Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Olie prys en Jodiumpille November 2026 Wessel Strydom -9 minutes ago
Pretoria November 2026 Geert -10 minutes ago
Tydens ons 2de aand ... Kgalagadi Oktober 2026 Chris Boucher -1 hour ago
Overstrand Munisipaliteit November 2026 Chris Boucher -1 hour ago
Verkiesing effek November 2026 Wessel Strydom -3 hours ago
Geniet jou video's... Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -15 hours ago

Kruger Wildtuin Mei 2018

Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader
Submitted by Len Loader on
Forums

Ek is so lus om oor kamp te gesels, veral as die kamp in die Kruger Wildtuin gaan plaasvind. Aangesien die gesels hieroor op Kampforum maar skraps is, het ek gedink dan moet ek maar daarmee begin.  Ek sal so met verloop van tyd vertel van wat vir ons voorlê.

Kyk net hoe pragtig nat en groen lyk die drinkplek by Satara vandag !

.

Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 10/04/2018 - 18:50

Ons vertrek op Maandag 30 April van hier af en sal weer 32 dae later op 31 Mei terug by die huis wees.  So 'n vakansietjie vanaf die Kaap tot by jou gunsteling plek in die Laeveld ruk nogal jou sak.  My begroting sê ons verblyf by oorslaapplekke plus ons verblyf in die Wildtuin en daarna by Eiland Spa gaan R6500 kos - dit is gemiddeld R208 per nag wat na my mening baie billik is. Die brandstofkoste van ongeveer 6 000km gaan in die omgewing van R13 000 wees, geskat teen 16 liter/100km en teen R14 per liter. Sou ek nie sleep nie, sal die brandstof koste R6500 beloop wat my dan laat met (R20000 - R6500) R13500 beskikbaar vir verblyf en deel dit deur 31 nagte het ek R435 per nag beskikbaar om vir ander tipe verblyf te betaal  -  natuurlik, totaal onmoontlik.  Maar dis nie hoekom ek van 'n kampeervakansie hou nie, ek en my wederhelfte is mal oor ons saamsleep-vakansiehuis en die kampeer-ervaring  -  daar is net nie 'n lekkerder manier om vakansie te hou nie.  Jou eie bed, beddegoed en al jou klere en ditjies en datjies is in die kaste en rakkies, netjies op hulle plek en jy hoef nie voordurend uit 'n tas of sak in-en uit te pak nie.  Verder is al jou eetgoed, lekkernye en kos behoorlik ingepak en gereed om gedurende die hele vakansie te gebruik, sonder 'n voortdurende ge-in- en uitpakkery.

0
Port Elizabeth
Profile picture for user Frieps

Frieps

Tue, 10/04/2018 - 19:14

Len, toe julle en die kinders verlede jaar daarvandaan teruggekom het, was 2018 se besoek aan die KNP nog iewers in die toekoms.  Kersfees en Nuwe Jaar en jul Hartenbos kamp, alles moes eers gebeur.  En hier is julle nou al amper oppad Kruger toe.

Alles wat jy noem omtrent al jul geriewe en besittings wat in jul eie saamry-huis is, is waar.  Sonder jul karavaan, sou jul in elk geval 'n hele pakkerasie moes saamneem, nie net 'n tas met klere nie.

Maar so vakansie is nie meer goedkoop nie.   Jul verblyf en brandstof is amper R20 000.  Behalwe dit gaan julle nog heelwat spandeer.    32 dae is egter 'n lekker lang vakansie.   

Ek glo julle kan nie meer wag nie.  Ja, hou ons op hoogte, dit is lekker om saam met julle uit te sien.

0
Vaalpark
Profile picture for user Johann L

Johann L

Tue, 10/04/2018 - 19:40

Ai Len, is dit nou werklik nodig om dit so in te vryf, dink bietjie aan ons ander wat nie daar kan wees nie, en hou jou in!

Julle moet die laaste bietjie beplanning geniet. Ek droom saam oor die sleep huisie en die bestemming.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 10/04/2018 - 19:44

Ons roete "boontoe" (natuurlik vanaf die Kaap is dit "boontoe") :-

Ons probeer om in die omgewing van 500km per dag te ry.  Hierdie keer (glo dit as jy wil) ry ons by Karoo NP in Beaufort-wes verby tot by 'n gasteplaas net duskant Drie Susters, The Vale  -  The Vale is presies 500km vanaf Kaapstad en ook 500km tot by Bloemfontein.  Google gerus The Vale en kyk hoe pragtig lyk dit op hierdie Karoo plaas.  Ons hoef nie veel vroeër as 08:00 vanaf die huis te vertrek nie en dan word ons gelukkig ook die verblindende sonsopkoms reg van voor gespaar. Ons het in die verlede die N12 oor Kimberley verkies, maar die afgelope drie jaar ry ons op die N1 oor Bloemfontein.  Ons gaan hierdie keer nie by Reynecke Park tuis nie, maar ry verby Bloemfontein en gaan dan oornag by Riviera Gasteplaas waaroor daar heelwat op die forum gesels is.  Ek het mos 'n Kampforum kompetisie gewen en gaan nou my gratis oornag prys daar benut.

Ek vertel later verder.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 10/04/2018 - 20:00

.............Vrydag 25/5 is ons nog by Eiland Spa en ons kom Saterdag 26/5 laatmiddag / aand se kant by  Rivierfront, noord van Pretoria aan.  Die volgende dag  Sondag 27/5 het ons 'n familie-byeenkoms in Pretoria-Noord en dan begin ons Maandag 28/5 terugskuif Kaap toe.

Hoekom vra jy ?

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 10/04/2018 - 20:14

..............Woensdag 2/5 Pretoria toe en weer eens doen ons dinge anders.  Ons kamp nou al 10 jaar elke jaar by Joos Becker karavaanpark, maar ek was so geskok in Julie verlede jaar met die vuil ablusie en die plakker-agtige kampeerders, dat ek besluit het om nie weer daar te kampeer nie.  Ek was gelukkig om deur 'n vriend aanbeveel te word na 'n klein, eksklusiewe oord op die ou Warmbad pad, nie te ver vanaf Pretoria-Noord nie.  Ons Pretoria-verblyf gaan dus voortaan daar plaasvind.  Ons het heelwat familie en vriende in Pretoria en Roodepoort en ons gaan drie dae daar oornag en ons kuiers dan daar inkry.

Saterdag 5/5 vertrek ons Phalborwa toe en gaan oornag by Phalaborwa Safari Park, reg langs die Phalaborwa-hek van die Kruger Wildtuin.  Ons kampvriende (my wederhelfte se niggie en haar man) van Somerset-Wes met hulle splinternuwe Bushlapa sluit daar by ons aan.

 

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Tue, 10/04/2018 - 20:28

Die oomblik het dan uiteindelik aangebreek.  As ons ingeboek is, begin die Wildtuin-vakansie in alle erns !  Ons het so 7km om te ry op die teerpad Letaba toe, maar draai dan links (noord) op die H14 teerpad wat dan later aansluit by die hoof teerpad (H1-6) wat die suidelike kampe met die noordelike kampe verbind.  Dis 'n lang end op tot by Shingwedzi (vanaf Phalaborwa is dit 138km) waar ons eerste kampplek vir 5 dae sal wees.

Dit klink nou vir my of ek alreeds hierdie storie vertel het, maar ek dink dis hoe ons gesels het toe Willem (WilSur) verlede jaar ook by Shingwedzi gekamp het).

Ek sal nou maar verder vertel as ons eers daar is.

0
Nelspruit
Profile picture for user Koos Mol

Koos Mol

Tue, 10/04/2018 - 21:14

Len. Jy hou eintlik dubbel vakansie. Met jou verteling beleef jy die eerste en dan  in Mei die ware jakob. Geniet die voorbereiding. Ons beurt kom in September.

0
Port Elizabeth
Profile picture for user Frieps

Frieps

Wed, 11/04/2018 - 05:39

Ek glo, as daar nou een ou is wat nie sal verdwaal in die KNP nie, dan is dit Len.   Lyk my hy ken elkeen van daai paaie soos die palm van sy hand.   Julle gaan lekker kuier-kuier opry tot daar, Len, dit klink baie lekker.

Jammer ek kaap jou draad, Len.   Ek wil net vir Koos vra, hoe gaan dit daar by Yellow Sands in Oos Londen?  

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Wed, 11/04/2018 - 14:02

Nou eers weer terug by die werklikheid, naamlik vandag.

Die Pathfinder was verlede week by Imperial Nissan Parow vir sy 75 000km diens, die Cooper bande geruil en wielsporing gedoen soos vereis deur die Cooper 80 000km waarborg. Ek is geskakel om te sê die battery het net 45% kapasiteit oor en gaan my kort voor lank in die steek laat.  Dit mag nie gebeur op vakansie nie en by Balule in die Wildtuin (waar nie 220v krag is nie)  wil ek elke aand 'n bietjie 12v krag van die Pathfinder steel om die Exclusive se battery "opgetop" te hou.  Ek het toe veiligheidshalwe die battery vervang.

My tru-kamera-koppeling tussen die P/F en die Exclusive het gelol en ingegee met ons Hartenbos-trippie.  Ek het dit intussen herstel met 'n deeglike weerbestande koppelstuk, getoets en in orde gevind. Sommer ook die P/F trekstang mooi pikswart geverf.

Soos elders vermeld het ek ook die A-raam getakel, roesplekke verwyder, oorgeverf en die skokbreker-stelsel vol ghries gepomp.  Ons rally-dak is in Hartenbos beskadig deur wind wat 'n gaatjie veroorsaak het as gevolg van aanmekaar skuur. Dié is ook al herstel deur Swannies Tent Repairs.  My braaier kort 'n verf en dié sal binnekort gebeur.

Voor julle moeg word vir my storie, stop ek eers hier en sal later laat weet nog gedoen word.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Wed, 11/04/2018 - 18:08

Ek het 'n gewone 7-pin prop gebruik teen 'n fraksie van die koste van die grênd koppelings.  Die een is grys en die ander is swart (binne hulle omhulsels) om verkeerdom koppeling te voorkom. Daar is nog plek vir 'n tweede kamera sou ek nog een wou gebruik.

.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Wed, 11/04/2018 - 18:21

Ek het oulike raad gekry vir dowwe veselglas met vlekke.  Onthou my Exclusive is al 13 jaar oud en die A-raam dop het sulke nare vlekke gehad.  Die raad is om asyn met koeksoda gemeng op die veselglas te spuit en dit dan in sirkels op te vryf.  Daarna word dit afgespoel met water.  Hier is die resultaat, maar myne kort nog heelwat politoer om dit weer te laat blink.

.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Wed, 11/04/2018 - 18:32

Nog 'n takie wat voorlê is die Exclusive moet gewas word (ek ry nie met 'n vuil karavaan en sleepvoertuig nie) en in die Kaap mag ons dit nie met munisipale water doen nie.  Ongelukkig is my twee reënwatertenks so te sê leeg en geen reën word vir die volgende 10 dae voorspel nie.  Ek hou maar duim vas dat dit voor ons vertrek sal reën en dan behoort ek water te hê om die joppie te doen.

0
Durban
Profile picture for user dassie

dassie

Thu, 12/04/2018 - 16:53

Ek het gevind die beste manier om n karavaan so skoon te kry is om die nommer plaat op te "jack " en n nuwe karavaan daar in te stoot laugh

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus