6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
7 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -18 minutes ago
Dis erg! Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -22 minutes ago
Rona ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -42 minutes ago
Jan... Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -1 hour ago
Wessel Vakansiebeplanning 2026/27 Jan Meyer -1 hour ago
Het die rooi kadotjie gesien… Forum Herstel en terugvoering neef Herman -3 hours ago

Terugblik op 'n warrelwindtoer

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Ek het onderneem om ‘n bietjie meer inligting oor ons afgelope toertjie na Kgalagadi en Namibië te gee sodra ons terug is by die huis. Ons het Vrydag 3 Mei teruggekeer en gevolglik is ek nou in die skuld. Net ter agtergrond weereens – die aanvanklike gedagte was om slegs die suide van Namibië tydens dié toer te besoek. En hierdie idee het ontstaan nadat Toast Coetzer van Wegsleep-faam aan my ‘n DVD gestuur het van sy en Ernst Grundlingh se “WEG Agterpaaie Namibië” reeks wat op Kyknet gebeeldsend is. Toe ek die wenslikheid van ‘n Namibië-besoek aan my dogter (woonagtig in Roemenië) noem, het sy dadelik gesê dat hulle graag hierdie wonderlike land wil besoek wanneer hulle Suid-Afrika toe kom. Maar in dieselfde asem het sy genoem dat my kleindogter graag “quad bike” wil gaan ry in Walvisbaai se duine. En wat doen ‘n goeie oupa? Hy probeer so ver moontlik sy kleindogter se wense bewaarheid.

Maar so reken ek toe dat i.p.v. direk Namibië toe te ry kan ons mos maar ‘n besoek aan Kgalagadi ook probeer inpas. Ek sou graag ‘n dag of wat langer in Kgalagadi wou vertoef, maar ek kon slegs 2 nagte in Twee Rivieren bekom. Ten einde lang dae op die pad te voorkom het ek besluit om my daaglikse afstande tot om en by 500 km te beperk. En dit het toe tot gevolg gehad dat ons twee oornagpunte gehad het alvorens ons in Twee Rivieren gekom het. En ter wille van lam boude het ek ook beplan om ons daaglikse skofte te beperk tot min of meer ‘n uur en ‘n half tussen stopplekke – ‘n dubbelkajuitbakkie se agter-sitplek is nie juis die gemaklikste vir 3 volwassenes om ‘n lang ruk te sit nie.

 

Daar is besluit dat dit ‘n selfsorg-vakansie sou wees. Dus is alle besprekings in selfsorg-akkommodasie gedoen. En die meeste besprekings is deur Lekkeslaap gedoen – ‘n besprekings-platform wat ek al vir baie jare gebruik. Met die uitsondering van Kgalagadi en twee van die ander oornagplekke wat direk bespreek is, het Lekkeslaap sy naam gestand gedoen. Met al bogenoemde in ag genome is die toertjie beplan en gefinaliseer.

Worcester

Wildehont

Mon, 13/05/2024 - 08:20

Kgalagadi is darem ‘n spesiale plek. Die koringvoëls is so kenmerkend van die Kalahari. En as die son ondergaan en die blaffende geitjies begin gesels terwyl die vuurtjie brand dan sit mens darem lekker. 

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 13/05/2024 - 08:47

... van die blaffende geitjies. My dogter en skoonseun is die eerste aand na Twee Rivieren se skuiling by die watergat. Hulle hoor toe die "voëltjies" wat onophoudelik "gesels". Ek kon nie dink watter nagvoëls dan so baie "gesels". Die tweede aand is ek saam met hulle na die skuiling - en toe besef ek dit is blaffende geitjies wat so gesellig is. Te pragtig!

En so van koringvoëls gepraat. Die enigste keer wat ons in Twee Rivieren gekamp het, het ons tent onder 'n boom gestaan. Dit was só mooi om soggens deur die koringvoëls bokant on tent wakker gemaak te word. Hulle is só mak dat ek dink dit sal 'n wonderlike troetelvoëltjie uitmaak. Ek het eenkeer in Nossob een gesien wat gering was.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 13/05/2024 - 13:08

Soos in my ander gesprekslyn genoem, het ons Kgalagadi by Mata Mata verlaat om ons kort (maar nogal heelwat kilometers) toertjie in Namibië te begin. Ons was hoopvol om op ons laaste dag meer wild te sien, maar die hoop het beskaam. Ons het o.a. 'n "katvrye" Kgalagadi-trippie gehad. Maar dit is mos nie waaroor dit gaan nie - ons het die park geniet ten spyte van 'n paar klein dingetjies wat gepla het en ander mooi goedjies gesien. Afgesien van die waaiersterte hieronder was ons ook gelukkig om verskeie kere stokstert- (ook bekend as graatjie-) meerkatte te sien.

Kgalagadi

Ons het gemik vir Kamqua piekniekplek waar ons in die verlede meermale lekker onder die groot kameeldorings se skadu gekuier het. Ek het dit reeds genoem, maar ek was verstom dat al die kameeldorings by Kamqua intussen dood is. Gee SanParke wat hul toekom - hulle probeer opmaak vir die verlies van dié bome se skadu met ander strukture wat hul opgesit het, maar die ou atmosfeer wat ek van hierdie eens lekker piekniekplek onthou, bestaan nie meer nie.

Mata Mata, waar ek ook 17 jaar gelede was, was vir my heeltemal vreemd. Dié kampie het 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Ons is vinnig deur die Namibiese grensformaliteite en R371 later (Namibiese padbelasting) kon ons die uitstekende C15 gruispad na ons volgende bestemming duskant Gochas aandurf. Hierdie pad het bykans soos 'n teerpad gery. Sowat 15 km na Mata Mata het ons gou ingedraai by die Kalahari Farm Stall om vleis en wors vir die aand te koop. Ons mag mos nie vleis in Namibië ingeneem het nie, maar ons kon maar netsowel want niemand het gevra wat ons by ons het nie. Die wors was nogal nie sleg nie, maar die vleis was nie juis bedoel vir ouens met valstande nie.

Ons oorslaapfasiliteite by Plaas Kowes, sowat 30 km vanaf Gochas, was lekker in 'n mooi omgewing. As mense wat self 'n African Grey papegaai het was ons verbaas oor Kowes se koning van die werf, te wete Kokkie die papegaai. Hy loop vryelik rond op die hele werf en beheer die twee Great Danes en die 4 skaaphonde met 'n ystervuis - of is dit 'n ysterbek.

Kowes

Kowes

Kowes

 

video
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 14/05/2024 - 10:56

Vanaf Plaas Kowes (waar ons akkomodasiekoste R2 350 beloop het - nogal nie goedkoop nie) het ons 'n rustige rit via Stampriet, Mariental en Rehoboth tot Windhoek gehad. Van Rehoboth af raak Namibië natuurlik al hoe meer bosveldagtig - mooi omgewing. Nie dat die suide nie mooi is nie - dit het sy eie bekoring.

Ek kan nie opgewonde raak oor ons verblyfplek in Windhoek nie (Casa Amico Mio) nie. Die twee eenhede was heel netjies en dit is gerieflik geleë. My kleindogter was egter baie "upset" (sommer onder trane) oor 'n foxterrier op die erf wat hetsy siek, oud of verwaarloos voorgekom het. Ons het die arme hond maar bederf tydens ons verblyf deur blikkies kos te gaan koop wat hy gulsig geëet het. My kleindogter het 'n baie ernstige briefie vir die eienaar (wat ons nooit gesien het nie) agtergelaat. Ons akkommodasiekoste vir die aand het R1 560 beloop.

Die volgende oggend is ons via Okahandja, Karibib en Usakos na Swakopmund. 'n Mens staan verstom oor die tempo waarteen hierdie dorp uitbrei. Ons het in 'n uitstekende huis gebly vir die volgende twee aande. Hier is só baie in hierdie omgewing te doen dat twee aande in Swakop heeltemal te kort is. Maar nou ja, dit was mos 'n warrelwindtoer. Ek brei 'n bietjie meer uit met my volgende inset. Ek moet eers 'n video clip of twee op You Tube plaas alvorens ek dit hiernatoe kan oordra.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus