Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Die Thumbs-Up behoort nou… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -16 minutes ago
👍👍👍👍 Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -1 hour ago
👍👍👍👍 Forum Herstel en terugvoering Gryswater -1 hour ago
Lyk na heel aangename oord Umfula Geert -1 hour ago
rondsoek vir diesel ??? Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -1 hour ago
Skerm skoot Oktober 2026 saam gesels Johann L -3 hours ago

Namibië en Botswana Toer

Nelspruit
Submitted by Koos Mol on
Forums

Die dag waarna ons met groot opgewondenheid na uitgesien het, het toe ook aangebreek. Na dae lange voorbereiding, geboer op die internet en gesels met baie kampers het ons toer na Namibië en Botswana begin. Ons, dis nou ek en Irene saam met vriende Eric en Annette het Dinsdag 23/04 vroeg oggend met baie opgewondenheid en warm harte ons waens gehak en vanuit Hartenbos (ons het die afgelope 2,5 maande op Dibiki gestaan) die twee Rangers se neuse in 'n noordelike rigting gedruk. Ons eerste stop was op Rondeberg net noord van Clanwilliam waar ons een nag oorgestaan het. Vroeg Woensdagoggend trek ons toe verder noord en so om en by 15h00 steek ons die grens oor by Alexanderbaai oppad na Oranjemund. Tans ons 2e nag hier by "Op My Stoep" met net 2 staanplekke en so 20 chalets, en morê (26/04) vertrek ons oor Roshpinah na Aus vir 3 nagte. Vandag 'n rustige, mistige, naterige en koel dag hier op Oranjemund deurgebring. Dis 'n pragtige klein dorpie, baie skoon en netjies met vriendelike mense. Weens die mis was die uitsig by die Oranjeriviermond maar beperk maar tog 'n mooi gesig. Die Jasper House museum op die dorp beeld die diamantbedryf en ontwikkeling hier in die spergebied mooi uit.

Morê, met nog duisende kilometers en mooi Namibië kampdae lê nog voor.............

Reg vir die pad.

 

Nelspruit

Koos Mol

Tue, 11/06/2019 - 16:49

Vandag 7 weke gelede is ons weg uit Hartenbos en vandag staan ons op Klein Kariba, duisende kilometer en baie avonture later en heel tevrede. Ons het Sondagoggend die grens by Martin's Drif oorgesteek en wa maak staan op Klein Kariba. Gister het ons bietjie nabetragting gedoen oor ons ongeveer 7 weke toer. Vanoggend is Eric en Annette terug huistoe op Hartenbos. Ons staan nog hier vir 'n paar dae om af te koel.

Ek sal oor die volgende dae my verdere (van Swakop tot hier) storie met fotos plaas.; het vanoggend probeer maar die net is te stadig vir die fotos.

Ek wil niks vooruit loop nie maar kan net sê: Dit was my eerste maar definitief nie my laaste besoek aan Namibië nie.

Tot later..........

 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 11/06/2019 - 20:58

............terug in Suid-Afrika Koos !  Ek weet julle het dit baie geniet en daar lê nog 'n heerlike Wildtuin-vakansie voor !  Ek sien uit na jou Namibië afsluit storie.

Ns. En dan kan jy sommer gereed maak vir 'n Kruger Wildtuin vervolg-verhaal.

0
Secunda

Sleep nou

Wed, 12/06/2019 - 03:11

Welkom terug hier RSA julle geniet Klein Kariba dankie sover virrie toer saam julle

0
Nelspruit

Koos Mol

Mon, 08/07/2019 - 16:05

Ons reis verder.............................

Vrydagoggend 06h00 vertrek ons uit Swakopmund en die eerste 50km ry ons in digte mis. Ons rit na Omaruru verloop veilig. Ons arriveer vroeg by Omaruru Rest Camp en maak net die waens staan want ons wil nog Brandberg toe ry. Die 150km grondpad na Brandberg is goed na baie goed; dele ry soos 'n teerpad. Brandberg is die hoogste berg in Namibië, 2573m bo seespieël. Dit is 'n indrukwekkende berg met 'n besonderse geskiedenis, baie boesmantekeninge, ook die veelbesproke "white lady". Ons het besluit om nie die 40 minute staptog (en 40 terug) aan te pak om na die "white lady" skets te gaan loer nie.

Ons staanplek by Omaruru Caravan Park

 

Die Brandberg

 

Die Brandberg

 

Ons het vele sulke swart klipstapels opgemerk

 

Die Brandberg

Saterdag vertrek ons vroeg uit Omaruru na ons volgende bestemming, Taleni Etosha Village. Ons reis (Saterdag 18 Mei) vanaf Omaruru na Taleni Etosha Village verloop veilig en ons arriveer so by middag ete daar. Die paadjie vanaf die teerpad na die lodge ontvangs is rof met twee verskriklike spoedwalle, ons ry baie stadig en die waens sleep so bietjie oor die spoedwalle. Na ons inbespreek het lê daar toe so verdere 1,5km rof tot rowwer paadjie voor, so 600m tussen die bome deur slinger en oor rowwe klippe, dit neem ons 'n goeie 20 minute. Die kampplek maak toe darem op, groot gruisbedekte gelyk area met paar bome en eie privaat ablusie. Die ablusie modern spartaans en skoon. Ons staan drie nagte hier in pure bosveld wêreld.

Eerste dag lê ons besoek af aan Etosha; wat 'n teleurstelling. Dis warm en droog, daar is min diere te sien en die paaie is baie sleg sinkplaat, die voertuie jaag om die effek van die sinkplaat teë te werk. By die ingangshek en ontvangs by Okaukuejo is die diens traag en belangeloos (soos in SA), dis in teenstelling met die vriendelike en professionele diens wat ons oral in die suide ontvang het. Dit lyk asof Etosha uitmekaar val. Op 'n meer positiewe noot; ons het so uur of twee by die drinkgat  in Okaukuejo deurgebring en die mannewales van 'n olifant familie dopgehou, ook baie ander kleinwild gesien.

Die volgende dag was 'n rustige tuisbly dag met 'n middag teetjie by die lodge en voete in die koel swembadwater. Dis heerlik om in stilte die bosveld te geniet. 

Ons staanplek by Taleni Etosha Viillage

 

Ons eie privaat ablusie

 

Ons kuierhoekie

 

'n Rustige middagtee in die lodge se tuin

 

Watergat by Okaukuejo in Etosha

 

Watergat in Etosha

 

Watergat by Okaukuejo in Etosha

 

Watergat in Etosha

 

Watergat by Okaukuejo in Etosha - alte klein 

Vroegoggend, Dinsdag die 21ste reis ons verder noord. Die 4km grondpad by Taleni uit vat ons 'n volle halfuur. Ons bestemming is Oppi-Koppi Ruskamp op Kamanjab, ons wil van hier af Twyfelfontein en die versteende woud besoek. Dit het egter nie gebeur nie want een van die lokale manne op Kamanjab het ons sterk afgeraai om enige van die paaie aan te pak. Ons slaap toe net een nag oor by Oppi-Koppi op Kamanjab.

Oppi-Koppi is 'n netjiese kamp, dit is net baie stofferig. Die ablusiegeriewe kan doen met aandag. Elke kampplek het ‘n privaat afdak eethoekie.

Woensdag trek ons verder na Ruacana, dis 'n mooi reguit pad noorde toe. Ons trek by Ruacana Eha Lodge in en ondervind sommer by die hekwag teleurstellende swak diens wat by ontvangs net verder bevestig word. Geen "smile", net 'n gebrom wat klink na "yes?". Maar laat ek nou nie negatief wees nie. Ons sukkel om 'n groot genoeg gelyk plekkie te kry wat beteken dat ek omtrent my wa se een wiel in 'n gat moes begrawe om die wa dwars gelyk te maak staan. Die ablusie is daar, niks verder te segge nie. Die hele terrein lyk verwaarloos. Donderdag ry ons na die Ruacana watervalle, die mooiste rotskranse waaroor die water val, maar o wee, daar is nie water nie, die valle is droog. Ek kan my indink dat die valle een fantastiese gesig moet wees. Die dam bo die valle laat slegs water deur na die hidro kragopwekkings stasie. Die kunene rivier onder die kragstasie loop breed met water. Ons ry met die D3700 wes in die rigting van epupa watervalle, die is blykbaar ook droog en die pad is op twee plekke verspoel. Ons gaan soek die Dorslandtrekkers se grafte by Witbooi's drif en op pad stop ons by Kunene River Lodge vir 'n heerlike koue Windhoek draught. Dié omgewing is mooi al langs die rivier af en dis dan ook ons enigste rit hier op Ruacana. Ons besluit om net 2 nagte hier te staan en Vrydag die 24ste trek ons weer 450km suid na Tsumeb. Dis 'n pragtige pad en die natuur in die omgewing is mooi al is dit verskriklik droog. Die "locals", hulle beeste, bokke, donkies, honde en nogwat is die wêreld vol en die teerpad is hul prioriteit beweeg area, die verkeer kom tweede.

Ons staanplek by Ruacana Eha Lodge

 

Die dames het  gesorg dat ons gereeld 'n warm maaltyd kry.

 

Dis droogte in Namibie

 

Die "local" slaghuis

 

Die Kunene rivier onder die kragstasie

 

'n Koue lafenis by Kunene River Lodge

 

Die Ruacana valle  in sy droë glorie

 

Die Kunene rivier bo die kragstasie en onder die dam in Angola

 

Die dam in die Kunene rivier in Angola

 

Ruacana kragstasie

 

Dorslandtrekkers  monument

 

Dorslandtrekkers grafte

 

'n Algemene gesig langs die pad

 

Die wa-pad is my woning - oppad na Tsumeb.

Dis 'n lang trek na Tsumeb en ons reis verloop rustig en veilig. Ons bestemming Kupfer Quelle Resort.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 08/07/2019 - 17:24

Weer eens Koos, baie dankie vir die vertelling en fotos.

Ek het opgemerk dat julle minder in julle skik was met die noordelike deel van Namibië as met die suide.  As ek weer Namibië toe wou gaan, sou Etosha my toppunt-doel wees, maar julle teleurstelling met hierdie wildpark in die verre noorde strook met talle Suid-Afrikaanse besoekers daar.

Vir die huidige is Namibië dus geskrap op my "om te doen" lysie.

Ek is egter baie bly julle het julle uitgebreide toer in Namibië geniet en ons almal deel daarvan gemaak.

0
Vaalpark

Johann L

Mon, 08/07/2019 - 20:24

Koos, baie dankie vir die lekker saam reis, so uit die sitkamer bank, bring jy herinneringe terug met die fotos, wat 'n lekker toer moes dit wees👍

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 08/07/2019 - 20:36

Koos, ek hoor via die "grape vine" dat jy 'n karavaan-wiel iewers langs die pad beskadig het.  Vertel ons 'n bietjie meer hiervan.

Ns. "Grape vine" = jou annerhelfte en my annerhelfte.

0

Middag Koos

Dankie vir die gratis toer deur Namibië en Botswana. Ek is oortuig dat ons almal mildelik in die toekoms op hierdie inligtingsbron gaan staatmaak met 'n toerbeplanning.

Ek beny julle wat die gesondheid, tyd en finansies het om so te swerf.

Groete

Wessel 

0

Wat 'n verslag oor julle toer, baie dankie dat julle dit met ons gedeel het, en fotos uit die boonste rakke. Nogmaals baie dankie met die deeln van julle toer.

0
Oudtshoorn

neef Herman

Wed, 10/07/2019 - 18:33

Koos, jammer julle kon nie tyd maak om van Kunene river lodge tot by Epupa valle te ry nie. Regtig die moete werd, die kamp is pragtig, daar naby is ook lekker luukse plekke vir n aand se bederf.

Die dorslandtrekkers se monument is by Swartbooisdrift. Ek was daar in die weermag 1977, ñ peleton basis gewees met observasie poste al langs die rivier . Het julle die Zebraberg raak gesien, ook daar naby, en n stukkie Sodoliet opgetel, n potblou  halfedelgesteente wat daar gemyn was.

Ai, neef is baie lief vir daai sstukkie aarde.

0
Nelspruit

Koos Mol

Sat, 13/07/2019 - 12:11

Len:    Moet aub nie Namibie van jou doenlys afhaal nie. Etosha maak nie Namibie nie (my mening). die suide van Namibie is 'n skatkis vol besienswaardighede en definitief 'n toer werd.

Len:   Ek sal 'n aparte draad begin oor die wiel storie.

Herman:    Ja, dis jammer ons kon nie tot by Epupa valle ry nie; met die padverspoelings en  ons 2x4 voertuie sou dit net 'n risiko wees. Ek gaan die moontlikheid van 'n toekomstige besoek nie uitsluit nie, wie weet.

0
Nelspruit

Koos Mol

Sat, 13/07/2019 - 13:46

Ons vat die pad verder ................. 24 Mei.

Ons bestemming op Tsumeb is Kupferquelle Resort. Wat 'n verassing in teenstelling met wat ons op Ruacana beleef het. Hier beleef ons weer die puik diens wat ons in die suide gekry het, van die hekwag tot by ontvangs. Dis 'n pragtige oord, netjies met puik geriewe en goedversorgde tuine. Die staanplekke is gelyk onder skaduryke bome met bietjie gras en bietjie grond. Elke staanplek het 'n kragpunt, waterkraan en groot braai. Die res van die terrein is groen grasperke. Die ablusieblok bestaan uit 4 privaat badkamers, elk met 'n stort, toilet en wasbak; heel modern en baie netjies. Hierdie is die eerste kamp wat wasgoed fassiliteite (wasmasjiene en tuimeldroërs) het. Hier's 'n massiewe groot helder swembad en 'n restaurant op die terrein. Om als te kroon is hierdie een van die twee goedkoopste kampe op ons toer. Die terrein is maklik toeganklik vir enige kombinasie. Ons eerste dag was weer klere was en skoonmaak dag.

Vanoggend, 26 Mei uitgery na Grootfontein en die Hoba Meteoriet besoek. 'n Indrukwekkende groot stuk yster wat hier neergestort het, 83% yster en 16% nikkel. Die arme ding is vol bytmerke van "angle grinders", dit wys darem dat dit yster is. Vandaar het ons van die agterpaaie terug gery na ons tuiste op Tsumeb.

Ons besoek ook die Guinas Lake en Otjikoto Lake, die enigste twee mere in Namibië; Kimberleygat in het kleine. Otjikoto Lake het 'n geskienis in die dat die Duitse mag in die eerste wêreld oorlog van hulle wapentuig en ammunisie daarin gegooi het toe hulle oorgegee het aan die Suid Afrikaanse magte. Van die wapentuig is later jare deur duikers uitgehaal en word tans in die Tsumeb museum uitgestal. 'n Besoek aan die Tsumeb museum het ons besoek aan Tsumeb afgesluit. 'n Baie netjiese museum wat die geskienis van Tsumeb uitbeeld en die moeite werd om op jou besoeklys te plaas.

Woensdagoggend 06h30 vat ons die pad verder noord na Divindu. Ons het besluit om nie op Rundu oor te staan nie en sal by Nunda River Lodge suid van Divundu staan vir drie nagte.

Ons staanplek by Kupferquelle, Tsumeb

 

Ons staanplek

 

Kupferquelle se ablusie geriewe - baie modern en netjies.

 

Dis nie elke dag wat mens op 'n meteoriet kan staan nie - Hoba Meteoriet.

 

Eric en Annette op die Hoba Meteoriet

 

"Grinder" bytmerke op die Hoba meteoriet - pure yster.

 

Guinas meer

 

Interresante kombinasie

 

Otjikoto meer

 

Oorlogstuig wat nog in die Otjikoto meer is.

 

Die Tsumeb museum - van die oorlogstuig wat uit die Otjikoto meer gehaal is.

Ons arriveer Woensdag 29 Mei op Nunda na 'n veilige lang (520km) reis vanaf Tsumeb. Dis 'n lieflike pad met min verkeer behalwe so 10/15 kilometer by Rundu. Daar is heelwat gehuggies oppad waar die spoedgrens verminder word na 80 of 60 en gereelde vee op die pad is al normaal. Wat egter lekker is, is die breë padserwituut, so mens sien die diere al van 'n redelike afstand af. Weens die droogte laat die lokale mense hulle vee binne die padserwituut wei.

Nunda lê aan die Kavango rivier. Die rivier loop lekker breed en dis 'n voorreg om weer so vol rivier te sien. Nunda is 'n pragtige lodge, die staanplekke is grond/gras, gedeeltelik met riet omhein, braaiplek, lopende water en kragpunt. Staanplekke is nie baie gelyk nie en sommiges maar klein. Hierdie boskampe is maar meer ingestel op boswaens en nie vir groot padwaens nie. Ons het egter gou met behulp van 5 werkers die 2 waens gestoot tot waar nodig want tussen die bome en nou paadjies is jou kanse skraal om met jou voertuig jou wa op sy plek te kry. Die ontvangs op Nunda was gul en vriendelik. Sover nog oral in afrikaans bedien behalwe op Ruacana. Ons begin ons verblyf die eerste dag met 'n koue een op die dek met sonsondergang oor die Kavango Rivier.

Ons besoek die Mahango park en sien heelwat wild op die rivierpad, heelwat bastergemsbokke en so paar troppe olifante. Die tweede dag besoek ons die Bwabwata park. Die bouvalle van 32 Bataljon van die SAW is nog in die area sigbaar, ook grafte van gevalle soldate.

Saterdag 01 Junie trek ons oos na Katima Mulilo vir ons volgende oorstaan.

Ons staanplek by Nunda

 

Ons staanplek by Nunda

 

Sonsondergang oor die Kavango rivier - met 'n koue een.

 

Sonsondergang oor die Kavango rivier

 

Die rooibok bly maar 'n pragtige dier

 

Statige dier

 

Een van die klein boompies in daai wêreld

 

Bouvalle van 32 bataljon.

 

Begraafplaas - gevalle soldate

 

Zambesi River Lodge lê teen die Zambesi rivier. Ons reis vanaf Divundu het heel voorspoedig verloop. Vanaf Divundu tot op Kongola ry jy deur 'n natuurreservaat. Ons kry olifante en bietjie kleinwild op die pad. Die karavaanpark by ZRL is grasstaanplekke teen die rivier met kragpunte, sommige het skaduwee. Water het ons vanaf die opwasplek aangedra. Daar is twee ablusieblokke, een met 6 privaat stortkamer (elk met stort, wasbak en toilet) en een ou blok wat bietjie aandag nodig het. Ons het drie nagte hier gestaan. Die sonsondergange oor die rivier was pragtig. Ons het een namiddag 'n "sunset cruise" vanaf Namwi Lodge op die Zambesi rivier onderneem. Ongelukkig is ons verblyf hier versuur met die dat ons elke vroeg namiddag tot so twee uur soggens moes luister na die shebeen musiek van oor die water aan Zambië se kant, dit was baie hard en steurend veral snags. Die eerste aand na ons reeds ingeteken en betaal het, kom waarsku die wag ons dat ons snags alles; stoele, tafels, letterlik alles in die wa of bakkie moet toesluit. Die Zambiërs kom snags oor die water en besteel die kampers. Hierdie oord moet maar op my swartlys gaan.

04 Junie trek ons uit Katima Mulilo suid en kruis die Nam/Botsw grens by Ngoma. Formaliteite by die grenspos verloop seepglad en ons is binne 20 minute deur beide kante.

Ons staanplek by Zambesi River Lodge, Katima Mulilo.

 

Bootrit op die Zambesi

 

Sonsondergang oor die Zambesi vanaf ons staanplek.

 

Sonsopkoms oor die Zambesi

 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus