Goeie môre, daar breek die 2de maand van die jaar al aan.
Die kraaie gaap behoorlik die laaste 3 weke hier om en in Brits, ek kan myself net nie gemotiveer kry om in die hitte te gaan probeer kampeer nie.
Ek is jaloers op julle wat in die koeler klimaat woonagtig is, wat so bietjie, tot 'n maand lank, wegbreek van die roetine.
Laat ons gesels met mekaar
Voolie staan sterk
Voolie staan sterk. So dat sy al in gevegte betrokke raak met ander mossies wat op haar " turf" kom. Lekker hardegat. Het tot vir Von al oop- bek aangegluur waneer sy vir die hokkie skoon kombuispapier insit. Dan klim sy in, skeur so paar stukkies papier af, ruk die res op ñ hoop en gaan sit tevrede buite die wêreld en beskou.
Rona, sy sal seker eendag wegraak, dit is maar die gang van die natuur. Tot dan geniet ons haar.
Volvo herroep....
.....40 000 van sy EX30 modelle weens 'n brandgevaar. Volgens die engelse koerant is die voertuie geneig om aan die brand te raak terwyl die batterye herlaai word. Blykbaar het dit te doen met die spesifieke batterye, Nikkel-Mangaan-Cobalt samestel.
Dis 'n harde slag vir so 'n veiligheidsbewuste vervaardiger.
Dankie Neef Herman
Daardie "eendag" is waarvoor ek asem ophou. Mens raak nie net geheg aan die diertjies nie maar ook lief vir hulle - ek sien dat, wat Vool was (toe sy klein was) het nou Voolie geword....
Nou nie 'n wilde voëltjie storie nie, maar toe ek nog 'n kind in die huis was het my ma met hoenders geboer. Op die plaas was 'n groot stoor (afdak) waar sy dan hokke en neste gebou het, terwyl die hoenders bedags vry loop. Sy het gereeld sulke plat kartondose vol dag-oud kuikens (100 per boks) van iewers af bestel. Soos wat die kuikens maar seker benoud raak en elkeen spartel vir 'n plekkie in die boks, het sommige dit nie oorleef nie. So was daar dan Hennie - toe sy klein was was haar naam Hennetjie. Sy was een van die ongelukkiges wat tydens die vertrapping in die boks een ogie verloor het. Vir kuikens wat in die wintermaande aangekom het is daar plek gemaak voor die koolstoof in die kombuis - 'n hokkie gespan met koerante op die vloer. So het sy dan ook ekstra aandag gekry en was die enigste een met 'n naam waarvan ek kan onthou. Die tyd het gekom dat haar groepie uitgeskuif is stoor toe, maar Hennie het elke dag 'n draai by die huis kom maak. Sy het 'n pragtige vet rooi-bruin hen geword. Toe sy begin eiers lê het sy eenvoudig elke dag in die huis ingestap en dieselfde bed in 'n gastekamer daarvoor gekies. Niemand het die hart gehad om haar te verwilder nie, so is daar 'n handdoek op die bed gesit en sy het geweet dis vir haar. Hennie is nooit verkoop of geslag vir eie gebruik nie, maar haar uiteinde het ek gelukkig vergeet. Erens tussen goedjies van my ma is 'n foto/skyfie van haar op die bed wat ek self graag weer wil sien.
Dit is nou n oulike storie…
Dit is nou n oulike storie Rona. Sal eendag vertel van Chicken, n skrophennetjie wat besluit het sy kom by ons intrek.
Ek is amper gedeporteer oor ‘n vool
Ek het amper vyf jaar gelede vertel van Zibi op hierdie gesprekslyn. Sedertdien laat ek eerder die natuur sy gang gaan.
Goeie môre julle, dit is…
Goeie môre julle, dit is weer lekker om met n kamp beplanning te stoei. Ons oorweeg dit baie sterk om Mei maand, ndraai in Montagu te gaan maak. Sal julle op hoogte hou. Onse karavaan het nou vir 2 jaar stil gestaan met al die gewerskaf hier. Nou moet daar eers n breek gemaak word. Wil ook gaan wyn drink en heeldag niks doen soos party mense.
Goeie Hout, as jy weer op…
Goeie Hout, as jy weer op die lig is so tussen al die kamp en rond rits, moet jy my kontak asseblief, nil 8 2 sewe82 4 agt 2 vier. Wil graag gesels oor Good Wood
Lapskag....
"niksdoen en wyn drink" is aanbevole!!!
As julle Montagu toe gaan, moet netnie gaan eet in restourant by Cape Dry nie. Hulle diens is vrot!!!
Zibi die volstruis (Wildehont s'n)
Lekker gelees aan hierdie inset. Met Murphy in die omtrek kan mens ook niks waag nie. Ek glo daar was nie op daardie dag jakkalse in die omtrek nie, dat Zibi met die familie herenig is en vandag 'n gesin van sy eie het. Hoe lank leef volstruise?
Om sulke bydraes van lank gelede te lees (daar is baie) laat my net besef dat die forum oor die jare baie afgewater het. Daar was vele deelnemers en 'n verskeidenheid van onderwerpe (te veel om iets uit te sonder). Vandag? Sonder om 'n ou draad te laat herleef of 'n nuwe te skep is dit makliker om iets net terloops onder die " Februarie/ Maart...saamgesels" te noem. Dink ons het lui geword, wat jammer is, en dit sluit myself ook in. Hierdie is nie 'n Facebook blad waar iets net vir die oomblik is nie. Die lekker van die forum is juis om weer oor 'n spesifieke onderwerp te gaan "teruglees". Die enigste getroue manne is die wat belangstel in sleepvoertuie en woonwaens en dan die enkeles wat ons darem saam op hulle vakansies/wegbreke neem.
Sal waarskynlik nou moet koes vir die klippe, maar dat ek dink alles is flou teenoor wat dit was, is waar.
Lui geword om....
...net 'n oomblik die enjin te gebruik om te soek vir 'n gesprek/onderwerp/titel, of dit reeds bestaan.
Ek hou ook daarvan om geordend te wees, elke onderwerp netjies bymekaar. Helaas, trap ek ook in die haastige slagyster, om dan later uit te vind dat die gespreklyn al lankal bestaan.
Die negatiewe aspekte wat jy opper, afgewaterde forum, kortstondige vlietende insette, het sekerlik te doen met die wegkwyning/stilswye van baie forumvriende. Sommige is weliswaar oorlede, maar ek mis BAIE lede wat in die verlede aktief deelgeneem het.
Indien ons egter kon weet waarom hulle swygend geword het, of dan wat hulle dwars in die krop steek, kan ons aktiewe lede daaraan iets doen. As ek dan hand in eie boesem moet steek, moet julle tog maar direk seg wat pla met my insette, en wat ek mee moet stop.
Lapskag
Ek sug sommer van verligting om te hoor dat julle kampeerplanne het. Beteken dit dat die bouprojek afgehandel is? Kan net dink hoe opgewonde julle is om weer die wiele te laat rol. Ons bouery het ons ook twee jaar geneem - of eerder soveel van kampeertyd gekos.
Hou ons maar op die hoogte van beplanning - begin sommer 'n eie gesprekslyn daarvoor![]()
Wessel
Terwyl die "tradisionele naweekstilte" (Chris se waar woorde) toegeslaan het, wonder ek sommer hoe ver die Kruger Wildtuin beplanning vir Julie vorder wanneer julle kinders van Dubai kom kuier. Gesels tog maar. Intussen sal ek die naweek probeer omkry deur 'n bietjie te snuffel oor wat Mosambiek bied t.o.v. kampering (met my bussie in gedagte).
Strydoms se datums en plekke
Op versoek van Rona die volgende opdatering;
1] Wag om te hoor van Dubai kinders. Alles hang af of my seun sy paspoort deur die lamlendige SA-kantore hernu kan kry. Dan natuurlik waar ons huisvesting kan vind. Sal vaste geriewe wees, dit kos ongeveer R5000/d vir huur van trokkie met dubbel daktent.
2] Ons is vol betaal vir Meimaand se Kruger kampeer-kuier. Van Malelane af tot by Tsendze. Dan uit by P.Borwa hek.
3] Sanparke is ook bespreek vir Mokala, KarooNP en Bergkwagga gedurende Augustus en September. Terselftertyd gaan ons Baviaanskloof verken asook die kusstrook tussen George en Port Elizabeth.
Grompie is onlangs gediens, dus reg vir volgende 10 000km. Kavango is nagegaan, en sonpaneel kabels effe opgradeer.
Hopenlik slaag beterhelfte haar hartspesialis besoek, dan kan ons nog 'n oefenkamp inwerk Manyane toe, voordat ons die vêr plekke gaan besoek.
Rona: vind uit van die oord waar Chris S heengaan in Mosambiek. dis so entjie [40km] vanaf Pafurie grenspos. Dalk kan 'n bussie tg daar uitkom. Hy het êrens tevore dit weer gegee..
Rona en Mosambiek
Chris S, gee asb weer daai plek se naam waarheen julle beplan om te gaan in Julie maand.
Ek het nou Januarie-2026 en Februarie-2026 se saamgesels deurgesoek, en dit was nie daar genoem nie.
Dumela Wilderness Safaris
Dis waar ons bespreek is tussen Shingwedzi en Punda. Ek het egter nog geen terugvoer van hulle gekry op my navraag van 9 Feb na hulle welstand na die vloede nie. Ek dink in elk geval nie dit sou toeganklik wees vir Rona se bussie nie.
Doen eerder navraag oor Ponta de Ouro en Ponta Malongane. Dis toeganklik van Kosibaai grenspos af (deesdae per teerpad) en werklik ‘n lekker plek om te besoek.
Ons was vier keer daar voor ons Wes-Kaap toe verhuis het en ‘n gesin begin het. Die eerste keer met ‘n Colt Trailblazer enkelkajuit 4x4, toe ‘n Ranger 2,5TD 4x2 en toe die Everest 4x4. Ons was ook een keer tussenin saam met vriende met ‘n ou Xtrail daar. Al vier kere voor die teerpad van die grens af deur die Sjinese gebou is, en ons het nooit vasgesit nie. Wel ‘n paar ander mense gehelp wat versuim het om hulle bande af te blaas.
Mosambiek...
is nog net 'n gedagte of sommer tydverdryf, maar dit lyk asof daar lekker dinge te doen is by Upside Downer in Ponta Malongane
Mosambiek oorde
Rona, as jy wil rondsnuffel vir oorde, gaan loer in op caravanparks.com. Gaan kyk na oorde gelys onder Mosambiek, dalk gee dit vir julle bietjie inligting..
Dalk kan jy ook op 4x4 community nog info kry. Ek lees selde daar.





Vool
Neef Herman, ons het lanklaas nuus verneem. By nou verwag ek dat dit ontstellend kan wees.