoorn

neef Herman

Sun, 28/04/2024 - 07:37

Wat ń lekker, amper warrelwind, toer is dit nie! Julle maak lekker memories, so herhaling sal seker nie gou gebeur nie.  Hoop julle kry die perde, ek was nog nooit by hulle suiping nie, wonder of mens tot daar kan ry. Luderitz , en die Shark Island ksmpeerplek, is net so besienswaardige plek. April maand is dit hopelik windstil, want dáár waai die wind wragtig. Geniet dit Chris, lekker om julle te volg. 

0
Brits

Wessel Strydom

Sun, 28/04/2024 - 07:38

....van vakansie hou!!!! Julle gaan moontlik letterlik lekker doodmoeg wees, van vakansie hou. 

Het jy en Ralie ook quadbike gery. ??

Hilux het lanklaas so hard gewerk. Jy moet maar die peilstok uittrek en kyk of hy bietjie olie kort, mens weet nooit.

Verlede jaar met ons Namakwaland toer, weliswaar woonwa gesleep, dog ek mos ewe windgat dat dit nie nodig is om te kyk nie. Terug by die huis, na so 4000km, kyk ek toe wel. Tot my verbasing moes ek 200ml, olie by gooi. Baie ontsteld gewees, maar Toyota seg, dis normaal.   

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 28/04/2024 - 18:31

Ons is veilig in Maltahöhe, maar nie sonder 'n bietjie drama nie - 'n papwiel sowat 70 km vanaf hier. Gelukkig het die banddruk-monitor my betyds gewaarsku. 'n Korterige skroefie in die band was die sondebok. Ek en my skoonseun het net die wiel afgehaal en gou 'n "plug" ingesit, die band weer gepomp, teruggeplaas en voila - "Bob's your uncle". Ek sal gou môre-oggend, terwyl die bande nog koud is, weer die drukke nagaan.

Daar word vanaand 'n stukkie dooie hoender op die kole gegooi en môre-oggend beplan ons om in Helmeringhausen Hotel te gaan brekfis.

Vir my kinders se onthalwe hoop ons om Aus se wilde perde te siene te kry. Ek en Ralie was al gelukkig om hulle te sien. En Neef - ja, daar is 'n paadjie tot by hul drinkplek.

Ek hoop Lüderitz se berugte oostewind is ons genadig. Vandag het 'n warm (37°C) wind dit 'n bietjie ongemaklik gemaak toe ons by Vogelfeerdeberg gestop het.

Maltahohe

Die ruwe kranse in die Gaubpas, waar jy die rivier kruis, bly altyd maar mooi. Dit is 'n tradisionele stilhouplek as ons woestynlangs terugry vanaf Henties. Maar die pad laat tans plek-plek veel te wense oor. Gelukkig is hulle besig om groot dele tans te omskep in soutpad  - wat soos 'n teerpad ry.

En die bekende Apfelstrüdel by Solitaire is beslis nie meer so lekker soos toe ou Moose McGregor dit nog gemaak het nie.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Sun, 28/04/2024 - 19:07

Dankie Chris, dit lees so lekkerlaugh

Jammer vir die bietjie teëspoed en die apfelstrüdel is sommer 'n grooot teleurstelling, ai. Hou styf duimvas dat die wilde perde môre oor julle pad kom.               

0
Sedgefield

Jan Meyer

Sun, 28/04/2024 - 19:14

ChrisB is bly............................................julle is veilig. Ons het 8jaar gelede naby Solitaire oornag en van daar na Langstrand tussen Walvisbaai en Swakopmund deur die Namib  gery.  Baie stil pad en die dooie landskap iets besonders. 

Het gestop op een duin en foto geneem na voor en agter en al wat jy sien is sand. 

0
Worcester

Wildehont

Mon, 29/04/2024 - 10:18

Dit lyk of julle baie lekker toer. Ek sien julle het Sossusvlei oorgeslaan. Is daar ‘n spesifieke rede daarvoor of het julle daar ingedraai oppad Maltahöhe toe en ek het dit mis gelees?

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 29/04/2024 - 16:04

Ons het Sossusvlei hierdie keer oorgeslaan. Ek wou graag in daardie omgewing oorbly, maar die lodges naby Sossusvlei is onbekostigbaar vir hierdie oukêrel. Ek het selfs vir blyplek naby Solitaire gekyk, maar daardie plekke neem nie ons ouens wat hul maandelikse inkomste in Rand en Sent verdien in ag nie. Hulle dink net Euro's en Dollars (nie Namibiese Dollars nie).

En my ervaring van enkele jare gelede was dat die pad tussen Solitaire en Sossusvlei skrikwekkend sleg was. En laastens kon ons dit nie sinvol inpas in 'n enkele dag se bedrywighede tussen Swakop en Maltahöhe nie.

Ek het ook na my enigste besoek aan Sossusvlei en Sesrien canyon besluit "saw that - done that".

Ons blyplek in Maltahöhe was eenvoudig, maar skoon, gerieflik en lekker. Ons eerste stilhouplek vandag was toe Helmeringhausen Hotel waar ons 'n aangename "brunch" geniet het.

Helmeringhausen

Helmeringhausen

Helmeringhausen

Die gruispad wat ons vandag gery het totdat ons net buite Aus by die B4 aangesluit het was vir lang ente maar rof en onbeskof. Namibië se gruispaaie is nie meer vergeleke met Suidwes-Afrika se gruispaaie van destyds nie. Maar dat ons wonderlike landskapstonele gesien het is nie altemit nie.

En ons was gelukkig om sommer 'n klomp Namib perde te sien. Jy kan dit nie wilde perde noem nie, want hulle is al só mensgewoond dat hulle eintlik nader kom om gevryf te word.

Perde

Perde

Perde

0
Worcester

Wildehont

Mon, 29/04/2024 - 16:23

Namibië se gruispaaie is nie meer vergeleke met Suidwes-Afrika se gruispaaie van destyds nie.

Tydens ons laaste besoek in 2012 was dit al die geval. Veral die gedeelte tussen Duwisib en Sossusvlei verby Namibrand NR was toe ‘n sinkplaat nagmerrie. 

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 29/04/2024 - 16:54

.....en is so bly al die inligting is vasgesluit op die forum. Chris en Chris se padinligting is werklik "stof" tot nadenke. Lyk my mens moet maar op die teerpaaie probeer bly. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 29/04/2024 - 17:48

... nee, jy kan maar die gruispaaie aandurf met Grompie - ek bedoel as jy bloots ry. Wel, die Kavango is mos bedoel vir gruispaaie. Ek sien heelwat boswaentjies wat saamgesleep word, maar die meerderheid van mense wat kamp doen dit met "roof top" tente. Maar so "once in a while" kan 'n mens jou maar bederf met vaste akkommodasie as jy die plekke wil sien waarnatoe jy nie wil/kan sleep nie. Ek sou mos glad nie dié mooi plekke kon besoek met die "ou lady" agteraan die Hilux nie.

Vat nou vir Marie op 'n lekker Namibië-trippie. Al is dit net een keer. Onthou - 'n doodskleed het nie sakke nie.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 29/04/2024 - 18:22

Naand Chris, dis nou waar die wiskundige model sy blaker sien. As mens net geweet het wanneer die kleed aangetrek gaan word, dan kan mens oordeelkundig spandeer het, om platsak die kleed aan te trek. 

Ek het nie 'n probleem om niks vir "arme" kindertjies te los nie, maar die onbekende datum maak bepaling van spandering tempo totaal onbekend. 

Geniet die laaste stuk huistoe 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 29/04/2024 - 18:32

Ons was net na 15:00 hier in Lüderitz - op 'n pragtige dag. Dit is ongekend warm vir Lüderitz (29°C), maar môre klink dit meer na normaal (23°C). Ek hoop net die wind trek ons nie 'n streep nie, want ons wil graag môre Kolmanskop besoek - en dit wil mens nie graag in sterk wind doen nie. Dan lê daar ook nog 'n beplande besoek aan Diazpunt voor.

Ek het nie gereken ek sal dit ooit sê nie, maar ek is nou taamlik gatvol van braai. Gevolglik vat ek die aand af en die vrouens timmer vir ons lekker kerriehoender en rys aanmekaar.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 29/04/2024 - 18:53

.......vir 'n lekker-lees toer saam met julle, en met interessante detail vir ander wat so 'n Namibië toer oorweeg.

Jy stel nou hoë standaarde vir vakansie/wegbreek terugvoering en dit laat my nou bekommerd. My ou Kruger Wildtuin toertjie kan mos nooit met soveel interessante inligting vorendag kom nie.

Geniet die laaste deel van julle toer.

0
Pretoria

Geert

Mon, 29/04/2024 - 18:57

Dankie ChrisB.............

.......vir 'n lekker-lees toer saam met julle

Stem saam....toer lekker saam

0
Vaalpark

Johann L

Mon, 29/04/2024 - 19:41

Hierdie "armougat" toer net so lekker saam, dit is al hoe ek Namibia weer sal sien.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus