Ek begin maar die gesprekslyn, want die slapies raak nou min. Ons is twee gesinne wat saam toer. Almal ken my kombinasie van 2008 Prado en 2008 Kavango. Ons vriende Riël en Jacolien se kinders is byna presies so oud soos ons twee, maar hulle het twee dogtertjies en sleep ‘n 2005 Penta met ‘n 2017 Everest 2.2. Vir die toer leen hulle ‘n vriend se nat nuwe Conquerer Commander. Hulle huur ook ‘n 4x4 Fortuner by Kgalagadi Lodge vir die eerste paar dae in die park. Hier is ons program:
31 Maart: Worcester tot by Oranjerus in vaste verblyf. ‘n Baie lang dag.
1-3 April: Kalahari Trails Eco Camp kampering 36km buite Twee Rivieren hek.
3-5 April: Polentswa kampering ‘n uur noord van Nossob. Die eerste dag ook ‘n lange
5-9 April: Rooiputs kampering. Die eerste dag ook ‘n lange.
9 April: Vaste verblyf buite Brandvlei. Ook ‘n redelike lang dag.
10 April: Worcester. Omtrent ewe ver as die vorige dag, maar sonder om kamp op te pak die oggend.
Stem oor Mata Mata. Niks…
Stem oor Mata Mata. Niks fout nie, en Twee Rivieren is n ideale plek om jou padkaravaan te parkeer en van daar kan jy die hele Park besoek. Ons vra by ontvangs of daar dalk n hut of huisie oop is vir n aand sodra ons arriveer, en met geluk is daar n dag tydens die kampeervakansie om op te raap. Ek gee gladnie om Jurgie vir n aand te los en erens anders te gaan oorbly nie. Op die manier het ons by Mata in die huis vir mense met mobiliteitsprobleme oorgebly. was sommer lekker luuks en baie privaat.
Volgende Vrydag vat ons die pad. Hierdie Vrydag wiellaers laat pak, en sommer klaar die tenk volmaak.
Die laaste episode - Rooiputs
Nadat ons die leeus gesien het, het ons met ‘n lied in die hart verder opgepak by Polentswa. Oppad Nossob toe naby Bedinkt suiping het ‘n leeu met ‘n karkas van ‘n hartebees gelê. Mens kon egter net die leeu se rug sien. Salomien het ‘n ent verder ‘n vaalboskat gesien aan haar kant. Dit was vinnig aan die stap, en ons vriende het dit nie gesien nie. By Nossob het ons nog ys gekoop, die badkamers gebruik, vullis weggegooi wat ons saam gery het van Polentswa af, en die waens se watertenks volgemaak.
Kampeerders in Nossob het ons vertel van leeus op Marie se draai. Ons het so om gery, maar hulle nie gesien nie. Chris Jnr het wel ‘n gevlekte hiëna onder ‘n boom aan sy kant gesien. Dit het daar gebly sodat ons oor die radio vir ons vriende agter ons ook daarvan kon sê.
Toe ons by Dikbaardskolk aankom sê ‘n oom vir ons daar is drie jagluiperds 7,2km verder aan. Ons besluit opgewonde om eers te gaan kyk, maar kry hulle nie. Toe sit ons met die dilemma van omdraai met ‘n wa op die uitgeskraapte paaie. Ons besluit op die ou end om maar eerder aan te stoot Melkvlei toe. Net voor Melkvlei kom ‘n Landcruiser bakkie aan my regterkant verby, ten spyte daarvan dat ek reeds 50kph ry. Ek het dit ook nie sien kom nie, want ek het vooroor gesit om my rug bietjie af te koel. Sou ek net effens uitdraai om welke rede was dit ‘n ongeluk.
By Rooiputs het ons die Conquerer staangemaak waar sy sonpanele die beste gaan werk, toe is Riël en Jacolien Kgalagadi Lifestyle Lodge toe om die Fortuner terug te gee en hulle Everest te kry. Ek het alleen die Kavango staangemaak en die afdak opgeslaan terwyl Salomien saam met al vier kinders krieket gespeel het in die sand. Toe het hulle die Conquerer se vlermuisvlerk afdak oopgemaak en die grondseile uitgesit. Toe Riël hulle terugkom, kon hulle die res van die opslaan werk doen.


Ek het Riël gevra vir ‘n eerlike mening oor die ritgerief van die Fortuner in vergelyking met sy Everest. Ek het al by ‘n paar mense gehoor dat die Hilux en Fortuner jou agterstewe laat les opsê. Hy het daarmee saamgestem, en sê die Everest bied definitief ‘n gemakliker rit. Die Fortuner se kantspieel aan die bestuurder se kant het ook iets los gehad en ‘n irriterende geluid gemaak. Dit ry waarskynlik net in Kgalagadi, en die Prado se sierrooster het al teen ons derde dag ‘n moertjie wat dit aan een kant vashou verloor en begin ratel. Ek het sommer ‘n kabelstrop om die boutjie se punt styf vasgetrek en toe is die geluid weg. Ek moet tog onthou om ‘n moertjie te soek in die motorhuis. My liewe vader het al ons Purity botteltjies gehou, en ‘n rak gebou waarin amper elke denkbare skroef, moer, waster, klinknael en ander goedjies in die netjies gemerkte botteltjies gerangskik is. Ek het dit gelukkig geërf, en is seker ek sal die regte een in die motorhuis kry.
Daar was water by Rooiputs se “badkamers” terwyl ons daar was. Riël hulle het dus die Conquerer se stort gebruik, terwyl ek nog die swart stort sakke in die storthokkie gebruik het. Snags was as die son begin sak en deur die nag het die blaffende geitjies vir mooi agtergrond musiek gesorg. Rooi jakkalse en ‘n silwer vos of twee het kom rondsnuffel. Een van eg het opgespring en ‘n vuilgoedsak wat aan ‘n kameeldoring gehang het afgepluk. Dit was in die dag. Snags het ons sulke goed weggepak. Toe ons terugkom van ons eerste oggend rit, het kraaie die swembad noodles om my tentpenne se vere afgetrek en goed in ons kombuis omgekrap. Daarna het ons alles maar weggepak voor ons op ‘n rit gaan.
Rooiputs is nader aan die “beskawing”, en dus kom die kraaie ongelukkig ook tot daar. Daar is darem ‘n vullisdrom naby aan die SA grens waar ons daagliks vuilgoed kon los. Van Polentswa af moet jy alles saamry. Ons het papier en organiese goed verbrand, en die plastiek, glas en blikke in swartsakke bymekaar gemaak. Die Rooiputs lodge is ook nie ver van die staanplekke af nie, maar is agter ‘n duin en steur nie. Ons het een middag gou gaan kyk hoe lyk dit daar. Dis glad nie sleg nie, en die leeus kom kuier blykbaar gereeld, soos die foto teen hulle muur toon. Dit kos egter P2 000 pp/nag wat nie drankies en wildritte insluit nie.



Rooiputs is in ons ervaring in ‘n meer produktiewe wildkyk area, en met meer opsies om na te ry. Dis ook redelik naby aan Twee Rivieren indien mens iets daar sou benodig. Staanplekke 1 en 2 deel ‘n put toilet en stortskerm, die ander vier het elk hulle eie. 3 en 4 is vir my die lekkerste. Ons het drie aande by 2 gestaan, en moes toe ingevolge ons bespreking skuif na 3 vir die laaste aand. Ons het toe lig opgeslaan vir die oppak die laaste oggend.

Daar was vars leeuspore op die toegangspad in, die dag toe ons daar aangekom het, maar die vuilbaarde het nie kom kuier terwyl ons daar was nie. Ons het wel die tweede oggend die twee maanhare en ‘n wyfie so 2km van die kamp af gekry. Hulle het parallel aan die pad gestap op ‘n tweespoor aan die Botswana kant. Die tweespoor loop parallel aan die Twee Rivieren/Melkvlei pad tot by Kij Kij suiping. Daar is tekens aan die SA kant wat sê dat net Rooiputs inwoners dit mag gebruik, maar ek het ander mense ook daarop gesien. Ons het die leeus gesien net na ons kamp verlaat het die een oggend. Hulle het later weggeswenk in ons kamp se rigting, en ons het hulle hoor brul die aand, maar nie weer gesien nie.
Van daar af het ons Twee Rivieren toe gery vir ‘n badkamer stop en om iets by die winkel te kry. Toe is ons Auchterlonie toe vir ‘n piekniek met ‘n kaasbord.

Voor ons egter daar aangekom het, was ons gelukkig om ‘n jagluiperd te sien naby Houmoed suiping. Sy het eers onder ‘n boom gelê naby die pad wat afkom van die rantjie af waar Leeudril 4x4 roete eindig. Toe staan sy op om te gaan drink. ‘n Gemsbok het verbygestap terwyl sy daar was, en ‘n wildebees het kom staan en snork terwyl hy na haar kyk. Ongelukkig was albei te groot vir haar om alleen aan te durf.

Op ons laaste dag se oggend rit het ek besluit om in Kij Kij se rigting te gaan. ‘n Ent verby Rooiputs watergat raak ons toe gelukkig met ‘n luiperdwyfie tussen die hoofpad en die tweespoor parallel daaraan aan Botswana se kant. Sy het regop gelê toe ons daar kom, en later opgestaan en oor die tweespoor geloop in die rantjie in. Daar het sy rondgesoek vir kos, en een keer gestop om iets te eet.
Luiperds is die mees suksesvolle groot roofdier in Suider-Afrika. Daar is al meer as 40 prooi spesies vir hulle aangeteken. Hulle sal van insekte tot vis, voëls en soogdiere vang en vreet. Sy het waarskynlik ‘n sprinkaan of iets gevang, want sy het nie lank vertoef voor sy verder gesoek het nie. Later is sy in ‘n skeur tussen twee rotse, en ons het aangery Kij Kij toe nadat ons haar baie mooi gesien het.
By Kij Kij het ons teruggedraai op die tweespoor aan die Botswana kant, en haar weer gekry waar sy lê nie ver van waar ons haar die eerste keer gesien het nie. Daarna sien ons mense na iets in die hoofpad kyk ‘n ent verder, en ry met een van die verbindingspaadjies terug. Dis waar die mooi geelslang gelê het.

Dit het op die oog af ongeskonde gelyk, maar doodstil in die pad gelê. Toe ons later die middag weer daar verby is, was dit duidelik dat dit dood was. Ons sou weer by Melkvlei gaan piekniek hou, maar het besluit om sommer by Twee Rivieren se piekniekplek te braai. Ek sê weer by Melkvlei, want ons het op ons eerste vol oggend daar gaan braai.
Toe is dit terug Rooiputs toe om te gaan skuif na nr 3 vir ons laaste aand. Ons het albei waens se dakke op gehou en net die voorste tent se flap halfpad toegemaak om te kan haak voor ons stadig gery het na nr 3 toe. Daar het ons net grondseile uitgegooi en die lieflike skadu van die bome by die staanplek benut vir ons laaste middag se kuier in die kamp. Ons het sommer almal in die Everest gebondel vir ‘n laaste middag rit, en toe weer lekker gebraai.

Die volgende oggend is ons vroeg op om te pak, en het by Twee Rivieren bande gepomp voor ons vort is. Daardie aand het ons by Brandvlei oorgeslaap in ‘n Lekkeslaap huis vol interessanthede. Dit het begin koud raak, en die warm water wou nie lekker werk nie. Die vrouens het dit nie so amusant gevind nie. Die laaste oggend is ons weer vroeg op om te pak en die tog huis toe aan te pak. Ons was teen 15:30 veilig terug. Dit was ‘n heerlike toer, maar nie goedkoop nie en ver. Ek dink ons sal net elke tweede jaar daarheen gaan.



Pragtig
Môre Chris S
Dankie vir die laaste lekkerlees fotoverhaal. Die jagluiperd-foto is 'n wenner. Julle was voorwaar gelukkig met julle besoek.
Ek neem kennis van jou opmerkings;
1] Hilux wat mens gatlam maak, Sal voel wildtuin toe of ek saamstem met die stelling
2] Rooiputs 'n beter[ ?] opsie as Polentswa is.
Geniet jou Prado, ek jeuk om Grompie te geniet Kruger toe.
Gat stamp
Wessel, ek praat nie uit ondervinding nie. My enigste Hilux was ‘n 2.2 4x4 wat luier as ‘n ANC parlementslid was en bladvere voor en agter gehad het. Jy kan dink hoe dit gery het.
‘n Hele paar manne hier het my egter al vertel dat die Fords volgens hulle sagter ry as die Toyota’s. Dis nou die Ranger/Everest vs die Hilux/Fortuner. Ek het al saam met Riël in sy Everest gery, maar nog nooit in die huidige generasie Fortuner nie. Ek kan dus geen mening uitspreek nie. Wat ek wel kan sê is dat die 2.4 Fortuner wat Riël gehuur het afskuwelike donkerbruin bekleedsel gehad het.
Geniet jou Hilux, en die slapies aftel wildtuin toe. Die Prado ry vir eers net kerk toe tot einde Junie.
Rooiputs vs Polentswa
Rooiputs is baie nader as Polentswa. Lg het net drie staanplekke wat verder uit mekaar is. Ek sou nie na een of die ander wou gaan nie, eerder na beide. En twee aande by Polentswa was te min. Ek sou drie verkies het.
Dit klink of julle 'n baie…
Dit klink of julle 'n baie bakgat vakansie gehad het. Dankie dat ons ander 'n bietjie kon saamkuier. Rooiputs, 'n gunsteling by my suster-hulle ook, klink na 'n wenner. Ek is ongelukkig nie ge-"gear" daarvoor nie. En dit klink ook heeltemal na Ralie se "cup of tea" nie.
Dankie vir fotos
Dankie Chris S dit voel of ek saam julle was dis flippen nice daar
Kgalagadi ...
Nou kan ek ook sê ek was daar as was dit net deur Chris hulle se toer op Kampforum.
Baie dankie, het dit geniet. 👏🏻👍🏻
Dit was lekker
Ek sou graag vir langer wou gaan. Dit sou ook die prys per dag afgebring het omdat die brandstof helfte van die koste van die toer was. Maar terwyl die kinders op skool is sal ons net in Desember vir langer kan gaan. Ek gee nie om, om in die hoofkampe te bly in Desember nie, want ons vat dan ‘n draagbare lugversorger saam wat tot 22:00 snags kan werk. Maar in Rooiputs en Polentswa gaan mens swaar leef in Desember.
Dankie dat julle saam getoer het. Nou kan ons saam met Chris Boucher en Oom Neef reis. Ons volgende toer begin DV 29 Junie Kruger wildtuin toe.
Dankie ChrisS.............
..........vir die lekker vertelling en fotos.





Mata Mata
Dis nie dat ek glad nie van Mata Mata hou nie. Soos genoem is dit ‘n lekker omgewing waar ons nog elke keer mooi goed gesien het. Ek dink die wildbesigtiging is oor die algemeen beter as by die ander twee hoofkampe. Dis ook die enigste deel waar ons nog kameelperde gesien het.
My beswaar teen die kamp is die ligging. Dis teen die grens met Namibië. Toe ons laas daar was, was ons staanplek teen die grensdraad. Ons was oor Kersfees daar en kon musiek hoor speel en ‘n kragopwekker aan wat ek aanneem Namibië se kant was. Ek is ook nie mal oor die kamp se uitleg nie. Dit kom vir my onbepland voor, asof dit net gebeur het. Nossob is in daardie opsig vir my baie beter. Daar is ook die faktor van wildritte in een rigting, en alhoewel hulle ook nou ‘n drinkgat buite die kamp het, was dit nie juis produktief toe ons daar was nie, en die skuiling is reg langs staanplekke. As mens tyd het en al die pad Kgalagadi toe gery het glo ek egter jy moet dit insluit by jou program en genoeg tyd daar deurbring.