Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Lapskag dit is foto's wat ek… Uitsig Agri Voortrekker -1 hour ago
Baie mooi fotos Anton,… Uitsig Agri Lapskag -1 hour ago
Johann en lede.  Ek het die… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -3 hours ago
Johann ek was nou juis besig… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -8 hours ago
Chris B Forum Herstel en terugvoering Wessel Strydom -9 hours ago
Chris B... Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -9 hours ago

Namibië en Botswana Toer

Nelspruit
Submitted by Koos Mol on
Forums

Die dag waarna ons met groot opgewondenheid na uitgesien het, het toe ook aangebreek. Na dae lange voorbereiding, geboer op die internet en gesels met baie kampers het ons toer na Namibië en Botswana begin. Ons, dis nou ek en Irene saam met vriende Eric en Annette het Dinsdag 23/04 vroeg oggend met baie opgewondenheid en warm harte ons waens gehak en vanuit Hartenbos (ons het die afgelope 2,5 maande op Dibiki gestaan) die twee Rangers se neuse in 'n noordelike rigting gedruk. Ons eerste stop was op Rondeberg net noord van Clanwilliam waar ons een nag oorgestaan het. Vroeg Woensdagoggend trek ons toe verder noord en so om en by 15h00 steek ons die grens oor by Alexanderbaai oppad na Oranjemund. Tans ons 2e nag hier by "Op My Stoep" met net 2 staanplekke en so 20 chalets, en morê (26/04) vertrek ons oor Roshpinah na Aus vir 3 nagte. Vandag 'n rustige, mistige, naterige en koel dag hier op Oranjemund deurgebring. Dis 'n pragtige klein dorpie, baie skoon en netjies met vriendelike mense. Weens die mis was die uitsig by die Oranjeriviermond maar beperk maar tog 'n mooi gesig. Die Jasper House museum op die dorp beeld die diamantbedryf en ontwikkeling hier in die spergebied mooi uit.

Morê, met nog duisende kilometers en mooi Namibië kampdae lê nog voor.............

Reg vir die pad.

 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 25/05/2019 - 20:13

Wow Koos, fantastiese fotos  -  baie dankie !

Vertel 'n bietjie meer van daardie gebarsde band  -  wat het waar gebeur ?  Was dit op spoed en was die band al aan die ouerige kant ?  Kon julle vasstel wat die oorsaak was ?  Kon iemand help met reparasies ?  Het julle die wa maklik opgedomkrag gekry ?

0
Nelspruit

Koos Mol

Sat, 25/05/2019 - 22:13

In reply to by Len Loader

Len....................................

Die gebarste band was weer een van daai murphy momente; ek was nie daar nie.........

Ek het voor gery en het nie agtergekom dat Eric agter bly nie; my wa kamera het gelol en ek kon geen sein kry nie; ons het Namibië simkaarte gekry en net met data gelaai maar nie praattyd nie. Ek het dus onbewus van Eric se dilema voort gery en eers na so 20km besluit om langs die pad te wag (so 10 minute gewag) tot hy opvang na ek hom nie om 'n draai in my sy-spieël opmerk nie. So toe ek terugdraai met die besef dat hy probleme opgetel het, het hy reeds die band vervang en weer die pad gevat. Ons het elkeen 'n 2 ton trollie domkrag wat toe handig te pas gekom het; dit was blykbaar nogtans 'n moeilike takie weens die feit dat die pap wiel die as baie laag laat sak. Gelukkig was daar geen skade wat sy reis verder sou vertraag nie.

Eric het so 100kpu gery (GPS spoed) en daar was geen ongelyk pad of enige ander opsigtelike rede wat die bars kon veroorsaak nie. Dit was 'n redelike nuwe band; binne 5 jaar oud en met min kilo's op. Ons en die bande handelaar op Mariental kon nie op die beskadigde band  enige teken van 'n oorsaak sien nie. Die handelaar op Mariental kon nie dadelik met 'n nuwe band help nie en het een bestel vanaf Windhoek. Ons het die velling by hom gelos en die komende Maandag op ons pad vanaf Maltehöhe na Windhoek het ons die wiel opgelaai.

Eric moet nou net die skade aan die wa laat herstel. 

0

Middag vriende 

Ek wil nou 'n klip in die bos gooi, oor daai papawiel, hier nanuit my sitplek ge oordeel op die foto wat wa se skade wys.

 

Is dit moontlik dat die wiel weens gewig en swak paaie geloop en raak het aan die "mover", of die modderskerm se agterkant. Dit lyk darem alteveel of daai wiel baie naby sit aan iets wat soos 'n mover lyk.

Beweeg die Jurgens se wiel nie effe na onder en agter wens die suspensie beweging van die as nie.?? Ek het op my Palma ekstra spasieerders laat insit juis om dit te voorkom.

Sommer 'n gedagte.  

Wessel

0
Daspoort Pretoria

Willem Brits

Sun, 26/05/2019 - 14:11

Wessel, die nuwer onderstelle kan jy nie so maklik lig soos die vorige onderstelle nie.  Ja die mover is nogals naby aan die band, 19mm.

.

0
Waar my wa staan

Arie

Sun, 26/05/2019 - 14:41

Willem eindlik makliker! Jy boor net nuwe gate bietjie laèr af laat sak die as en bout weer vas.

Ek het n vriend gehelp in die kamp om sy penta te lig.

Sommer een middag sonder om sy tent af te haal.

Vinnig en maklik.

0
Vaalpark

Johann L

Sun, 26/05/2019 - 18:07

Koos, dankie vir die deuglike vertelling, ons kuier heerlik saam.

Jammer om van Eric se skade te verneem, dit maak mens seer as jy so iets raak lees. Gelukkig kon hy darem nog die reis voort sit, het die mover nie ook seer gekry met daai "klappe" van die stukkende band nie?

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 26/05/2019 - 20:21

Bandprobleem :  Wessel, ek dink jy het nogal 'n geldige punt beet. Die Al-Ko aste van ons karavane se veerstelsel is so ontwerp dat dit nie vertikaal op-en af beweeg nie, maar effens na agter wanneer die wiel na bo beweeg  -  net mooi daar waar die mover sit as dit agter die wiel (en nie aan die voorkant van die wiel nie) gemonteer is.  Maar dit hang natuurlik af of die mover korrek gemonteer is - die roller moet presies teen die band druk gelykstaande aan 'n denkbeeldige waterpas, horisontale lyn deur die middelpunt van die wiel.

Domkrag : Ek lees iewers as jou wa te laag lê om 'n domkrag onder die as in te kry, gebruik een van jou geel blokke (leveling bl0cks) en trek die papwiel daarop.  Dan is daar meer ruimte onder die wa om die domkrag in te kry.

0
Magaliesburg

GerhardtN

Wed, 29/05/2019 - 16:51

Ek het voor gery en het nie agtergekom dat Eric agter bly nie; my wa kamera het gelol en ek kon geen sein kry nie; ons het Namibië simkaarte gekry en net met data gelaai maar nie praattyd nie. Ek het dus onbewus van Eric se dilema voort gery en eers na so 20km besluit om langs die pad te wag (so 10 minute gewag) tot hy opvang na ek hom nie om 'n draai in my sy-spieël opmerk nie. 

Hier sou radios julle  mooi gehelp het.

0
Nelspruit

Koos Mol

Sat, 01/06/2019 - 21:40

Ons toer verder ..............

06 Mei - Ons reis vanaf Pappot op Maltehöhe na Windhoek was voorspoedig; ons staan 4 nagte by Arebbusch Lodge.

Arebbusch Lodge lê reg langs die B1 hoofpad en grens aan Eros Lughawe, dus nie 'n stil kampterrein nie. Daar is 3 grond staanplekke en 4 staanplekke onder gaasdoek, elk met kragpunte. Water punte is bietjie ver en wyd versprei. Daar is ook 4 privaat ablusie staanplekke. Die gemeenskaplike ablusie is modern en netjies.

Ons doen inkopies om voorraad aan te vul en ek en Eric dwaal in die mall rond terwyl die dames hulle verlange en lus na winkels/”shopping” stil.

Ons besoek die "Heroes Acre", nogal 'n imposante monument en begraafplaas vir Namibië se helde. Anton Lubowski lê ook hier in sy laaste rusplek, van die ouer garde sal van die man onthou.

Ons besoek ook die Christus Kirche, 'n interressante kerk, gebou in 1907. Die kerk het ‘n interessante geskiedenis (google gerus); meeste van die boumateriale was ingevoer. Die kerk het die pragtigste loodglasvensters.  

Ons laaste besoekpunt is die Nasionale Museum wat Namibië se bevrydingstryd uitbeeld tot en met hulle onafhanklikheid in 1990. Die uitbeeldings bevat menige fotos van die Namibiers se bevrydingstryd teen die Duitsers en daarna Suid Afrika. Menige van ons was in daai era jong mans in diensplig van die SAW, ek was in diensplig toe die stryd grotendeels nog net polities was. As jy daar staan en die stories lees dink mens maar terug aan daardie jare en die lewensverlies aan beide kante en toe wonder ek, met 'n terugblik na wat alles gebeur het ..........waarvoor was dit en het dit die dood van so baie regverdig. (Ek wil nie 'n polemiek begin nie, net my gevoel)

Ons laaste dag bring ons rustig tuis deur en Vrydagoggend vroeg (10 Mei) hak ons die waens en vat die pad na Swakopmund waar ons vir 7 nagte by Alte Brucke gaan staan.

Ons staanplek by Arrebusch in Windhoek
Die Helde Akker 
Anton Lubowski se graf
Christus Kirche
Christus Kirche
Nasionale Museum
Ons kuier by Joe's Beer House
Net as bewys.

 

0
Nelspruit

Koos Mol

Mon, 03/06/2019 - 12:47

Ons reis vanaf Windhoek na Swakopmund verloop veilig en ons arriveer Vrydag 10 Mei op Alte Brücke. Dis werklik 'n pragtige kamp. Alle staanplekke is gras met privaat ablusie, braai en opwas area. Die staanplekke wissel in grootte en ons kry twee langs mekaar met oorgenoeg ruimte.

Ons bring die eerste dag in Swakopmund se strate deur en besigtig die dorp. Ons besoek die Kristal Gallery en staan verstom oor die pragtige edelgesteentes wat daar vertoon word. Dit laat mens wonder op hoeveel groot klippe het jy dalk al getrap wat binne 'n kamer van smaragde is.

Die tweede dag ry ons deur na Hentiesbaai en vandaar na die Spitzkoppe. Die D1918 na Spitzkoppe is plek plek sinkplaat en rof maar tog rybaar. Interessant is die stalletjies langs die pad waar smouse klippies ens verkoop maar die smous is nêrens te sien nie. Blykbaar koop jy en los die geld daar iewers, weet nie.

Die Spitzkoppe is interessante rotskoppe op die oop woenstynvlaktes en weereens een van die kontraste van hierdie wêreld. Na 'n piekniek ete by die Spitzkoppe Rest Camp vat ons die pad terug via Usakos.

Maandag oggend hang die mis dik oor Swakopmund en dis ons beurt saam met Tommy's Living Desert Tours. Chantelle laai ons agt uur op en ons onvergeetlike toer in die woestyn hier reg langs Swakopmund begin. Dis seker die beste geld wat ek nog bestee het hierdie vakansie. Mens besef nie hoeveel lewe daar in die woestyn, in die sandduine is nie tot iemand professioneel jou die diertjies uitwys, hulle praat ook van die "small 5". Chantelle, ons gids, het vir ons die diertjies in hulle sandhuise gaan wys. Ons het die volgende gesien: Verskillende kewers, die "Namaqua Chameleon", geckos, skink (blinde akkedis sonder pote), "side winder" slang, die spekvreter voël en verskillende spinnekoppe. Sy het ons gewys hoe die diertjies se "huisies" lyk, hoe hulle water kry, ag dis alles net te veel om hier te vertel, mens moet dit self meemaak. Wat egter onstellend is, is die effek wat die mens op die woestyn het, dis dan negatiewe effek met die dat ons met voertuie die woestyn kruis en dwars platry en so die habitat van die diertjies verniel. Daar word vertel dat die voertuig spore op sommige plekke tot na baie jare nog sigbaar is. Soos jy op van die buite paaie ry is die spore langs die paaie en diep in die woenstyn sigbaar. Dit was werklik 'n baie leersame en interessante oggend wat ons in die woestyn deurgebring het, 'n item om op jou doenlys te plaas wanneer jy Namibië besoek.

Dinsdagoggend is maar koel en die mis hang dik hier oor Swakopmund. Ons ry by Namibië se omgewingsake aan om ons permit te kry om die Welwitschia Plain te besoek. Die grondpad is maar rof, die tande moet hou. Ons kom eers by die maanlandskap aan, was verwonderd dat dit so groot area beslaan; hele klompie kilometers aaneen. Dit is pragtig. Ons ry toe tussen die maanlandskapberge in na Goanikontes waar ons oggendtee met appeltert geniet. Die plekkie lê teen die Swakoprivier (geen water) en is 'n groen oase in die droë wêreld. Die maanlandskap is indrukwekkend en jy verwag enige oomblik om een van die Spacetrack gevaartes daar te sien. Die maanlandskap is nou weer een van die vele kontraste van Namibië. Na ons ons verkyk het aan die mooi maanlandskappe toer ons voort na die Welwitschia Plains. Interessante oerplante die; lyk of die plant baie blare het intussen het die plant net twee blare wat so uitgeraffel is. Die lyk behoorlik soos 'n verlepte, papgeslane, uitgeraffelde stuk plant. Tog as jy bietjie gaan oplees kom jy wete van die plant se vermoeëns om onder die geharde toestande te oorleef. Die grootmoeder van die plante is ongeveer 1000 na 1500 jaar oud en is omhein om die sensitiewe haarwortelstelsel teen die mens se vertrapping te beskerm. Na ons so klompie van die plante van nader beskou en bewonder het keer ons na 'n lang warm dag terug huistoe.

Woensdag gaan ons see toe, ons gaan loer na die robbe en soek dolfyne. Die mis hang vroegoggend dik en toe ons in Walvisbaai op 'n catamaran die baai in vaar is dit koud en mistig, eers heelwat later het die mis opgeklaar. Daar is honderde robbe op Pelican Point en ons gewaar so paar keer dolfyne maar hulle wil nie speel nie. Die bootrit was nie sensasioneel nie maar tog 'n lekker ervaring. Vanaf Walvisbaai terug na Swakopmund besluit ons om ons kuiertjie hier met 'n lekkerte af te sluit en ons gaan speel toe vir 'n uur en 'n half in die duine met "quad bikes". Mense was dit nou lekker veral die laaste 10-minute toe net ek en Eric saam met die gids so bietjie sports gemaak het in die duine. Moeg na 'n voldag gevul met goeie vermaak sak ons in ons kampstoele neer met 'n "parrafien" en coke in die hand en 'n skapie op die vuur.
Donderdag is weer "shopping" vir die dames en ek en Eric maak bietjie skoon en slaan ralleys af want morê vat ons toer ons verder na Omaruru. Ek laat ook my wa-kamera se kabel behoorlik las; die twee-prop kontak het swak kontak gemaak en my kort kort ‘n “no signal” boodskap gegee.

Na ‘n fantasiese week in Swakopmund sluit ons die laaste aand ons besoek by Alte Brücke af met ‘n vleisie op die vuur. More toer ons verder na Omaruru.

Ons staanplek by Alte Brücke.
Die geelbus het die heerlikste vars vis.
Swakop se statige ou geboue.
Kristal Gallery - daar is net te veel om al die fotos te wys - dis 'n moet sien.
Kristal Gallery - daar is net te veel om al die fotos te wys - dis 'n moet sien.
Grondpad langs 'n grondpad weens die rowwe sinkplaat op die oorspronklike pad.
'n Eensame grondpad oppad na Spitzkoppe.
Spitzkoppe.
Selfhelp stalletjie oppad na die Spitzkoppe.
Ons is reg vir ons "Living Desert" toer.
Die "Namaqua Chameleon". Ons was gelukkig want ​blykbaar is dit uitsonderlik dat jy hom te siene kry.
"Desert Lizard - hulle noem hom ook die Kalahari Ferrari weens sy spoed oor die sand.
"Burrowing Skink" - 'n pootlose blinde akkedis.
Die "Sidewinder" slang in aksie.
Die "Sidewinder" slang in sy wegkruipplekkie.
Die "Namib Dune Gecko".
Spekvreter - 'n baie parmantige voëltjie.
Sand ................. en nogmaals sand.
Die Maanlandskap, die foto kan by verre nie die werklikheid weerspieël nie.

 

'n Eensame boom in die maanlandskap.
Goanikontes - ons stop vir 'n koppie tee en appeltert.
Goanikontes lê soos 'n oase in die maanlandskap.

 

Die moeder van alle Welwitschias, 1000 tot 1500 jaar oud.
Ons geniet koffie by die Welwitschias.
??????  -  'n Reënmeter in die woestyn, naby die Welwitschias.
Robbe op Pelican Point.
Koud en wind op die boot by Walvisbaai.
Die spyskaart op die boot, saam met 'n glasie of twee OBS.
Ons trek die woestyn in - fantastiese rit.
Soms sit mens vas, dan moet pappa maar stoot.
Ons is reg vir aksie.

 

Die dames is "gegear" vir die okkasie.

 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 03/06/2019 - 15:05

Wow Koos, dit lyk na sommer lekker pret !

Baie dankie vir fotos en toer-geselsies.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus