6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Wessel - Almega Oktober 2026 saam gesels Geert -6 hours ago
Koningskop Oktober 2026 saam gesels Goeie Hout -7 hours ago
Len... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -16 hours ago
Buitelandse besoekers Oktober 2026 saam gesels Len Loader -16 hours ago
Skrif Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -18 hours ago
Dinokeng fooie Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -20 hours ago

Boer van Zimbabwe

Dullstroom
Submitted by Rona du Plessis on
Forums

Na aanleiding van n berig in Maroela Media vandag oor 'n boer van Zimbabwe wat meer as         2 000 km afgelê het om die wêreld bewus te maak van grondgrype in die suide van Afrika skryf ek hier oor my ondervinding van 'n geval in Zimbabwe.

Ek dink baie maal met groot nostalgie gemeng met hartseer terug aan 'n plaas in Zimbabwe waar ek vir vyf dae 'n belewenis van 'n ander wêreld gehad het. 'n Vriendin van Thabazimbi wou baie graag hê dat ek Bettie (haar skoonsus) se huis, restaurant en wat daarmee saamgaan moes beleef. Hulle het my al so baie van Bettie en haar kunstigheid vertel dat ek, toe die geleentheid hom voordoen, van Riversdal af gery het, vriendin in Thabazimbi opgelaai het, en ons twee het die langpad gevat.

Ek vertel ook hierdie in die hoop dat daar tog iemand is wat die plek waaroor ek wil skryf geken het. Die pad na Bettie se plaas: ons het vanaf Masvingo gery, rigting Harare (dink daar is meer paaie, maar hierdie was n hoofpad). Die afstand kan ek ook nie meer onthou nie, maar ons het uiteindelik aangekom by The Golden Spider Web. Dit was die naam van Bettie se restaurant op een van haar twee plase. Agter die restaurant was n klein museumpie met opgrawings uit die omgewing. Langs die rest. was 'n groot kliprondawel - dit was haar Kersfees-winkel wat heeljaar oop was en het handgekerfte items (klip en hout) verkoop wat deur die mense van die omgewing gemaak is. Dit was so fyn uitgekerf dat mens kwalik kon glo dat dit op 'n primatiewe manier, met basiese handgereedskap gedoen is - behalwe vir baie Kersboomversierings was daar ook Josef, Maria, die Kindjie, 'n donkie....jy noem dit. Ek kon net my hande saamslaan.

Verder op die terrein met die pragtige tuin was daar dan nog 'n groot kliprondawel wat 'n dames- en kinderboetiek was - die produk van haar eintlike groot besigheid. Sy het plaaslike katoen laat verwerk in materiaal en ook hekelgare en wol. In haar fabriek (moet hiervan ook vertel) het ongeveer 200 werkers die rokke (waarvan sy self al die patrone en afwerking ontwerp het) gemaak - van die materiaal kleur proses (alles met natuurlike stowwe) tot die eindproduk. Alles was hoofsaaklik wit en beige (nie roomkleurig nie). Pragtig! Haar grootste afset was die Europese mark. Van die hekelgare en wol is die allermooiste truie gebrei. Die brei- en hekelwerk het so gewerk: Bettie het 'n patroon ontwerp en dit vir 10 vroue geleer. Hulle moes elkeen weer 10 vroue leer...en so het dit aangegaan. Sy het uiteindelik 4000, ja, vier duisend vroue gehad wat permanent vir haar gebrei/hekel het. Wanneer die bestellings soms veel groter was, het nog 'n duisend vroue nie-permanent, ook gehelp. Al hierdie vroue kon van hulle huise af werk. Bakkies is uitgestuur met alles wat hulle nodig gehad het en het weer die truie gaan oplaai wanneer dit klaar was. Daar is n prys per kg betaal (almal se truie was nie ewe groot nie). Dit is dan na die fabriekswassery geneem en daarvandaan vir inspeksie en verpakking. Baie van hierdie vroue was die broodwinners van 'n huishouding.

Hierdie het begin toe Bettie nog net n klein padstalletjie op haar en haar man se plaas gehad het. Sy het begin met konfyt wat sy tuis gekook het en later klein hekel- en breigoedjies ook verkoop. Haar man is toe oorlede en sy het maar aangegaan met die stalletjie totdat sy uiteindelik ook die plaas aan die oorkant van die grootpad (waar die restaurant gebou is) kon koop. Om oor die restaurant te vertel gaan my nog baie lank besig hou - kan net sê dat, behalwe vir die heerlikste kos, dit 'n absolute belewenis vir my was om alles daarbinne te sien - allerhande kunswerke en die mooiste mooi handgeborduurde lappe wat as lampskerms gedien het - te veel om op te noem. Ek het fotos hiervan - in "daardie" skoenboks (wat al n houtkis geword het oor jare) maar dit is ongelukkig iewers in storage.

En dit is hier waar die trane maar vlak lê as ek terugkom na die begin van my vertelling. Twee of drie jaar nadat ons daar was, is Bettie ook van haar plase verwilder. Duisende mense wat in die klerebedryf gewerk het het hulle werk en dan in baie gevalle ook hul enigste inkomste verloor. So haal ek my hoed vir die man af wat so ver gery het en vertrou dat daar gehoor aan gegee sal word. Indien dit wel kan realiseer, gaan dit nog 'n baie lang tyd neem om 'n verskil te toon, sou mense toegelaat word om na hul plase terug te keer, maar ten minste is daar hoop op o.a. meer werksgeleenthede vir mense veral in hierdie buurland wat ook druk op Suid-Afrika kan verlig. Baie water moet egter in die see loop.

Amper vergeet ek van die fabriek. Daar is n klein dorpie (nader aan Masvingo) met die naam van Chatsworth. Bettie het ook omtrent die dorpie besit - geboue en besighede gekoop wat werk aan baie verskaf het. Dit is ook dan hier waar die indrukwekkende klerefabriek was. Sy is later weer getroud, maar is in Suid-Afrika oorlede en wat van haar man geword het weet ek nie.

Ek kan hierdie hele belewenis nie eintlik in die regte woorde beskryf nie en sal soooo bly wees om van iemand te hoor wat ook al by The Golden Spider Web aangedoen het.

Brits

Wessel Strydom

Sat, 16/03/2024 - 06:07

...in my mond. Ek gaan niks meer sê nie, anders kom ek in die moeilikheid. Vryheid van spraak is net vir sekeres beskore. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 16/03/2024 - 11:32

...........jy het seker al in van my kommentare gelees dat ek vir 7 jaar in Zimbabwe gewoon en gewerk het.  Ons het in Glen Lorne, Harare 'n splinternuwe huis gekoop en heerlik daar gewoon. Absa Bank het my daarheen gesekondeer toe hulle die beherende belang in 'n bankrot-bank, Commercial Bank of Zimbabwe (CBZ) gekoop het. Ons het Zimbabwe as 'n pragtige plek ervaar, 'n vooruitstrewende land met talle winkels, fabrieke, skole en 'n fantastiese, suksesvolle landboubedryf. Na 3 jaar verloor Mugabe 'n referendum en dit het hom van sy kop af laat gaan.  Toe word alle witboere van hulle plase af verjaag en net mooi daar het die land tot niet gegaan. Ons het vir nog 4 jaar daar gewoon en gewerk en alles gade geslaan. In ons huis hier in Kaapstad staan meubels en breekware wat boere noodgedwonge moes prysgee om aan die lewe te bly.  Pragtige plase met reuse tabak-lande en mielielande het in 'n japtrap verander in kakiebos-lande. Absolute tragedie wat onsself sien en ervaar het ontvou.

My werkgewer het besef die skrif is aan die muur en toe na 7 jaar uit Zimbabwe onttrek.

Rhona, ek besef en ervaar jou skok en afgryse oor die gebeure in Zimbabwe.

Dullstroom

Rona du Plessis

Sat, 16/03/2024 - 21:11

ek het inderdaad die feit dat jy vir jare in Zimbabwe gewoon het raakgelees en waardeer jou inset en dan ook die sentiment wat ons deel. Boere het my nog altyd na aan die hart gelê, en so was ons beste vriende van baie jare ook van Zimbabwe afkomstig - daar gebore. So het ek dan die geleentheid gehad om wel een keer n paar dae daar te spandeer. Die plekke wat ons besoek het het so 'n groot indruk op my gemaak en dit is dan ook dié onvergeetlike prentjie wat ek altyd nog troetel. Ek is bewus van die totale agteruitgang maar bly nog altyd hoop op 'n wonderwerk.

Ek dink jy moet die meubels wat jy kon saambring, jou altyd laat herinner aan die pragtige land en mooi huis waarin jy bevoorreg was om te woon. Sekerlik moeilik, maar probeer...laugh

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus