Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Maurits... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -16 minutes ago
Montagu Oktober 2026 saam gesels maurits1 -24 minutes ago
Dankie Wessel. Oktober 2026 saam gesels Jan Meyer -1 hour ago
Jan Meyer Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -1 hour ago
Dankie! Help met kamp beddens en… deon557 -2 hours ago
Huur Help met kamp beddens en… Geert -6 hours ago

Kruger Wildtuin roetes.

Vaalpark
Profile picture for user Johann L
Submitted by Johann L on
Forums

Almal plaas hul gunsteling roetes en kampeer plekke in die wildtuin op hul gespreks lyne, wat ook reg is, maar ek sal graag op een plek wil sien wat wie verkies, en hoekom.

Dit kan dinge net baie makliker maak vir almal wat so iets wil beplan, sonder om so baie deur te blaai n te lees?

Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Wed, 19/01/2022 - 22:21

Maggies Paul, wens die roof-lesers op die forum wil 'n bietjie lesse by jou leer : dis nou hoe 'n mens terugvoer oor 'n afgelope kamp-vakansie gee.

Ons het nogal heelwat ooreenstemming  -  ons is ook heeltemal gek oor die Kruger Wildtuin en dit staan vir ons as toppunt uit.  Ons ry ook nie meer as 500km per dag nie (julle maksimum is 400km).  In die Wildtuin kamp ons ook graag van noord na suid (of omgekeerd), gewoonlik 6 kampe van 5 dae elk, maar in Meimaand hierdie jaar gaan ons afskaal na 3 kampe van 7 dae elk en dié keer net by drie suidelike kampe.

Baie dankie vir jou lekker lees-verslag en vir die fotos wat jy geplaas het.

0
Brackenfell

HennieBo

Thu, 20/01/2022 - 05:43

Dankie Paul vir die deel.

Eerstens het jy die wa om hierdie tipe toere te doen, en tweedens is dit net jy en jou wederhelfte. Dit maak dit aansienlik makliker. Indien jy nog 'n familie ook het en die wa se grootte maak dit nie moontlik nie, kan so iets nie gedoen word. Nogtans was julle trippie seker baie opwindend.

0
Groenkloof, Pretoria

Paul Mulder

Thu, 20/01/2022 - 08:11

Dankie vir all die mooi woorde.

Ons is baia gelukig om sulke trips te kan doen en dit is eintelik net mootelik as jy nie meer verpligtinge het nie. Ons is baia gesëend om die vermoe te he om sulke trips te kan doen. Toe ons nog gewerk het was dit nie moontelik nie.

Bygesê ons is tans in Pretoria (tuis) om n' klein projek af te handel. In Maart sal ons weer terug in Pretoria wees om nog n' klein projekie af te handel. Daarna is ons weer op die pad tot die einde van die jaar?.

Laas jaar was ons in totaal 2 weeke in Pretoria. Botswana, Namibie en natuurlik die Wildtuin getoer.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Thu, 20/01/2022 - 10:04

Ons is baie gelukig om sulke trips te kan doen en dit is eintlik net mootelik as jy nie meer verpligtinge het nie.

 Paul, ek wil iets byvoeg by jou stelling hierbo en dit is "as jou gesondheid dit toelaat".  In my geval voel ek tans perdfris en sien ek kans vir ons eerskomende Wildtuin besoek en die 4000km rit heen en weer hier van die Kaap.  Maar met my gesondheid-geskiedenis die afgelope paar jaar raak die risikos ook 'n bekommernis - veral as jou mediese span wat jou geskiedenis ken 2000km ver is.  Voeg daarby dat jou jare-lange Wildtuin-kampeerpêl hulle Wildtuin besoek saam met ons weens omstandighede moes kanselleer, dan wil die duiweltjie hier op jou skouer kort-kort die oorhand kry. Dit was nog altyd gerusstellend om goeie vriende naby te hê ingeval van nood.

Maar voor ons nou almal in sak en as gaan sit, dit bly 'n wonderlike voorreg om op 'n redelike gevorderde ouderdom sulke lekker kampeer-toere aan te pak.  Ek het juis soos dit my gewoonte is, begin om aantekeninge op my Wildtuin-kaart aan te bring van interessante besigtigings soos gerapporteer op sosiale media deur ouens wat tans daar is.  Dit help om die opgewondenheid op te jaag !

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Thu, 20/01/2022 - 10:53

Môre Len

Jy kan mos jou bekommernis halveer. Verkoop jou PF en Exclusive, did te groot en swaar vir jou. Sit bietjie geld by en koop 'n Land Cruiser of Hilux, met die bush Lapa huisie agterop.

Dan het jy die voordele;

a] net 4 ipv 8 wiele wat kan pap word

b] geen gesukkel met level, afhaak en groot swaar tent nie.

c] meer vryheid van beweging, kan selfs grondpaaie aandurf, al is dit net Balule toe.

Ag kom nou man, wees 'n sport en bederf jouself, jou rowwe bliksem, soos die advertensie sê

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Thu, 20/01/2022 - 11:19

Paul - dit was van jongsdag af in my kop om eendag so-iets aan te pak. Ek en 'n skoolvriend het dit reeds in ons matriekjaar bespreek - maar ek het wraggies nog niks daaraan gedoen om dit ten uitvoering te bring nie. En die tyd begin nou uitloop.

My gedagte was om die buitenste teerpaaie reg rondom Suid-Afrika te volg (ek sleep ook 'n konvensionele pad-karavaan). Die gedagte was nog altyd om dit kloksgewys vanaf die Kaap te doen - m.a.w. teen die Weskus noordwaarts tot by Springbok en dan binneland toe te swaai tot bo in die noorde (Musina), deur die wildtuin suidwaarts, om Swaziland, deur KZN en via die Oos-Kaap kuslangs terug te keer. Deesdae is 'n mens net nie altyd seker van sekere teerpaaie se toestand as jy sou moes afwyk van die N-roetes nie.

Die gedagte was altyd om dan vanaf die "buitenste teerpadroetes" af te draai na plekke wat ook per teerpad bereikbaar is. Byvoorbeeld om vanaf Clanwilliam na Lambertsbaai te gaan, en so ook na Port Nolloth en Twee Rivieren (en dergeliks na ander plekke).

Of dit gaan gebeur? Ek weet nie, maar ek bly droom daaroor.

En wat die wildtuin aanbetref - ja, dit bly maar vir ons ook 'n wenner. Ek is tans besig om my laaste wildtuinvakansie (1 Mei - 15 Junie 2021) daagliks te herbeleef. Ek plaas al my wildbesigtigings oor na my jarelange "spreadsheet"-opsomming op my rekenaar. En elke uitsonderlike "sighting" word weer (in die kop) ervaar en met nostalgiese herinneringe beleef.

Geniet jul komende vakansie in die wildtuin. Ek is so 'n bietjie van 'n sissie vir die wildtuin se somertemperature. Ek was die afgelope paar jaar redelik gereeld in die warm tye (Feb 2018, Jan-Feb 2019 en Nov 2020) in die wildtuin vir kort tydjies toe ek nog werk en plesier kon kombineer. Maar dan het ons gewoonlik in vaste akkommodasie gebly - en die ouens bewonder wat daarvoor kans sien deur dan te kamp. 

0
Groenkloof, Pretoria

Paul Mulder

Thu, 20/01/2022 - 11:33

Môre Len.

Dit is wat ek bedoel het met "vermoe". Dit sluit gesondheid, geld en toerusting in.

Ons reis of met die Exclusive en Pajero of met net die Pajero met n' grond tent en dak rak. Ek belowe die gerief van die Exclusive kan nie vergelyk word met die van bos waens en die tente (op grond of dak) nie. Ek verstom my party keer as ek ouer mense in die kamp sien sukkel met die opslaan van hulle kamp. Met die Exclusive is alles in plek waneer jy stop. Ons haal meestal net twee stoele, n' tafel en die trapies uit en plug die krag in, as daar is. Die woonwa het ook movers op, so ons stoot niks...haak net aff.

 

0
Groenkloof, Pretoria

Paul Mulder

Thu, 20/01/2022 - 12:02

Savuti. Pump Pan.

Ons "sonder woonwa" kamp toerusting. Baia meer opslaan nodig maar die pad toestand is nie belangrik nie.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Thu, 20/01/2022 - 14:47

Wessel, my bekommernis is beslis nie die Exclusive of die Pathfinder nie, my bekommernis is ou Lennie, as sy turbo daar ver in die Wildtuin bearing-probleme kry gaan dit lol en 'n helikopter sal waarskynlik ingeroep moet word om hom vinnig by 'n herstelplek te kry en wat word dan van die opgeslane Exclusive-kamp en die Pathfinder ?  En dan is ons (ek en my sleepkombinasie en o ja natuurlik, my annerhelfte ook) nog baie ver weg van Kaapstad !

Ek het dit vantevore gesê en gaan dit nou maar weer sê, ek veruil my Pathie en die Exclusive vir geen ander kamp-kombinasie nie.  Die tweetjies is geensins vir my 'n probleem nie en ons kom baie goed oor die weg, ek hanteer albei baie maklik.  Wanneer dit eendag vir my te veel word, hang ek my kampskoene op.

Ns. As ek nou 'n Hi-Lux moet koop, gaan ek dit seker eers kry wanneer ek 80 is !

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Thu, 20/01/2022 - 16:10

Middag Len

....kry blykbaar voorkeur behandeling. Ek gaan myne kry binne 11 maandelaugh

Hier is 'n paar "nie werkendes" wat voorwaar 'n voorbeeld stel vir ons ander, dis nou ouens soos ek wat hom bekommer oor alleen op die pad, beskikbaarheid van helikopters, aanvalle en afvuur van kernplofkoppe.

As ek na die wedervaringe kyk wat op die forum geplaas is deur Koos Mol, Paul Mulder, die Hollenbachs, dan bewonder ek hulle. Ek twyfel of ek voertuig alleen dit sal waag in die vêr afgelee gebiede van Namibie en Botswana. O ja, 'n belangrike naam uitgelaat---ons vriend Warren

0
Oudtshoorn
Profile picture for user neef Herman

neef Herman

Thu, 20/01/2022 - 19:12

Hello Paul. ek sal graag verneem omtrent die kostes in Botswana.

In my jonger dae het ons die plek hoek en kant deur getoer en gekamp. Tot n invlieg na Chiefs Island onder die belt, maar die is deesdae net vir die passasiers op die gravy train, of dalk filmsterre.

Dit is op my te doen lys om weer so draai te maak in die Delta, aan die westekant by Etsa 6 was daar pragtige kampe en redelik bekostigbaar. Verder noord by Shakawe ook lekker gekamp, op die wal van die Okovango rivier, lekker gehengel en boot gery. Buitekant in Nam, is Ngepi Lodge se kamp koning met die swembad van re-bar gebou wat in die Kavango? rivier dryf. Ngepi het die lekkerste atmosfeer suid van die Sahara.

Dan Oom Wessel met die dik bril, daar is satelietfone te huur!. Moet nie vir neef vra waar nie, jy is die baas van die sleutelbord. Maar sal jy asb vir ons die inligting bekend maak, my volgende toer saam ouma Vonnie, gaan ek dalk so een wil saamvat om in die noodhulptassie te sit.

0
Sedgefield
Profile picture for user Jan Meyer

Jan Meyer

Thu, 20/01/2022 - 19:18

So raak my droom van jonk af om eendag die tog aan te pak Serengeti toe ook al vaaer. Met alles wat so vinnig kan verander in ons noordelike buurlande is die reis vir die twee van ons net buite die kwessie. 

Het geld spesiaal daarvoor gespaar maar sal seker maar tevrede moet wees met 'n duur uit en terug saam met 'n toergroep. 

Daarom sal ons die Kruger gebruik om die natuur te geniet en al sien ons partykeer min diere rus ons lekker daar. 

Dankbaar oor ons gesondheid en vanoggend toe ons gaan draf het,het 'n krom getrekte man en vrou ons aangemoedig om aan te hou solank as wat ons kan.

Stem saam met Len dat as ons nie meer die wa kan aan en afhak en tent opslaan nie roep ons halt en hoop die kinders nooi ons nou en dan saam.

0
Groenkloof, Pretoria

Paul Mulder

Thu, 20/01/2022 - 19:40

Hello Paul. ek sal graag verneem omtrent die kostes in Botswana.

neef Herman. Die kostes in die Nationale parke is maar rof. Om te kamp kos dit so duisend rand vir twee mense per dag. Die res van die kostes is so 1.3 maal wat dit in SA kos. Brandstof is wel so R2 per liter goedkooper. Stel dit so, dit is goedkooper om in SA vakansie te hou. Maar ons geniet dit om die onbekende te verken al kos dit meer.

n' Sateliet foon is duur. Ons het nog nooit een saam gevat nie en ons was nou al 5 keer in alle deele van Botswana. Nog nooit een nodig gekry nie. Jou voertuig moet betroubaar wees en off-road kan doen. Ons het eers met n' Jeep Cherokee gegaan (onbetroubaar) en toe n' 2005 Pajero en nou n' 2015 Pajero. Hulle is ongelooflike voertuie.

Kruger Wildtuin is baia rustig. Ons favorit.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Fri, 21/01/2022 - 08:58

So raak my droom van jonk af om eendag die tog aan te pak Serengeti toe ook al vaaer.

Toe ek overland toere gelei het tussen 97 en 99 het ek onder andere ses toere gedoen van Johannesburg na Nairobi. Dit het besoeke en oorstaan ingesluit aan Great Zimbabwe, Matopos, Hwange, Victoria Valle, ‘n kanoe toer van drie dae op die Zambesi verby Mana Poele, Suid-Luangwa wildreservaat, die Malawimeer, Zanzibar en verby Kilimanjaro in die Serengeti en Ngorongoro krater in voor ek die toeriste in Nairobi gaan aflaai het en leeg teruggery het in vier dae. 
 

Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om die ervarings te geniet toe ek maar 26 was. Ek is ook baie bly ek het dit toe gedoen en moes nie vir die reis betaal nie.  Dit was harde werk en dis vrek ver. En duur. Toe al, nou seker nog erger. Suidelike- en Oos-Afrika met die uitsondering tans van die noorde van Mosambiek is stabiel en redelik maklik om deur te reis as jy vooraf  ‘n Carnet de passage bekom wat die tydelike invoer van jou voertuig in ander lande baie vergemaklik. Maar die afstande is lank. Op ons toer was daar ‘n hele paar 13 uur dae op die pad. Oppad terug het ek 20 ure gery op dag een, 18 ure op dag twee, 16 ure op dag drie en 12 ure op dag vier. Dit was 4 000km en het vier grensposte ingesluit en die paaie lyk nie soos die N1 nie. Ons het vyf dae gehad om by die huis te kom, maar teen daardie tyd (dit het 28 dae gevat van Johannesburg tot in Nairobi) wil jy net by die huis kom. ‘n Paar keer moes ek vier dae later op die volgende toer Nairobi toe vertrek. As jy in vier dae huis toe ry het jy darem ‘n dag of twee af gehad want die dag na jy in Johannesburg aankom moes jy toerusting gaan uitpak, skoonmaak en diens en die twee dae voor jy ry moes jy gaan pak en alles regkry. Maar ek dwaal af. 
 

Dis ‘n helse lang toer om aan te pak in jou eie voertuig.  Afgesien van die plekke wat ek genoem het, is daar baie ander besienswaardighede langs die pad, maar alles kos geld en jy betaal meestal in US$ Ons toer was 8 500km in totaal, en teen huidige brandstofpryse is dit ‘n groot hap. Ek kan verstaan dat dit ‘n droom is wat voel of dit onvervuld is en wil niemand ontnugter nie. As die Serengeti die eintlike droom is, sou dit dalk beter wees om met ‘n georganiseerde toer te gaan. Die Serengeti is nie wat jy sien in ‘n National Geographic program op DSTV nie. Daardie dokumenter word oor ‘n tydperk van maande geneem en saamgevoeg met slim redigering tot n skouspel van 40 minute of n uur. Ek was ses keer in die Serengeti op verskillende tye van die jaar en het nooit die migrasie beleef nie. Die naaste wat ons gekom het was toe wildebeeste een keer in ‘n breë kolom voor ons oor die pad geloop het en ons vir seker twintig minute moes wag voor daar ‘n gaping was om verder te ry. Neem ook in ag dat die grootste deel van die Serengeti grasvlaktes is met hier en daar ‘n klein koppie of ‘n boom. Serengeti beteken Endless plains. 
 

Dit klink dalk nou of ek dit afskiet, dit is nie die geval nie. Dit is ‘n ervaring om te beleef, die krater ook. Dis egter anders as waaraan ons gewoond is in die Kruger. Die bosveld bekoor my baie meer as ‘n grasvlakte en dis baie lekkerder om op jou eie tyd rustig in die wildtuin rond te ploeter as om op ‘n Ferrari safari rond te jaag. Lg het definitief meriete vir mense met min tyd wat waarskynlik net een keer by ‘n spesifieke plek gaan uitkom en soveel as moontlik daarvan wil sien en uitvind daaroor. Vir ‘n self ry toer sal ek egter veel eerder Botswana toe gaan as om al die pad Serengeti toe te ry. Dis nou weereens indien die Serengeti die eintlike doel van die toer is, en nie die klomp ander plekke oppad daarheen as deel van ‘n groter geheel nie. Dis net jammer Botswana het só vrek duur geraak. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 21/01/2022 - 10:03

Ek was bevoorreg om saam met die destydse maatskappy vir wie ek gewerk het, die Masai Mara te besoek. Dit was aan die einde van die wildebees-migrasie terug suide toe. Ons was wel gelukkig om op een plek af te kom waar daar na ons mening sowat 30 000+ wildebeeste 360° rondom ons gestaan het. Watter gesig!

Maar ek stem saam met Chris WH - ek verkies ook meer ons tipiese bosveld-savanna as die grasvlaktes van Oos-Afrika.

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Fri, 21/01/2022 - 10:39

Môre my bevoorregte vriende

wil julle ouens nie asb 'n gesprekslyn skep vir julle omswerwinge nie, soos byvoorbeeld ene vir Botswana, Namibie, Mosambiek.

Dan bly die Kruger gesprek skoon en al die inligting vir die ander gebiede is mooi bymekaar, vir latere opsoek.

   

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Fri, 21/01/2022 - 16:25

... nou't ek klaar my sê (ongelukkig) op hierdie gesprekslyn gesê. Ek sallie werie. Jammer.

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Sat, 22/01/2022 - 07:23

Môre Chris b

Moenie te sleg voel nie, ons almal is skuldig aan die oortreding.

Ons raak so meegevoer met inligting ruil, dat ons net lekker klets oor enige iets, ongeag die gesprek se oorspronklike titel.

Moontlik maak dit nie saak nie, want die "soek enjin" behoort alles te vind mbt die sleutelwoord. 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus