Die dag waarna ons met groot opgewondenheid na uitgesien het, het toe ook aangebreek. Na dae lange voorbereiding, geboer op die internet en gesels met baie kampers het ons toer na Namibië en Botswana begin. Ons, dis nou ek en Irene saam met vriende Eric en Annette het Dinsdag 23/04 vroeg oggend met baie opgewondenheid en warm harte ons waens gehak en vanuit Hartenbos (ons het die afgelope 2,5 maande op Dibiki gestaan) die twee Rangers se neuse in 'n noordelike rigting gedruk. Ons eerste stop was op Rondeberg net noord van Clanwilliam waar ons een nag oorgestaan het. Vroeg Woensdagoggend trek ons toe verder noord en so om en by 15h00 steek ons die grens oor by Alexanderbaai oppad na Oranjemund. Tans ons 2e nag hier by "Op My Stoep" met net 2 staanplekke en so 20 chalets, en morê (26/04) vertrek ons oor Roshpinah na Aus vir 3 nagte. Vandag 'n rustige, mistige, naterige en koel dag hier op Oranjemund deurgebring. Dis 'n pragtige klein dorpie, baie skoon en netjies met vriendelike mense. Weens die mis was die uitsig by die Oranjeriviermond maar beperk maar tog 'n mooi gesig. Die Jasper House museum op die dorp beeld die diamantbedryf en ontwikkeling hier in die spergebied mooi uit.
Morê, met nog duisende kilometers en mooi Namibië kampdae lê nog voor.............
Maggies....
Maggies Koos, 'n lieflike storielyn met bygaande fotos - baie dankie !
Ek kan sommer sien julle het die toer van 'n leeftyd gehad.
Dit lees so lekker want dit…
Dit lees so lekker want dit word so interessant vertel. Dankie Koos. Ek het nie besef dat dit moontlik is om met 'n pad wa vanaf Rundu via Bots te ry nie. So leer mens uit ander se wedervaringe.
Johan......
Johan, ja maar dan moet jy tevrede wees met jou wa se wielvelling waarva drie van vyf speke gekraak het !
Baie dankie vir die saam…
Baie dankie vir die saam toer Koos, dit is baie lekker, nou wag ons op die res van die verhaal.
Uit Namibië en in Botswana.........
Ons reis verder na Kasane neem ons deur die Chobe wildreservaat en ons klok in by Kwalape Safari Lodge. Ons het eers by Chobe Safari Lodge gaan inloer vir staanplek (hulle is teen die Chobe rivier) maar ongelukkig is dit maar weer 'n kwessie van die groot waens wat nie wil pas nie. Soos voorheen genoem kan jy oral by die parke opmerk dat hulle meer ingestel is op boswaens en bakkie kampers.
Kwalape Safari Lodge is weg van die rivier af en die staanplekke is ook maar knap, ons kry egter die waens in en staan hier vir 3 nagte. Die staanplekke is tussen die bosveldbome en grond. Elk het 'n kragpunt met waterkrane op verskeie punte. Die ablusie geriewe is gemiddeld en tekens van 'n tekort aan onderhoud wys oral, onderhoud is maar oral die probleem. Ons kamp lekker hier op Kwalape. Die twee dae wat ons op Kwalape deurbring is vol en besig. Dag een gaan ons op 'n wildbesigtigingstoer in die Chobe reservaat. Mense was dit 'n ondervinding van 'n ander aard. Die safari voertuig laai ons sesuur soggens op en die 20 minute rit na die reservaat het ons behoorlik al wat kiem is dood gevries agter op hierdie voertuig. By Chobe park se ingang staan so 20 plus van hierdie wildbesigtigingsvoertuie en almal trek die park in op die paadjies wat rof, onbeskof en dik van die sand is. Kry net een trop olifante, wat my laat dink het die “baie olifante” stories van Chobe is sommer bog (gelukkig is ek later die middag verkeerd bewys). Ons kry toe 'n paar leeus waarvan die mannetjies sy lus nie kan hou nie. Daar staan toe so stuk of tien van die wildbesigtigingsvoertuie en elkeen baklei vir die beste plekkie, die rit was baie interessant. Namiddag gaan doen ons 'n bootrit op die Chobe rivier. Dit was een ongelooflik lekker ondervinding. Dit rit gaan rivier op en om Sedudu eiland. Ons het troppe en troppe olifante gesien (die stories is waar), een trop van oor die sestig olifante. Ook seekoeie, krokkoldille, buffels en nog vele diere gesien, als op die oewers van die rivier. Die voëllewe is talryk, dit was drie ure wat jy aanmekaar diere sien en moet beslis op enige besoeker hier se doenlys verskyn. Dag twee laai ons bussie ons vroeg op en ons is oor die grens in Zimbabwe in oppad na die Victoria Valle. Wat 'n gesig is die valle nie, dis 'n prentjie wat geen foto of vertelling kan oordra, jy moet dit self sien. Jy reën bietjie nat want die sproei styg hoog op en reën neer om die valle. Ons stap twee ure te voet heen en terug, al met die rand van die valle langs en met elke besigtigingspaadjie in om die valle vanuit 'n ander punt te besigtig. Die gedruis van die water, die gesig van massas water wat oor die afgrond af stort, die lang gordyn van water wat aftuimel, die dampwolk wat bo die valle vorm, die damp wat weer afreën aarde toe, die groen woud om die valle, die breë rivier bo die valle is alles amper te oorweldegend om in te neem. Mens is bang om weg te loop en jou besoek te beeindig, jy wil net nog en nog kyk na hierdie natuurwonder, bang jy gaan iets mis as jy nou padgee. Ons stap later by die Zimbabwe grenspos deur na Zambië net tot op die staalbrug om die valle van daar te sien en ook die canyon soos die Zambesi verder onder die valle voortvloei. Ons bring 'n besoek aan die Victoria Falls Hotel, ek het hier tuisgegaan in 1975, die dae van die Flame Lily vakansies en ons sluit ons toertjie na Vic Falls af met 'n burger by Mamma Africa Eating House. Die terugtog na Botswana en ons kampplek was maar stil want die ooglede was swaar na 'n wonderlike en uitputtende dag.
Vrydag 07 Junie begin ons terugtog na die RSA, ons staan een nag oor by Nata Lodge net suid van Nata en een nag by Kwa Nokeng Lodge op Martinsdrif voor ons die grens oorsteek na ons tuisland. En natuurlik verloop sake te goed om te hou; net voor Nata spring die omie met die uniform voor my in die pad, die snelheidsperk van 60 oorskrei ……….. BWP300 later en ek is vry om verder te ry. Die man het my heel skaflik en goedgesind behandel; die eintlike skade moes BWP460 wees, maar toe ek my pensioenaris hanglip gesig opsit versag sy hart en BWP300 is toe my skade.
Ons oorspronklike beplanning was om van Nata na Maun en dan suid via Gaberone terug te ry. Ons wou nog gaan mokoros ry op die delta by Maun. Ons is egter afgeraai om die Nata Maun pad aan te pak met ons padwaens weens 'n 40km stuk wat baie sleg is, ook het 'n toer operateur ons meegedeel dat mokoro ritte op die delta uit is want daar is geen water. Dus, 'n rede vir 'n volgende besoek aan Botswana.
Vroeg oggend 9 Junie steek ons die grens oor by Martinsdrif en so kom ons reis deur Namibie en Botswana tot ‘n einde. Ons trek verder na Klein Kariba en staan daar vir 5 nagte. Eric en Annette staan net vir 2 nagte oor dan vat hulle die pad suid na Mosselbaai via Johannesburg waar hulle vir ‘n paar dae by hul seun gaan kuier.
Op Klein Katriba kuier ons vir oulaas saam en neem ons afgelope toer in oënskou.
Ons sluit ons toer af in dankbaarheid vir ons Hemelse Vader wat ons vir 7 weke en meer as 8000km veilig gehou het. Hierdie toer was ‘n wonderlike ervaring.
Fluit fluit my storie is uit.
AMEN.
(Ek sal later ‘n beknopte syferverslag plaas vir diegene wat belangstel)
BAIE, baie dankie vir die…
BAIE, baie dankie vir die toer saam julle Koos.
Masr jy moet volhou met die res van julle toer asb.
Baie dankie...
Baie dankie Koos ! Ek het my Botswana-kaart hier langs my oop en soos jy vertel, volg ek julle roete. Dit was baie interessant aangesien ek nog nooit in Botswana was nie. Wat Victoria-valle betref, kan ek darem saampraat omdat ons mos in Zim gewoon het. Stem saam, daardie waterval is onbeskryflik fantasties, jy moet dit self beleef om dit werklik te waardeer.
Lekker Koos. Ek geniet jou…
Lekker Koos. Ek geniet jou vertelling en jou foto's.
Koos, baie dankie vir n…
Koos, baie dankie vir n heerlike toer. Dit is n toer van die droom ![]()
Avonture van die Molle
Môre Koos
Nogmaals dankie vir julle insette en die saam toer.
Moet nounet nie ondergronds gaan en stil word nie. Hou ons asb ingelig soos julle verder toer, of is swerf 'n beter word.
Groete
Wessel








Lekker gelees en gekyk Koos…
Lekker gelees en gekyk Koos. Wat n heerlike toer is dit nie.