Ek begin maar die gesprekslyn, want die slapies raak nou min. Ons is twee gesinne wat saam toer. Almal ken my kombinasie van 2008 Prado en 2008 Kavango. Ons vriende Riël en Jacolien se kinders is byna presies so oud soos ons twee, maar hulle het twee dogtertjies en sleep ‘n 2005 Penta met ‘n 2017 Everest 2.2. Vir die toer leen hulle ‘n vriend se nat nuwe Conquerer Commander. Hulle huur ook ‘n 4x4 Fortuner by Kgalagadi Lodge vir die eerste paar dae in die park. Hier is ons program:
31 Maart: Worcester tot by Oranjerus in vaste verblyf. ‘n Baie lang dag.
1-3 April: Kalahari Trails Eco Camp kampering 36km buite Twee Rivieren hek.
3-5 April: Polentswa kampering ‘n uur noord van Nossob. Die eerste dag ook ‘n lange
5-9 April: Rooiputs kampering. Die eerste dag ook ‘n lange.
9 April: Vaste verblyf buite Brandvlei. Ook ‘n redelike lang dag.
10 April: Worcester. Omtrent ewe ver as die vorige dag, maar sonder om kamp op te pak die oggend.
Lekker man, lekker
Nou 'brag' nou maar met 'n paar foto's sodat ons tuisblyers lekker kan kwyl.
Nee wat....
......soos ek die smalle ken is alles op sy vrou se fancy kamera. Kom hulle by die huis, is dit net werk en werk, en vergeet skoon van die vakansie fotos.
Grappies op 'n stokkie, dis lekker om die katte so te kry.
Baie dankie ChrisS..............
.................vir die opdatering van julle Kgalagadi-trippie. Ek hoop julle kry nog 'n paar gelukkige besigtigings vandag en môre. Ek wens julle ook 'n veilige terugreis huis toe, slang-wêreld toe. (Die wêreld se media is aan die brand met die berig van 'n ligte vliegtuig wat by Worcester opgestyg het met 'n Kaapse Kobra wat oor die vliënier se lyf geseil het en hy moes 'n noodlanding doen in Welkom - slang is nog steeds soek !)
Ons sien uit na jou foto-verslag.
Ons laaste sonsopkoms
Ons het sopas bande gepomp by Twee Rivieren en gaan nou ry Brandvlei toe.

Dit is mooi, al wat ek kan…
Dit is mooi, al wat ek kan sê, geen wonder daar is so baie digters wat oor die Afrika son opkoms en ondergang geskryf het nie.
Veilige rit verder Chris.
Chris, julle moet veilig…
Chris, julle moet veilig terug sleep huiswaarts.🙏🏻
Dankie, wag ook vir die foto toer. 👏🏻👍🏻
Fotos dankie
Middag Chris S
Ek sien uit na die res van jou toer, dit oortuig my dalk net om Grompie met skillie volgende jaar weer in daai rigting te draai.
Dis net die afstand soheentoe wat rof is. O ja en dan die verdomde Vryburg wat mens met moeite kan mis.
Welkom terug...
Môre Chris S
Ek sien julle is terug. Nou kan jy sodra julle alles op hulle plekke het, die "inbox" leeg is, en lessenaar opgeruim van werkprobleme, begin om dag vir dag terugvoer te gee.
Ek vermoed die hele forum sit al en kwyl om jou foto's te sien, en wedevaringe te lees.
Veilig tuis
Ja Wessel, ons het gistermiddag 15:30 tuisgekom na ‘n heerlike toer. Meer terugvoer en foto’s sal nog volg, maar nou moet ek eers weer bietjie werk. Ek het vanoggend oppad hierheen die Prado vol gemaak. Die totale koste vir petrol was R12 256,80. Dis so R2 500 minder as wat ek begroot het. Die verbruik was wat ek verwag het en nog bietjie beter. Ek het die Prado hard gery, en ons was gelaai.
Soos elders genoem sleep die voertuig vrek lekker, en ry boonop baie gemaklik. Die bietjie sand wat ons teegekom het by Rooiputs was geen uitdaging nie, en daar was geen meganiese probleme nie. Ek het dus besluit om die Everest te laat gaan. Daar is eenvoudig geen vergelyking tussen die twee voertuie nie.
Net gou vir Oom Len se inligting; toe ons Oujaarsdag van Bontebok NP af in Swellendam stop wou die Prado nie start nie. Die probleem het ‘n paar keer daarna herhaal, telkens wanneer die enjin warm gery was, en dit baie warm buite was. Die aansitter is nagegaan, en afgesien van bedrading by die aansitter wat reggestel is, was daar nie fout nie. Hein, die auto-elektrisiën hier in Worcester wat ek gebruik en vertrou, het voorgestel dat ek ‘n stel soliede brass battery terminale byderhand hou vir ingeval die probleem weer opduik.
Dit het toe by Oranjerus, en ek het die terminale by die lieflike Walker’s Midas in Upington gekoop en laat opsit by ‘n plek wat batterye, skokbrekers ens installeer. Die besigheid heet Quick Lane en sit langs Ford in Schroderstraat. Nadat dit gedoen is vra ek hoeveel ek skuld vir die werk en die ou wat my gehelp het sê niks nie. Ek het nie kontant by my gehad nie, maar later teruggegaan om vir hom R100 te gee. Hy wou dit eers nie vat nie, maar ek het aangedring daarop. Dit was lekker warm die hele tyd wat ons naby en in Kgalagadi was en die Prado is herhaaldelik afgeskakel en weer aangesluit. Die probleem het nog nie weer opgeduik nie, en ek glo dus die ou terminale waarmee die kar uitgekom het was die oorsaak soos Hein vermoed het.
Walker’s Midas is ‘n puik winkel waar ek ure en baie geld sou kon spandeer en hulle is baie behulpsaam. Dis ook duidelik dat hulle naby Kgalagadi is, want daar is ‘n rak met wiellaers en die een hier onder met bladvere, aste, koppelstukke en neuswiele. Kgalagadi is hard op voertuie maar die paaie was 95% van dit wat ons gery het in puik toestand en onlangs gesleep of geskraap. Ons het dit nog nie op een van ons vorige drie besoeke in so wonderlike toestand gekry nie. Dit was ‘n plesier.

Dankie ChrisS....................
................, maar ek wonder tog hoe steek die hef in die vurk ? Wat gebeur met die ou battery-pool-koppelings as dit warm is dat die enjin nie wil aanskakel nie - in so 'n geval aanvaar ek alles is dood en die enjin draai ook nie eers nie ? Ek wonder, sou die probleem opgelos gewees het met 'n stel nuwe, gewone, nie-soliede-brass terminale ?
Swak geleiding
Ek weet nie hoekom dit net gebeur het as dit warm was nie. As die voertuig egter bietjie afgekoel het, het dit weer normaal aangesluit. Voor dit kom die liggies aan soos normaal, maar sodra ek die sleutel draai gebeur niks. Nie eers ‘n klik nie. Al wat ek kan dink is dat daar nie voldoende geleiding van die elektrisiteit na die aansitter plaasgevind het nie. Volgens Hein is die meeste terminale deesdae lood wat met ‘n brass lagie bedek is. Die soliede brass terminale wat ek gekoop het was ordes duurder (R222) as die ander wat daar was en het duidelik op die verpakking aangetoon dat dit soliede brass is. Hulle is meer bestand teen korrosie en die groen lagie aanpaksel wat soms vorm op lood.
Walker’s Midas ...
Het jy nie gekyk vir 'n stel vere vir die wa nie ? Net vir intresantgeit.
Geelslang
Ja, het gelees die Vliegklub se resident geelslang het gepak vir Perth en toe gaan Welkom voel.
Prado is die beste wat Toyota ooit gemaak het. Meer hanteerbare grootte en met daai fluweelsagte 4l V6. Iets waarvan ek altyd sal droom.
My lyf slaap in die Kaap maar my hart swerf snags van Unions End na Gharagab, of beur Urikaruus toe. Julle was op die beste plek en woon op 'n gaafste plek.
Kalahari Trails
Ek het nie ‘n dagboek gehou nie, so sal maar vertel wat ek onthou per kampplek.
Uit Upington is ons Kalahari Trails toe. Dis so 36km voor Twee Rivieren, en ‘n oorstop wat ek definitief kan aanbeveel. Ek het dit aanvanklik bespreek omdat ek nie kon plek kry by Twee Rivieren nie, en nie by Kgalagadi Lifestyle Lodge wou staan nie. Lg is wel heelwat nader aan Twee Rivieren, maar dis teen die teerpad, en dit lyk nie vir my of daar iets anders is om te doen as in die park ingaan vir wildritte nie.
Ek is baie bly ek het by Kalahari Trails bespreek. Hulle Eco staanplekke is heel skaflik, elk met ‘n eie badkamertjie en kragpunt. Daar is ook warm water as jy dit sou verkies in die hitte. Die staanplekke is ‘n entjie uit mekaar, en daar is vyf as ek reg onthou. Ons het twee plekke langs mekaar gehad, en sommer naby aan mekaar opgeslaan.

Die staanplekke kyk uit oor tipiese Kalahari veld. Daar is wel heelwat muskeet bome, wat uitheems is, op die plaas. Van hulle bied darem skaduwee, want dit was lekker warm. Die kinders het vir hulleself ‘n “swembad” gegrawe en heerlik in die rooi sand en modder gespeel.

Dis ‘n heerlike plek om te ontspan. Mens kan ook gaan stap (alleen of met ‘n gids) en Kgalagadi toe ry as jy sou wou. ‘n Groot bederf van Kalahari Trails lê in hulle trop meerkatte wat mense gewoond is. Van hulle is aan die eienaar (wat intussen oorlede is, maar haar seun Richard het oorgeneem) gegee as ongewenste troeteldiere. Intussen het hulle ‘n trop gevorm en kleintjies gekry. Hulle loop vry rond op die plaas, en was op ons vol dag daar twee keer by ons staanplekke. Die laaste oggend terwyl ons oppak het hulle weer kom kuier.

Hulle snuffel rond en grawe, maar is nie ‘n oorlas nie en bedel nie vir kos nie. Een kleinerige een het wel amper ‘n gat in my grondseil geknaag toe iets onder dit hom interesseer het. Verder was dit werklik ‘n genot om so naby hulle te kom en hulle doen en late dop te hou. Hier staan die kinders na hulle en kyk.

Hier het ek hulle van naby met my foon afgeneem (ons kameras het nie saamgegaan nie Wessel - dus gaan hier net slimfoon foto’s wees).

En hier sit ek en die kinders vir hulle en kyk nadat ons gaan stap het die Sondagoggend.

Ons het albei aande lekker gebraai en die stilte geniet terwyl ons heerlik kuier om die vuur. Snags het springbokke en gemsbokke naby ons staanplekke gewei. Ek het my ultraviolet liggie gebruik wat altyd in die Kavango is, en die knaap tussen die waens gekry. Gelukkig het Riël hom gesien voor hy gesteek is.

Ons is gewaarsku deur ‘n gids wat daar werk, en gereeld kom inloer het by ons met die mak meerkat wat nog nie deur die trop aanvaar is nie, dat daar baie skerpioene is. Ons het dus saans skoene aangetrek. Dit help ook vir die stof wat mens se hakke skurf en droog maak. Een van die opsionele aktiwiteite is om saam met ‘n gids skerpioene te gaan jag in die aand. Sy het vir ons ‘n klompie kom wys wat hulle die Saterdagaand gevang het, en een vir die mak meerkat gegee om te eet. Die dragtige skerpioen wyfies laat gaan sy weer in die veld.
Ons het ‘n heerlike tyd gehad by Kalahari Trails en almal saamgestem dat twee aande eintlik te kort is. Ons het die Sondagaand al die waens se afdakke laat sak om tyd te bespaar die Maandag wanneer ons ver sou moes ry Polentswa toe. Die foto is die oggend geneem terwyl ons opgepak het.

Baie gelukkig met haar
Prado is die beste wat Toyota ooit gemaak het. Meer hanteerbare grootte en met daai fluweelsagte 4l V6. Iets waarvan ek altyd sal droom.
Dis iets waarvan ek ook al lank droom in die geheim. Toe kom die een oor my pad en toe ek weer my oë uitvee koop ek ‘n voertuig met meer as 360 000km op. Ek was nog nie een keer spyt gewees nie, en het my vrees vir die groot dors verloor. Dit help nie om ‘n petrol Prado te probeer pamperlang nie, hulle moet met ‘n sterk regtervoet gery word. Dit maak in elk geval geen verskil aan die brandstofverbruik nie. BMW het altyd in hulle advertensies gepraat van sheer driving pleasure. Hulle het duidelik nog nie met ‘n petrol Prado gery nie.
Enige foto.....
....is welkom, tot slimfone s'n!!!
Het julle die kinders sommer met tuinslang skoon gespuit?? As kinders so kan speel, dan is daar hoop vir die toekoms.
Ek het baie om te lees en op…
Ek het baie om te lees en op te vang hier - totaal van 78 Insette ![]()
Kahari Trails
Dit klink en lyk na 'n lekker plek. Ek aanvaar dit is nie juis geskik om met padkaravane daarnatoe te gaan nie?
Ai - ek wens ek kon ook verslag doen oor ons April 2023 besoek aan Kgalagadi. Maar nou ja, dit is ounuus dat ons, wat vanaf vanaand vir 3 aande in Twee Rivieren sou wees, noodwendig moes kanselleer. Maar as alles volgens plan verloop vertrek ons môre oor 3 weke op ons driehoek-toertjie. Mensig - ons sien uit daarna.
Ek geniet jou terugvoer Chris WH.





Dit gaan baie goed behalwe