6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Thumbs up Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -35 minutes ago
Skinder??? Forum Herstel en terugvoering Wessel Strydom -1 hour ago
Wessel daar was 'n paar… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -2 hours ago
Hou net die letter e in vir… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -2 hours ago
Laaste oor die dekselse kappie Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -3 hours ago
Lower Sabie Kruger 2026 Geert -3 hours ago

Namibië toe

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Ek is nog besig om weer my voete hier by die huis te vind na die afgelope kort wildtuin-vakansie. Maar die beplanning vir die komende kort Namibië-trippie kan nie agterweë bly nie want dit is om die draai. Ek het skaars uitgepak en ek is al weer besig om my inpak lys agtermekaar te kry. Amper al wat bykom op die lys is paspoorte. Hierdie keer kan ek die 40 liter Waeco (wat intussen herstel is) saamneem, want ek kan maar net vir die eerste 4 aande vleis saamneem. Met Suid-Afrika se bek-en-klouseer status mag ons nie vleis oor die grens  neem nie (en ek wil nie kanse vat nie).

Ons vertrek (DV) op 20 April. Ons reisplan sien as volg daarna uit:

20 Apr: Donkieshoek (Lekkeslaap) - Calvinia

21 Apr: Kalahari Guest Farm - 51 km noord van Upington

22 & 23 Apr: Twee Rivieren, Kgalagadi Oorgrenspark

24 Apr: Plaas Kowes (Lekkeslaap) - 30 km suid van Gochas, Namibië

25 Apr: Casa Amico Mio (Lekkeslaap) - Windhoek

26 & 27 Apr: Quivertree (Lekkeslaap) - Swakopmund

28 Apr: Hudup Guest House (Lekkeslaap) - Maltahöhe

29 & 30 Apr: Villelodge (Lekkeslaap) - Lüderitz

1 Mei: Grünau Chalets - Grünau

2 Mei: Maskam Guest Farm (Lekkeslaap) - Vanrhynsdorp

3 Mei: Tuis

Ek sal seker maar eers na die toer kan terugvoering gee, want datasein sal seker maar 'n probleem wees aangesien ek nie oor "roaming" beskik nie en dit sal buitendien maar duur wees. My skoonseun en kleindogter was nog nooit in Namibië nie en my dogter was 38 jaar gelede laas daar. Dit is eintlik maar om hulle onthalwe dat ons die toertjie doen - en vir eers dan platsak is wat vakansie-begrotings aanbetref.

Brits

Wessel Strydom

Tue, 30/04/2024 - 06:02

Môre Chris, ons lees lekker aan jou toer, MAAR onthou jy het meer belowe sodra jy tyd het. Ek wag om die video grepe te sien.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 30/04/2024 - 09:36

Dit is vanoggend 'n ware droomoggend wat die weer aanbetref in Lüderitz. Hier trek nie 'n luggie nie en daar's geen teken van 'n wolkie in die lug nie. Ons mik vir die 11;00 toer by Kolmanskop, afgesluit met ete in hul restaurant. Daarna Diazpunt toe.

Lüderitz se Kreeffees het gister afgeskop. Dit is 'n groot bedrywigheid in die dorp. So lief soos wat ek vir kreef is, sal ek dit maar 'n 'mis' gee. Ek's nie iemand vir sulke bedrywigheid nie. 

Ons bly nie in die mooiste deel van Lüderitz nie, maar dit is ten minste baie netjies.

Namibië is darem maar 'n top toerisme-bestemming. Daarmee sê ek nie dat SA nie is nie, maar hier voel ek net baie veiliger.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 30/04/2024 - 14:05

Dit was vanoggend my tweede besoek aan Kolmanskop. Hierdie keer was dit net om hierdie besonderse besienswaardigheid aan my ver kinders te gaan wys.

Soos boontoe genoem, is dit 'n pragtige dag in Lüderitz - 26°C met geen wind (amper té warm). Maar ek is dankbaar want hier kan die wind jou van jou voete af waai. Ek dink die drie kampeerders wat ons gister op Shark Island (kampeerterrein) gesien het is ook baie dankbaar. Daar voel dit blykbaar of die wind jou die see in kan waai.

Ek plaas sommer enkele foto's van Kolmanskop. Ek sal die video clips eers by die huis op You Tube laai voordat ek dit hier oorplaas.

Kolmanskop

Kolmanskop

Kolmanskop

Kolmanskop

Dit is eers as jy die interessante geskiedenis van hierdie sandverwaaide plek hoor (soos oorgedra deur 'n uitstekende gids) dat jy waardering kry vir dit wat hier plaasgevind het. Diamante is letterlik van die grond af opgetel om uiteindelik meer as 5 miljoen karaat diamante op te lewer. Maar die ongenaakbare woestyn is stelselmatig besig om die omgewing (danksy sandstorms) terug te eis.

Kolmanskop

Kolmanskop

Kolmanskop

Kolmanskop

Maar in hierdie barre woestyn is daar nog plantjies wat ten spyte van swaarkry en 'n sukkelbestaan steeds blommetjies uitstoot. Dit is eintlik 'n waardevolle les vir my. Blom terwyl jy nog lewe - ten spyte van moeilike omstandighede. Hier op ons forum is sulke voorbeelde. Ek dink aan Len en Neef wat steeds 'n positiewe uitkyk het ten spyte van gesondheids terugslae.

Kolmanskop

0
Worcester

Wildehont

Tue, 30/04/2024 - 14:55

Dankie vir die foto’s en die lewensles. Ek wil dit ‘n stappie verder neem en sê mens moet blom waar jy geplant is. Vir ons aan die Suidpumt van donker Afrika is dit veral nou waar. Die Here het ons met ‘n rede hier geplant, en as ons blomme verwelk terwyl die woestynsand alles wat opgebou is deur ons en ons voorvaders onder die sand toewaai gaan dit maar ‘n vaal landskap agterlaat. As elkeen van ons en ons mede-burgers hulle bes doen in alles wat ons aanpak en mekaar met respek en vriendelikheid bejeen kan die stofstorms maar kom. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 30/04/2024 - 15:19

... Wessel. Ek sal in elk geval nie weet wat om daarmee te doen.

Ons beplan om binne die volgende paar minute te gaan kyk waar Bartlomias Dias sy kruis geplant het. Die windjie begin nou liggies trek en koel darem die warm omgewing 'n bietjie af.

Daarna gou na die plaaslike Spar gaan om te sien wat hulle beskikbaar het vir vanaand se braai asook môre-aand s'n in Grünau. Ons het geen plekke tussen-in om vleis te koop nie.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 30/04/2024 - 18:11

Ons was toe laatmiddag by Diazpunt. As mens in hierdie omgewing kom is dit die moeite werd om die 19 km tot daar te ry. Ek plaas 'n paar foto's van die omgewing.

Diaz Punt

Diaz Punt

Diaz Punt

Diaz Punt

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 30/04/2024 - 18:54

Absoluut. Ek dink dit is 'n groot "money spinner" met toegangsgeld van R150 per persoon - en baie mense, veral buitelandse toeriste (Duitsers by die hope), besoek Kolmanskop.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 01/05/2024 - 17:51

Nadat ons vanoggend uit Lüderitz weg is, het ons sowat 150 km later ontbyt geëet by Biltongplaas se padstal. Wanneer laas het ek 'n maalvleis-knypbroodjie ("jaffel") geëet.

Biltongplaas

En toe vat ons die pad na die Visrivier Canyon se uitkyk. Kort duskant Hobas, die ingang na die uitkyk, sit Canyon Roadhouse sommer knap teen die pad. Watter fantastiese plek!!

Canyon Roadhouse

Canyon Roadhouse

Soos voorheen genoem, plaas ek videos wanneer ek eers by die huis is.

Die canyon is maar asemrowend. Geen foto kan daaraan reg laat geskied nie.

Canyon

Intussen het ons by Grünau Chalets arriveer vir ons laaste aand in Namibië. En môre steek ons die grens oor vir ons laaste aand van hierdie kort vakansie op Maskam Gasteplaas by Vanrhynsdorp.

0
Pretoria

Geert

Wed, 01/05/2024 - 17:59

Ons beplan om binne die volgende paar minute te gaan kyk waar Bartlomias Dias sy kruis geplant het.

Die Dias kruis....is dit daai klein een agter julle familie foto?

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 01/05/2024 - 19:13

... Geert. Dit is 'n replika van die oorspronklike kruis. Dit is van graniet of een of ander soort klip. Ons het juis gister gewonder waarvan die oorspronklike kruis gemaak was.

Dit was mooi om by die kruis te luister na die geblêr van klein robbe op die rotsagtige eiland 'n entjie van die kruis af.

Diazkruis

Hieronder het die oukêrel (lelike ou donner) 'n selfie van homself geneem voor die kruis wat omtrent 1.8 meter hoog staan. 

Diazkruis

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 01/05/2024 - 19:51

Nee wat ou maat, nou is ek doodseker dat jou dogter na haar Ma lyk. laugh

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Thu, 02/05/2024 - 21:21

Volgens beplanning moet julle dan vanaand weer terug wees op eie bodem?

Geniet die laaste aand en ek hoop dat julle môre ook 'n veilige en voorspoedige pad sal hê

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 03/05/2024 - 06:51

... ja, ons het gisteroggend die grens oorgesteek en het laasnag by Maskam Gasteplaas buite Vanrhynsdorp oornag.

Maskam

'n Lekker gerieflike selfsorgplek met die pragtigste uitsig oor die Maskam- en Gifberge.

Maskam

Vandag is weliswaar die laaste skof van ons afgelope warrelwind (maar baie lekker) toertjie.

0
Worcester

Wildehont

Fri, 03/05/2024 - 08:05

Julle moet veilig ry terug huis toe. Ons het lekker saam gery. Dis duidelik dat julle heerlike ervarings en herinneringe gebou het. Ek sê altyd; sulke ervarings en herinneringe is baie meer werd as enige materiële besitting. Niemand kan dit by jou steel nie, en dit kan nie in ‘n winkel gekoop word nie - al het jy Elon Musk se bankrekening. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 03/05/2024 - 10:57

Nee Wessel, net verskeie huisies lekker ver uitmekaar sodat jy nie weet van ander besoekers nie - alhoewel ons gisteraand die enigste gaste was.

Ek sal weer 'n terugskouings-verslag doen met video clips.

Tans in Piketberg vir 'n Spur-brekfis. Ons hoop om vroegmiddag by die huis te wees. O wee - dan wag 'n grootskaalse bakkie-was. Praat van vuil en vol stof!! Amper grillerig na 100de kilometers se gruispad. Eintlik skaam om daarmee te ry.

0

Ek het darem nou lekker saam julle getoer. Lyk my dit was kort maar kragtig. Dankie vir die fotos en mooi skrywe.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus