Ek is sommer lus om los te trek met 'n geselsie oor ons Wildtuin-trippie oor 138 dae in Mei 2020 ! (Bereken vanaf 12 Desember 2019)

Len, ek kyk so 2 - 3 keer…
Len, ek kyk so 2 - 3 keer elke dag op die web cams en is vol vertroue ons gaan sleg jaloers wees op jul toer deur die gras groen wild tuin. Om eerlik te jok, ek wil nie die draad dop hou nie😂
Ek probeer maar..................
Ek probeer maar hierdie draad van my lewendig hou tot Meimaand 2020, maar dit lol maar. Ek het selfs al die opskrif en inleidende buffel-foto verander !
Ewenwel, ons gaan nou wel nie in Berg-en-Dal kamp nie, maar sal beslis daar 'n draai maak. Ek sien in vanoggend se koerant daar is 'n redelike konsternasie omdat 'n jong luiperd binne-in die kamp gewaar is en veldwagters poog nou om hom/haar in 'n vanghok gevang te kry ! 'n Lekker opwindende storie om tot die uiteinde te volg !
Luiperd in Berg-en-Dal
Ek kamp etlike jare gelede langs mense in die Karoo Nasionale Park - Danie Claasen en sy vrou. Hy vertel my toe van 'n ervaring wat hulle in Berg-en-Dal gehad het toe hulle met hulle tent daar gekamp het.
Dit was in die somer en 'n besonderse warm aand. Hy't net die gaas by sy tent se deur toegerits. Hulle het naby die een ablusieblok gekamp met 'n buitelig wat amper bietjie lastig deur die gaasdeur geskyn het, maar later nogal 'n bedekte seën sou blyk.
Hy't iewers in die nagtelike ure wakker geword met 'n groot "nood". Sy vrou stap toe sommer saam ablusie toe. Na hulle terugkeer het sy blykbaar so te sê dadelik weer aan die slaap geraak, maar a.g.v. die onsmaaklike hitte en die buitelig van die ablusie wat bietjie pla, kon hy nie weer sommer aan die slaap raak nie. Terwyl hy so wakker lê, hoor hy iets wat teen die tent se sykant "snif-snif". Hy dink toe eers dit is dalk 'n muishond of dalk 'n siwetkat. Maar toe die "snif-snif" redelik hoër teen die tent se sykant is, begin hy bekommerd raak en dog dit is dalk 'n hiëna. Die volgende oomblik sien hy dat "wat dit ookal is" se neus druk die tent na binne. Hy haak af en slaan met die agterkant van sy vuis, bo-oor sy vrou, na waar die tent induik. Die volgende oomblik toe kap die "wat dit ookal is" met sy poot na waar hy met sy vuis na die tent se sykant geslaan het. Sy vrou word toe wakker van die kabaal en hy vertel haar wat gebeur het. Beide lê toe helder wakker en wonder watter besoeker hul gehad het. 'n Paar oomblikke later sien hulle deur die deur se gaas hoe stap 'n luiperd voor die helder buitelig van die ablusie verby. Hy rits toe maar die deur heeltemal toe en bang lê hulle en wag vir dagbreek - sonder om 'n verdere oog toe te maak.
Hulle staan toe vroegoggend op en besluit om maar eers 'n "game drive" te neem omdat die kantoor nog toe was. Hulle sou die voorval gaan aanmeld sodra hulle terugkeer. Hy kry toe sy buurman, wat langs hom kamp, en vertel dié intussen van hulle ervaring.
Toe hulle terugkeer vanaf hul "game drive", het hul skaars stilgehou, toe stop die ruskampbestuurder agter hom. Die buurman het intussen die bestuurder gaan inlig van hul ervaring. Dit is toe wat hul agterkom dat hulle uiters lig van die situasie afgekom het. Die bestuurder lig hulle toe in dat daar ook twee jongmanne (ek kan nie onthou van watter Oos-Europese land nie) met 'n tweemantentjie gekamp het. Die een kry toe te warm en gaan lê op sy slaapsak langs die tent. Daar gryp die luiperd hom toe aan die kop en met sy gespartel is sy kopvel van sy kop afgeskeur. Toe sy maat van binne die tent hom te hulp snel, het die luiperd laat los en weggehardloop. Hy's binne die kar gehelp en hulle't na die kantoor gery en die nagwag gevind. Laasgenoemde het die ruskampbestuurder oor die tweerigting-radio geroep en dié het met hulle na Nelspruit hospitaal gejaag.
Danie sê dat hulle het 'n voeruig, wat redelik vinnig uit die kamp gery het, gehoor. Dit was klaarblyklik die bestuurder wat met die twee jongmanne daar weg is.
Ek kan nie onthou of Danie in sy latere kommunikasie met die ruskampbestuurder iets vertel het van die slagoffer se nagevolge na die aanval nie, maar hy is wel meegedeel dat veldwagters na etlike dae die luiperd in die kamp geskiet het.
Veldwagters het blykbaar nog dieselfde dag, na die voorval die vorige nag, die spore van die luiperd in die kamp gevind en gevolg. Sodoende kon hulle vasstel waar 'ta' die ruskamp ingekom het en waar hy/sy weer uit is. Blykbaar het (kom ons sê maar) hy, by 'n bepaalde boom aan die buitekant van die grensdraad opgeklim en oor die draad gespring. En so het hy ook in 'n boom, langs die grensdraad aan die binnekant van die kamp dieselfde modus operandi gevolg. Veldwagters het verwag hy sal een of ander tyd weer sy opwagting in die kamp maak - wat toe wel die geval was. En klaarblyklik by diesefde boom - waar hulle hom toe geskiet het en gevind het dat dit blykbaar a n baie ou luiperd was.
Danie het vir my die merk opsy tent gewys waar die luiperd teruggekap het nadat hy hom met die agterkant van die vuis op die neus geslaan het.
My een buurman, Piet van der Hyde, is 'n eertydse veldwagter in die wildtuin gewees. Hy het die skedel van die luiperd wat die nagwag in Shingwedzi gevang het, in sy besit. Die luiperd is destyds deur veldwagter Louis Olivier geskiet.
'n Hele klompie jare gelede was daar ook 'n voorval met 'n luiperd in Letaba. Mopani het ook al 'n luiperd in die kamp gehad. Tydens ons verblyf vanjaar in Letaba was daar snags hiënas in die kamp.
Dankie Chris.....
Dankie vir die vertelling, Chris. Jare gelede was ons ooggetuies hoe 'n dooie luiperd in Ondersabie in 'n kruiwa gestoot is nadat velwagters hom/haar in die kamp moes skiet. My kinders (aldrie lankal volwassenes) onthou die gebeure tot vandag toe nog.
Hiënas in kampterreine kom nogal dikwels voor. Die meer onlangse geval (ook al 'n paar jaar terug) is waar 'n hiëna 'n jong seun aan sy kop uit 'n tent getrek het. Ek weet ook dat hiënas meer as eenkeer in die Karoo Nasionale Park in die kampeerterrein in die nag opgemerk is.
Dis nie verniet 'n Wild-tuin nie !
Gelukkig lees my vrou nie…
Gelukkig lees my vrou nie hier nie, sy maak staat op dit wat ek oordra😄
Ek en Danie Claasen (wat die…
Ek en Danie Claasen (wat die ervaring met die luiperd in Berg-&-Dal gehad het), het juis in die Karoo Nasionale Park begin gesels oor wilde diere in kampe. Ek het hom vertel van die rooikat wat ek by Karoo Nas Park se ontvangs teëgekom het.
Ek en my dogter het gou van die kampeerarea af gery om o.a. hout by die winkel te gaam koop. Toe ons die parkeerarea binnery, kom 'n rooikat om die hoek van die hoofgebou. Ek het dadelik vir my dogter gesê dit is of 'n mak dier, of 'n hondsdol dier. Ons het bly sit en wag totdat die rooikat verdwyn - en toe vinnig spore gemaak tot by ontvangs. Op my navraag oor die rooikat, het die ontvangsdame vertel dat dit 'n mak rooikat was wat deur 'n boer grootgemaak is en mettetyd na die park gebring is omdat hy 'n handvol begin raak het.
Ons is gewaarsku dat die rooikat ons dalk in die kampeerterrein kan besoek - blykbaar een van sy gunsteling uithangplekke gewees. Maar dit het nie gebeur nie.
Ek vertel egter ons ervaring eendag aan een van my kliënte in Villiersdorp - Stephanus le Roux. Toe vertel hy my van hulle ervaring met die rooikat. Hulle het net vir die aand in die park oorgestaan. Hy't gebraai en toe vir sy vrou, Memory, gevra om iets wat hy benodig het uit die karavaan te gaan haal. Toe sy die lig aanskakel in die wa, toe lê die rooikat op hul bed. Sy't amper 'n deur aan die anderkant van die karavaan uitgehardloop.
Vanjaar het ons weer taamlik deurgeloop onder Bibi, die mak koefoekoei in die kamp.
Chris....
Chris, wildtuine-vertellings kan ure lank se lekker geselsies tot gevolg hê.
Verskoon my onkunde, maar wat de joos is "koefoekoei", of verwys jy na die prostituut-skilpaaie in die kampterrein want hulle is altyd op hitte ! (Nou wonder ek of skilpad-"koeie" ook op hitte kom ?)
Ns. Die personeel in Karoo sê nie skilpaaie "paar" nie, hulle sê "die skilpaaie stamp alweer !"
Koefoekoei
Ai Len - die ou dik vingers op 'n selfoon se klein sleutelbord is nie altyd verenigbaar nie. Dan word 'n "d" maklik 'n "f" met die twee letters wat langs mekaar op die sleutelbord is. Gelukkig is "dok" nie juis 'n algemene woord in Afrikaans nie. 'n Ou soos ek sou dan waarskynlik meermale lelike woorde getik het.
Ons bly oor in n huisie in…
Ons bly oor in n huisie in die Karoo NPark, dit was sommer lank gelede, kan 25jaar wees? Het gaan aandete by restaurant, en toe ons terugkom lê n Rooikat op die kombuistafel, al die biltong is opgeet. Kon sien hy is mak, na die vryerige lyftaal, het vir hom water gee, was dors na al die biltong....
Dit was waarskynlik…
Dit was waarskynlik dieselfde rooikat as wat ons gesien het, want dit was seker ook die beste deel van 25 jaar gelede.
So gepraat van die …
So gepraat van die "prostituut skilpaaie" van die Karoo Nas Park. Ek het oor die jare verskeie "blou films" van dié onbetaamlike skilpaaie gemaak - 'n paar nogal uitsonderlik. Ralie het jaar na jaar aangehou dat ek die videos aan Kwêla stuur vir die "feite en geite" afdeling. Uiteindelik het ek ingegee en in 2007 'n opsomming van die bestes ingestuur. Groot was my verbasing toe Kwêla my skakel en versoek dat ek die oorspronklike videos aan hulle stuur. Hulle het 'n saamgestelde redigering gedoen - en die resultaat was dat die klomp "prostitute" uiteindelik onder die Top Tien finaliste opgeëindig het. Voor die finale stemming het ek my tande geslyp om minstens derde te eindig en darem een van die Echo kampwaens te wen. Maar dit was my nie beskore nie. Ek reken die "movie" was nie "XXX-rated" genoeg nie - of dalk te veel.
So op die onderwerp van…
So op die onderwerp van wilde diere in kampe, dink ek aan Satara se vaalboskatte. Vir etlike jare was ek onder die indruk dat daar saans die enkele vaalboskat tussen die kampeerders rondgeloop het. Maar vanjaar was daar minstens twee in die kamp. In die verlede was hulle baie skugter, maar het tog relatief ongestoord tussen die kampeerders rondgeloop. Vanjaar het een van hulle bykans elke aand onder ons stoeptent kom kuier. En as jy hom wou verjaag was hy nogal aggessief deur doodstil te sit en net vir jou te blaas. Eers met 'n woeste armswaaiery sou hy verkas. Ongetwyfeld ook een van daardie gevalle waar hy gewoond daaraan is om deur "stupid" mense gevoer te word.
Terloops, ek het nog slegs by twee geleenthede vaalboskatte tydens "game drives" in die wildtuin raakgeloop. Dieselfde geld vir die ander twee kleiner katte, naamlik die rooikat en tierboskat.
Tsendze
Len, aangesien jy met jou komende wildtuinbesoek ook Tsendze gaan besoek, dink ek onwillekeurig aan die ontstaan van hierdie besondere kampie. Die legendariese Johann Oelofse was die veldwagter gestasioneer by Mooiplaas veldwagterspos - daardie mooi woning op die koppie digby Mopani ruskamp. Terloops, Johann het ternouernood ontkom toe die luiperd wat in Mopani was, hom onverwags uit 'n digte boskasie bespring het. Met die terugtree het hy in 'n gat getrap en geval - wat meegebring het dat die luiperd as't ware bo-oor hom gespring het. Maar Johann het nie heeltemal skotvry daarvan afgekom nie. Die luiperd se naels het 'n paar lelike wonde aan sy arm nagelaat.
Dit was egter Johann se breinkind om Tsendze bosveldkampie langs Mooiplaas piekniekplek te ontwikkel. Hy was bewus van die mooi boomryke area en was self verantwoordelik vir die uitleg van Tsendze. 'n Ou skoolvriend van my, Franci Krone, se vrou was weer 'n klasmaat van Johann toe hulle saam in Rustenburg op skool was. Franci en Marianne het menige keer by Johann op Mooiplaas gaan kuier. Só het Franci ook in die ontwikkelingsfase van Tsendze saam met Johann daar gekamp. Die ompaaie noord van Tsendze, sowel as die pad na die samevloeiing, suid van Tsendze ('n luiperd-mekka) was ook Johann se idees. So-ook die inrig van Shipandane-skuiling as 'n oornagplek.
Tsendze het al meermale probleme ervaar met olifante wat die heining breek. Só moes Johann ook by geleentheid in die nag olifante uit die kamp kom jaag. Toe ons vanjaar daar was, was die heining by die huise van Rodger en Elinah (opsigters) weereens gebreek (en tydelik herstel) toe 'n groot ou olifantbul besluit het hy wil binne die kamp kom wei. En toe't hy sommer vir die sports die heining aan die suidekant (min of meer daar waar jou staanplek vir 2019 bespreek was) gebreek om weer die kamp te verlaat.
Johann het na sy aftrede in Phalaborwa gaan woon sodat hy naby aan sy geliefde wildtuin kon wees. Ongelukkig het hy 'n massiewe beroerte gehad wat hom vir alle praktiese doeleindes as 'n bedlêende gelaat het. Maar die wonderlike Tsendze is danksy Johann Oelofse se versiendheid vir ons as wildtuin-liefhebbers geskep.
Ons kamp natuurlik graag en…
Ons kamp natuurlik graag en toer die 2000km tot daar en weer terug met ons karavaan
Mag ek vra waar staan julle oor oppad daarheen? Ek beplan aan ons toer in Julie (besprekings vir Punda 4 aande, Shingwedzi 4 aande en Tsendze 3 aande reeds gemaak) en moet besluit hoe ons sleep van Worcester tot Pretoria. Ons gaan in Pretoria by my suster kuier vir ‘n aand of twee voor ons Punda Maria toe ry. Ek wou by Gariepdam slaap oppad, maar ek dink dit gaan te ver raak om te ry die twee dae weerskante daarvan - veral met twee kleuters in die kar. Hulle is al goed gekondisioneer vir reis maar dis baie moeilik vir hulle om so lank stil te sit.
Middag Chris, dit hang af of…
Middag Chris, dit hang af of jy N1, of N12 gaan ry?
Jou afstand tussen jou en Pretoria is 1400Km, ek dou dit in 3 deel?
N12, is baie stiller en is 'n mooi pad. (Omtrend geen trokke)
Wat ek sou aan beveel is die volgende:
1. Slaap oor in Beaufortwes by Karoo Nationale Park of Steenbokkie, albei goeie keuses. (360Km van jou af)
2. Slaap oor by Rirchie, Riverside Country Club, 30Km suid van Kimberley (500Km)
Dan het jy nog 560Km tot in Pretoria.
Of
N1.
1. Slaap oor soos in punt 1 van die N12 roete
2. Slaap oor in Gariep, dan nog 650Km tot in Pretoria,
Of,
3. Ry van Beaufortwes tot in Bloemfontein 550Km, en slaap oor by Reynecke Park, dan het jy nog 470Km tot in Pretoria.
Dit is maar het 'n aan bevelling, jou keuses is lekker wyd👍





En niemand...
En niemand waardeer eers die pragtige web-cam foto van Satara nie !