Dit smaak my Roemenië kan dalk vir die Bouchers realiseer. So pas met ons dogter gesels en dinge klink heel positief dat ons voorgenome besoek dalk kan gebeur. Ai, my vroutjie-lief sal haar spreekwoordelike agtertande gee om by haar dogter en kleindogter (en natuurlik ook skoonseun) te gaan kuier. Moet darem sê - ekself ook.
My dogter stuur intussen die uitnodiging (wat nodig is vir visums). Ek het verlede week gekyk na vlugkostes. Tussen verlede week en nou is daar reeds R1000 verskil (duurder).
Dus - ons hoop maar dinge realiseer. Indien wel, hoop ons om vanaf vroeg Julie tot mid-September te gaan kuier. Ons sou wat wou gee om haar 45ste verjaarsdag môre met haar te kon deel.
Warm!!!
Ons beleef weereens 'n "scortcher" van 'n dag! En as ek vorentoe kyk is daar geen verligting tot en met die einde van Augustus nie. Temperature is dag na dag in die mid 30's met aanvoelbare temperature kort duskant die 40's.
Ons was bevoorreg om vanoggend weer 'n samekoms van verskillende nasionaliteite by te woon - alhoewel ek moet erken dat die prediker en die verskillende tolke dit nogals na 'n deurmekaarspul laat klink. Vanoggend was ons, afgesien van Roemene, ook Engelse, Suid-Afrikaners en Peruane (of wat noem jy mense van Peru?). M.a.w. daar is getolk in Engels, Spaans en Roemeens as een van die taalgroepe aan die woord was.
Ons kerkdiens het gelukkig in die buitelug onder 'n groot gazebo se skadu plaasgevind - want binnenshuis sou die diens nie tot sy reg kom nie.
En intussen foeter die katte my totaal en al op. Ek dink nie ek het al sóveel in my lewe ge-"suffer" ter wille van familievrede nie.
Aanpassing
Middag Chris B
Troos jou daaraan, teen die tyd wat julle tuiskom is jy so kat-gekondisioneer, dat julle sommer 3 katte self kan aanhou. Dit hou onder andere slange weg van 'n huis.
Tweedens met daai temperature van Roemenie, gaan julle koud kry oor Kersfees in die KarooNP.
Moeg
Ek is vanoggend opgekommandeer om te gaan help "shopping" doen vir môre se vrag wat Oekraïne toe moet vertrek. Ek was maar te bly om vir Nelia te gaan help, maar het nie voorsien dat ek só hard gaan werk nie. Bokse en bokse langlewe-melk, kookolie, eiers, toiletpapier, koffie, suurroom, botter, kaas, hoenders, ham en varkvleis moes eers in die supermark aangekoop word, in die voertuig gelaai word en weer by die sentrale oplaaipunt afgelaai word.
Dié ou ballie het sy stukkie brood vir die dag behoorlik verdien.
Ironies dat daar kookolie gestuur word na Oekraïne - dié plek wat een van die wêreld se grootste produsente van sonneblomolie is.
Ek sou nogal graag môre wou saamry, maar ongelukkig beskik ek nie oor 'n visum vir die Oekraïne nie.
Eerskomende Dinsdag gaan ons saam met die kinders Bucharest toe vir 3 aande. Sommer net om rond te loop en 'n paar mooi dinge te gaan kyk. Vrydagmiddag kry ons hul SA tuisgemeente (Elgin Baptist Church) se pastoor en sy seun op die lughawe. Dit sal Gerrit Coetzee se eerste besoek aan hulle hier in Roemenië wees. Hulle gaan ook die opvolgende week saam met my skoonseun Noorweë toe. Laasgenoemde is die land vanwaar hulle die grootste ondersteuning kry. Hier's hoeka nou twee Noorweërs wat kom help met elektriese installasies met die gebou wat hulle tans restoureer. Ek en Ralie sal vanaand ons beste Noors moet uithaal, want die twee manne kom vanaand hier eet.
Wou nou net.....
Middag Chris B
..... hoor waarom jy so stil is. ek dog die katte het jou onder gekry. Nou moet ons hoor hoe hard jy moet werk.
Ek is trots om so 'n vriend met uiteenlopende internasionale kontakte te ken. dit kan altyd handig te pas kom.![]()
Geniet julle vakansie verder. Moet jou nou nie weer laat vang met inkopie en/of ander ou takies nie.
"Skirtings" verf
Ek moet darem seker my kos en verblyf soms verdien ook. Eergister was ek ook aangetree om 42 meter se "skirtings" te gaan verf. Gelukkig is die verfwerk gedoen voor die "skirtings" opgesit is - m.a.w. ek kon dit darem op gemaklike hoogte vir myself plaas, andersins sou die ou dit nie gemaak het met sy groot pens nie. Die konferensie-gedeelte van die gebou moet vandag klaar wees, want môre is een van die helpers se huweliksonthaal daar. Daarom was oupa se hulp ook nodig.
Maar ai - watter voorreg om saam met die kinders betrokke te wees in hulle doen en late.
Verlos van katte ...
... vir 3 aande as ons later vandag Bucharest toe vertrek vir die volgende 3 aande. My kleindogter, wat gister 16 geword het, het lus om te gaan "shopping" doen met haar verjaarsdaggeld. Oupa sal seker maar op sleeptou geneem word. Ek hoor hoeka daar's 'n ete by die Hard Rock Café op vanaand se beplanning. Ek val maar in.
Dit wil voorkom (volgens YR) of ons darem vanaf Vrydag 'n bietjie verligting van die hitte gaan kry as die temperature daal tot in die hoër 20's. Vandag het ons nog 'n hittige 34°C. Gelukkig is die bier yskoud.
Bucharest
Ons het gistermiddag, in 'n hittige 34°C hier in Bucharest arriveer. Dit is 'n pragtige stad met baie mooi argitektuur uit vorige era's.
Ons het die moltrein in die rigting van die Hard Rock Café geneem. Maar dit het nog 'n lang stap tot by die restaurant geverg.

Dit was my eerste besoek aan 'n Hard Rock Café en ek was nogal beïndruk. Die oorgrote meerderheid van die musiek was nogal in my smaak - en die kos was werklik aangenaam.

Die terugstap tot by die moltreinstasie was sonder twyfel aansienlik moeiliker - die pensies was vol en dik.
Ons blyplek is redelik sentraal in die stad. Vanoggend het ons sommer 'n bietjie gaan rondstap, koffie by 'n naby-geleë Coffee Shop gedrink (terloops, sleg koffie gewees) en later by 'n straatkafeetjie iets te ete geniet.
Die temperatuur is 'n bietjie meer draaglik vandag (voorspelling is 31°C), maar ek sien veral uit na die naweek wanneer temperature gaan begin daal tot mid-20's.
Ek plaas sommer 'n paar foto's van vanoggend se stap.
Die uitsig vanuit ons blyplek:

Die straat voor ons blyplek:

'n Paar ander foto's:





Lekker uitstappie
Dankie vir die verslag en foto’s. Europa bly maar ‘n interessante plek om te besoek. Ek voel egter daaroor soos oor die see - heerlik vir ‘n vakansie, maar ek wil nie daar bly nie. Ek beny julle egter die weer. Die afgelope twee dae was dit bitter koud in Worcester. Vandag word 25 voorspel, en môre 28. Dis egter net die voorloper tot die volgende koue front wat Vrydag aanland. Ek glo die winter is nog lank nie verby nie.
Dit lyk pragtig daar. Skoon…
Dit lyk pragtig daar. Skoon en netjies. Dankie vir die deel van foto's.
Dankie....
Dankie vir die fotos Chris, as dit nie daarvoor was nie het ek geen idee gehad hoe Bucharest gelyk het nie. Geniet die res van julle kuier !
"Scooters"
Op my laaste foto sien jy 'n hele paar elektriese "scooters" - lyk omtrent soos kinders se skopfietsies. Hier in Bucharest is oral fietsrybane langs die strate. Dit is so te sê 100% oorgeneem deur persone op elektriese "scooters". Sommige is privaat eiendom, maar die oorgrote meerderheid word verhuur deur o.a. Uber.
Klaarblyklik laai jy 'n "app" op jou slimfoon af en deponeer daarop geld. Dan skandeer jy net jou foon oor 'n apparaat op die "scooter" - en voila, daar gaan jy. Jy los hom net waar jy wil, solank dit binne 'n bepaalde sone is.
Jy kan ry tot waar jy graag wil wees en los die "scooter" net daar. Intussen kan iemand anders dalk die "scooter" neem. Kom jy uit, waar jy dalk besigheid gedoen het, en jou "scooter" is weg, vat jy net 'n volgende een.
Die battery kan met 'n kabel gelaai word, maar almal is toegerus met klein solarpanele. Daarom is al die "depots" geleë in plekke met baie son.
Ek laat waai die goedjies!! Die jonger mense, wat dit grootliks gebruik, is na my mening eintlik onverskillig vinnig.
Dan het jy ook nog die gewone taxis, Uber-voertuie, busse (bykans almal elektries, trems en die wyd-verspreide moltreinstelsel. Voorwaar 'n eerste-wêreldse stad, wat publieke vervoer aanbetref, in 'n voormalige kommunistiese land.
Ai - as hulle nog net die regte ingesteldheid kan kry t.o.v. toerisme. Dit is na my mening nog 'n totaal onontginde potensiële bron van groot inkomste in hierdie pragtige natuurskone land.
Dankie vir die deel Chris,…
Dankie vir die deel Chris, voorwaar soos genoem deur Servaas, baie netjiese skoon stad.
Stem saam met Len, dit is die naaste wat ek aan die stad sal kom.
Watter verligting!
Ons het vir die eerste keer 'n dag wat die voorspelling lui dat ons temperatuur gaan onder 30 wees.
Ons het gister omtrent gestap in Bucharest. Die ouer geslagte het 'n uitdrukking gehad dat perderuiters (na 'n lang dag in die saal) "blikners" gery is. My pa het dit sommer van toepassing gemaak as 'n mens ver gestap. Wel, gisteraand het ek gevoel of ek blikners gestap is.
Na ons lang stappery van gisteroggend, het ek en Ralie en Nelia gisteraand weer die strate aangedurf na die gedeelte wat bekend staan as "Old City" - die ou deel van die stad met kobbelsteen-strate en -stegies wat wemel van restaurante en "coffee shops". My skoonseun en kleindogter het die hele middag ge-"mall" en was te moeg om weer uit te gaan.
Daar het ons hierdie historiese ou Roemeens Ortodokse kerkie gesien.

Ons het ook verby hierdie mooi teatergebou gestap.

Iets wat weer opvallend was gisteraand is die absolute gevoel van veiligheid wat 'n mens hier ervaar. Toe ons laataand terugkeer het ons nog oral vroue gesien wat alleen in die strate stap sonder enige vrees dat iets met hulle kan gebeur. Onsself voel só veilig hier - in totale teenstelling wat ons selfs in ons klein dorpie in SA ervaar.
Ma en dogter het mekaar se geselskap baie geniet. Pa kon maar net luister na die noue band tussen dié twee.

Vandag gaan ons weer die moltreine aandurf om o.a. by IKEA uit te kom. Laasgenoemde is 'n Sweedse groep (as ek reg onthou) wat in hulle reuse-groot winkels spesialiseer in o.a. andere praktiese meublement vir die beknopte woonstelle wat jy grootliks oor Europa aantref. Ons kinders het so 'n dingetjie of twee nodig. Hulle beskik ook oor 'n restaurant/kafeteria waar jy vir 'n smullekker buffet-ete kan gaan aansit - dit is blykbaar op die "spyskaart" vandag. Ek kom ernstig agter dat ek sal moet briek aandraai met die etery as ons eers terug is by die huis.
Baie duidelik....
Môre Chris
....dat dit Ma en dogter is. Die gelaatstrekke is onmiskenbaar daar.
Poegies
Wel, gisteraand het ek gevoel of ek blikners gestap is.
Hoekom het julle nie met die elektriese poegies gery nie? Persoonlik hou ek van stap. Dis die beste manier om enige omgewing te ervaar. Die laaste dag van ‘n toer wat ek en Salomien in 2010 deur Skotland, Ierland, Noord-Ierland en London gedoen het, het sy begin huil so moeg was sy gestap. Dit was darem so lag-huil, sy was net op gewees.
Dis darem lekker in eerste wêreld stede waar mens nie ‘n kar nodig het nie omdat die openbare vervoer so goed is en dit veilig is om te stap of fiets te ry.
Terloops
Wat kos die koue biere waarmee so gespog word? Toe ons Desember 2012 in Praag was, het die bier pryse ons aangenaam verras. ‘n 500ml bier in ‘n supermark het gewissel tussen R0,50 en R2,50 en die duurste wat ons in ‘n restaurant betaal het vir een was R7. Hemels vir ‘n bierdrinker.
Hierdie...............
................opklim en ry scooters kom nou al oral in Europa voor - ek dink dis briljant ! net jammer hier by ons sal of die scooters of die batterye gesteel word ! (Sal ook nie in die Wildtuin werk nie !)
Bierpryse
Enigiets van R13.75 opwaarts per 500 ml blikkie. Ek sien die ou ballies drink namiddae daar voor die winkeltjies hulle 500 ml bier uit inruilbare bottels - waarskynlik goedkoper. Maar jy kry ook bier in 2.5 liter plastiekbottels te koop (prys ??? - nog nooit gekyk nie). Toe ons die eerste kere hier kom kuier het, het die ou ballies gewoonlik só 'n bottel in die rondte gestuur en elkeen direk uit die bottel 'n sluk of twee gevat. En as hulle so saamkuier met hul bier dan word daar te lekker gesels en gelag. Ek't al menige keer só gewens dat ek kan verstaan wat hulle praat.
En dit is 'n luide nasie - amper soos sommige kultuurgroepe in SA. Oor die algemeen praat die Roemene baie hard.
Roemenië & Bucharest ...
Dankie Chris.
Dis darem lekker om so te toer en die ander plekke te kan sien (waar ek nooit sal kom nie) hier vanaf my Tablet en dit is nogals gratis ook. ![]()





Sjoe
Dis nie iets wat mens op ‘n nugter maag wil sien nie. Ek kyk eerder weer hoe vrot die Bokke gisteraand gespeel het.