Middag vriende
Ek is baie gevoelig vir hitte en son, dus kampeer ek baie moeilik tussen einde September en middel Maart, hier om Brits. Dan is daar natuurlik ook die risiko van hael en donderstorms, hier, en selfs in die Vrystaat.
Tog is die weer onvoorspelbaar, en het dit al in Meimaand gehael in die Kruger.
Wie het ook voorkeur kampeer seisoene, asook gebiede wat julle vermy in sekere tye.
My kamp tye is gewoonlik Okt…
My kamp tye is gewoonlik Okt/Nov en dan weer tussen Feb-Mei. My vrou hou gladnie van die koue maande kamp nie. Ek gaan ook met my jaarlikse verlof Feb/Mrt elke jaar. Kamp nie eintlik met my jaarlikse verlof nie aangesien ek redelik goedkoop verblyf het in die Kaap.
Ek en my......................
Ek en my wederhelfte het gelukkig geen spesifieke voorkeur nie. Ons kamp graag in wintertyd in die Kruger Wildtuin want as jy eers daar is, is dit so te sê somerweer ! Meimaand is heerlik en selfs in die Julie skoolvakansie. Maar oppad soontoe slaap ons dikwels oor en dan sorg die koue nagte vir 'n snoesige nagrus en kuier. Ons slaap beslis nie koud nie en span ons elektriese kombers en lugversorger in. Die KZN suidkus is heerlik in Junie/Julie vir kampering, maar omdat dit tans te ver is, het ons dit lanklaas gedoen
Februarie-maand is ons see-vakansie maand by Hartenbos. As ons die Tuinroete sou doen en sommer Addo, Bergkwagga en Karoo aanhak, dan verkies ons Septembermaand. Paasnaweek en Desember/Januarie vermy ons egter bloot omdat dit te bedrywig is.
Maart/April is ons "kultuur"-kamp by die KKNK in Oudtshoorn by Kleinplaas, maar dit het lanklaas gebeur vanweë Covid.
Opsommend : die weer pla ons geensins tydens kamp-vakansies nie, maar ons vermy eerder net die bedrywigste maande.
Dit hang af waar
Ek kry eerder warm as koud, geniet nie sterk wind nie, en reën werk nie baie lekker saam met kampeer nie. Hier in die Wes-Kaap is September tot einde April dus vir my die regte seisoen. Middel winter is my voorkeur vir die Kruger wildtuin. Noudat Chris Jnr Gr 1 toe gaan sal ons maar by die skooltermyne ook hou, en langer toere sal daarby moet inpas.
Kampseisoene
Ek hou van die oorgangseisoene - herfs en lente. Wintertyd is Laeveldtyd. Des/Jan is meestal té bedrywig na my sin, behalwe as jy 'n kleiner oord/park besoek - soos Karoo Nas Park.
Na my mening is die beste tyd (wat die weer aanbetref) om die Kaapse kusoorde te besoek gedurende Feb/Mrt.
Ek gee nie soseer om vir koud of warm kry nie. Ek hou egter nie van reën of wind as ek kamp nie, maar maak die beste daarvan as dit wel tydens my kampvakansie gebeur.
Maak egter nie saak watter tyd van die jaar dit is nie, maar ek kamp nie vir korter as 7 - 10 dae nie. Die ou lyf protesteer te veel met op- of afslanery. Daar moet genoeg rustyd wees tussen aankoms- en vertrekdatum.
Na ons onlangse 4 en 'n half maande kampvakansie rus ek nou-eers lekker hier by my eie huis by die see. Alles is intussen skoongemaak en die wa wag vir ons Maart-trippie (13 nagte) na Ebb & Flow.
Wes Kaap en kus klimaat
Ek vermoed dat die DA-burgers die voordeel het van 'n baie meer gematigde klimaat. Dit is nou nie die vreeslike koue, vreeslike hitte en onverwagse haelbuie nie.
Gelukkig is wintermaande in die ou Transvaal en Wildtuin ook droë maande, dus pla die reen nie.
Ek stem saam, wind is altyd onaangenaam. 'n Vriend noem laasweek vir my, sodra jy arriveer by Scottburgh, slaan jy klaar op. Soos in binne tent toue grond toe, stormbande oor, en stormnet oor alles. Hy staan so, vir maklik 2 maande reg voor op die see. Ek is bevrees my Kavango se vorm en tent uitleg, gaan dit bemoeilik. Dit bly die slegste slaap, as mens lê en luister hoe tente klap in die wind.
Wind
Ek is bevrees my Kavango se vorm en tent uitleg, gaan dit bemoeilik. Dit bly die slegste slaap, as mens lê en luister hoe tente klap in die wind.
Maar dis mos ‘n perfekte projekkie tydens julle geen-kampeer seisoen om ‘n tent met ‘n raamwerk te prakseer soos myne. Ek sit maar vir gemoedsrus ‘n stormband oor, maar het al gestaan sonder om eers toue oor die hoekpale te span. ‘n Raamwerk is ‘n wenner. Vat so paar minute ekstra om op en af te slaan maar uit en uit die moeite werd.
Terloops; hier by ons sny die berge ons af van die see se matigende effek, en ons kry koue winters en warm somers. Maar na die afgelope verkiesing bly ons ook nie meer in DA-land nie so ons tel seker nie.
Weet nie wanneer die somer…
Weet nie wanneer die somer Durban toe gaan kom nie want dit bly koel en bewolk en ons kry redelik baie reën.
Kan nie onthou hoeveel dae ons oor 24 grade C gehad het nie. Slaap in die aande nog met duvet oor ons. Spaar gelukkig krag om nie lugversorger te gebruik nie.
Watse somer?
Die somer het meestal weggebly hier by ons ook tot só eergister. Vandag en gister was lekker warm. Ons warmste tye kom nog in Desember, Januarie en Februarie.
Maar Durban kry darem nie regtig winter nie. Jare gelede toe die Gunston 500 branderplank kompetisie nog jaarliks plaasgevind het, het ons ‘n paar jaar na mekaar Durban toe gery vir ‘n naweek om dit te gaan kyk. Die Durbaniete het altyd die Vaalies wat in Julie swem en met kortbroeke rondgeloop het skeef aangekyk.
KZN en winters
Toe ons destyds in Pretoria woonagtig was en later in Roodepoort, het ons gereeld in Junie/Julie by Natalia en Scottburgh aan die KZN se suidkus gekamp - heerlik man, geen teken van werklike winter nie !
Somer en winter
Innie somer maande kuier ek ooral maar innie winter gaan ons gewoontlik KZN toe maar volgende jaar wil ons innie winter oom Paul se tuin bietjie probeer kamp sal ons kamp
Winter 2022 ...
Surette dink ons moet KZN toe gaan vir die Julie vakansie, weet net nie of sy gaan plek kry nie ?
Die seisoene is nie meer wat hulle was nie
Ons het meer as twee weke laas geswem, want dit was meer as twee weke laas warm genoeg. Intussen het ons twee keer reën gehad, insluitende ‘n donderstorm soos wat ek laas op die hoëveld gesien het en wat ‘n vriend wat al amper 40 jaar hier woon nog nooit hier gesien het nie. En môre is 1 Desember.
Dit maak dit moeiliker om te besluit wat jou gunsteling seisoen vir kampeer is. Vir Saterdag word daar weer reen voorspel. Dit lyk egter asof ek alleen daar gaan slaap. Salomien is onder geweldige druk om werk klaar te kry voor ons oor twee weke Dwarswegstrand toe ry (waar die weer terloops tans baie goor lyk, en Mosselbaai is veronderstel om sulke aangename weer te hê).
Komende naweek gaan die kinders deur die dag by die oord kuier terwyl Salomien tuis werk. Sy kom haal hulle dan in die namiddag om tuis te slaap. Ek glo dus nie ek gaan die voorste- of sytent opslaan nie. Net die dak opwip en die stort uitskuif en op die agterste bed slaap. Reën behoort my dus nie te pla nie.
Aangesien ek permanent kamp,…
Aangesien ek permanent kamp, kamp ek uiteraard al die seisoene.
Ek probeer wel om die wintermaande heel noord in Limpopo of andersins op die Natalse Noordkus te kamp.
Ek is glad nie ń ou vir koue nie!!
Daai hael....
Middag Shaun
....waarvan ek praat. Ek weet mens kan die weer en elemente nie voorskryf of voorspel nie, maar sjoe, ek probeer my risiko's altyd so laag as moontlik bestuur. Dit is waarom ek nie die tye om Brits omgewing wil kamp nie, behalwe as mens seker onder skadu/haelnet kan staan.
Ek weet sommer ou Arie gaan my dadelik daarop wys, dat mens mos versekering het vir sulke gevalle. Die ergste is dat dit al in Mei/Junie maand so erg in Kruger gehael het in 2018.
Wessel, nee ek gaan dit nie…
Wessel, nee ek gaan dit nie vir jou sê nie!
Dit is ongelooflik hoe min mense dekking het, gewoonlik net as hulle nog op die voertuig skuld!





Klimaat/seisoen en kampeer ...
Ek het nog nooi voorkeur seisoene gehad nie, maar deesdae raak die winters vir my ongemaklik koud.
Gelukkig pla die hitte my nie. Was al twee keer in Desember by die Eiland Spa en dit baie geniet. Desember 2019 by Dinokeng Resort net Noord van Pretoria vir 4 weke gestaan. So ook by Loskop dam ens.
Voor Wijan was dit meeste Februarie verlof tyd.