Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Vlieënde Tesla Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -9 minutes ago
Suksesvolle/bevredigende vakansie Kgalagadi Oktober 2026 Rona du Plessis -15 minutes ago
Tesla as sleep voertuig Oktober 2026 saam gesels Geert -16 minutes ago
Geert, Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -32 minutes ago
Hallo Len Verskoning Rona du Plessis -46 minutes ago
Len Verskoning Jan Meyer -54 minutes ago

Kampeerplekke in die Kruger wildtuin

Worcester
Submitted by Wildehont on
Forums

Die draad het begin na aanleiding van my vraag hier onder maar het toe op “resensies”, menings en ervarings oor al die ruskampe en satelliet kampe in die Kruger wildtuin met kampeerplekke uitgeloop. Dit is van onskatbare waarde vir enige voornemende of terugkerende kampeerder in die nasionale park.

Hier is die oorspronklike plasing en vraag:

Uit die aard van die saak het almal hulle voorkeure, is dit redelik subjektief en is daar drastiese verskille tussen seisoene en binne/buite seisoen maar ek wil tog die draad begin. As daar dalk reeds so een is; verwys my gerus daarheen. 
Ons staanplek vir Julie is reeds bespreek; 4 aande by Punda Maria, 4 aande by Shingwedzi en 3 aande by Tsendze. Ek ken die wildtuin goed en besoek dit al vir 47 jaar elke jaar ten minste een keer. Die meerderheid van my besoeke was egter nie kampering nie en ek het nog net by Shingwedzi, Tsendze, Letaba, Balule, Satara, Pretoriuskop en Malelane kampeer en die laaste keer was by Tsendze omtrent 7 jaar gelede. 
Alhoewel ek lief is vir die Suide en wildbesigtiging daar goed is, is dit vir my te besig en moet ek vanwee skoolvakansies van volgende jaar af binne seisoen gaan. Ek verkies dus om nie verder Suid as Satara te gaan nie. Ek en my vrou verkies rus en vrede bo skares en verkeersknope by elke leeu en daarom die drie ruskampe waarby ons vanjaar staan. My klong het egter verlede jaar toe ons in hutte by Punda Maria, Shingwedzi en Letaba geslaap het laasgenoemde die meeste geniet want hy hou baie van die olifantmuseum en die natuurlewe rolprente wat saans daar buite vertoon word. 
Ek wil egter weet uit ‘n kampeerperspektief watter julle gunsteling ruskampe is om by te staan en waarom? Ek moet een of ander tyd besluit waar ons volgende jaar wil gaan staan. 

Worcester

Wildehont

Mon, 10/02/2020 - 13:48

ons Kapenaars braai mos met hout !

Moet net nie met Kaapse hout braai in die wildtuin nie. Hulle versoek toeriste nou om eerder houtskool/brikette te gebruik te einde te voorkom dat die boorkewer wat bome so laat vrek die wildtuin binnekom. Indien hout gebruik word vra hulle dat dit binne die wildtuin of in aangrensende gebiede gekoop word en ten volle uitgebrand word.  

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 10/02/2020 - 14:14

Behalwe vir 'n hele paar jaar gelede toe ons net vir een aand in Maroela oorgestaan het, het ons verlede jaar vir die eerste keer 'n paar aande in hierdie kampie oorgestaan - ons laaste 5 aande van ons 39-nag besoek.

Maroela het 'n klompie lekker skaduryke staanplekke langs die draad met 'n uitsig oor die (meestal droë) Timbavatirivier. Ons was egter nie só gelukkig om een van daardie staanplekke te kry nie en moes inderwaarheid maar neem wat beskikbaar was. Die dag nadat ons daar aangekom het, het 'n paar van die lekker plekke oopgegaan - maar toe was ek klaar opgeslan en ge-"settle".

Die Orpen/Maroela/Timbavati-omgewing kan van tyd tot tyd nogal "deliver" wat wild aanbetref. Die grootste enkele dingetjie wat my nie aanstaan van die area nie, is die beperkte aantal toeristepaaie in die area. Ek ry nie ver op 'n dag nie. Ek het 'n ongeskrewe beleid dat ek 'n maksimum van 75 km (wat my gewoonlik sowat 4 uur+ neem) ry. Satara is dus vir my te ver. Muzandzeni kan ek darem net-net maak en terugkeer, maar selfs Timbavati is vir my te ver van Maroela af. Gelukkig is een van my gunsteling uitsigpunte (Bobbejaankrans) binne maklike bereik. Dit is vir my 'n lekker plek om bene te rek en 'n bietjie koffie en 'n toebroodjie te nuttig. Dit is weliswaar nie 'n piekniekplek nie, maar jy word toegelaat om uit jou voertuig te klim - en as jy gelukkig is kry jy die bank, vanwaar jy 'n wonderlike uitsig het,  onbeset. My ou vriend in Tzaneen was al eenkeer tot sy voertuig beperk a.g.v. van 'n leeu "honeymoon couple" wat ook gedink het hierdie is 'n wonderlike uitsig om te geniet tydens hul sekskapades.

Die ruskampie word baie netjies gehou deur die opsigter en sy vrou (wie se name my nou ontgaan). Die ablusies was te alle tye in 'n onberispelike toestand. Ongelukkig is ons viervoetige (bykans) familie nogal 'n groot probleem. Ek sal ter eniger tyd weer in Maroela gaan kamp, maar dit is op hierdie stadium nie een van my voorkeur kampeerplekke in die wildtuin nie. En o donkie, is die Maroela se grond tentpen-onvriendelik!! Op die foto hieronder kan mens sien my grondseil se hoeke is vasgepak met stene. Ek het nog nie weer gaan kamp sedert ons vroeg in September teruggekeer het nie, maar sal ongetwyfeld eers weer my penne-voorraad moet gaan aanvul alvorens ons weer die wa haak

2019

Maroela

0

Middag Chris

Dankie vir die waarskuwing oor die primate en die harde grond. Ek is juis oppad soheentoe komende Julie. Ek ry altyd 'n elektriese boor saam vir sulke harde aarde toestande, die armpies het al dun geword, soos Prediker waarsku.

 

0
Worcester

Wildehont

Mon, 10/02/2020 - 14:40

Ongelukkig is ons viervoetige (bykans) familie nogal 'n groot probleem.

Ons het nog net een keer (as ek reg onthou 2011 rond) daar geslaap, maar in een van die “safaritente”. Die kese was toe reeds ‘n pyn in die agterent. 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 10/02/2020 - 15:19

Ek stem saam met Chris, Maroela se beperkte paaie is 'n nadeel, maar dit is 'n heerlike kampie.  Hieronder staan ons by die prima staanplek in Maroela, onder die appelblaarboom in die verste hoek.  Die blouape was soos gewoonlik, baie lastig en mense met oplig-dakke wat dit nie laat sak het nie, het deurgeloop met beskadgde sif-luginlate.  Ek merk egter op sosiale media dat leeus, luiperds en die bekende wildhonde-trop nou al vir 'n geruime tyd daar rondhang.

Die harde grond behoort iewat verlig te wees omdat daardie aarde gister 110mm reën gehad het.  As dit moet, gebruik ek 'n kort beton-boorpunt net om 'n begin vir die langer tentpen te maak.

.

0

Middag Len

Jy is darem 'n perfeksionis---kyk net daai grondseil uitleg om die braaier.

Tweedens, jou bure in die agtergrond het darem amper onder jou sytent opgeslaan, of was dit jou gewone kampeer vriende.

Groete

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 10/02/2020 - 15:56

Wessel, nee dit was van ons kamppêlle wat so naby aan ons opgeslaan het.

Ek sou wat wou gee om nou daar te kamp want die Timbavati-rivier net anderkant die draadheining moes gister en vandag in vloed gewees het na hulle 110mm reën gister.

0

Hello Len

Ek verskil van jou, ek ry liewer vanaf 'n hoogte en gaan kyk na 'n rivier in vloed, as om langs dit te kampeer, met net 'n draad tussen my goet en malende water.

Waar is die elektriese punte vir daardie staanplekke, daar voor by die draad. Ek kan nie meer onthou of dit oor die pad kom nie.

Groete

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 10/02/2020 - 16:25

Ek was eenkeer bevoorreg om die Timbavati in vloed te sien - 30 November 2001. Ons was vir twee nagte in Olifants - oppad om ons dogter-hulle se diploma-plegtigheid by Africa School of Missions (tussen Witrivier en Numbi-hek) te gaan bywoon. Ons het die voorafgaande aand by ons vriende in Tzaneen oornag. Oppad Phalaborwa toe het dit begin reën. Alle gruispaaie in die Olifants-omgewing was gesluit a.g.v. die reën, maar is die dag van ons vertrek oopgestel. Ons het met die S39 via Timbavati piekniekplek na Orpenhek gery. Ek kon beswaarlik my oë glo om die massa water in die Timbavatirivier te sien - 'n rivierloop wat ek andersins nog net as kurkdroog ervaar het.

0
Vaalpark

Johann L

Mon, 10/02/2020 - 18:11

Chris, jou vraag ivm boor punte, beslis 'n beton boor punt. Ek ry 1 x 8mm, x 200mm, en 1x 8 x 400mm saam.

Watse soort boorpunt werk die beste - staal of beton? 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 10/02/2020 - 18:49

Wessel, die kragpunte is aan die agterkant van die karavane, oor die paadjie.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 11/02/2020 - 12:53

Skukuza – ‘n kamp waaroor ek baie lekker herinneringe het. Op ‘n ou vergeelde foto wat in my ouer suster se besit is, staan ek (as 2-jarige) saam met haar en my broer in Skukuza met die Selati spoorbrug in die agtergrond. Dit was klaarblyklik my eerste besoek aan die wildtuin, maar uiteraard kan ek niks daarvan onthou nie. My lekker onthou stam uit latere besoeke. My pa was baie lief vir Skukuza. Ek was ook – tot op ‘n sekere stadium. Persoonlik het ek nie n probleem met die kamp sigself nie. Dit is bedrywig, maar tog ook nie só bedrywig nie. My doodsteek in Skukuza is die verkeer op die paaie in die omgewing – veral die klomp “Jeep Jockeys” met hulle safari-voertuie wat al menige “sighting” vir ons bederf het (dit is ‘n onderwerp op sy eie). Ek moet darem dadelik bysê dat ek ook verskeie bedagsame “Jeep Jockeys” teengekom het.

Ons het in 1987 in 'n rondawel aan die westekant, aangrensend aan die huidige ABSA gastehuis (destyds Volkskas gastehuis) gebly. Nie dat ek al ooit onveilig in die wildtuin gevoel het nie, maar daardie keer het ek besonders veilig gevoel. PW Botha het tuisgegaan in die Volkskas gastehuis en ons omringende rondawel was almal bewoon deur sy veiligheidspersoneel.

Iets anders wat ek van Skukuza onthou is die klomp vrugtevlermuise wat bedags onder die rietdak-lapas voor die kafeteria gehang het. Jy kon nie waag om daaronder jou ete te geniet nie.

Skukuza

Die laaste aantal jare sien ek hulle nie meer daar nie. Seker maar verwilder omdat hulle die onoplettende toeriste se kos ongevraagd van ekstra geure voorsien het.

Jy kan dalk gelukkig wees om ‘n lekker staanplek in Skukuza te kry, maar dan moet die geluksgodin jou goedgesind wees. Ek was eenkeer bevoorreg om tussen twee tambotiebome, teen die suidelike grensdraad ‘n uitstekende staanplek te kry. Dit was gedurende November (1999) en skadu was ‘n noodsaaklikheid. Maar al die ander kere wat ek in Skukuza gekamp het, het ek maar die spreekwoordelike kortstrooitjie getrek.

Ek kon persoonlik nog nooit kla oor die netheid van Skukuza se ablusiegeriewe nie. Ek het al andere se verslae gelees wat van die teenoorgestelde getuig. Maar al’s in ag genome, sal Skukuza laer op my voorkeurlys van wildtuinkampe wees – hetsy kampering of vaste akkommodasie. Alhoewel ek al wonderlike “sightings” rondom Skukuza gehad het, is dit (wat my geluk aanbetref) een van die swakker wildareas – ‘n kortkoppie beter as Pretoriuskop. Maar ek is oortuig dat andere sal reken dit is debatteerbaar.

Ek het ongelukkig nie eintlik foto's van ons kampering in Skukuza nie. Ek het in 2014 laas slegs een aand daar oorgestaan oppad na Satara. Sedertdien het ons nog nooit weer in Skukuza oorgebly nie. Ek respekteer die liefhebbers van Skukuza se gevoelens, maar om kortweg op te som: 'not my cup of tea'.

0

Middag vriende

Ek deel Chris se sentiment hierbo, ek sal Skukuza slegs ernstig oorweeg as ek gladnie in die ander suide kampe geholpe kan word nie.

Ek het 1 keer daar gekampeer, my 2de uitstappie met my splinternuwe Jurgens Fleetline. Ongelukkig het ek nie 'n ingeboude skottelskaar braaier gesien nie.  Met die draaislag om op staanplek te kom, sny ek die wa se regterkant oop soos 'n blikkie tot op die hout . Ek moes die hele regterkant laat vervang.

Afgesien van genoemde ervaring, is die kamp net te besig, te raserig, en te stad vir my.

Groete

 

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Tue, 11/02/2020 - 20:58

Alhoewel ek nie noodwendig Skukuza voorkeur bo ander kampe sal gee nie, het ons oor die jare heen tog baie aangename kampeer-herinneringe by Skukuza beleef.  Die gedrang van baie mense en voertuie is wel waar, maar as jy voorbereid daarop is is dit glad nie so erg nie.  Miskien is ons ervaring van Skukuza iewat anders omdat dit gewoonlik een van ses kampe is waar ons by kamp - moontlik die afwisseling wat dit interessant hou.  Ek moet sê, ons kamp natuurlik buite seisoen, behalwe in Julie 2017 toe ons saam met ons kinders daar vir 12 dae gekamp het  -  en dit was 'n fees ! Hier is 'n paar voorbeelde van ons kampe by Skukuza :-

2008

.

2010

.

2016

.

2017

.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 12/02/2020 - 10:52

Onder-Sabie was nog altyd een van my gunstelingkampe en -omgewings in die wildtuin. Ek het nog slegs twee keer in Onder-Sabie gekamp. Ek glo hierdie kamp sou meermale op my kamp-reisplan ingesluit gewees het, maar dit is ongetwyfeld die kamp waar jy die moeilikste plek kry indien jy nie op die dag wat besprekings oopmaak jou bespreking doen nie. En dan moet jy ook hoop om vroeg gehelp te word.

Een ding moet ek egter sê – afgesien daarvan dat die kampeerarea netjies uitgelê is, het die ou wat die beplanning gedoen seker nog nooit in sy lewe gekamp nie – behalwe dalk met ‘n tentjie. Die plotte is netjies van mekaar geskei, maar waaragtig só klein dat jy maar sukkel om met ‘n standaard-grootte woonwa in sommige van hulle in te pas (en dan nog plek vir jou voertuig ook te hê. Die ouens met die groter waens (veral Exclusives en soortgelyk) sal maar terg om lekker in te pas.

Die paadjies tussen die staanplekke is almal geteer. Stof is dus bykans geen faktor nie. Die ablusies is ook geensins iets om oor huistoe te skryf nie.

Maar die wild in die omgewing, die uitstekende uitsig oor die opgedamde Sabierivier voor die kamp en ‘n restaurant met ‘n wondermooie uitsig, laat my telkemale vergeet van die kampeerarea se tekortkominge.

Deesdae vermy ek tot ‘n groot mate die suidelike kampe, maar indien die suide deel van my reisplan is, poog ek maar om Onder-Sabie in te sluit. Dit is onder andere slegs een van twee areas waar ek skaars diere soos swartrenoster en tierboskat kon afmerk. En swartwitpense, rietbokke en jagluiperds stel ook nie teleur nie. Laatmiddae langs die Sunsetdam is bykans ‘n daaglikse hoogtepunt.

2016

Onder-Sabie

 

0

Middag vriende

Ek verneem dat Onder Sabie deesdae baie gewild is. Blykbaar word dit goed bestuur, en dit dra seker by tot die gewildheid. Almal sukkel om daar plek te kry.

Ek het nog nooit daar gekampeer nie, maar darem al oorgebly in die rondawels. Dit is sekerlik van die mooiste kampe langs die rivier en dam.

 

Groete

0

Middag vriende

My seun en vrou het op "kort" kennisgewing besluit op 'n kampeervakansie in SA. Hulle woon en werk in Dubai, en het eers middle Januarie hulle verlof bevestig gekry

Daarna het hulle  kampeerplek gekry in Maroela, Satara, Balule, Onder Sabie en Berg en dal, vir middle Maart. Nou wonder ek net, hoe kry hulle dit reg en ons "locals" moet omtrent 'n jaar voor die tyd bespreek.

Ek is groen van jalousie, maar gun hulle dit.

Groete 

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus