Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Stem heeltemal saam Wessel… November 2026 neef Herman -4 hours ago
Herman... November 2026 Wessel Strydom -5 hours ago
Wessel, hierdie is n… November 2026 neef Herman -7 hours ago
Nou weet ek hoe.... November 2026 Wessel Strydom -12 hours ago
November brandstof prys November 2026 Geert -12 hours ago
Goeie more almal Cobb - Tips en idees Goeie Hout -18 hours ago

Bontebok Nasionale Park

Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Siende dat ek 'n bietjie gedeel het oor Mokala Nasionale Park, het ek gewonder of ek nie ook 'n bydrae moet lewer t.o.v. die Bontebok Nasionale Park nie. Dit is ook een van ons (alhoewel tóg bekend) minder bekende of liewer gewilde parke. Dit is een van enkele Nasionale Parke wat gestig is met die hoofdoel om 'n spesifieke diersoort van uitwissing te red. In die vroeë 1800's was daar slegs sowat 17 van hierdie pragtige diere oor nadat hulle deur jagters bykans uitgeroei is (soos wat die Kaapse bloubok en Kaapse kwagga ten beurt geval het).

Danksy die versiendheid van 'n paar boere-families in die Bredasdorp-distrik, is hierdie prag boksoort gered van die lys van uitgewiste spesies. Die eerste Bontebok Nasionale Park is dan ook in 1931 in die Bredasdorp-distrik geproklameer. Maar die area was nie baie geskik vir aanteel van die bokke nie, grootliks a.g.v. swak weiding. Die park is toe later (die jaartal ontgaan my) verskuif na die huidige ligging, teen die Breederivier net buite Swellendam.

Dit is Suid-Afrika se kleinste Nasionale Park, maar 'n park met 'n groot sukses-verhaal. Danksy die park, waar die bontbok-populasie a.g.v. drakrag op sowat 200 gehou word, is daar vandag reeds meer as 3 000 bontbokke op privaat plase en ander natuurreservate.

Die Bontebok Nasionale Park is nie 'n plek wat jy besoek om opwinding (lees: 'roofdiere') te gaan soek nie. Dit is eerder 'n park waar jy absolute rustigheid en verkwikking vir jou siel gaan soek. Behalwe vir bontbokke, is daar enkele rooihartbeeste en Kaase bergkwaggas tesame met kleiner boksoorte soos vaalribbokke, duikers, steenbokke en Kaapse grysbokkies. Alhoewel dit 'n klein "eilandjie" (net meer as 5 000 ha) is, omring deur gewone boerdery-aktiwiteite, is dit een van die Kaapse fynbos-paradyse en tuiste van meer as 200 voëlspesies.

Vir baie jare het die park geen akkommodasie-fasiliteite gebied nie - selfs nie eens kampering nie. Toe ek by geleentheid daaroor navraag doen, omdat ek gereken het dat die park 'n groter toerisme-potensiaal het, is ek 'n huisie by die ou Ontvangs aangebied wat ek teen 'n donasie kon gebruik. Ek het egter die potensiaal van huisvestings-geriewe (by die huidige ruskamp) gesien. Dit was egter slegs 'n piekniekterrein vir dagbesoekers. Pas daarna is daar permanente woonwaens, met houthuisies vooraan (sogenaamde 'chalet-vans') beskikbaar gestel en kampering (sonder krag) is toegelaat.

Vandag beskik die park oor baie netjiese selfsorg chalets, 'n netjiese ablusieblok en kampeerplekke met kragpunte in die Lang Elsie'skraal  ruskamp. Lang Elsie was die leier van 'n plaaslike Khoi-stam en het aangrensend tot die huidige ruskamp gewoon.

Ek verskaf graag in volgende bydraes 'n bietjie meer inligting t.o.v. my besondere affiniteit met hierdie park.

Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Sat, 25/04/2020 - 10:15

Môre Chris

Ek sien uit na jou dekking van die park. Ek was as kind 'n paar keer daar, as 'n dagbesoeker. 

Hopenlik het jy ook fotos van die veelbesproke pont oor die rivier by Malgas. Ek verwag nou nie dat jy jou padwa tot by die pont gesleep het nie, maar dalk was jy al daaroor, met besoeke aan boere in die omgewing.

Groete

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 25/04/2020 - 10:43

... ja, ek was verskeie kere oor die pont by Malgas - selfs in die tyd toe die pont nog deur oom Moksie Dunn getrek is. Iewers het ek nog foto's van die pont. Ek het op 'n stadium garsproewe by die Dunn broers, by Malgas, geplant. Maar ek was etlike jare laas daar.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 25/04/2020 - 11:29

.. voordat ek aangaan met my bydraes oor die Bontebokpark, net gou 'n foto van die laaste keer wat ons by Malgas met die pont oor die Breederivier is. Ons het oor die Paasnaweek (2007) 'n onbeplande (eintlik onbespreekte) Karootoer onderneem en nadat ons oor die Swartbergpas gekom het, het ons met 'n taamlike ompad terug gery huis toe. Ons laaste aand was in'n gastehuis in Riversdal, vanwaar ons naby Heidelberg koers gekies het in die rigting van Malgas, Bredasdorp, Elim, Baarskeerdersbos en Stanford terug Kleinmond toe. Ek het hierdie foto van die oostekant af geneem toe die manne net begin het om die pont te trek om ons aan die duskant te kom haal.

Malgas

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Sat, 25/04/2020 - 11:49

Hello Chris

Dankie man, my mond water al klaar vir wat gaan volg.

Groete

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 25/04/2020 - 12:00

In 1965 (as 11-jarige), tydens 'n besoek aan die wildtuin, koop my pa by Phalaborwahek 'n boekie "Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke". Hierdie boekie het een van my kinder-kleinode geword en ek dit besit dit tot vandag toe. In dié boekie het ek vir die eerste keer bewus geword van ons Nasionale Parke. By elke diersoort word aangedui in watter parke dit voorkom. En my blydskap was groot toe ek besef dat ons het 'n Nasionale Park "naby" aan ons, te wete die Bontebokpark (ons het in Tulbagh gewoon).

Sedert ons tuiskoms na die wildtuinvakansie, het ek aan my pa gekarring om vir 'n dag Bontebokpark toe te gaan. Ek kan nie onthou wanneer dit was nie, maar my pa het uiteindelik toegegee. Ons is op 'n Saterdag vroegoggend weg op Tulbagh vir dagbesoek Bontebokpark toe.

Sanparke (daardie tyd nog bekend as Die Nasionale Parkeraad) het nog altyd 'n beleid gehad om diere, waar enigsins moontlik, te hervestig in gebiede waar dit voorheen natuurlik voorgekom het. Uiteraard is daar baie beperkinge op só 'n beleid, maar in die geval van die Bontebokpark is daar onder andere buffels hervestig. Nog voor ons dagbesoek was daar 'n berig in Die Burger van die eerste buffelkalf wat in die Bontebokpark gebore is. Die opwinding was dus groot om selfs moontlik buffels te sien - wat toe nie die geval was nie. Maar ons het afgesien van bontbokke ook elande, springbokke en vaalribbokke gesien.

Nie lank daarna nie, was daar weer 'n berig in Die Burger dat Sanparke besluit het om die buffels uit die park te verwyder. Die buffels het voortdurend uitgebreek en met aangrensende plase se beeste in aanraking gekom. Hierdie was siektevrye buffels - oorspronklik afkomstig vanaf Addo. Afgesien van die omliggende boere wat oor skade gekla het, was daar ook 'n vrees dat die buffels beestering kon opdoen (wat deesdae 'n groot probleem in die Krugerwildtuin is).

Ek het eers weer etlike jare later die geleentheid gekry om die park te besoek tydens 'n dagbesoek saam met my broer. Aan die einde van 1975 is ek en Ralie getroud en ons eerste dorp waar ons gaan woon het was Swellendam. Ek het by 'n inmaakmaatskappy gewerk en hulle het drie vrugteplase gehad. Een buite Swellendam, een by Riviersonderend en 'n plaas by Ceres. Ek is die vryheid gegee om enige plek in die driehoek, wat deur dié drie dorpe gevorm is, te woon. Ralie het onderwys gegee en 'n pos by 'n plaasskooltjie (Middelrivier) tussen Swellendam en Bonnievale gekry. Ons keuse van woonplek val toe op Swellendam - een van die mooiste dorpe in Suid-Afrika.

En daar begin my werklike verbintenis met die Bontebokpark toe.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sat, 25/04/2020 - 12:35

Chris ja, ek sien ook uit na jou vertellinge oor hierdie park - ons het onlangs al tweekeer daar gekamp.  Wat vir my tot 'n jaar of wat gelede verstommend was, is dat die nuwe ontvangsgebou en nuwe teerpad-toegangspad seker vir 'n jaar of selfs langer voltooi en gereed was maar nie gebruik kon word nie as gevolg van 'n twis tussen SANParke en Swellendam Munisipaliteit/Weskaap Provinsie  -  absolute mallegheid en 'n teken van magsmisbruik.

Ek stem saam met jou inleiding... "Dit is eerder 'n park waar jy absolute rustigheid en verkwikking vir jou siel gaan soek".....En dan ook, die bontebok is 'n uitsonderlike, pragtige dier.

Nouja, ek wag vir jou vertelling.

0
Worcester
Profile picture for user Wildehont

Wildehont

Sat, 25/04/2020 - 15:37

Aggenee Oom Chris! Ons het ‘n staanplek daar bespreek van Donderdag af vir vier aande. Nes die ander drie naweke waarvoor ek besprekings gehad het tydens die inperking (Suikerbossie op die Koue Bokkeveld, Strandskloof en Vensterklip) lyk dit of die een ook gaan sneuwel en nou moet Oom sout in die wond vryf deur die park hier op te hemel. 
Ek het vir my vrou gesê as ons kan moet ons maar Vrydag vroeg ry daarheen al kom ons dan net vir drie aande weg na die inperking. Ek weet nou egter nie of hulle al oop gaan wees vir besoekers nie. Ek het vroeër gebel maar daar was nie antwoord nie. 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 25/04/2020 - 15:54

Toe ons in 1976 in Swellendam gekom het, was die parkhoof (as ek reg onthou) ene Van Zyl. 'n Ou studentemaat van my se pa, oom Hampie Lourens, se plaas was aan die teenoorgestelde kant van die Breederivier wat 'n groot deel van die park se westelike grens vorm. Terloops, die Lourense boer nog steeds daar - die plaasopstal, langs die N2, is tussen die Infanta-afdraai (wat na Malgas lei) en die brug oor die Breederivier.

Sanparke het intussen ook die elande uit die park te verwyder omdat hierdie majestueuse  antilope, wat goed in die omgewing geaard het, gebots het met die primêre doel van die park, naamlik die bewaring van die bontbok. Die drakrag van die veld het meegebring dat die elande moes skuif.

Springbokke het nooit werklik tot hul reg in die park gekom nie en die getalle het stabiel gebly. Sanparke besluit toe om die springbokke ook te verwyder, maar dat hulle sommer uitgeskiet sal word. Oom Hampie Lourens was destyds goed bevriend met die parkhoof en laasgenoemde vra toe oom Hampie om te kom hand bysit met die skietery. Sodoende het ek ook een van die park se springbokke bekom wat oom Hampie vir my mooi verwerk het.

Maar gedurende daardie jaar is die parkhoof na Golden Gate verplaas en vervang met Harold Braack wat vanaf Skukuza gekom het. Watter fantastiese mens! Daar het beswaarlik 'n Sondag verby gegaan wat ek en Ralie nie in die park was nie. As daar familie of vriende kom kuier het, het ons hulle graag aan die park gaan bekendstel en gewoonlik by Lang Elsie'skraal (wat toe nog net 'n piekniekarea was) gebraai.

Die bontbok  (Damaliscus pygargus dorcas) en die blesbok (Damaliscus pygargus phillipsi) is baie naby aan mekaar verwant. Sommige mense sukkel inderwaarheid om te onderskei tussen dié twee. Daar is ook vasgestel dat die twee baie maklik kruisteel en dat sommige bontbok-populasies inderwaarheid nie 100% suiwer is nie. Sanparke het toe versoek dat daar wetgewing ingestel word dat blesbokke nie in sekere Wes-Kaapse landdrosdistrikte aangehou mag word nie. Om boere tegemoet te kom, is hulle blesbokke met bontbokke vervang. Daarom sal jy vir alle praktiese doeleindes nie blesbokke in die Wes-Kaap vind nie. Buitendien is die blesbok se natuurlike verspreidingsgebied hoofsaaklik in die Vrystaat, Noordoos-Kaap en die suidoostelike dele van Noordwes en die bontbok absoluut endemies aan 'n klein area in die Wes-Kaap.

Aan die einde van 1976 het ons na Wellington verhuis en daarna na Oudtshoorn en Tzaneen. Eers toe ons aan die einde van 1983 Grabouw toe verplaas is, het my kampeer-ervarings in die Bontebokpark begin. Ek vertel later meer hiervan - met foto's.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 25/04/2020 - 16:20

Net vir Wessel .... gou 'n paar ou foto's van die pont by Malgas wat ek opgediep het. Verskoon die gehalte, maar dit is foto's van foto's. Ek kan nie die jaartal onthou nie, maar my twee kinders saam met Ralie op die pont is reeds onderskeidelik 43 (my dogter) en 40 (my seun) - seker 'n goeie 30 jaar + gelede. Dit was juis toe ons 'n Paasnaweek in Bontebokpark gekamp het en die Saterdag of Sondag 'n bietjie uitgery het Witsand toe. Kyk dan net daardie Toyota Cressida - die derde van vier wat ek gehad het.

Malgas

Malgas

Malgas

Malgas

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sat, 25/04/2020 - 16:56

Net eers gou twee foto's van die bontbok en blesbok onderskeidelik. Verskoon ook die gehalte, maar dit is afgeneem uit Burger Cillié se "Die Soogdiergids van Suider-Afrika". Ek plaas die foto's, want soos boontoe genoem, ken sommige mense nie die verskil nie. My broer het onlangs vir my 'n foto van 'n blesbok met WhatsApp gestuur en gevra of dit nou 'n blesbok of 'n bontbok is. Die Blesbok is as 'n reël 'n rapsie swaarder as die bontbok, maar snaaks genoeg, laasgenoemde se spoor is enkele millimeters groter.

Blesbok

Blesbok

Bontbok

Bontbok

Geen twyfel dat die bontbok 'n baie mooier bok as die blesbok is nie.

Ralie het op 'n stadium onderwys gegee by Groenberg Senior Sekondêre Skool in Grabouw. Ons het gesmag daarna om te kampeer want beide van ons het met kamp grootgeword. Maar ai, die finansies het gesukkel. Toe vertel een van haar kollegas vir haar dat hulle 'n nuwe tent gekoop het en hul oue wil verkoop. Dit is die einste tent (nog met houtpale) wat op die volgende foto daar voor die Cressida staan. Die kinders het later elkeen hul eie tentjie gekry. Ons het wonderlike herinneringe aan daardie kampdae. 'n Enkelplaat-gasstofie, matrasse op die grond, 'n opvoustoel of drie/vier, 'n gaslamp en flitse het die ding vir ons gedoen.

Bontebokpark

Na nog 'n tent - hierdie keer 'n nuwe een - het ons ons eerste tweedehandse karavaan ('n 1983 Sprite Sport) aangeskaf. Na 5 jaar van "luuks" kamp (in ons standaarde) het ons weer 'n tweedehandse wa (ons huidige Caravette 6B) in 1998 aangeskaf. Hier staan dié wa in 2005 in die ou kamp van die Bontebokpark - bedoelende, voordat dit gemoderniseer is.

Bontebokpark

Daar is bykans nie 'n dag wat die bontbokke nie in die onomheinde ruskamp loop en wei nie.

Bontebokpark

As jy in die park ry, het jy pragtige uitsigte oor die Langeberge in die noorde.

Bontebokpark

Bontebokpark

Die ruskamp is op die oewer van die Breederivier geleë, waarin jy mag swem en hengel (laasgenoemde indien jy 'n permit het). Op die onderste terras (waar nie kragpunte is nie) kan jy so te sê op die kant van die rivier kamp.

Bontebokpark

Op die volgende foto is nog een van die houthutte, wat destyds deel uitgemaak het van die 'chalet vans', sigbaar (met my opset in die agtergrond).

Bontebokpark

Soos in een van die vorige insette genoem, is dit 'n park waar jy net gaan rus soek. Daar is 'n verskeidenheid van kort wandelroetes, maar ons verkies om sommer net te ontspan wanneer ons daar gaan kamp.

Bontebokpark

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sat, 25/04/2020 - 17:17

Interessante vertelling Chris, baie dankie.  Ek wag vir die res !

0
Vaalpark
Profile picture for user Johann L

Johann L

Sat, 25/04/2020 - 19:54

NB, ek het self nie geweet dat daar 'n verskil tussen blesbok, en bontbok is nie, altyd gedink dit is maar julle kapenaars se naam vir 'n blesbok.

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Sun, 26/04/2020 - 08:53

Môre Chris

Dankie vir die fotos.

As mens wil weet of mens oud geword het, kyk net na kiekies van jou kinders

My oudste, werkend in Dubai, word 33 vandag.

Groete

0
Brits
Profile picture for user wessels

wessels

Sun, 26/04/2020 - 12:36

Middag Chris

Jy laat my nou vreeslik verlang na my kinderdae. Die Middelrivier skooltjie, was dit op die grondpad wat by Drew-stasie later 'n teerpad geword het Bonnievale se kant toe???

Noudat jy noem van Lang Elsie onthou ek dat buite Bonnievale, Drew se kant toe, was/is daar twee distrikte genaamd Boesmanrivier en Boesmanspad.  Laasgenoemde is 'n grondpad wat uit Bonnievale loop en aansluit by die Asthon-Swellendan teerpad.

Groete

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 26/04/2020 - 13:24

... jy's 100% korrek t.o.v. Middelrivier plaasskool se ligging. Dit was destyds net 'n "tweeman" skool - Ralie, wat die 3 kindertuinklassies hanteer het, en die hoof (Morris Fox) wat std 2 - 5 behartig het. 

Was lekker ou dae. Die klomp klein skooltjies in die Overberg het gereeld bymekaar gekom vir sportdae. (Middelrivier, Klipdale, Protem, Ouplaas & Buffeljagsrivier). Aangesien dit boere se kinders was wat dié skole bygewoon het, was die samekomste van die klomp ouers altyd 'n jolige spul.

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 26/04/2020 - 14:07

My bespreking is gekanselleer

Toe jy dit noem van jou bespreking wat jy het, het ek nogal gewonder of dit sal realiseer. Jammer om te verneem dit is toe wel gekanselleer.

Net sommer so terloops - Junie/Julie (alhoewel nou nie die ideale weer vir kamp in die Wes-Kaap nie) is een van die mooiste tye om die Bontebokpark te besoek. Dan is die Aloe ferox in volblom.

0
Brackenfell, Weskaap
Profile picture for user Len Loader

Len Loader

Sun, 26/04/2020 - 14:19

Hier is 'n fototjie of twee van ons besoeke aan Bontebok :-

.
Die nuwe ingangshek.
.
Die nuwe Ontvangslokaal
.
Die ablusiegebou
.
Netjiese, sinvolle lig, kraan, kragkoppeling en vullisdrom

 

0
Kleinmond
Profile picture for user Chris Boucher

Chris Boucher

Sun, 26/04/2020 - 15:03

Na ons 2005 besoek (foto's hierbo) was die ruskamp vir etlike maande gesluit ten einde baie nodige opgraderings te doen. Ons volgende besoek was a.g.v. daarvan eers 2 jaar later gedurende Oktober 2007. Dit was verblydend om te sien dat die bontbokke hulle nie laat afsit het deur die grootskaalse konstruksiewerk wat daar plaasgevind het nie. Hulle was terug in die kamp.

Bontebokpark

Intussen is 'n gedeelte van Swellendam se meentgrond ook by die park ingelyf. Dit het meegebring dat daar 'n aparte piekniekarea (Die Stroom) vir dagbesoekers ingerig kon word.

BontebokparkBontebokpark

Oktober is die bontbokke se lamtyd. Lammers is dan volop.

Bontebokpark

Vanaf Aalwynkop het jy 'n uitsig oor die ruskamp met die nuwe chalets wat opgerig is. Jy kan ook tot op Aalwynkop stap met 'n wandelpad.

Bontebokpark

Sanparke het ook 'n paar rooihartbeeste in die park vrygelaat, maar hulle getalle word streng beheer.

Bontebokpark

Toe ek hierdie ou bergskilpad in die ruskamp sien, kon ek nie help om te wonder of dit dalk dieselfde een is wat ons eendag tydens ons Swellendam-verblyf daar raakgeloop het nie. Ons het 'n Sondagmiddag saam met my skoonouers 'n draaitjie in die park gaan ry en onder andere 'n waatlemoen by die destydse piekniekplek (deesdae se ruskamp) gaan "slag". Of hy die waatlemoen geruik het sal ek nie weet nie, maar die volgende oomblik is daar 'n ongenooide kuiergas tussen ons - 'n groot bergskilpad wat uit die bosse verskyn het en homself kom help het aan die waatlemoen wat op die grond was. Toe ek Harold Braack daarvan vertel, het hy genoem dat iemand het 'n klomp bergskilpaaie (wat vir jare in aanhouding was) in die park kom vrylaat. Hulle was mense gewoond en ook gewoond daaraan om gevoer te word.

Bontebokpark

Op die onderste terras, teenaan die rivier, is pragtige grasbedekte staanplekke. Die kinders is baie lief om hier te sit en visvang,

Bontebokpark

Bontebokpark

Bontebokpark

Bontebokpark

Sommige van die nuwe chalets het pragtige uitsigte oor die Breederivier.

Bontebokpark

Bontebokpark

Die her-ontwerpte ablusieblok is baie netjies en modern.

Bontebokpark

Bontebokpark

Skadu is nie volop in die kampeerterrein nie. Maar die staanplekke is gerieflik uitgelê met kragpunte, water en 'n vullisdrom baie naby. Daar staan die Boucher's so half versteek agter die boompies.

Bontebokpark

Bontebokpark

Die gompou sien 'n mens van tyd tot tyd redelik algemeen in baie natuurreservate. Maar die veldpou het ek nog net in die Bontebokpark gesien - en jy sien hulle nogal redelik algemeen hier.

Bontebokpark

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus