Dit smaak my Roemenië kan dalk vir die Bouchers realiseer. So pas met ons dogter gesels en dinge klink heel positief dat ons voorgenome besoek dalk kan gebeur. Ai, my vroutjie-lief sal haar spreekwoordelike agtertande gee om by haar dogter en kleindogter (en natuurlik ook skoonseun) te gaan kuier. Moet darem sê - ekself ook.
My dogter stuur intussen die uitnodiging (wat nodig is vir visums). Ek het verlede week gekyk na vlugkostes. Tussen verlede week en nou is daar reeds R1000 verskil (duurder).
Dus - ons hoop maar dinge realiseer. Indien wel, hoop ons om vanaf vroeg Julie tot mid-September te gaan kuier. Ons sou wat wou gee om haar 45ste verjaarsdag môre met haar te kon deel.
Chris - Romenië ...
Sterkte en julle moet dit voluit geniet.
Gelukkig het my kinders nog nie die "oor die groot waters" in gedagte nie en bly vir nou nog in die Pta. area naby my. 👍
Valuta
Alhoewel ons bykans uitsluitlik gebruik sal maak van krediet- en debietkaarte - waarvoor ek reeds reëlings met die banke getref het - dink ek gister daaraan dat ek darem seker 'n klein bietjie kontant by my moet hê vir ingeval ons dalk ietsie kleins op Istanbul lughawe wil koop. Dit het my net heeltemal ontgaan om sodanige reëlings te tref.
My bank se tak hier in Kleinmond (Nedbank) hanteer nie buitelandse valuta nie. Ek moes toe die tak in Hermanus skakel. Gelukkig kan ons gou geholpe raak en is 'n afspraak vir 12:30 vandag gemaak. Ek en Ralie ry dus nou-nou Hermanus toe om 'n paar Euro te gaan afhaal. Die realiteit van die trippie kom al nader en as alles volgens plan verloop dan is ons oor 'n week (hierdie tyd) reeds daar ver in die noorde.
Die realiteit van die…
Die realiteit van die trippie kom al nader en as alles volgens plan verloop dan is ons oor 'n week (hierdie tyd) reeds daar ver in die noorde.
Baie goeie vooruitsig. Julle moet dit gaan geniet.
D-dag
En so breek D-dag toe aan vir ons Roemenië-trip. Die meeste pakwerk is gedoen - nog enkele klein items wat moet gepak word - ons is ingeboek vir ons vlugte tot in Bucharest, die "shuttle" kom ons 12:30 oplaai en voila!
Mens kan dit beswaarlik glo, maar hier sit ek nog en koffie drink by my huis en môre-oggend hierdie tyd staan ek in Roemenië. Ek moet bieg - die vlug tussen Kaapstad en Istanbul lê soos 'n berg voor my. Ek sal maar nie my tradisionele slaappil drink wat ek op lang vlugte drink nie, want dalk sukkel ek om wakker te word as ons môre-oggend om 03:45 daar land.
Ek hoop om van tyd tot tyd darem 'n bietjie tetugvoering met 'n foto of twee te gee.
Veilig reis en geniet dit!
So ‘n toer oor die water is darem maar lekker, en julle gaan nog julle geliefdes ook sien. Lekkerte!
Chris - Roemenië ...
Lekker, julle gaan dit genie by die kinders. 👏👏
Chris, jammer ek het geslaap…
Chris, jammer ek het geslaap, voorspoedige reis en geniet die kinders sowel as Romenie.
Dankie vir die wense
Ons is hier - na 'n lang slaaplose vlug tussen Kaapstad en Istanbul. Ek het, soos wat ek nou hier sit, nog nie 'n oog toegemaak sedert ek gisteroggend by die huis ontwaak het nie. Pleks ek het my slaappil maar vroegaand geneem, maar ek is aangeraai deur Ralie en my dogter om dit nie te doen nie, want ons het vanoggend (SA tyd) reeds 03:00 in Istanbul geland - en is 01:30 (SA tyd) ontbyt bedien.
Ek dink my biologiese horlosie is nou sommer erg deurmekaar. Maar ek sal maar probeer om nie voor vanaand te gaan slaap nie ten einde so gou moontlik weer in die normale roetine te kom. Dit behoort redelik maklik te wees, want Roemenië en SA verskil slegs 'n uur.
Ons is uitgepak hier by my dogter-hulle en No. 1 op die verdere te-doen lysie is 'n lekker stort. Nogal warm hier, alhoewel ek my reggemaak het vir nóg warmer kry.
Ek praat weer vorentoe.
Chris, ons is dankbaar julle…
Chris, ons is dankbaar julle is veilig, gee my sommer moed vir ons trippie wat Jan wag, die vlieg is soos 'n berg wat wag.
Geniet die kuier by jul kinders ten volle![]()
Bly julle is veilig. Geniet…
Bly julle is veilig. Geniet die tyd saam met die kinders.
Romenië se dieretuin leeus
Chris, dis redelike nuus hier in SA dat 'n paar dieretuin leeus uit Romenië gister hier aangekom het om deur Four Paws vrygelaat te word op 'n leeuplaas in Bethlehem. Hierdie leeus is almal in 'n dieretuin in gevanenisskap gebore en het nog nooit die veld-vryheid van Afrika onder hulle voete gevoel nie. Hulle word môre (Donderdag) vrygelaat.
Het hierdie gebeure ook die Romense nuusmedia gehaal ?
Len...
... my kinders kan dit nie bevestig dat dié aangeleentheid juis dekking in die plaaslike media gehad het nie. My persoonlike opinie is dat so-iets eintlik 'n klad op Roemeense dieretuine se naam is en daarom seker nie juis dekking hier sou kry nie. Volgens my kinders laat die leeus hier in Călăraşi (waar hulle woon) se omstandighede ook veel te wense oor. Toe ek nou hierdie van jou met my skoonseun deel, het hy dadelik die hoop uitgespreek dat dit die plaaslike dieretuin se leeus is wat Suid-Afrika hervestig word.
10 Augustus
Ons was gisteraand deel van 'n braai saam met 'n behoorlike mengelmoes van nasionalteite - Roemenië, Kanada, Noorweë, Colombië en Oekraïne. En was dit nou nie lekker nie! Weliswaar 'n braai sonder boerewors, pap & sous of braaibroodjies, maar lekker ontbeende varknektjops, groenmielies op die kole, gebakte aartappels en mengelslaai. Beslis beter as niks vir iemand wat gisteroggend nog nie kon dink dat hy op die klein-Saterdagaand braaivleis gaan eet nie.
My kinders, wat al 19 jaar in Roemenië woon, werk baie nou saam met 'n Kanadese egpaar wat ook reeds 13 jaar hier woon. Laasgenoemdes bedryf 'n tehuis vir mishandelde vroue en kinders. Hierdie tehuis is sedert die oorlog in Oekraïne 'n toevlugsoord vir vroulike vlugtelinge uit dié oorlogs-geteisterde land.
My kinders kry baie ondersteuning uit Noorweë. Tans is hier 'n span jongmense vanuit Noorweë wat kom hand gee het met sommige van die projekte. Hulle vertrek môre terug Noorweë toe en daarom was daar gisteraand 'n afskeidsgeselligheid vir hulle by die Kanadese se tehuis.
Een van die plaaslike vroue wat hulp verleen by die tehuis, se suster doen sendingwerk in Colombië en is met 'n Colombiaan getroud. Hulle is ook tans hier met hulle kinders en het ook die geselligheid bygewoon.
Wie sou kon dink dat mens so lekker oor taalgrense heen kon kuier. Daar moes van tyd deur sommige van die teenwoordiges vir mekaar getolk word. O.a. is my Roemeens, Noors, Colombiaans en Russies "non-exsistent" en moes ek ook maar soms verleë na 'n tolk kyk.
Maar "after all" het ons lekker gekuier, geëet, saamgesing en met mekaar gedeel. Ek moes maar meestal slegs saamneurie, want die meeste liedjies se woorde (selfs melodië) was maar "Grieks" aangesien dit deur die Noorweegse jongspan grotendeels in hulle taal gelei is.
Vandag is 'n baie gematigde dag met slegs 30° wat voorspel word. Na eergister se 35° toe ons hier aangekom het, geniet ek die koeler weer. En ek geniet die heerlike perskes, nektariens en druiwe wat nou in seisoen is.
Lekker om van julle…
Lekker om van julle wedervaringe te lees Chris. Dit smaak my dit gaan heel gesellig daar. Geniet dit en hou ons maar ingelig hierdie kant.
Ek hoop nie....
julle het ou Putin se lof besing nie.![]()
dit voel nogal snaaks om so multi-kultureel saam te kuier, maar dit kan heel lekker wees.
'n Paar fotos sal gaaf wees, dankie.
Ek wetie ....
... wat die lot gesing het nie - die taal en melodië was vir my volksvreemd.
Ek was spyt ek het my kamera (lees: foon) by die huis gelos. Maar ek sal nog foto's neem en plaas. Ek is nog net besig om oor die vermoeiende vlug te kom. Ek weet nie of dit die Roemeense lug is nie, maar ek slaap soos 'n klip snags en neem sommer twee siestas per dag. Ek mag mos - ek is mos 'n pensioenaris. Ek moet darem dadelik byvoeg - ek en Ralie het darem beide oggende sedert ons hier is 'n lekker lang stap in die dorp gevat. Mens kan nie net eet en slaap nie.
Eish dit is mos 'n vakansie…
Eish dit is mos 'n vakansie 1000, "so maak mens".
Ons sal maar droe bek die kant van die aard bol sit en wag vir bewys stukke.





Wessel ..
... net soos jy sê - môre oor 'n week is dit sulke tyd. En die tasse staan gereed. Die goeters waarvoor ons opdrag gekry het om saam te neem lê die een kamer se hele dubbelbed vol. Gelukkig laat Turkish Airlines ons 40 kg per persoon toe - anders sou ons dit nie maak nie. Gelukkig pak ons lig wat klere aanbetref, want dit is basies net somersklere wat saamgaan. My dogter het juis gisteraand gebel en o.a. genoem dat dit op die oomblik onsmaaklik warm daar is.
Reëlings is getref dat die "airport shuttle" ons 12:30 kom optel.