Dit smaak my Roemenië kan dalk vir die Bouchers realiseer. So pas met ons dogter gesels en dinge klink heel positief dat ons voorgenome besoek dalk kan gebeur. Ai, my vroutjie-lief sal haar spreekwoordelike agtertande gee om by haar dogter en kleindogter (en natuurlik ook skoonseun) te gaan kuier. Moet darem sê - ekself ook.
My dogter stuur intussen die uitnodiging (wat nodig is vir visums). Ek het verlede week gekyk na vlugkostes. Tussen verlede week en nou is daar reeds R1000 verskil (duurder).
Dus - ons hoop maar dinge realiseer. Indien wel, hoop ons om vanaf vroeg Julie tot mid-September te gaan kuier. Ons sou wat wou gee om haar 45ste verjaarsdag môre met haar te kon deel.
Len ...
... jy slaan die spyker op die kop met jou eerste twee punte. Ek verlang nou huistoe (weg van katte af). Maar ek verlang nie na ons huidige Suid-Afrika met al sy bollie nie. Ek lees maar van Fase 6 beurtkrag en die verwagting dat beurtkrag nog vir lank voorspel word. Dalk het ek maar wel 'n fout gemaak om nie die solarstelsel te laat installeer nie. Tans is ek bekommerd oor my huis se alarmstelsel se "back-up" battery wat nie gaan hou nie. Die alarm is al sedert 8 Augustus vir 24/7 gestel en ek's bevrees met fase 6 kry die battery nie genoeg tyd om ten volle te herlaai nie.
Die Plantar fasciitis is darem gelukkig aansienlik beter, maar ek gedra my nog maar rustig wat stap aanbetref. Ek sal egter een of ander tyd my slegtheid moet laat los, want daar moet 'n paar inkopies gedoen word ten einde te voldoen aan die bestellings wat my kleinkinders in SA geplaas het. Woensdag sal ons die meeste pakwerk wil afhandel, want Donderdagmiddag vat ons die pad Bucharest toe vir die terugvlug (wat soos 'n berg voor my lê).
Chris, wil nou nie jou…
Chris, wil nou nie jou gesprekslyn kaap / natal nie - ek het my elektriese omheining se 7.5 apu batery met 'n 102 apu diep siklus vervang, dit is ongelukig nog op eskom se deel (woonstel is nie op die solar nie) en dit behoort paar dae te hou.
Die alarm en die hek is darem op die huis se solar stelsel.
Nou, skuus, terug na die doel van die lekker gesprek, ek hoor wat jy sê van die verlange na ons land, jong mense pas maklik daar ver aan, maar ons ouer garde kom nie reg daar nie.
Daai vliegtuig sit vir 11+ uur, nee o genade, ek sien ook nie uit na ons vlug nie, as ons eers daar is, geniet ons die omgewing, veral ons kinders en kleinkinders, maar dit is nie SA nie.
Die terugreis
Die grootste inpakwerk is afgehandel. Môre is dit nog net 'n paar "odds and ends" wat hulle plekkie moet kry. Dit het maar mooi inpas en rondskuif in die tasse gekos om vir al die bestellings van die twee SA kleinkinders 'n plekkie te kry. Hulle tannie hier in Roemenië het hulle oor die jare bederf met die plaaslike lekkergoed wat sy gereeld SA toe neem. Nou's dit oupa en ouma se beurt om die lekkergoed saam te karwei.
Ons sal seker teen laatmiddag die pad Bucharest toe vat. Ons vlug vertrek om 22:00 na Istanbul, waar ons ongeveer 'n 2 en 'n half uur "lay-over" het. Ons vertrek daarvandaan 01:50 en arriveer in Kaapstad om 11:05 Vrydagoggend.
Die 6 weke het spreekwoordelik verbygevlieg. Dit was 'n voorreg om hier te kon kuier - hoogs waarskynlik 'n laaste keer. Vir 'n pensioenaris raak dit net te duur en hierdie ouballie se boeppens laat hom al hoe ongemakliker in 'n beknopte vliegtuigsitplek voel vir bykans 11 uur.
Time flies when you’re having fun
Dit voel vir my ook of die ses weke baie vinnig gegaan het. Ons het heerlik saam getoer, baie dankie vir die vertelling en foto’s. Julle moet veilig terugreis. Sterkte met die lang sit. Ek staan maar gereeld op en loop na die agterste kombuis waar mens bietjie kan strek en die lam gat losmaak. En drink baie water.
Tuis
Op tuisbodem sedert die vliegmasjien vanoggend om 11:01 sy wiele op Kaapstad Lughawe neergesit het.
Tans aan die uitpak voor beurtkrag sy kloue inslaan - iets wat ons vir 6 weke lank nie geken het nie. En toe ek my alarms afskakel en my "tronkdeure" oopsluit, was ek terdeë bewus van die feit dat ek terug is in SA.
Steeds is ons dankbaar om na 6 weke terug te wees by ons huis. En vanaand sal daar ongetwyfeld 'n tjoppie, boerewors en braaibroodjie op die kole sneuwel. 6 weke daarsonder?? Dis 'n straf vir 'n Suid-Afrikaner.
Welkom veilig terug Chris,…
Welkom veilig terug Chris, soos hulle sê "(Oos Wes, tuis bes)
Laat daai rokie trek, laat die vleisie tan, en die wyntjie gly🍷🥩👍
Welkom tuis!
6 weke is lekker lank, maar lekker is altyd te kort.
Mens moet mos by kers lig…
Sekere dinge het nie ligte nodig nie
al is die ligte af
Verwelkomingspartytjie
Môre Chris B
dis nou jammer dat die timing uit was met die verwelkomingspartytjie. Weet jy, ek het vermoed die betogers gaan die datums opmors, en toe arriveer jy wraggies nadat hulle tekere gegaan het.
Welkom terug in onse land, hoop alles is 100% by huis en dat Hilux darem "gestart" het. Indien nie, moenie dit op die forum noem nie
Roemenië 2023
Ek sal seker eersdaags 'n nuwe gesprekslyn moet begin, getiteld wat my opskrif hierbo is, naamlik "Roemenië 2023".
My beterhelfte se verlange na haar ver kinders het uiteindelik die oorhand oor my gekry. Tot só 'n mate dat ek maar geswig het onder die alewige skimpe en verlange-stories. As alles volgens plan verloop, beoog ons om mid-Aug tot end-Sep te gaan kuier. Ek is besig met vlug-navrae en dit blyk redelik seker te wees dat, indien ons planne realiseer, ons maar weer met Turkish Airlines via Istanbul sal vlieg.
Ek het intussen 'n paar sommetjies gemaak om kostes te vergelyk. Die nagenoeg R26k wat kaartjies ons gaan kos, plus visum-kostes, gaan min duurder wees (indien wel) as 'n 3 - 4 maande woonwa-vakansie wildtuin en Eiland Spa toe soos ons graag in die verlede gedoen het. En in Roemeniē bly ons so te sê "kosteloos" alhoewel pa darem sy mildelike gedeelte tot die verhoogde huishoudingskostes sal bydra. En hoe seg die Wildehont - "happy wife, happy life".
Ek is net dankbaar dat daardie twee hooikoors-veroorsakende klein katte nie meer daar is nie. Hulle het intussen 'n nuwe tuiste in Duitsland gevind.
Klink vir my na 'n baie…
Klink vir my na 'n baie goeie vooruitsig om na uit te sien.
Ek is net dankbaar dat…
Ek is net dankbaar dat daardie twee hooikoors-veroorsakende klein katte nie meer daar is nie. Hulle het intussen 'n nuwe tuiste in Duitsland gevind.
Nog 'n beter rede om te gaan kuier.
Lekker
En in Roemeniē bly ons so te sê "kosteloos" alhoewel pa darem sy mildelike gedeelte tot die verhoogde huishoudingskostes sal bydra. En hoe seg die Wildehont - "happy wife, happy life".
Ek is net dankbaar dat daardie twee hooikoors-veroorsakende klein katte nie meer daar is nie.
By die huis het mens ook maar lewenskostes, of is dit ingereken in die koste van die Eiland Spa vakansie? Julle vlieg kaartjies is gelykstaande aan die Prado se petrolrekening vir ons komende toer.
Ek is saam bly oor die katte. Ek is ‘n honde mens.





ChrisB..............
................ek sien op een van jou ander insette jou SA-toerprogram kry weer lewe en dit kan net een of al die volgende beteken :-
(* gewig verloor : ek het goeie raat vir jou : laat jou dokters toe om jou dikderm te verwyder !. Ralie sal jou naderhand smeek om te eet waarvoor jy lus is, net om gewig op te tel).