Op Wessel se versoek begin ek die gesprekslyn om alles oor ons kuier bymekaar te hou.
Almal weet al ons vertrek DV 26 Desember en keer weer 11 Januarie terug. Ons staan vir die eerste keer op nr 33 tydens die besoek. Ons is baie opgewonde oor die vakansie!

Gwaing strand???
Ek was nog nie daar nie, en sal beslis nie soheentoe gaan nie.
Ek vermoed nadat ek op internet geloer het na fotos en roete, dat dit nie my kulturele kriteria sal bevredig nie.
Dwarswegstrand na Gwaing
Is daar kampeerplek by Gwaing? Oorweeg jy dit vir 'n moontlike volgende kampvakansie? Dit is seker nie te ver van waar julle nou is nie. Wat van 'n daguitstappie om self te gaan kyk - of is dit alpad waaroor jou navraag gegaan het?
Dit lyk na 'n pragtige plek.
Gwaing strand
Ek het daarop afgekom toe ek vir interessantheid wou kyk wat Glentana se tariewe vir kampering is. Ek soek nie ‘n ander oord nie. Ons is baie gelukkig hier. Ons is ook tevrede om ons tyd min of meer net hier deur te bring wanneer ons hier staan. Maar dit lyk na ‘n mooi plek vir ‘n moontlike besoek. Tyd sal leer of ons daarby uitkom.
Nou moet ek eers George toe om ‘n koppelstuk te gaan koop vir die Kavango se geyser. ‘n Pypie het gisteraand gebars (dit gebeur van tyd tot tyd) en dit lek nou by die koppelstuk as ek ‘n nuwe indruk.
Teflon band
Môre Chris, kan Teflon type nie die lek op sy bek slaan nie, of soek jy rede om op slegste dag vir dorp dinge, George in te vaar.
Daar leer ek ook iets
Nee Wessel, uit onkunde het ek die koppelstuk beskadig. Dit is van die pneumatic soort soos op die foto hier onder. Ek het nie geweet hoe dit werk nie, want dit was al so aangekalk dat die blou ringetjie nie meer regtig wou in druk nie. Die in druk laat sak die lemmetjies wat die pyp vashou en die seel rondom die pyp sodat mens dit maklik kan in druk en uithaal.
Ek het nie geweet die blou ringetjie kan in druk nie, so elke keer as ‘n pypie bars (gewoonlik dieselfde een waar die warm water uit die geyser kom) het ek dit afgesny en die stuk wat nog in die koppelstuk vassit uitgewurg met ‘n langbek tangetjie. Sodoende het ek die binnekant van die koppelstuk beskadig, en na gister se stoei daarmee het dit nie meer ordentlik geseël nie.
Ek het die koppelstuk uit die geyser gedraai en saamgevat na Adendorff toe. Myne was ‘n halfduim waar dit in die geyser indraai en 12mm waar die pypies in druk. Hulle het net ‘n kwartduim met 12mm blou gate gehad, en ek moes ‘n tussenin aanpas stuk by ‘n ander winkel kry om dit na halfduim toe te vat.

Chris S....
...ek ken ook nie daai koppelstukke nie.
Ek is ook geneig om uit onkunde meestal my eie vinger in my blaker af te breek.
Nou moet julle op die strand kom vir ontspanning, of eers kosmaak tyd. Onthou om in ewe getalle af te meet vir julle 4 persone, Herman ontleed die porsies.
Nog makliker, moenie foto plaas van heerlike vetterige dpek, eiers, worsies en gebraaide uie nie.
Vyftien
Dis hoeveel skerpioene die kinders gisteraand gekry het agter die Ranger oorkant staanplek 32 tussen die blokke wat die duin van die pad af hou. Ek het een van daardie UV flitsliggies, en hulle en ‘n klompie ander kinders het sperpioene gejag terwyl ek gestoei het met die gebarste pyp.
Lg het natuurlik gebeur toe ek en Salomien gestap het om te kyk hoe sak die son, en ‘n klomp water het uitgeloop. Ek het dit dadelik gesien toe ons terugkom, want daar was ‘n breë nat strook oor die grondseil. Die water loop gewoonlik in die yskas se laai in en lek dan stadig daar uit grond toe. Ek het vanoggend nog die laai uitgedroog nadat ek die koppelstuk vervang en die pyp herstel het. Die voordeel van ‘n VVS onderstel en veselglas dop is dat die water nie skade aanrig nie.
Gisteraand se uitstappie was darem die moeite werd.

Foto Chris
Mooi foto Chris geniet die kamp en ja kyk maar virrie knypers innie aand
Bly darem maar 'n lekker…
Bly darem maar 'n lekker vakansie plek.
Straatpartytjie
Dit gaan heel lekker in die hoofstraat. Ons is in ‘n doodloop om die draai, so hulle behoort ons nie uit die slaap te hou nie. Ons bure raas ook nie te veel nie. Die see raas lekker ek ons is nie kudde diere nie.

Lifer
Ek is nie ‘n twitcher nie maar geniet voëls. Ek het al ‘n verskeidenheid spesies gesien omdat ek al ‘n hele paar lande in Afrika besoek het.
In die namiddag is hier in die duinbosse rondom ons staanplek ‘n voëltjie wat pragtig sing. Ek het dit die afgelope twee dae probeer soek, en gistermiddag laat gekry.
Dit is ‘n Knysnaruigtesanger, en dis die eerste keer wat ek een sien. Twitchers verwys na ‘n voëltjie wat mens vir die eerste keer sien as ‘n lifer.

Handige waaiertjie
Nr 33 is goed beskut teen die wind, maar dit beteken ongelukkig ook dat dit goed bedompig raak hier. Ek het ‘n herlaaibare waaiertjie wat op sy eie voetstuk staan. Dit werk goed, maar net vir een mens.
Gister toe ek klaar die nuwe koppelstuk in George gaan koop het doen ek by Kloppers aan. Dis ‘n reuse winkel met klomp sale met verskillende afdelings. Ek kry toe daar die handige herlaaibare waaiertjie hier onder wat aan goed soos ‘n tentpaal of stoel se armleuning kan vasknyp. Dit werk puik.

Knysna Ruigtesanger ...
... sal vir my ook 'n lifer wees. Toe ons onlangs in Montagu gekamp het, het ek ook 'n voël gehoor waarvan die geluid vir my onbekend is. Maar ek kon dit ongelukkig nie opspoor nie - tot my spyt.
Ek het by Ebb & Flow twee lifers gesien. Een was die Nataljanfrederik - wat volgens verspreidingskaarte in voëlboeke nie veronderstel is om daar voor te kom nie.
Die ander een was die Bosloerie (Narina Trogon) toe ons op die Touwrivier gaan roei het.
As ek kyk wat die voëlboeke van die Knysnaruigtesanger sê, is jy baie gelukkig om dit te kon sien.
Voëls
Die Bosloerie is omtrent ‘n moeilike een om te kry. Ek het een by die lodge waar ek gewerk het op die Wes-oewer van die St Luciameer gesien in 2000, en ook in Bosbokrand natuur reservaat in 2002. Die Nataljanfrederik by Shingwedzi in 2023.
Die Knysnaruigtesanger moes ek omtrent soek. Dis heeltyd in die duinbosse. Ek het dit toe met ‘n hand kollig opgespoor. Hier is heelwat voëllewe om ons staanplek. Ek het nou al Waterfiskaal, Kaapse tiptol, Kwikstertjies, Rooiborsduif, Fiskaal laksman, Fiskaal vliëvanger, Gewone Janfrederik, Kaapse wewer en Natalse fisant hier gesien. Lg sit en grou hulself in die sand in.

Chris S....
....so jy is nou 'n volwaardige "bird watcher" by DWS. ![]()
Fisant
Wildehont - ek wil nou nie probeer slim wees nie, want jy ken voëls beter as ek. Maar is daardie fisant op jou foto nie 'n Kaapse fisant nie? Toe ons Oktober daar was, was daar nogals etlikes van hulle. Hulle loop ook hier in my tuin rond (en nou met kuikens).
Kaapse vs Natalse fisant
Beide kom in die omgewing voor volgens SASOL. Die wat by ons was is egter Natalse fisante. Die Kaapse fisant is meer eenvormig bruin, terwyl die Natalse een patrone op die bors het.
As mens twyfel, help dit om die spesies se roepe te speel en te kyk waarop reageer die voël.


Bird watching
jy is nou 'n volwaardige "bird watcher" by DWS
Korrek. By ons staanplek moet ek soms SASOL raadpleeg vir identifikasie. Op die strand herken ek maklik die met eenderse (maw baie min) vere.





Gwaing strand
Wie was al hier en kan bevestig of dit aan te bevole is?