6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Hennie Botha Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -2 hours ago
Privaat boodskap Forum Herstel en terugvoering Geert -4 hours ago
Plaveisel Olifants River Lodge Geert -6 hours ago
vars terugvoer?? Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -11 hours ago
7 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -12 hours ago
Dis erg! Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -12 hours ago

Roemenië - 2022

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Dit smaak my Roemenië kan dalk vir die Bouchers realiseer. So pas met ons dogter gesels en dinge klink heel positief dat ons voorgenome besoek dalk kan gebeur. Ai, my vroutjie-lief sal haar spreekwoordelike agtertande gee om by haar dogter en kleindogter (en natuurlik ook skoonseun) te gaan kuier. Moet darem sê - ekself ook. 

My dogter stuur intussen die uitnodiging (wat nodig is vir visums). Ek het verlede week gekyk na vlugkostes. Tussen verlede week en nou is daar reeds R1000 verskil (duurder).

Dus - ons hoop maar dinge realiseer. Indien wel, hoop ons om vanaf vroeg Julie tot mid-September te gaan kuier. Ons sou wat wou gee om haar 45ste verjaarsdag môre met haar te kon deel.

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 02/09/2022 - 08:58

Ons het toe gister 'n meer genadige dag (wat temperature aanbetref) gehad. Dit was lekker om rond te stap in hierdie mooi stad. 

As jy kyk na die pragtige geboue uit vorige era's, en hoe dit ontsier word deur graffiti - dan kook my bloed. Hier is sóveel mooi geboue, van historiese betekenis, wat bemors is met graffiti.

Nietemin - ons het gisteroggend eers 'n lekker stap in 'n naby-geleë park gehad.

Bucharest

En toe rustig by 'n straatkafeetjie, op die sypaadjie, gaan sit en koffie drink - en ons aan die verbygangers sit en vergaap. Mense - hier is mooi jong dames in hierdie stad. En siende dat dit lekker warm is, trek hulle maar skrapserig aan. Ek weet nie of dit goed of sleg vir 'n ou ballie se hart is nie. Maar ek verkyk my - baie subtiel, want mammie is ook by.

Gistermiddag het ons die moltreinstelsel aangedurf. Hier wag die lotjie vir die volgende trein op een van ons oorklimstasies.

Bucharest

Toe's ons na IKEA - 'n reuse winkel waar 'n mens jou verstom aan alles wat jy daar sien. Ek koop gewoonlik 'n klompie "gadgets" (baie keer onnodige goedjies) wat ek nog nie voorheen gesien het nie.

Bucharest

Gisteraand het ons sommer 'n wegneem pizza vir aandete gehad - ons is redelik gatvol uitgeëet. Daarna het ons sommer by 'n roomyswinkel onder ons woonstel gaan roomys koop - heerlike tuisgemaakte roomys. Myne was 'n "sugar cone" met "salted caramel" roomys. Seker nie bevorderlik vir 'n Tipe 2 diabeet nie, maar ek kom mos nie elke dag in Bucharest nie.

Terwyl ons die roomys loop en eet het, het ons sommer net die straatblok omgestap. En toe was ek verstom om te sien hoe bedrywig dit is. Ek heg nog 'n paar foto's aan.

Bucharest

Bucharest

Bucharest

Bucharest

Bucharest

Bucharest

Laatmiddag tel ons ons kinders se tuisgemeente (in Grabouw) se pastoor en sy seun by die lughawe op. Hulle kom vir 2 weke bietjie hulp verleen aan my skoonseun. Ons sal seker nie voor 20:00 terug wees in Călăraşi nie. Dáár word taamlik reën vir vannag en môre voorspel. Na die hitte wat ons die afgelope 3 weke beleef het, sien ek uit daarna.

0
Brits

Wessel Strydom

Fri, 02/09/2022 - 09:15

Môre Chris B

My seun is in 2010 oorsee, en het in Pole begin werk. Hy het altyd gesê, hoe meer Oos mens beweeg deur die lande, hoe mooier word die dames. 

Nodeloos om te sê, hy is met 'n Poolse meisie getroud, en die afgelope Junie maand, het ek ook oupa geword. 

Moenie worry oor die hart, die ou tannie het van die jong dominee gesê----ouderling of jongeling, solank die hart maar tingeling!!!

 

0
Worcester

Wildehont

Fri, 02/09/2022 - 09:31

hoe dit ontsier word deur graffiti

Dis ‘n Europese siekte. Ek het dit in al die Europese lande gesien wat ek besoek het. Nog iets wat my gewalg het in Duitsland, was hoe die tieners loop en spoeg het. Die trein platforms was oortrek met spoeg, soveel so dat ek naar geword het om met skoene daar te stap. Ek sê weer; Europa is ‘n lekker plek om vakansie te hou, maar ek wil nie daar bly nie.  
 

Mense - hier is mooi jong dames in hierdie stad.

Die Oos-Europese meisies is oor die algemeen baie mooi. En window shopping is mos nie ‘n sonde nie, solank jy niks aanpas of koop nie. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 10/09/2022 - 07:19

Ons het gisteroggend uit Călăraşi vertrek na 'n area wat al vir baie jare op my wenslysie was, naamlik een van die langste bergpasse in die wêreld - 151 km. Ons oornag vir 3 aande ongeveer op die halfpadmerk van die Transfagaşan.

Tot hier het ons deur van die mooiste natuurskoon gery.

r

r

Ons was gelukkig om by drie geleenthede bruinbere in die pad te kry, waaronder hierdie wyfie met haar kroos van drie.

r

r

Ek was nog nooit in die Switserse Alpe nie. maar die natuurskoon hier is seker die naaste wat ek daaraan sal kom. Die volgende foto is vanuit my hotelkamer geneem.

r

Gisteraand het ons in die hotel geëet (soos wat ons seker maar by gebrek aan ander naby-geleë restaurante vir die volgende twee aande sal moet doen). Die kos was niks om oor huistoe te skryf nie, maar die Roemeense Sauvignon Blanc was darem baie lekker.

r

0
Vaalpark

Johann L

Sat, 10/09/2022 - 08:11

Goeie môre Chris, ek sal wraggies heeldag by die venster sit en uit kyk, met so mooi uitsig...

Daar is net sulke natuurskoon in ander lande soos in ons eie pragtige land, maar niks kom by die Afrika diere niewink

Dankie vir die lekker saam kuier, ons geniet dit hier in die platVrystaat waar jy oormore kan sien aankom.

0
Worcester

Wildehont

Sat, 10/09/2022 - 08:30

My maggies, ek het nie besef daar is bere nie. Dis nou ‘n lekker ding om te sien! Geniet die res van die toer. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 14/09/2022 - 17:03

.... nie rêrig huis nie (waarnatoe ek nou erg begin verlang), maar wel in Calarasi na 'n lieflike 3 dae in die berge. Ons het elke aspek geniet - die pragtige natuur, heel aangename verblyf, lekker ontbyte soggens en heerlike wyn in die aand. Ons was gelukkig om by vier geleenthede bere te sien - 'n totaal van 8.

Saterdag het ons oor die meer bekende gedeelte van die Transfagarasan gery na een van die ouer stede - Sibiu - waar ons sommer net rondgedrentel en die mooiheid van veral die ou stadsgedeelte geniet het.

Die volgende foto laat nie reg geskied aan dié fenominale pas nie. Jy daal bykans 1 600 meter na benede.

Transfagarasan

Ek plaas enkele foto's van Sibiu.

Sibiu

Sibiu

Op pad het ons ook by hierdie interessante toeriste-aantreklikheid stilgehou.

Sibiu

Dit was Saterdag en dit het gewemel van besoekers. Daarom was daar groot potte kos op oop vure (of liewer houtskool) gemaak.

Sibiu

Ons het in die reën teruggekeer na ons gerieflike hotel wat vir my gevoel het of ek in Switzerland kuier - net baie goedkoper (R1 160 per nag vir 2 persone - ontbyt ingesluit).

Transfagarasan

Transfagarasan

Die eintlike rede waarom on daarnatoe gegaan het, was vir Nelia se wedloop wat Sondagoggend plaasgevind het. Hulle pastoor van die Baptiste gemeente in Grabouw was ook hier saam met 'n aangenome seun van hom (hulle het gister huistoe vertrek). Nelia het sy seun omgepraat om ook saam deel te neem aan die wedloop. Twee Suid-Afrikaners het dus die wedloop voltooi.

Transfagarasan

Ons kuier lekker, maar ek kan julle nie vertel hoe smag ek na 'n lamstjop en 'n stukkie boerewors nie. Ek weet dus wat is op die spyskaart as ons volgende Vrydagaand by die huis is.

 

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Wed, 14/09/2022 - 17:11

Dit was nou weer 'n lekker toer gratus-en-verniet vir Kampforum. 😉👏👍

Glo jou bek water al vir 'n regte braai. 🔥🥩🥂

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 14/09/2022 - 18:02

... die eerste kamp-ekskursie word vir vroeg November beplan. Sien sóóó uit daarna. 

0
Vaalpark

Johann L

Wed, 14/09/2022 - 18:02

Sjoe, dit is mooi daar, dankie vir die deel van die mooi fotos en vertelinge, soos genoem, nou kan ons ook sê "ons het gesien"wink

Genade maar tyd vlieg as jy so lekker toer...

Ek weet dus wat is op die spyskaart as ons volgende Vrydagaand by die huis is.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 14/09/2022 - 19:04

Alhoewel ons met ons eerste besoek in 2005 die sogenaamde "Palace of the People" besoek het, en ook binne gaan kyk het, het ons weer 'n draaitjie daar gemaak - net om 'n foto van twee mense wat sedertdien 17 jaar ouer geword het, voor die indrukwekkende gebou te neem.

Bucharest

Hierdie gebou, want deur die destydse verwaande kommunistiese diktator, Ceausesco, laat bou is (terwyl die land se bevolking rêrig van die honger gesterf het), is naas die Amerikaanse Pentagon die enkele gebou wat die grootste grondoppervlak in die wêreld beslaan.

Ons het ook vir Nelia-hulle se pastoor die "ferry" oor die Donourivier gaan wys toe ons terug was in Calarasi. Hier kan die werklike breedte van dié groot rivier gesien word met 'n "barge" wat stroomaf vaar terwyl die "ferry" (in die voorgrond) die rivier oorsteek na Silistra (Bulgarye) aan die oorkant.

Calarasi

Hieronder kan Silistra duideliker gesien word.

Calarasi

Ons het ook 'n bietjie op een van die verlate "beaches" langs die Donou gaan rondloop.

Calarasi

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Wed, 14/09/2022 - 20:40

................., ek kan sommer sien julle geniet julle gate uit.  Geniet dan ook julle laaste paar dae.

Baie dankie vir die foto-verhaal.

0
Oudtshoorn

neef Herman

Thu, 15/09/2022 - 07:24

Chris,

Nooit geweet dat Romenie so besonderse plek is nie. Terloops is daar nou dokumenter van Europa uit die lug,  Romenie ook op die lys, National Geografic. in die voorskou wys hulle so stukkie van daai bergpas en die ongelooflike argitektuur.

Dankie vir al die mooi fotos en vertellings.

0
Worcester

Wildehont

Thu, 15/09/2022 - 08:08

Ons was 2012 laas in Europa. Mnr Boucher se vertellinge en foto’s maak my darem nou vrek lus om weer te gaan! Maar ai; noudat ek vier vliegkaartjies in plaas van twee moet koop sal ons maar hier rondploeter.
 

Sy stelling dat hy nou begin verlang huis toe laat my toe ook dink. Hoe erg moet daardie verlange wees as mens wortels optrek en oor die water gaan bly? Of maak jy dan ‘n kopskuif en neem jou nuwe huis ten volle as jou tuiste aan? Geniet die res van die vakansie Mnr Boucher! 

0
Centurion

Voortrekker

Thu, 15/09/2022 - 08:31

As 'n mens 'n lang tyd in 'n ander land of kultuur deurbring kan kultuurskok intree.   Dit gebeur gewoonlik al na 2 weke tot 'n maand wanneer die opgewondenheid weggaan en die klein dingetjies wat anders is begin om irritasies te veroorsaak.   Die kultuurskok kan dan vir 'n kort rukkie aan hou of partykeer glad nie tot 'n einde kom nie.   Meeste van die tyd gaan dit weg na 'n paar weke of maande maar partykeer kan mense nie vrede maak daarmee nie en dan ontaard hulle verblyf in 'n onaangename ondervinding.   Diegene wat vrede maak met die nuwe kultuur en dit aanneem kan dan weer lei aan "reverse" kultuur skok wanneer hulle na 'n lang tyd terugkeur na hulle oorspronklike land en dit dan vergelyk met die nuwe "beter" kultuur waaraan hulle gewoond moes raak.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 15/09/2022 - 08:33

My rondlopery (ek bedoel loop soos in stap) is bietjie kortgeknip. Ek het verlede Vrydagnag skielik 'n pynlike linkerhak begin ontwikkel. Alhoewel dit vanoggend tot 'n mate beter voel, is stap baie ongemaklik. Ek het gister en eergister nie eens die huis verlaat nie - dit is net te pynlik om te loop (selfs toilet toe).

Dit is intussen geïdentifiseer as plantar fasciitis - een van die pynlikste toestande wat ek nóg gehad het. Ek volg maar Dr Google (veral die Mayo Clinic) se raad in die behandeling en hoop om darem vandag oor 'n week, wanneer ons hiervandaan vertrek, beter te wees.

My dogter het dit ook verlede jaar ondervind. In haar geval kan dit dalk toegeskryf word aan ooreising a.g.v. gereelde oefening (draf). Dit is een van die redes wat aangegee word as moontlike oorsaak. Myne kan waarskynlik toegeskryf word aan die ander hoofrede vir dié toestand, naamlik oorgewig.

Ralie is gevolglik gedetermineerd dat ek sál gewig verloor as ons terug is by die huis. Ai - daar gaan al die vooruitsigte vir lekker vet lamstjops, boerewors en braaibroodjies alweer by die agterdeur uit.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus