6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Plaveisel Olifants River Lodge Geert -1 hour ago
vars terugvoer?? Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -5 hours ago
7 Oktober Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -6 hours ago
Dis erg! Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -6 hours ago
Rona ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -6 hours ago
Jan... Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -6 hours ago

Ons Kgalagadi toer April 2023

Worcester
Submitted by Wildehont on
Forums

Ek begin maar die gesprekslyn, want die slapies raak nou min. Ons is twee gesinne wat saam toer. Almal ken my kombinasie van 2008 Prado en 2008 Kavango. Ons vriende Riël en Jacolien se kinders is byna presies  so oud soos ons twee, maar hulle het twee dogtertjies en sleep ‘n 2005 Penta met ‘n 2017 Everest 2.2. Vir die toer leen hulle ‘n vriend se nat nuwe Conquerer Commander. Hulle huur ook ‘n 4x4 Fortuner by Kgalagadi Lodge vir die eerste paar dae in die park. Hier is ons program:

31 Maart: Worcester tot by Oranjerus in vaste verblyf. ‘n Baie lang dag. 

1-3 April: Kalahari Trails Eco Camp kampering 36km buite Twee Rivieren hek. 


3-5 April: Polentswa kampering ‘n uur noord van Nossob. Die eerste dag ook ‘n lange

5-9 April: Rooiputs kampering. Die eerste dag ook ‘n lange. 


9 April: Vaste verblyf buite Brandvlei. Ook ‘n redelike lang dag.

10 April: Worcester. Omtrent ewe ver as die vorige dag, maar sonder om kamp op te pak die oggend. 

Worcester

Wildehont

Wed, 12/04/2023 - 22:10

Ek aanvaar dit is nie juis geskik om met padkaravane daarnatoe te gaan nie?

Dis vir moeilik om te sê omdat:

1. Ek nog nooit ‘n padkaravaan gehad het nie

2. Ek ‘n boswa het wat min of meer kan ry waar die Prado kan 

Ek let dus nie só mooi op na padtoestande nie, en weet ook nie werklik wat ‘n padwa kan hanteer nie. As ek dit egter vergelyk met Houdenbek, waarheen Riël met sy Penta was in Februarie saam met ons, sou ek sê mens kan Kalahari Trails toe met ‘n padwa. Dis nie ‘n lang grondpad nie, en ook nie ‘n lelike een nie. 

Worcester

Wildehont

Tue, 18/04/2023 - 06:18

Voor ons Kgalagadi toe is het ek gespog met my nuwe ligstaander op ‘n tentpaal wat kan stel. Die visstok houer het toe nie lekker gewerk nie, maar die res van die patent wel. Die lig kan ook aan enige van die pale wat die Kavango se afdak se raamwerk maak vasknyp. Ons het drie sulke ligte gehad tussen ons, en lekker die donker kolle om ons staanplek verlig. Gelukkig was ons oor volmaan daar, so ons kon in elk geval mooi sien. Ons was maar skrikkerig om met twee 6-jariges en twee 8-jariges in onomheinde plekke te staan, maar ek sal dit maklik weer doen. 
 

Voor ons verlede naweek Hartenbos toe is het ek vir my ‘n sambreelstaander gekoop en sommer ‘n stuk PVC pyp daarin gesit met ‘n gat ingeboor waardeur die bout teen my ligpaal kan vasdraai. Nou staan dit baie stewig. 
 

A

B

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 18/04/2023 - 09:51

..............Johann, die man is nog nie by aftrede nie en moet werk.  Dit is 'n lig wat met 'n sonpaneel gelaai word want daar waar hulle gekamp het is nie krag nie.  Ek glo dus dit is 12V.

Worcester

Wildehont

Tue, 18/04/2023 - 13:14

Dis nie so vreeslike sterk lig nie, maar dit kan dompel sodat dit net helfte so helder is. Dit werk puik by die braai, gooi ‘n skaflike lig in die donker in as jy by Rooiputs die leeu wil sien voor hy tussen die kampstoele instap, en het bv die afgelope naweek by Hartenbos gekeer dat ons tydens beurtkrag soos Wessel aan tentpenne vashaak of oor toue val terwyl ons tussen staanplekke geloop het. Daar was 10 gesinne van ons skool en nie almal het aangrensende staanplekke gehad nie. Dit laai met ‘n sonpaneel wat bietjie kleiner as ‘n A4 is en werk met ‘n afstandbeheer. Baie handig, ek mag dalk nog een aanskaf. 

Vaalpark

Johann L

Tue, 18/04/2023 - 13:34

Chris dit is 'n puik lig daai, myne skroef ek aan 'n kamera driepoot vas, werk baie lekker. Dit herlaai egter net dmv 'n usb poort.

Joune glo ek gee 'n groter area lig ("flood light" myne is 'n kol lig) ek glo joune werk beteryes

Vaalpark

Johann L

Tue, 18/04/2023 - 14:01

Chris, ek weet nie hoe die Lumeno prop van die BH proppe verskil nie, maar het ook so blou prop (soos op jou foto van 13/3/23) destyds op my kar se bedrading na die Penta sin gebruik. 

Met die aankoop van my solar stelsel in Australia het hulle solar die grys proppe op, en toe bekommer dit my want dit beteken ek moet my kar se prop vervang, dit was toe nie nodig nie.

Prop
Hier kan mens sien dat die twee proppe pas perfek en die krag gaan deur die verleng koord wat ek self op gemaak het en dieselfde grys proppe op het as die solar sin.
Proppe
So lyk die prop op my kar

 

Worcester

Wildehont

Tue, 18/04/2023 - 14:28

Nadat ons opgepak het by Kalahari Trails, moes Riël eers die 2.4 Fortuner 4x4 wat hy by Kgalagadi Lifestyle Lodge gehuur het vir Polentswa gaan haal. Ek het gedink dis heeltemal onnodig en ek was reg, maar dit het hom gemoedsrus gegee (Wessel, as jy hier lees - jy kan met ‘n geruste hart met jou bakkie Nossob en Mata Mata toe sleep. Jy kan selfs Polentswa en Rooiputs toe gaan). Daarna is ons hek toe, en het wiele afgeblaas voor ons in is. As jy net in Botswana kampeer kry jy nie eers ‘n toegangspermit nie, en betaal ook nie bewaringsfooie nie. Ek dink dis dom en swak van die oorgrenspark. Hulle verloor inkomste, en ook ‘n mate van beheer. 

By Twee Rivieren se winkel het ons nog ys en vuurmaakhout gekoop, en ek het die vervoerbande wat Riël voor die toer vir my gekry het aan die Prado se hoekyster stang op die sleepstang, en aan die Kavango se raam vasgemaak om klippe wat opskiet af te keer. 

A

Daarna is ons toe weg noorde toe. Ons het baie algemene wild gesien orals langs die pad en by Melkvlei, Dikbaardskolk en Nossob gestop om die toilet te gebruik en bene te rek. Die pad was in baie goeie toestand, en ons het verby ‘n padskraper wat besig was om te skraap en ‘n trekker wat besig was om bande te sleep gery. Met tye kon ek sien dat ons die eerste voertuie na die skraap/sleep was. Die ryery was ‘n plesier in vergelyking met ons vorige besoeke. 

B

Ons was so 18:00 by Polentswa, en het kamp opgeslaan nadat ons beraadslaag het oor die beste posisie vir die waens en die Commander se sonpanele, wat vas is op sy dak. Die Kavango se paneel haal maklik af en ek het ‘n verlengkoord gemaak daarvoor voor ons verlede jaar Tsendze toe is. 

C

Die aand het ons lekker gebraai terwyl die rooijakkals om die staanplek rondsnuffel. Ons staanplek het uitgekyk oor ‘n pan, waarop ons springbokke, wildebeeste en ‘n gemsbok sien wei het tydens ons verblyf. Daar is net twee ander staanplekke by Polentswa, en hulle was ver genoeg dat ons net hulle ligte kon sien en hulle nie kon hoor nie. Ek het ‘n herlaaibare hand kollig gevat waarmee ons kon rondkyk snags, maar afgesien van herbivore op die pan het ons net jakkalse gesien. 

D

Tydens ons vol dag by Polentswa het ons na Polentswa pan gery en bietjie daar sit en kyk hoe die wildebeeste rondgejaag word deur die dominante bul, en hoe hulle en die springbokke kom drink by die watergat. Ons het ook na Lijersdraai piekniekplek gery, en daar iets geëet en gedrink. Terwyl ons daar was, waarsku ‘n tannie wat by Polentswa Nr 2 gestaan het ons dat ons versigtig moet wees met die kinders. Hulle het die oggend ‘n pofadder in hulle tent gekry. 

E

Die paaie was hier en daar sinkplaat, maar oorwegend goed. Die middag nadat ons in die kamp ontspan het en batterye gemonitor het, het ons weer by Polentswa pan gaan sit en gesien hoe ‘n rooijakkals ‘n duif wat kom drink vang en vere en al verslind. Hulle en die roofvoëls maai onder die duiwe en kelkiewyne by baie van die suipings. 

F

Ek het die middag twee stortsakke wat ek lank terug gekoop het toe ons nog met die Colt Trailbuster in Botswana kampeer het, volgemaak en in die son laat lê. Terug by die kamp het ek een opgehang vir die kinders om mee te stort en later self met die ander een gaan stort. Die ander grootmense het verkies om by die waens te stort, maar ek het die buitelug stort in die skerm wat daarvoor voorsien word geniet. Dis duidelik dat die leeus ook die skerms geniet, want elkeen het ‘n venstertjie waardeur mens eers kan kyk of dit veilig is om te gebruik voor jy ingaan. 

G

G

Die aand het ons weer heerlik geëet. Salomien en Jacolien het vir ons ‘n vrek lekker spyskaart uitgewerk en ons het soos konings geëet elke dag. Ek kan nou nie die dag tot dag besonderhede onthou nie, maar ek weet die kos het R7 500 gekos vir ons gesin. Petrol R12 256,80 en verblyf R5 094,83. Dis net minder as R2 500/dag vir ‘n gesin van vier. Nie ‘n goedkoop vakansie nie, maar die afstand dra die helfte van die koste by. Voor ons gaan slaap het, brul die leeu naby Polentswa pan so 2km van waar ons staan af. 

H

Terwyl ons die laaste oggend oppak om Rooiputs toe te ry, wei ‘n wildebees en springbokke naby ons staanplek. So paar honderd meter verder wei nog ‘n wildebees en troppie springbokke. Terwyl ek iets uitskud voor ek dit wegpak, sien ek die diere wat verder weg wei hardloop weg vir iets. Die wat nader wei kyk ook in daardie rigting. Ek gaan haal my verkyker, en dit vat nie lank voor ek die leeuwyfie sien waarvoor hulle gevlug het nie. Dit lyk asof sy oppad na die toegangspad na Polentswa is, so ek stel aan die ander voor dat ons eers die oppak los en gaan kyk met die karre. Ons maak toe so, en minute later loop twee wyfies en twee opgeskote welpies reg voor ons oor die pad. 

I

So sluit ons die kort besoek aan Polentswa op ‘n hoë noot af. Hier is nog ‘n paar foto’s van ons staanplek:

J

K

 

Worcester

Wildehont

Tue, 18/04/2023 - 14:42

Met die aankoop van my solar stelsel in Australia het hulle solar die grys proppe op, en toe bekommer dit my want dit beteken ek moet my kar se prop vervang, dit was toe nie nodig nie.

Dis interessant. Brad Harrison en Anderson is maar net twee handelsname vir die soort prop. Lumeno maak ook van die proppe. Daar is vier verskillende kleure, en elkeen pas volgens my kennis net op sy/haar eie kleur. Dis om te voorkom dat mens per ongeluk die verkeerde goed aan mekaar koppel en iets blaas. Alles van my het grys proppe op, want ek verkies dat dit amper alles aan mekaar moet kan koppel sodat ek my WRND laaier meer veelsydig kan gebruik. 

Brits

Wessel Strydom

Tue, 18/04/2023 - 15:07

Middag Chris S

Dankie, ek het gelees en deeglik kennis geneem. Jou fotos is verskriklik uitlokkend, ek sal maar self moet gaan kyk.

Brits

Wessel Strydom

Tue, 18/04/2023 - 15:44

Middag Johan en ander

Dit wil voorkom of kleur dan nie saak maak by Lumeno-proppe nie. 

Ek weet dat kleur WEL saakmaak by BH proppe. Nugter alleen sal weet waarom, dalk die vermoë van maksimum stroom wat dit kan hanteer..

Vaalpark

Johann L

Tue, 18/04/2023 - 16:01

Chris dit nou regtig 'n lekker sitkamer-saam-kuier sover! 

Uitstekende fotos wat die skrif aanvul, maak dit soveel meer interesant, maak mens, soos Wessel sê, lus vir so toer.

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 18/04/2023 - 18:52

Lekker omdat ek nog nooit daar was nie geniet ek dit BAIE !!!

Worcester

Wildehont

Tue, 18/04/2023 - 22:18

Dit was hemels. Almal sal dit seker nie geniet nie, maar ons was goed ingerig met genoeg water, vier ys/vrieskaste tussen ons, genoegsame battery krag en son om dit gelaai te hou, goeie beligting, genoeg lekker drinkgoed en goeie weer (effe warm, maar daaroor kla ek nie en die ander in die groep het dieselfde gevoel). 
 

Die stilte was vir my een van die lekkerste dele. Ek sal nie ‘n besoek aan Nossob weggooi nie, en sal dit probeer insluit op die volgende Kgalagadi toer. Polentswa en Rooiputs is egter my gunstelinge. Eg my voorkeur terwyl die ander drie Rooiputs verkies het. Lg het meer opsies vir wildritte en is waarskynlik in ‘n beter wild gebied geleë, maar dit het meer staanplekke (vyf) waarvan party nader aan mekaar is as by Polentswa. Ek het egter albei baie geniet en sal later meer vertel van Rooiputs. Dit gaan ongelukkig die laaste episode in my terugvoer wees. 

Brits

Wessel Strydom

Wed, 19/04/2023 - 08:24

Môre Chris S

Is Nossob en Polentswa dan nie naby mekaar nie. ?? Jy noem dat jy selfs Nossob sal oorweeg as kampplek, waarom, meer wildspaaie??

Worcester

Wildehont

Wed, 19/04/2023 - 09:10

Polentswa is net meer as 60km noord van Nossob. By beide kan jy noord of suid ry van die kamp af. Ek is lief daarvoor om lank by watergate (eintlik mos maar net krippe in Kgalagadi) te sit, want daar gaan amper altyd iets aan omdat dit so droog is daar. Polentswa pan is ‘n klipgooi van Polentswa se staanplekke af, en daar is nog ‘n paar drinkplekke suid van Polentswa pan af. Ons het ongelukkig te min tyd gehad by Polentswa om ordentlik te verken en tyd by drinkplekke deur te bring. 
 

Die voordeel van Nossob is dat daar ‘n gewilde drinkplek voor die skuiling in die kamp is. Daarom is dit gereeld nie eers nodig om te gaan ry nie. Tydens ons vorige besoek aan Nossob het ons meer as een keer hiënas en leeus sien drink uit die skuiling. Die pad na Marie se draai suid van Nossob was ook nog elke keer wat ons daar was produktief, en dis nie ver van die kamp af nie. 
 

My rede dat ek nie Nossob sal wil uitsluit uit ‘n toekomstige toer nie, is omdat ek van die kamp hou (soos almal, dis altyd eerste vol bespreek), omdat dit nogal ver is tussen Polentswa en Rooiputs, en omdat mens in elk geval eers by Nossob water in die karavaan gooi, die badkamers gebruik en by die winkel aandoen voor jy na Polentswa of Rooiputs gaan. ‘n Paar aande daar sal die skoner geslag ‘n kans gee om ordentlik te skrop, en sou mens by Rooiputs of Polentswa bewolkte weer ervaar en die wa se battery moet herlaai, kan mens dit by Nossob doen. 
 

Ek sal nie Mata Mata insluit nie, want dis te ver van die roete af in die beperkte tyd wat ons in April het. Anders sou ek. Dis ‘n lekker omgewing waar ons al mooi goed gesien het, al is ek nie so mal oor die kamp nie. Twee Rivieren se kampterrein teen die ingangspad staan my ook nie aan nie. Rooiputs kamp is naby genoeg aan Twee Rivieren om dieselfde deel van Kgalagadi te verken, en mens is baie vinniger by drinkplekke soos Rooiputs en Kij Kij (waar daar goeie wildbesigtiging is) en kan later daar vertoef omdat dit naby Rooiputs kamp is. Ek sal eerder weer by Kalahari Trails staan as Twee Rivieren. 

Brits

Wessel Strydom

Wed, 19/04/2023 - 11:56

...Chris vir 'n lekker verslag. 

Ek het plekke mooi op kaart gemerk. Ek verstaan waarom jy Mata Mata oorslaan, dis nie op die hoofroete Nossob en Polentswa toe nie.

 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 19/04/2023 - 12:53

Alhoewel ek baie jare gelede in Mata Mata gekamp het, was dit elke keer wat ek daar gebly het (ek onthou van 4 keer) vir ons 'n baie aangename kampie. Ek en Ralie is amper geneig om Mata Mata bo Nossob te verkies. Die enigste negatiewe aspek is die feit dat jy net een roete het om te ry. Maar ons ervaring is dat dit die mees produktiewe omgewing in Kgalagadi is wat wildkyk aanbetref. Gevolglik was Mata Mata byna altyd deel van ons reisbeplanning in Kgalagadi. Die laaste keer wat ons in die park was, het ons Mata Mata verruil vir die nabygeleë Kalahari Tented Camp - wat ook 'n unieke ervaring was.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus