Goeie môre, daar breek die 2de maand van die jaar al aan.
Die kraaie gaap behoorlik die laaste 3 weke hier om en in Brits, ek kan myself net nie gemotiveer kry om in die hitte te gaan probeer kampeer nie.
Ek is jaloers op julle wat in die koeler klimaat woonagtig is, wat so bietjie, tot 'n maand lank, wegbreek van die roetine.
Laat ons gesels met mekaar
Ons gaan wildtuin toe!!!
Nog laaank van nou af, maar dit is vanmiddag ooreengekom. Vanoggend bel ons dogter en ons klets sommer oor ditjies en datjies. Om 14h35 kry ek weer 'n oproep van haar - wil julle wildtuin toe gaan, julle kan my bespreking kry? Sê net wanneer, want Ezi Bookings sluit oor 'n halfuur. Dit was vinnig dink, en ja dankie, enige kampe sal reg wees - hou dit maar suid.
Die 16e April is dan ons eerste aand in Berg-en-Dal. Daarna 4 aande in Satara en 4 in Skukuza. Wanneer ons eers daar is en uitruilings moontlik is kan ons die kampe dalk 'n bietjie skommel.
Dit beteken ook dat ons teen Julie Weskus se kant toe kan beweeg. Ek los dit maar eers vir later....
Spesiaal vir Wessel (om nie die ekologie-draad op te saal nie): íémand moet vir die olifante lief wees![]()
Wessel...
my bussie staan en trippel, so dit sal kampering wees. Ek kan nie dink in watter jare ons laas 'n "bespreekte" vakansie gehad het nie - hierdie is 'n uitsondering en geensins beplan nie. Ons is tans met baie ander dinge besig. Ook is dit nog ver van nou (2 maande) maar die opgewondenheid skemer so af en toe deur. Met geen idee van hoeveel paaie nog gesluit gaan wees nie en as gevolg daarvan druk verkeer op die hoofpaaie, sal hierdie kuier moontlik anders wees as wat ons die wildtuin gewoonlik ervaar. Ons sal wel die beste daarvan maak - iewers moet 'n digte koelteboom wees of 'n dam waar ons die ganse dag kan spandeer (eerder as om in 'n kamp te sit). Dit is die voordeel van my bussie....alles is byderhand en ons kan rondloop (al is dit net 5m vorentoe en weer terug
)
Rona...
...kyk of jy op Sanparke se Face book blad die paaie inligting kan kry. Geert trek periodiek die info daar af.
Ek is onder die indruk dat die suide, tot by veral Satara omgewing, die meeste paaie, grond ingesluit, rybaar is, of gaan wees.
Ons wil egter van Satara af boontoe sleep na Tsendze toe. Dit beteken die paaie en bruê rondom noord van Letaba moet oop wees. Dan wil ons by P.borwa hek uitkom huistoe, hopenlik met H14,maar as dit moet ry ek Letaba om.
Gelukkig het mens baie roete opsies om Satara en Skukuza, mens kan elke dag 'n ander pad ry.
Timbavati pad
Solank die S39 toeganklik is, is ek in my element. Hierdie roete is ons gunsteling en het nog nooit teleurgestel nie. Soms is daar min diere, maar die pragtige bome maak op daarvoor. Ook is daar 'n kol(letjie) Mopaniebosse waar sonbesies mens doodskree gedurende die hoog-somer, maar dis gelukkig klein en ek dink in April behoort dit rustiger te wees. Mopanieveld - ek moet nog leer om lief te raak vir daardie geweste met die mooiste kampe in die wildtuin.
Ek hou duim vas vir julle, Wessel, dat die meeste skade herstel sal wees teen die tyd dat julle daar inboek. Gisteraand darem gehoor dat die brug by Letaba nou prioriteit is. In terme van tyd het ek egter geen idee wat dit behels nie.
Die lieflike aspek van mopanieveld
Mopanieveld - ek moet nog leer om lief te raak vir daardie geweste
Gelukkig voel die meerderheid van die besoekers so, en verkies hulle die Suide. Dit beteken mens kan ure lank rondry sonder om ander voertuie te sien en jy hoef nie te baklei vir ‘n gaatjie by gewilde diere soos luiperds en leeus nie.
Ek moet egter erken dat ek die mooi groot bome in die Suide mis. Dis waarom ek so lief is vir die Mphongolo pad noord van Shingwedzi. Ek wag ook nog maar om te sien of ons daar sal kan uitkom in Julie.
Geniet die uitsien na julle komende besoek aan die Krugerwildtuin Rona!
Sooo bly ek "ken" vir Geert
Hierdie regverdig seker 'n draad op sy eie. Ek dink meer forumlede sal met my saamstem. Waar hy al die inligting wat mens nodig het opspoor weet ek nie, maar solank hy my vriend is maak dit nie saak nie![]()
Gister was weer een van die dae wat ons "soms" internet toegang gehad het gedurende die dag en toe dit aand word...niks!! Teen 11 uur gisteraand het ek maar net alle proppe uit die muur getrek en gehoop dit werk - was nog aangeteken op die forum. Jannik Sinner het daarna ook sy tenniswedstryd verloor. Ek dwaal af...
Wat verder in daardie tyd gebeur het, is dat Geert vir my 'n opdatering gestuur het t.o.v. paaie, brûe en kampe van die wildtuin. Ek het ongelukkig sy boodskap netnou eers kon lees. Daar is baie goeie nuus vir my....die S39 is oop!! - ander paaie ook, en om dit te bestudeer gaan lekker tydverdryf wees vanaand.
DANKIE GEERT.
Wildehont
Dankie vir die goeie wense. Ons raak al meer opgewonde oor ons wildtuin-kuier. Sover is my 10-jaar-oue COBB 'n nuwe toevoeging en met goeie nuus oor die stand van paaie raak die vooruitsigte al lekkerder.
Nou klets ek sommer hier verder. "Nuwe toevoeging": Grootwind gaan na 'n woonwa-skou met die gedagte om nuwe gadgets aan te skaf vir hulle komende (bespreekte) vakansie (nie om vir Grootwind uit te sonder nie, net maar omdat dit tans nuus is). Ons bespreek feitlik nooit vir 'n wegbreek nie. Alles wat nodig is vir kampering is in my bussie, en bly daar. Aangesien dinge dan gewoonlik op die ingewing van die oomblik gebeur, pak ons klere en soms kos (wat gewoonlik ook vorentoe besikbaar is). Ons kamp minimalisties, wat vir ons goed is, maar sou ons vakansies vooruit bespreek het, was hier ook moontlik 'n stoor vol braaiers en wat meer... Ek kom tot die gevolgtrekking dat bespreekte vakansies en die groot uitsien daarna baie te doen het met hoeveel "goed" mens aanskaf en saamneem....??
Kamp katoeters
Ek is die tipe wat hou van bespreekte vakansies. Dan weet ek, ek het slaapplek elke aand.
Ek is nie 'n katoeter persoon nie. Hou net van gemaklik kampeer. Die beterhelfte is baie gelukkig as daar 220V is. Dan kan die mikrogolf werk. die elektriese ketel is 'n bonus.
Alle ander kosse bestaan uit braai op 1 braaier wat ek saamry, en pan kosse op die gasplaat van woonwa. Ons ry nie eers 'n elektriese braaipan saam nie.
Rona, jou persepsie oor enige verband tussen bespreekte vakansies en aantal katoeters geld nie noodwendig nie. Ek vermoed daar is 'n baie groter verband tussen persoonlikhede [tov kosmaak] en aantal katoeters.
As die sterre belyn
Daar is ‘n hele aantal faktore wat ten goede moet meewerk, maar sou dit gebeur is ons DV oor vyf weke vir ons derde aand by Dwarswegstrand. Daar is geen ander kampeergeleenthede in die vooruitsig voor dan nie. Die ekonomie het my verslaan.
Sou ek genoeg fondse bymekaar kon skraap, moet die Prado gediens word, kampering by DWS betaal word en die Kavango se remskoene en kabels vervang word voordat ons kan haak en sleep op 27 Maart.
Witvanguil ???
Dit is my beskeie raaiskoot, die kenners moet asb reghelp.
Ek hoop die uil het 'n vaste verblyf gevind daar, ten minste is daar mos 'n groot konstante voedselbron, genaamd kerkmuise!!!!
Geert, jy hoef nie kerk se naam te noem nie![]()
Oudword is....
...nie vir sissies of wetenskaplikes nie.!!!!
Sukkel ek nou al geruime tyd net om weer XCell spreitabel te verstaan en grafieke te kan teken. dis bly handige gereedskap om data voor te stel, hetsy koperkabel weerstande as funksie van dikte of dan ingewikkelde polinomiese funksies te pas.
Ek het na groot gesukkel agtergekom dat mens syfers met "kommas" in plaas van "punte" moet tik.![]()
![]()
Witwanguil
Dink dit is wat Wessel bedoel het. Pragtige foto Geert. Ons verwag nou elke Sondag 'n opdatering, dankie![]()
Witwanguil
Daar het een in die boom buite die ontvangs by Nossob gebly toe ons laas daar was.
Gebieds gebonde?
Is hierdie Witwang uil gebieds gebonde of trek hul maar rond?
Wens die uil wil by die kerk bly....
en so sommer self vir Geert antwoord, dan weet ons ook
Met geen idee of hulle gebiedsgebonde is nie, het ek gaan kyk of ek meer inligting kan kry. Om mee te begin is daar geen melding van dorpe/stede/woongebiede nie. T.o.v. habitat: "Oop, droë doringveld of boomveld" - Voëls van Suider-Afrika. Verder is hulle skynbaar uitsluitlik aktief gedurende die nag. Bedags krimp sy lyf om hom te kamoefleer in digte boomtoppe.
Die witwanguil in die foto wat Geert geplaas het lyk alles behalwe inmekaargekrimp of bang - eerder of hy belangstel in wat om hom aangaan. Dit sal regtig interessant wees om te hoor of hy besluit het om te bly.
Witwanguil
Sasol voëls van Suider Afrika dui die uil as 'n "standvoël" aan. Dit beteken glo dat dit nie trek nie maar hele jaar in die gebied bly.
Ongelukkig beteken dit dat die uil NIE noodwendig kerkvas gaan wees nie. Maak nie saak wat sinode besluit nie![]()
Broeipare is gebiedsvas
Volgens Roberts is die broeipare erg gebiedsvas (territorial) en in SA lê hulle gewoonlik in Februarie.





Probleem met die Internet is…
Probleem met die Internet is dat enigiemand en sy hond enigiets kan kwytraak en dit verkoop as evangelie. Wat Youtube en TikTok aanbetref het jy net 'n kamera en "nonsens" nodig en Voila! jy kan jou menings "verkoop" as feit. Dis een van die redes waarom navorsers nie daarvan hou as die platforms (Wikipedia ingesluit) gebruik word as 'n navorsingsbron nie, die goed is grootliks "free for all" met weinig "checks & balances" of dan "peer review". "Feit of Flater" maak nie saak nie, solank mens die "feite" verpak dit dat dit lyk soos wetenskap is jy reg. Natuurlik word daar ook foute gemaak in enige legitieme navorsing, maar die sg. "scientific method" vereis minstens dat daar behoorlike "peer review" plaasvind en van tyd tot tyd word ouer wetenskap ook herbesoek en dit kan lei dat die ouer wetenskap nie meer as korrek geag word nie en dus hernu of vervang word, of dat dit weereens as "waar" bewys word. Tans is daar min navorsing beskikbaar oor die dieet meer belangrik egter oor enige langtermyn gevolge. Die karnivoor of dan Keto ding is tans hoog mode. Mense (ook forum lede!) kan nogal warm onder die kraag raak as mens hulle weergawe van "waarheid" aanvat! Wat die karnivoor ding aanbetref sal ek my eerder verlaat op wetenskaplike argumente as op 'n paar individue wat Youtube na Youtube vrystel om hulle "waarheid" te steun. Laastens, ek vat jou nie persoonlik aan nie Chris, eerder die sg. aansprake deur die karnivoor dissipels, wat jy eet en drink is jou saak maar wetenskap en my eie (wetenskaplike) logika sê vir my daai dieet is verkeerd. Om Prof Google AI aan te haal: "The carnivore diet is considered a fad diet lacking rigorous, long-term scientific evidence for safety. Ook vanuit Google AI rondom die sleutel figure van die dieet:
Key Medical Advocates & Figures
Nou ja laat die klippe maar kom!