Forums
Middag vriende
KNP se roetes is nou mooi stofgetrap/bespreek op die tersaaklike gesprekslyn. Nou moet julle wat al daar was ook hierdie ene begin bespreek, sommer met fotos.
Nuutste Forum Insette | onderwerp | deur: |
---|---|---|
Pretoriuskop is tops ! | Kruger Wildtuin-stories | Len Loader -8 hours ago |
Nou glo ek jou. Gepraat van… |
Strydoms in Pilansberg | Chris Boucher -8 hours ago |
Pretoriuskop | Kruger Wildtuin-stories | Chris Boucher -8 hours ago |
Tent Aircon AREA Boksburg … |
te koop Jurgens 1993… | Steven -9 hours ago |
Pierre, | "Isocharger" 94… | Johann L -9 hours ago |
Ongesien, | te koop Jurgens 1993… | Johann L -10 hours ago |
Middag vriende
KNP se roetes is nou mooi stofgetrap/bespreek op die tersaaklike gesprekslyn. Nou moet julle wat al daar was ook hierdie ene begin bespreek, sommer met fotos.
Karoo Nasionale park ...
Wessel, Chris B gaan die meeste kan sê, want hy staan seker die langste daar. Ek het ongelukkig nog net daar oorgestaan. 😫 Maar hou baie van die park. (Sal op die laptop moet kyk vir foto's.
Karoo Nationaal het die…
Wessel ek hou
Ek hou die draad dop
Oase in die Karoo
Dalk moet ek nie kommentaar op hierdie draad lewer nie - dit kan dalk te lank raak. Ek dink die meeste forumlede weet reeds dat ek ‘n baie groot Krugerwildtuin-aanhanger is. Maar in die geval van die Karoo Nasionale Park is ek seker ‘n nóg groter dissipel. Ons is gereelde besoekers aan hierdie uitsonderlike plek sedert 1990, alhoewel ons eerste kampeerervaring in 1994 was. Aanvanklik het ons die park slegs gebruik vir oornag-staanplekke, maar gou-gou het ons vir onsself uitgemaak dat hierdie oase in die Karoo langer besoeke regverdig. Ons gebruik dit steeds as oornag-staanplek as ons tussen die Boland en die Laeveld reis, maar het ook menige kere hier oorgebly vir langer periodes wat wissel tussen ‘n week en 3 weke.
Dalk moet ek maar my bydraes en belewenisse in hierdie uitsonderlike plek ‘n bietjie opdeel en nie met een bydrae weergee nie. Soos reeds genoem, was ons eerste besoek in die winter-skoolvakansie van 1990. Toe ons nader aan Beaufort-Wes kom, kon ons sien dat die Nuweveldberg getooi is met ‘n sneeulaag.
Hier betree ons vir die eerste keer hierdie Eden - "check" net daardie Cressida met die Ventertjie:
Met ons aankoms by Ontvangs het ek dadelik verneem of ons op een of ander wyse by die sneeu sal kan kom – vir die kinders, wat nog jonk was, se onthalwe. Ek is rigting-aanwysers gegee hoe om te ry tot daar. Ons was beswaarlik klaar afgepak (ons het in ‘n chalet tuisgegaan), of ons vat die pad sneeu toe.
Ons moes weer by die park se hek uitgaan, deur Beaufort-Wes ry en afdraai en op die R381 (rigting Loxton) tot by ‘n sekere hek wat aan my verduidelik is. Daar’t ons ingedraai en verby die Mountain View kamp gery. Die ou kampie het destyds maar effens gehawend daarna uitgesien. Ek wonder tot vandag wat die geskiedenis van dié kampie is – waarvoor dit gebruik was voordat die park geproklameer was. Nietemin, hier het ons die eerste tekens van sneeu begin kry. Sneeu het nog op die rondawels se grasdakke gelê. Ons is uiteindelik tot bo by die FM toring op die Nuweveldberg waar ons kinders (en ons ook) heerlik in die sneeu baljaar het. (Verskoon die gehalte van die foto's. Dit is "foto's van foto's":
Die Lammertjieleegte sirkelpad, aan die westekant van die ingangspad tussen die hek en die ruskamp, was op daardie stadium die enigste ander pad in die park. Tot vandag toe ry ons steeds hierdie pad redelik gereeld. Die pad lewer van tyd tot tyd redelike getalle wild (koedoes, bergkwaggas, elande, rooihartbeeste en springbokke) op, maar soms kan dit ook maar baie stil wees. As die wild wegkruip verlustig ons onsself in die mooi van die Karoo. Ek het op hierdie roete ook my eerste rooijakkals “sighting” in die park gesien. En ek wonder nog steeds watter haas of konyn hierdie was wat ons ook op dié pad gesien het - dalk sommer 'n gewone vlakhaas of kolhaas of iets dergeliks.
Ek weet dat die bedreigde oewerkonyn (of “doekvoet” soos dit ook bekend staan) kom in die park voor.
Vanjaar was ons selfs gelukkig om ‘n swartrenosterkoei en haar kalf daar te sien. Maar later 'n bietjie meer voordat almal gatvol word vir my bydraes - soos wat ek gatvol is om die alewige insette te lees oor .... wag, laat ek liewers my bek hou.
Dankie ChrisB
Dankie Chris, ek lees lekker en stem saam met jou oordeel oor hierdie besonderse plek. Maar ons het nog nooit langer as 3dae daar gekamp nie - miskien 'n fout en die rede hoekom ek nog nooit 'n leeu of renoster (nogal 'n "nie-blanke"-renoster !) daar gesien het nie !
Jy was nogal stil die afgelope tyd - moontlik ek wat aandadig was aan jou gatvolheid.
Chris, ek dink jou bydraes…
Chris, ek dink jou bydraes is altyd waardevol, en mis dit as ek dit nie raak sien nie.
Wat die gatvol bertref, moenie so voel nie. Ek dink ons is almal gefrustreerd met die virus en praat baie twak net om bietjie te gesêls. Onthou, kampering was lank gestrem deur al die inperkings en gaan steeds gebukkend onder die druk van die toestande.
Ons eerste langer verblyf
Laat ek net eers dit sê - ek was eers lus om my geheel en al van die forum te onttrek (a.g.v. my gatvolheid), maar kon my nie so ver kry om nie nou en dan in te loer nie. En toe ek hierdie gesprekslyn sien, het ek gereken dalk moet ek tog weer ietsie bydra.
Gedurende Mei 2008 het ons vir die eerste keer vir 'n langer in die park gaan kamp. Ons het sedert 1994 (toe ons die eerste karavaan aangeskaf het) gereeld hier oorgestaan as ons eerste en laaste oornagpunt met ons reise tussen die suide en noorde. Maar soos reeds boontoe genoem, het dit mettertyd tot ons deurgedring dat hierdie plek langer besoeke regverdig. Ralie is 'n gebore en getoë Karoo-nooi en het as't ware daarop aangedring dat ons langer moet gaan kuier en die park beter moet verken.
Hier span ons vir die eerste keer uit (vir 'n hele tien dae). Die eerste foto het ook in WegSleep verskyn toe ek verslag gedoen het oor ons gunsteling kampeerplek. Toe het die kampeerarea nog lieflike grasstaanplekke gehad (deesdae geplavei):
Die Potlekkertjie Loop, oftewel sowat 50 km sirkelroete, was toe pas geopen. Ons het daagliks die pad gery - een dag kloksgewys afgewissel met anti-kloksgewys die volgende dag. As jy die roete kloksgewys aanpak, ry jy eers deur tipiese Karoo vlakteveld alvorens jy naby die halfpadmerk deur 'n smal klofie die Doornhoekvallei betree - sekerlik een van die park se mooiste dele. Deesdae is die gewilde Doornhoek piekniekplek, met braaiplekke tussen soetdoring- en kareebome asook toiletfasiliteite, beskikbaar om die bene te rek.
In dié vallei kan jy jou verwonder aan pragtige rotsformasies en majestieuse kranse rondom jou.
Die pad klim later tot op die middel-plato waar 'n uitkykpunt is waarvandaan jy oor die Doornhoekvallei kan tuur.
Die middel-plato is 'n goeie area om Kaapse bergkwaggas raak te loop. Terloops, daar was ook eens bontkwaggas in die park, maar hulle is verwyder ten einde moontlike kruisteling te voorkom.
Jy verlaat die middel-plato met die Klipspringerspas. Die eerste foto van Johann Lock (hierbo) is van die Rooivalle net voor die indrukwekkende Klipspringerspas begin daal na benede. Hopelik het ek nog foto's van dié pas, wat ek in volgende bydraes sal plaas.
Ons het bedags oral gestap - dit was voordat die leeus losgelaat is. Ek was (en is steeds tot 'n mate) baie ongelukkig oor die loslating van leeus. Waar ons voorheen die park te voet kon verken met die Fonteintjiesleegte wandelpad en die pad teen The Pointer uit om hierdie volgende uitsig te geniet, was ons toe belet om te gaan stap. Kyk net hierdie uitsig oor die ruskamp bo van The Pointer af.
Sedert die leeus in die park is was ons al vele kere gelukkig om hulle te sien, maar ek ervaar dit steeds met gemengde gevoelens. Ek plaas later foto's van ons leeu "sightings".
Ek sal moet....
..... gaan besoek aflê by die park. Chris vertel so lekker, ek kan my amper inleef in die omgewing.
Ek lei af dat die meeste roetes in die Karoo park begaanbaar is vir 'n sedan en 'n 4x2
Ai my hart trek met 'n lang…
Ai my hart trek met 'n lang punt Karoo toe, Chris se fotos, en deuglike vertellings, maak "ou wonde oop" lekker ou wonde.
Dit is vir my altyd so lekker om na ander se fotos te kyk en te kan sê "ek was daar" en het dit geniet.
Wessel Karoo National Park…
Wessel Karoo National Park is nie bekend vir wild besigtiging nie, daar is wild, maar hulle weet hoe om weg te kryp, die natuur van die karoo is uniek en kruip diep in mens hart in, en daar bly dit.
Die mense van die park (personeel) is buitengewoon vriendelik en behulpsaam! (Ek klink seker maar eentonig, maar dit bly 'n feit)
Begaanbaarheid van roetes.
Die Lammertjieleegte sirkelroete is 'n teerpad en die Potlekkertjie sirkelroete is deels gruispad met die Klipspringerpas wat teerpad is. Beide hierdie roetes is maklik begaanbaar met 'n gewone sedanvoertuig.
Die meeste van die 4x4 roetes kan met groot gemak met 'n 4x2 voertuig, met hoë grondvryhoogte, gedoen word. Ek het al hierdie roetes met slegs 4x2 gedoen. As dit gereën het is dit waarskynlik 'n perd van 'n ander kleur.
Die enigste uitsondering is Pienaarspas (tot onlangs gesluit - ek weet nie wat die huidige toedrag van sake is nie), maar hiervoor was 'n fooi betaalbaar.
Kerstyd in die Karoo Nas Park - Deel 1
Aan die einde van 2008 het ons die haas ondenkbare aangepak, naamlik om Kers/Nuwejaarstyd in die park te gaan deurbring. Ja, dit was warm - maar nooit so warm dat dit gevoel het of ons die swembad moet gaan opsoek nie. Dit is 'n bedrywige tyd aangesien die kampeerterrein elke aand vol is met mense wat grotendeels net oorstaan vir 'n aand (dalk twee) op hulle reis op pad see toe of terug huistoe.
Dié park is 'n plek waar jy jou grootliks verlustig in die kleiner unieke dingetjies. Om die voëls in die kampeerterrein dop te hou verskaf vir my ure van plesier.
Of die voortdurende kaperjolle van die bergskilpaaie.
Dié ouens kom uit hulle slaapplekke teen ongeveer 09:30, kom wy op die kikuyu-gras, doen hulle dinge soos hierbo en soek dan 'n skaduplek oor die middaguur vir 'n siesta. Die ou hieronder het elke dag sy middagslapie onder ons stoeptent, teenaan die karavaan se wiel, kom neem. Dan slaap hy vas, maar nie met sy kop of pote ingetrek nie. Dan moes ons maar noodgedwonge die tafeltjie vanaf sy gewone staanplek wegvat anders stamp hy dit minagtend om.
Dit is ook die tyd wat hulle onder karavane en voertuie gaan koelte soek. Daarom word besoekers gewaarsku om eers onder hulle voertuie te kyk vir skilpaaie voordat hulle ry. Ek het die volgende ongelukkige gebeurtenis oorgekom. Ek moes die elektriese koppeling (na die voertuig) aan die karavaan vervang. Ek het 'n "plug" in Beaufort-Wes gaan koop. Terug by die kamp het ek die oue met die nuwe vervang en toe gou my bakkie bietjie agteruit getrek ten einde die koppeling te doen en die ligte op die karavaan te toets. Die bakkie het gestaan en luier, maar in die sowat 2 - 3 minute wat dit geduur het, het 'n wyfie skilpad onder die bakkie ingegaan sonder dat ek bewus was daarvan. Toe ek die bakkie (gelukkig stadig) vorentoe trek om weer in die skadu te gaan staan, hoor ek 'n vreemde kraakgeluid. Om 'n lang storie kort te maak, het ek 'n deel van haar dop met die ewenaar gekraak. Die destydse toesighouer, Jacob Esau, het gou-gou 'n ontsmetmiddel op die stukkende plek gesit, maar ons het dit goedgedink dat sy uit die kampeerplek verwyder moet word ten einde andere besoekers die trauma te spaar om die beseerde skilpad te sien.
Ek het Ontvangs geskakel, wat dadelik 'n veldwagter gestuur het. Die skilpad is na die park se rioolwerke geneem waar ook baie kikuyu-gras groei. Ek het behoorlik siek gevoel oor hierdie ongeluk. In die kampeerterrein sien jy sommige van die ander skilpaaie wat ook duidelik soortgelyke "scars" vertoon. Nodeloos om te sê - ek en Ralie ry sedertdien nêrens alvorens ons nie onder die voertuig gekyk het nie. In die ablusies en kombuis is kennisgewings wat mense waarsku om asseblief onder voertuie te kyk vir skilpaaie voordat hulle ry.
In aansluiting by een van my vorige insette met 'n foto wat die uitsig van The Pointer wys, plaas ek vir diegene wat nie bekend is met hierdie baken in die park nie, foto's van The Pointer soos gesien vanuit die kampeerplek. Dit is die kampkombuis regs voor en 'n gedeelte van die dames se ablusie aan die linkerkant.
Die volgende foto is op tweede Kersdag geneem. Ons het altyd heerlike skadu in die namiddag gehad. Maar die bome daar agter ons het so hier en daar 'n minder welkome gas gehad. Daaroor vertel ek volgende keer.
Skillie...
Skilpaaie : Ja dis verstommend hoe die skilpaaie aan toeriste en hulle voertuie gewoond raak. Hierdie kêrel (of dalk dame vir al wat ek weet) het besluit hier onderdeur MOET hy of sy gaan, kom wat wou. Ek kon nie glo nie maar het self gesien hoe hy/sy laer-af sak en wraggies onderdeur my sleephak kruip ! Ek aanvaar die skilpad het besluit die korste pad tussen twee punte is 'n reguit lyn !
Kerstyd in die Karoo - Deel 2
Iemand wat nie sulke tonele kan waardeer nie, sal waarskynlik nie van die Karoo Nasionale Park hou nie.
Of met hierdie outjies (onskadelik) of hulle giftige familie nie.
Ons het daardie vakansie o.a. 'n lastige jong Kaapse kobratjie by ons gehad. Hy (dalk sy) was gereeld in die bome agter ons karavaan, waar die voëls sonder uitsondering sy teenwoordigheid weggegee het. Hy ook een middag onder die slapende skilpad deur geseil (wat ons met 'n luide sjjii gewaarsku het) en onder ons kampvrieskas gaan tuismaak. Hy's gou daar verwilder sodat hy nie weer onder die stoeptent gesien is nie.
Dan het ons ook by vier geleenthede (nie dié betrokke vakansie nie) groot pofadders in die kampeerterrein gesien, waarvan ek en Paul (Sanet die skoonmaakster by die ablusies se man) darem kon slaag om een te vang en in die veld te gaan los. Met die ander drie het ek nie hulp gehad nie en hulle is maar gelos.
Renier (Jakob Esau van wie ek hierbo melding gemaak het) het my meegedeel dat twee gesinne eenkeer saam op No's 1 & 2 gekamp het. Een oggend het hulle 'n groot "brunch" gemaak, tafel gedek in die skadu van 'n oorhangende soetdoringboom en gaan aansit. Net op daardie stadium val daar 'n groot Kaapse kobra vanuit die boom op hulle tafel. Renier sê hy't nog nooit gesien dat 'n ete so vinnig in sy peetjie is nie.
Maar die Kersvakansie het ook ander wonderlike wildbesigtiging opgelewer.
Soos Johann Lock reeds genoem het - wild is nie volop nie. Die Karoo het mos maar 'n lae drakrag en gevolglik is daar aansienlik minder diere per eenheidsoppervlak as bv die Krugerwildtuin. Ek beskou wildbesigtiging in die Karoo as 'n absolute bonus. Die meeste van die tyd doen ons niks - en ek bedoel "niks". Ons is vrek goed daarmee - soos hieronder.
Chris daai berg kwaggas is…
Chris daai berg kwaggas is wragties 'n besonderse mooi dier, my vrou se gunsteling.
Dankie vir die pragtige fotos ek kan net nie genoeg van die park kry nie.
Die niks doen van Chris en…
Die niks doen van Chris en Rallie klink vir my presies reg. Ons doen dit ook baie, staar in die verte in en bekyk sommer alles oor en oor. Ons was ook in April oppad terug vir 'n paar dae hier oorgestaan, was heerlik gewees. Besonderse mooi Karoo natuur en sekere wild was redelik sigbaar. On het die renosters en leeus gemis, maar die res geniet. 'n paar keer op bogenoemde roetes gestop en net na die natuur geluister en net gestaan. Rustige kamp om kop skoon te maak.
Dankie...
Môre Chris B
Dankie vir die lekker leesstof. Ek sal hopenlik al jou raad, verskuil as terugvoering, probeer onthou as ek daar gaan oorstaan. Veral waar om NIE jou tafel staan te maak nie.
Waarom so baie slange in die park? Was dit met geleenthede waar die park effe leeg was. Gewoonlik wyk slange as daar te veel aktiwiteit om hulle is. Skielik verstaan ek----dis daai "niks doen" deel
Slange
Wessel - nee daar is inderwaarheid nie so baie slange nie. Maar in die kampeerarea is dit redelik boomryk, met baie voëls en van tyd tot tyd redelik baie streepmuise wat uiteraard die slange sal lok. Dit is maar grotendeels in die warm somermaande wat ek hulle daar gewaar het. Gelukkig het ek nie 'n vrees vir slange nie, alhoewel versigtig vir die ou lot. Maar ek kan my ook verwonder aan slange se doen en late.
Hier by my huis het ons in die somermaande (wisselend van jaar tot jaar) soms 'n "probleem" met boomslange. Ons verdra hulle maar - maar ongelukkig was ek by geleentheid al verplig om van hulle dood te maak as ek nie daarin kon slaag om hulle veilig te verwyder nie (dit was in die tyd toe my kleinkinders nog klein was). Alhoewel boomslange 'n baie "docile" spesie is en selde sal pik, is hulle uiters giftig (die giftigste slang wat ons in Suid-Afrika het). Ek voel elke keer baie sleg as ek 'n slang doodgemaak het.
Maar nee, inderwaarheid het ek nog maar min slange in die Karoo Nasionale Park gesien in verhouding met die aantal kere wat ek daar was. Alhoewel ek nie rekord gehou het nie, was ek na raming tussen 70 en 80 keer in die park - wisselend tussen 1-nag oorbly (hetsy kampeer of in die chalets) tot selfs 3 weke aaneen. Moenie dat die enkele ou slangetjies jou weghou van 'n besoek aan hierdie oase nie.
Verdere besoeke
In September 2010 het ons weer vir 10 dae in die park gaan kampeer. Dit is 'n lekker tyd van die jaar in die Karoo. Die ergste winterkoue is iets van die verlede en die warmte van die somer het nog nie op jou toegeslaan nie. Hier kamp ons weer op ons selfde staanplek as die tyd toe ons aan die einde van 2008 vir die Kers/Nuwejaarstyd daar was.
Afsaal (hieronder) was vir etlike jare slegs by geleentheid deur Sanparke-personeel of Ere-veldwagters gebruik. Deesdae is dit beskikbaar vir enige lid van die publiek. Ek weet Neef Herman-hulle het al daar gebly. Ek het per ongeluk my kamera se kleur verstel en daarom is die foto soos hieronder.
Die Afsaal 4x4 roete is die kortste van almal en gaan knap langs die ou pragplek verby. Ek en Ralie het heelwat kere (toe jy nog kon uitklim - voor die leeus losgelaat is) daar in die skady van die stoep-veranda 'n koue gouetjie geniet. Deesdae is dit slegs vir inwonende gaste toeganklik.
Ek moes tydens my werkende dae heelparty kere kliënte in die Noord-Kaap besoek het. Ek het gewoonlik vir Ralie saamgeneem Die park was dan menige keer ons oornagplek met die heen- en terugreise. Dan het ons gewoonlik in die chalets oorgebly. Terloops - as jy in die chalets oorbly is jou ontbyt in die park se restaurant ingesluit by jou tarief.
Desember 2010 was ons eerste besoek aan die park nadat die vuilbaarde losgelaat is. Ons was net vir die een aand in 'n chalet. Die 3-slaapplek chalets is skakelhuisies - regtig netjiese plekke. ons het in die linkerkantste een, op die foto, oorgeslaap.
Die chalets is gerieflik ingerig met o.a. 'n lekker braaiplek op die stoep en binne kom bykans niks kort nie.
Hierdie is die tipe van uitsig wat jy vanaf jou stoep het.
Nadat ons afgepak het, gaan kyk ek toe gou hoe die leeu-"proof" omheining, net 'n klompie meter vanaf ons blyplek lyk. Met die terugkeer na ons eenheid vra 'n Engelsman (jy kon hoor hy's beslis 'n Brit) of ek die leeus gesien het. Ek sê toe vir hom dat ons maar pas in die park arriveer het en nog nie die leeus gesien het nie. Toe sê hy dat hy praat van die leeus wat daar oorkant lê. Stom van verbasing, sien ek toe die leeus sowat 200 meter anderkant die heining waar hulle 'n kwagga gevang het. Op die foto hieronder probeer ek aandui waar die heining loop (in blou gekleur) en waar die leeus gelê het. Mense kon hulle ook vanuit die restaurant sien.
Later die middag het ons teen die Klipspringerpas uitgery tot by Doornhoek piekniekplek en terug. En langs die pad kry ons toe hierdie ou. Voorwaar 'n gelukkige dag gewees.
Net 'n maand later moes ek weer Noord-Kaap toe gaan vir werk en ons bly toe weer oor in die park. Dit was een van die mooiste besoeke wat ons ooit daar gehad het, toe die Karoo pragtig groen was na goeie reën. Hierdie was toe ons uitsig vanaf ons stoep.
Julle kan maar sê as hierdie insette/foto's julle verveel. Ek raak waarskynlik té liries oor hierdie plek.
Verskoon die laaste foto -…
Verskoon die laaste foto - dit is 'n herhaling en ek kry dit nie ge-"edit" nie.