Noudat die oprit hek baie breër is as voorheen en die Sensasie met gemak sal deurkom is dit tyd vir 'n amptelike proeflopie. Gister by Klein Kariba bespreek vanaf 1 tot 5 Maart. Wel net 4 nagte maar dit behoort ons 'n idee te gee wat nog gedoen moet word aan die wa. Enige voorstelle watter staanplekke? Ons het vir nou ene met skadunet gekies.
Ons sal waarskynlik nie die…
Ons sal waarskynlik nie die tent opslaan vir so 'n kort wegbreek nie, die Gazebo sal beter werk. Die plek se staanplekke is glo almal ewe groot, 7m x 7m, sal maar seker moet meet en pas, gelukkig is daar movers op die wa. Maar as eienaars van die groter Exclusive inkom sal dit seker werk. Maar wat, ek weet mos nou hoe om ingange en staanplekke groter te maak, mos pas my Konstruksie 101 prakties met lof geslaag! So as Sensasie nie reg pas nie, maak ons sommer die plek so bietjie groter! Ons was laas by KK gewees kort voor die destydse vloed, nog met die Fleetline. Geen idee hoe dit deesdae daar lyk nie.
Klein-Kariba
Wat my aanbetref - 'n uitstekende oord. T.o.v. netheid en onderhoud is dit dalk ATKV se beste. Geniet dit!!!
Vol opslaan
Ek sou voorstel om vol op te slaan....vra die werkers daar om dit vir julle te doen. Dis al hoe julle tekorte of gebreke gaan optel. Glo alles behoort okay te wees, maar julle wil nie uitvind by Skotties sou daar n haakplekkie wees nie
Neem kennis Geert. Die idee…
Neem kennis Geert. Die idee is om 'n vol opslaan eerder by die huis self te doen, gee mens tyd om terug te sit en enige moontlike probleme te deurdink sonder die druk van opslaners wat "net gou die joppie wil klaar kry" en dalk innie proses skade aanrig................... die Sensation waens se Isabella tent is effe meer kompleks as die Jurgens waens se tente. Maar ons los die voltent se dak in sy oprol sak teen die wa se kant asook die pale innie wa tydens die KK kamp ingeval ons van plan sou verander (nie nodig om die kante ook saam te piekel nie). Vorentoe sal ons seker ook in 'n awning belê vir korter kampe. Moet ook byvoeg dat Silverlakes gedurende die oorhandiging van die wa aan ons die hele tent in ons teenwoordigheid opgeslaan het en alles verduidelik het...maar daar is altyd daai Ier genaamd Murphy wat ongenooid opdaag!
Vandag oor 'n week is ons by…
Vandag oor 'n week is ons by Klein Kariba vir ons kort wegbreek. natuurlik begin mens nou wonder oor party goed! Aan die lede wat die plek ken, veral hoe dit is na destyds se vloed...is daar krane naby aan die staanplekke, indien wel min of meer hoe ver, kan mens met 'n 3m tuinslang darem die wa se watertenk volmaak? Verstaan dat daar by elke staanplek 'n vaste braaier is, is dit so en is die darem bruikbaar, of moet ons eerder ons eie saambring? Laastens, toe ons jare terug daar was was hulle redelik hardeg@t oor die 14:00 toegangstyd, is dit nog so?
Vra vir Mnr Boucher
Hulle was taamlik onlangs daar en al meer as een keer na die vloed as ek reg onthou. Ek kan nie onthou dat ek al ooit daar was nie.
Slap tuinslange.....
...wat rek sodra dit druk opbou, werk goed. dit is lig en vat min pakplek. Ek het 'n 11m ene. Mens koop dit sommer by GAME. Kyk daarvoor by die skou.
3m tuinslang is maar kort. Jy het genoem dat staanplekke 7x7 m is. Ek kyk eers vir krane en geboude braaiers om nie daarin vas te stoot nie, en om die braaier ook nie reg agter die wa te hê nie.
Jy het 2 opsies,
a] maak die watertenk sommer by die huis vol
b] kry eers die ['n] kraan by KK en maak vol, voordat jy die wa staanmaak op jou staanplek.
Jammer, 'n klein tikfoutjie,…
Jammer, 'n klein tikfoutjie, dit moet lees 'n 30 m tuinslang!
Hoor jou Wessel, maar ek is…
Hoor jou Wessel, maar ek is redelik allergies daarvoor om met 'n karavaan met vol tenk water te ry, ek is versigtig vir stabiliteits probleme (veral as die tenk nie heeltemal vol is nie), veral in die Sensation se geval waar die watertenk in die neuskas regs voor sit. Selfs in die ou Fleetline waar die tenk die volle breedte van die wa reg voor die as gesit het was die altyd leeg as ek ry, dis onnodige ekstra gewig. In die Sensation se geval is daai gewig basies alles op die sleephaak,,,nie goed nie.
Grootte .....
van watertenk???
Die Kavango se 120l tenk sit in breedte net agter die as. In 'n mate maak dit die neusgewig effe ligter. Ek sleep baie met die tenk vol, en het nog nooit onstabiliteit ervaar nie.
Seker maar omdat ek te min perde voor die wa het.![]()
Krane
Ek was self vrek lanklaas by Klein Kariba, maar sover ek kan onthou het elke staanplek nie n kraan nie...deel met bure. So as jou tuinslang permanent aan kraan moet wees, miskien dink aan n splitter. Ek het al gesien dat mense by die aankoms by oord eers stop by n kraan, tank volmaak en dan beweeg na staanplek. Weet nie hoe lank hou daai water nie
Gister Klein Kariba gebel om…
Gister Klein Kariba gebel om uit te vind watter staanplek vir volgende week hulle vir ons geboek het.Glo Nr 10 (met skadunet). Hulle oordkaart is egter moeilik om te verstaan, klomp sirkels met nommers en dan blokkies ook met nommers met geen aanduiding wat is wat nie, daar is bv twee blokkies met Nr 10?! Het iemand dalk 'n kaart wat duidelik is om te lees. Mens sou dink dat hulle meer van simbologie gebruik sou maak en nie net sirkels en blokkies nie.
Wat die misterieuse Staanplek Nr 10 aanbetref het die dame met wie ek gepraat het gereken dat dit nie problematies is om daar in te kom met 'n groterige wa nie...Ek onthou wel dat jare terug ons probleme gehad het met die Fleetline, die plaveisel van die staanplekke was nie gelyk met die omliggende terrein nie en minstens 'n baksteen hoogte hoog, dit het toe maar effe gesukkel om daai "trappie" met die wa te klim. As dit steeds so is wonder ek of die Ewiks Movers van die Sensasie dit sal baasraak?
Grootwind...
....kry ASB dadelik vir jou 'n stuk Al-plaat, so 300x300mm, of stuk plank. As jy 'n plaveisel trappie moet klim, sit dit voor die neuswiel om op te beweeg.
Sonder die "ramp" trek movers swaar, en jy kan neuswiel breek.
Klein Kariba kaart
Daar is net een nr 10 woonwa staanplek. Die ander nr 10 is 'n chalet/rondawel.
As jy land op KK-webblad, klik op 360 view, regs van"Promotions.
Gaan dan na "Straat uitsig en klik
Dan kies jy woonwapark kaart
Hoop dit help
Dankie julle! Waardeer! Lyk…
Dankie julle! Waardeer! Lyk nie asof ek sal sukkel om die wa daarin te kry nie
Grootwind...
....hoe gaan dit met Sensasie by Klein Kariba??
Wat was/is jou sleep indrukke na die kort stukkie tot daar?
Is toe Sondag in gietende…
Is toe Sondag in gietende reen weg uit Centurion (en moes haak in die reen). Twee sopnat mense toe die pad Bela Bela toe aangedurf, gelukkig het die reen net Noord van Pta bedaar. Die Sensasie het goed gesleep die kort 120km of so na KK toe, Staanplek (nr 10) was ook geen probleem om die wa in te kry nie, maar ek is nou verslaaf aan die Ewiks, maak die lewe darem soveel makliker. Die besluit om sommer die Gazebo ipv die tent op te slaan het 'n gemengde uitkoms, omdat ons nie alles wat ons normaalweg in 'n tent bêre kon uitpak nie is die wa se sit area effe vol met goed wat mens irriteer. En dan het die blou ape asook bobbejane sowat 2 keer kom kuier, maar alles is darem meestal binne die wa so ons goed was veilig. Maar mense in die pad af het bietjie deurgeloop. Maar KK het darem iemand wat met 'n paintball geweer rondloop wat baie help. Ook bietjie ander wild soos bosbokkies gehad wat kom kuier gehad wat dit lekker maak. Die park is goed onderhou en alles is silwerskoon, relatief min mense so in die middel van die week. Sal later meer deel
Grootwind...
...goed om van jou te hoor. 'n Foto of meer van Sensasie op die staanplek sal egter baie meer oortuigend wees.





Skadunet beskutting....
...goeie besluit. Ek hoop dis groot genoeg vir woonwa, tent en trokkie.
Ek ken nie Klein Kariba nie.